gehelp om ons buurhuis te koop?”
Briand se mond val oop en hy kyk vlugtig na haar, trap rem by die verkeerslig en word deur ’n langdurige hoesbui oorval. Hy bring die motor weer in beweging toe die verkeerslig na groen verander, maar sy hoesbui kom nie tot bedaring nie.
“Ek dink jy moet hier êrens parkeer sodat jy met groter gemak jou longe kan uithoes, Briand. Ek sal verder bestuur,” sê sy sarkasties, maar sy sien hoe die glansende lag goud in sy oë tower.
“My ouers …” begin hy hees, skraap sy keel verskonend en sê met groot erns: “Ek veronderstel jy en die tannie met die wit hare het aanvaar ek en al die ander manne is … e …” ’n Moedswillige laggie peul onverhoeds oor sy lippe en dan skud sy skouers van ’n geluidlose lag wat hy nie probeer verberg nie.
Dit is nogal snaaks, dink sy eerlik: sy en ta Trynie het aanvaar die besadigde pa- en ma-hippies se huwelik is geseën met sewe rumoerige motorfietsryers plus Briand. Die sewe manne het soms hulle valhelms afgehaal en sy het twee rooikoppe opgemerk tussen allerlei haarskakerings, van donkerblond tot raafswart, maar steeds geglo hulle is almal broers.
“As jy klaar gelag het, Briand: verhuur die twee ou hippies kamers aan die spul motorfietsryers?” vra sy toe hy met sy handrug lagtrane van sy wange vee en links draai in ’n systraat. “Jy moes reguit aangery het, Briand. Ons is …”
Briand parkeer die motor langs die sypaadjie en skakel die enjin af. “Ek is jammer ek kon nie ophou lag nie, Kayla, maar Sheilah en Ben Stassen …” Hy kuglag weer. “Hulle wil nie oom en tannie genoem word nie. Sheilah is ’n uitmuntende kok en Ben help haar ewe fluks – hy is ’n professionele sjef en het jare lank in restaurante en hotelle gewerk, maar nou laat hy die meeste van die kookwerk aan Sheilah oor.”
“En nou het hulle ’n losieshuis vir lawaaimakers,” sê Kayla onvergenoegd. “Ek weet hulle het gisteraand stiptelik om tienuur opgehou om op hulle motorfietse rond te jaag, maar as hulle vandag weer soveel lawaai gaan maak … Het hulle nie werk nie? Elkeen van daardie motorfietse is heelwat duurder as my ou motortjie. Of is hulle almal met vakansie?”
“Ek ken nie die situasie so goed nie, Kayla. Hanco Erhart het my gevra om julle buurhuis te besigtig en die gasvrye Sheilah en Ben het my vir middagete genooi. Ek en oom Sebastiaan het lekker gesels, daarom het ek ’n uur of wat saam met hom gekuier.”
“Maar jy loseer nie by Sheilah en Ben nie?” vra sy, so teleurgesteld dat sy kan huil.
“Nee, maar ek sal gereeld by oom Sebastiaan gaan inloer en hoop Sheilah nooi my weer vir ete – of dalk kan ek jou vir ete nooi ná al die moeite en skade wat ek jou vanoggend aangedoen het,” stel hy met ’n speelse glimlag voor.
“As jy vriende met ons bure is, sal ta Trynie sê ek heul met die vyand as jy my sou uitneem vir ’n ete, behalwe …” Sy glimlag en vra gretig: “Wie is oom Sebastiaan? En hoe lyk hy?”
“Oom Sebastiaan van Oldenbarneveldt –”
“Goeiste! Wat ’n mondvol!” val sy hom verdwaas in die rede.
“E … ja, dit is nogal ’n mondvol vir ’n omie wat nie te groot is nie. Sheilah is oom Sebastiaan se suster. Ek vermoed dis waarom sy so jonk met Ben getroud is: sy kon nie wag om van haar nooiensvan ontslae te raak nie.”
“Is oom Sebastiaan die korterige omie met die spierwit hare en blou-blou oë?” vra sy nuuskierig.
Hy frons hewig en gluur haar aan. “Moet ek van jou vraag aflei jy hou meer van oom Sebastiaan se blou-blou oë as van my geel oë?” vra hy kamma vies.
“Geel? Moenie laf wees nie! Jy het doodgewone ligbruin oë. Gee oom Sebastiaan nie om om na die dreunende motorfietsenjins te luister nie?”
“Nie werklik nie, want sy slaapkamer is aan die agterkant van die huis. Die mure van al die ou huise in die cul-de-sac is byna ’n meter dik, en dit help om die klank te doof. Oom Sebastiaan was sy lewe lank ’n geskiedenisonderwyser, en hy het ’n studie gemaak van die verskillende boustyle van al die historiese geboue in die stad,” vertel Briand en blik op sy polshorlosie. “Ek sal moet wikkel om my fiets op te laai voordat die koerantjoggie al sy koerante verkoop en padgee. Ek dink ek het my fiets by die verkeersligte net ná hierdie dwarsstraat gelos. Sal ons ry?”
