Amber byt haar lip vas terwyl sy dink.
Jis, kan sy nie eens ’n besluit neem oor iets soos ’n flippen simpel bloes nie? betrap sy haarself al weer. Hoe dan nou as dit by ouens kom? Dis dalk wat hulle pla wanneer hulle na haar kyk: hulle sien so ’n onseker, simpel ou meisietjie.
Wie wil nou saam met so iemand wees?
Met ’n ander bloes aan, skuif Amber voor die rekenaar in. Haar hand bewe effens toe sy die webkamera oopmaak.
Haar eie beeld verskyn groot op die skerm. Iets binne-in haar deins weg daarvan.
Sy weet nie wat is erger nie – foto’s van jouself of ’n bewegende videobeeld wat jou van alle kante soos ’n skeefgetrapte skoen laat lyk nie.
Uiteindelik skraap sy moed bymekaar om weer na haarself te kyk. Haar lippe is te dik, rooi merke gloei op haar vel waar sy puisies uitgedruk het. Is haar neus te groot?
Nee, dalk is dit te krom. Wat ook al: dis te iets-wat-nie-reg-lyk-nie.
Net haar wange is seker orraait, as sy hulle bietjie insuig. Sy besluit om lipglans en ’n natuurlike oogskadu aan te sit. ’n Bietjie kleur op haar wange sal seker ook help om ’n beter indruk te skep.
Maar eintlik gaan hierdie video wat sy wil maak, nie oor vals indrukke nie. Dit gaan nie oor klere of grimering nie. Dit gaan oor háár – Amber. Nes die ander meisies maak sy hierdie video om by die waarheid uit te kom.
Dis hoog tyd.
Sy probeer glimlag sodat sy nie soos ’n hopelose, verlore siel lyk nie. Dan klik sy op die skerm se rooi opneemblokkie. In Engels begin sy vertel. “Hallo, my naam is … oeps, amper sê ek! Ek moet dit seker anoniem hou … julle weet hoe dit op die internet gaan. ’n Klomp siek mense loop los rond.”
Sy voel al klaar soos ’n vrolik babbelende idioot, en sy het skaars begin. Amber trek haar asem weer diep in voor sy aangaan.
“Ek gaan liewers ook nie sê waar ek bly nie, maar ek kan darem sê dat ek sestien jaar oud is en nog skoolgaan. Ek hou van perde en lees en … O ja, en van skryf. Niks ernstigs nie. Sommer maar net. In elk geval, my lewe is heel oukei.”
’n Rukkie bly sy stil asof haar aandag dwaal. Sy vroetel met haar hare en kyk dan terug na die kamera.
Haar stemtoon word laer, sagter, seerder. “Nee, nee, dit is nie. Eintlik … is dinge ’n bietjie moeilik. Iets het gebeur en ek kan nie regtig met iemand daaroor praat nie.”
Sy voel hoe die donker in haar toeneem toe sy dit waag om die woorde te sê. Van skaamte, maar ook van hartseer, kyk sy weg van die kamera af.
“Voel jy ook soms asof jy die enigste flippen siel is wat so swaarkry? Miskien gebeur dit net met ons meisies.
“Ouens? Um … ek weet nie.
“Voor ek jou vertel hoekom ek die video maak, moet jy net weet ek kom uit ’n werklik goeie gesin. Of … sê maar so … jy weet hoe dit gaan.
“Maar daar is iets verkeerd. Ek dink die fout lê by my … Ek het ’n paar vriende en ons gesels met mekaar en sulke goed, maar ons is nie regtig na aan mekaar nie. Beste vriende vir altyd, of wat ook al nie. Ek wens ek het iemand gehad met wie ek kon praat oor hierdie tjol … skies … oor hierdie goed.
“Dis die een ding … die ander … dis oor ouens.” Amber kyk weer direk na die kamera. Sy pers haar lippe saam asof dit te swaar raak om verder te vertel, maar dan skep sy weer moed.
“Ek dink nie hulle hou regtig van my nie. Ouens … ek weet nie wat dit is nie … Partykeer dink ek hulle hou van my, en ander kere is hulle net soos in ‘wie is sy?’ Ek … ek moet dalk nie te veel detail gee nie, maar …”
’n Hele ruk kyk Amber net vir die kamera. ’n Hartseer trek pluk aan haar mondhoeke. “Verlede maand het ek hierdie ou ontmoet. Oukei, ons het nie regtig ontmoet nie. Ons het mekaar op ’n afspraak-app gekry en toe boodskappe begin stuur. Ons het dadelik gekliek. Maar ek het iets heeltemal simpel gedoen … Ek het iemand anders se foto vir die profiel gebruik.”