“Ja, asseblief. Ek is jammer ek kan jou nie verder help nie, maar ons sal nooit jou fiets in my motortjie kan laai nie,” sê Kayla verskonend en wens hy maak ’n definitiewe afspraak om haar uit te neem vir ete.
“Nee, jy gaan my tog help, mooi Kayla, want ek en jy is stokou vriende, al is dit net van gister af. Ek het al die gereedskap in die fietssakkie om my fiets uitmekaar te maak en stuk vir stuk in jou motortjie te pak. Mag ek … groot asseblief? Of wil jy ’n groot man sien huil?”
“Aangesien jy so slim was om eiers by ’n slaghuis te gaan koop en boonop daarvoor te betaal … Hoe kan ek weier?” vra sy en lag saam met hom, bly om nog ’n tydjie in sy geselskap te kan deurbring, maar terselfdertyd bang vir die onbekende emosies wat sy teenwoordigheid in haar binneste laat ontwaak.
Kayla gaan die ontbytkamer binne en glimlag liefies vir Annelize wat haar wantrouig betrag.
“Jy het my wakker gemaak toe jy hier weg is, Kayla,” verwyt Annelize en proe-proe aan haar koffie. Sy hou haar koppie na Trynie uit en versoek sonder om na Trynie te kyk: “’n Bietjie koue melk, asseblief, Trynie. Dankie.” Sy proe weer aan haar koffie en hervat haar gesprek met Kayla: “Hoe is dit moontlik dat jou rit na Baumann se restaurant meer as twee uur geduur het, Kayla? Of het jou motor gaan staan? Dit sal my glad nie verbaas nie. Dat jou skatryk ouers kan toelaat dat jy met so ’n rammelkas jou lewe daagliks in die stadsverkeer waag, gaan my verstand te bowe.”
“Kayla se skatryk tante is net so vrek suinig soos haar ouers, professortjie,” merk Trynie bedees op.
“Moenie lol nie, Trynie. Jy weet my naam is nie ‘professortjie’ nie, jy was teenwoordig in die kerk toe ek gedoop is. Daar lê ’n lang en besige dag vir my voor. Moenie skoor soek op my nugter maag nie.”
“O, ek is nie goed genoeg om jou ‘professortjie’ te noem nie, maar jou duisende studente mag? Sien jy op my neer omdat ek net ’n dommerige en ongeletterde huishoudster is, professortjie?” vra Trynie kamma gekrenk.
“My studente spreek my uit respek vir my posisie as ‘professor’ aan, Trynie, maar jy doen dit om my te treiter. Jy het talle diplomakursusse in huishoudkundige vakke voltooi, so ons weet jy is allesbehalwe dom of ongeletterd,” antwoord Annelize ongeduldig en kyk weer na Kayla, wat intussen aan die tafel gaan sit het. “Meer as twee uur, Kayla. Waar het jy oral rondgejakker? Hoeveel brandstof het jy gemors? Om ’n besigheid winsgewend te bedryf, moet jy sorg dat jou oorhoofse kostes altyd –”
“Ek het ’n man omgery,” val Kayla haar in die rede en glimlag stralend.
Annelize snak met ’n mondvol koffie na haar asem en verstik. Sy hoes onbedaarlik in haar servet, selfs nadat Trynie ’n paar ongenadige houe tussen haar skouerblaaie geplant het.
“Jy het ’n erger hoes as ’n ou roker, Annelize,” sê Trynie met oordrewe besorgdheid en hou ’n glas water na haar uit. “Onthou om volgende winter ’n griepinspuiting te kry, anders kry jy weer bromkatjies.”
Annelize drink ’n paar slukkies water en beveel met ’n hees stem: “Bly om liefdeswil stil, Trynie!” Sy staar die glimlaggende Kayla ’n paar oomblikke swyend aan en vra huiwerig: “Het jy … het jy gesê jy het ’n man omgery, my kind?”
“Wie ken nou nie haar respekte nie?” vra Trynie vinnig. “Kayla is mondig en sy is nie meer ’n student nie. Moenie haar as ‘kind’ aanspreek nie, jy is g’n haar ma nie, professortjie.”
“Trynie, besef jy nie die erns van Kayla se oortreding nie? Sy kan van manslag of … of moord aangekla word. Haar hele toekoms is geruïneer!” bars Annelize ontsteld uit, haar gelaat strak van kommer. Sy klem die glas water so styf vas dat haar kneukels wit vertoon.
“Foei, ja … en dit alles oor ’n