Weer is daar stilte.
“Ek gaan nie sy naam verklap nie, maar hy was hierdie supercool ou. Hy het die ongelooflikste blou oë. En hy het sulke mooi goed vir my gesê. Jis, niemand anders het al so iets vir my gesê nie. Hy was so anders as die ander ouens op skool. Hy het my verstaan. Of altans … die meisie wat hy gedink het ek is. Ek het nog ’n simpel ding gedoen: ek het oor ander goed ook gelieg sodat hy meer van my kan hou. Dit het gewerk. Hy het my so spesiaal laat voel.”
Amber vee ’n traan weg toe die emosie in haar begin oorvat. “Jammer, ek wou nie hier sit en tjank nie. Dit beduiwel die doel van die video.”
Sy sluk die trane weg en probeer haarself regruk.
“Ek het vanaand ’n boodskap van hom op my selfoon gekry. Ja, ek het uiteindelik my nommer vir hom gegee. In die boodskap noem hy my ’n leuenaar. Hy sê ek is … lelik. Ek het dit oor en oor gelees en gedink dis dalk ’n fout, ’n grap.
“Die boodskap was soos ’n skop in die gesig.”
Stilte. Dis asof Amber van die kamera vergeet het. Asof sy net in die binnekant van haar kop dwaal en verdwaal.
“Die leuens … ja, ek is skuldig. Dis darem iets wat ek kan verander. Maar om lelik te wees … Dis dalk hoe ander mense my ook sien. My sogenaamde vriende, ander ouens. Dalk is dit die rede hoekom ek soms so alleen is, hoekom ek voel dat ek nêrens behoort nie.” Sy kyk terug kamera toe.
“Dis hoekom ek die video maak. Dis hoekom ek by jou wil weet: Is ek mooi of is ek regtig lelik?”
Amber klik weer op die rooi knoppie om die opname te stop. Die rekenaar stoor dit outomaties.
Binne-in haar wel die emosies sterker op. Sy vee die trane weg. Dis asof sy nie helder kan dink nie. Sy is skielik tot op die been toe moeg. Vir ’n hele ruk sit sy net so vooroor totdat dit voel asof iets in haar wegdryf na ’n plek waar alles grys en sonder gevoelens is. Niks op hierdie plek is gelukkig nie, maar niks is ook pynlik nie. Niks is lig en niks is donker nie, niks is reg en niks is verkeerd nie, niks is mooi en niks is lelik nie. Dis die plek tussen-in alles.
In limbo.
Uiteindelik keer die gevoelens, die moegheid terug en sit sy weer op haar bed. Haar oog vang die tyd op die rekenaarskerm.
Dit word laat. Sy moet gaan slaap.
Môre is ’n skooldag. Môre is alles dalk beter.
Voor sy in die bed klim, laai Amber gou die video op YouTube.
* * *
Die gedagte roer net onder die oppervlak van salige slaap. Dit swel, dit wil net nie heeltemal oopvou nie. Maar toe Amber haar onwillige oë eindelik oopkry, lê dit klinkklaar voor haar.
Sy skiet orent in haar bed, haar hand oor haar mond gekrul.
Eenkeer het sy mos aan haar YouTube-verstellings gekarring toe sy ’n vlog wou begin. Die vlog het nooit gebeur nie, maar die verstellings het gebly!
In een sprong van ontsetting is sy by haar rekenaar. Haar hand skiet uit na die muis. Die aantekenskerm kry lewe, glim deur die donker. Sy sukkel om die sleutelwoord reg in te tik. Maar toe alreeds weet sy met dodelike sekerheid daardie skakel na die video het outomaties na haar Facebook-muur en Twitter-profiel gegaan.
7
PELLE HOEF NIE ALLES TE WEET NIE
Koponderstebo beur Tim die volgende dag deur die kinders in die skoolgang.
“Skies, julle,” sê hy ongeduldig vir die spul graadagts wat in sy pad staan en lag en gesels. Hulle drom alewig voor die klasse saam. Hy voel sommer geïrriteerd, al besef hy dat hy dit ook maar soms doen.
Alles krap hom vandag om.
Dalk voel hy so vies omdat hulle so gelukkig lyk. Dis mos nie reg dat ander mense vrolik kan wees terwyl hy