Fanie Viljoen

Veldiep


Скачать книгу

dalk is een van hulle daar binne besig. Of miskien is Apollo al na die weikamp uitgeneem.

      Tim stamp die modder aan sy skoene op die sement af en stap die stal binne.

      Apollo is daar, en iemand staan by hom, maar dis nie een van die versorgers nie.

      “Chantel?” sê-vra hy. “En wat maak jy hier?”

      “Ek het vir Apollo kom kuier,” antwoord sy en vee haar hare uit haar gesig. “Ek het vir my perde appelskyfies gebring en daar was ’n paar oor.” Sy beduie na haar hand.

      Apollo se lippe krul om die appel terwyl dit in sy kouende bek verdwyn.

      “O, um … dankie,” sê Tim. “Moet hom net nie bederf nie. Hy kan ’n blikskottel wees.”

      Chantel glimlag. Sy vee haar hande teen mekaar af. “Ek dink hy hou van my.”

      “Hy sal van enigiemand hou wat vir hom eetgoed bring.”

      “Hy is werklik ’n mooi perd. Jy kan trots op hom wees.”

      “Ek is, dankie.”

      Stilte.

      Tim weet nie wat om verder vir Chantel te sê nie, maar dan besef hy hy staan in die deur sodat sy nie kan uitgaan nie. “O, ekskuus,” stotter hy en staan eenkant toe.

      Chantel glimlag.

      Sy stap deur toe, maar op pad raak sy liggies aan Tim se hemp. “Ek is jammer,” sê sy sag.

      “Ekskuus?”

      “Oor jou en jou meisie,” sê Chantel. “Ek hoor julle het uitgemaak. Dis nooit lekker nie. Sê as daar iets is wat ek kan doen. Vir jou of vir Apollo.”

      “Ek is oukei, dankie,” sê Tim. Dis ’n leuen, maar hy ken Chantel nie goed genoeg om meer te vertel nie.

      Daar is boonop ’n ander ding wat aan hom kom krap: Weet die hele skool nou al van hom en Jess?

      9

      SJOKOLADE MAAK ALLES REG

      “En as jy soos ’n lui kat op jou bed lê, Marli?” vra Tim later toe hy terug by die huis kom. Hy voel altyd beter nadat hy by Apollo was. Die kaste in sy kop is weer ’n bietjie reggepak, soos sy sussie altyd sê. Tot die volgende keer se deurmekaarspul.

      “Hei, Marli! Ek praat.”

      “Los my, ek lees,” sê sy gou. Daar is iets vreemds aan haar stem.

      Hy kyk na die boek se voorblad. The Fault In Our Stars deur John Green. “Dis mos ’n vreeslike hartseer storie. Die ou gaan aan die einde dood.”

      “Bly stil, Tim!”

      “Dit vat nie ’n Einstein om dit uit te werk nie. Die ou en die meisie in die boek het dan al twee kanker. Een van hulle moet groet. Ek het die fliek gesien.”

      “Ek ook, maar die boek is beter.”

      “Huil jy al?” Hy duik langs Marli op die bed neer.

      Sy probeer wegrol. “Jy stink.”

      “Ek weet, ruik my hande – pure perd!” terg Tim.

      Hy hou sy hande uit, maar Marli trek haar kop weg.

      “Ag nee, sies, man,” keer sy.

      “Ek sal netnou gaan stort.” Hy lees ’n paar reëls saam in die boek. “Jy moet dit vir my leen wanneer jy klaar is.”

      Sy knik ingedagte.

      “Sjoe, jy sal nie raai wat ek vanoggend gesien het nie,” sê Tim dan.

      “Bokke,” sug Marli. “Die hele landgoed is vol van hulle. Pa kla hulle vreet sy tuin op.”

      “Ja, daar was bokke, maar ek was by die sebras en kameelperde ook. Dit is ongelooflik om so naby te kon kom. Hulle skrik nie so erg wanneer mens op ’n perd is nie.”

      “Oukei …” Marli se aandag is steeds in die boek.

      “Hulle skrik nog minder as jy op ’n draak aangery kom. Hulle is ma-a-al oor drake.”

      “Oukei.”

      “Jy luister nie eens wat ek sê nie.” Tim druk sy stink hande weer voor haar neus.

      “Jig, jy is ’n vark.” Marli klap hom sommer met die boek.

      Hy lag.

      Sy ook naderhand.

      “Ek gaan gou stort voor ek nog ’n hou met ’n tranetrekker kry.” Tim rol van die bed af en spring op sy voete. “Gaan draai jy solank pa se arm om ons mall toe te vat. Ek koop vir jou vir ’n milkshake of ’n wafel en roomys. Jy kan later my voete soen omdat ek jou oulikste en beste boetie op aarde is.”

      “Jy’s g’n!” roep Marli speels.

      Tim lag net. “Toe, gaan praat met Pa!”

      Die winkelsentrum is gepak met Saterdag-kopers toe Tim-hulle daar aankom. Hulle slenter van Musica na Exclusive Books na Incredible Connection. Maar dis toe hulle die roltrap na die boonste vlak neem, dat Tim ’n gesig tussen die mense herken.

      Chantel.

      “Kom, ons loop anderpad,” sê hy gou vir Marli.

      Hy wil haar nog wegstuur, maar sy keer: “Kyk, daar is Chantel Botha. Sy is ook by die modelskool.”

      Flippit, nou het Chantel hulle gehoor!

      Glimlaggend kom sy nader. Haar oë blink. “Hei, Tim, agtervolg jy my? Eers vanoggend by die stalle en nou in die mall.”

      “Ken julle mekaar?” vra Marli.

      “Ja, van die stalle af. Chantel het ook ’n perd.”

      “Perde,” korrigeer sy hom. Sy skiet haar hare oor haar skouer. “Wat maak julle hier?”

      “Ons kom milkshake drink,” sê Tim. “En jy?”

      “Ek shop terwyl ek vir my ma wag. Sy het vir haar ’n Persiese tapyt kom koop wat sy al heelweek begeer. Sy hou nie op praat oor die ding nie. Mens sal sweer dis van goud gemaak. Ha, dalk is dit! Dis baie duur, maar my pa gee nie om om sulke goed vir haar te koop nie.”

      “Jissou, sy is gelukkig,” sê Marli.

      Chantel trek haar gesig asof dit niks is nie. “Ons hele huis is mos vol stuff wat ons nie eens gebruik nie. Party goed staan nog so toe in hulle bokse. Dis seker ’n fortuin werd.”

      Tim trap ongemaklik rond. Hy haat dit wanneer mense so met hulle geld spog.

      “So, julle sê julle gaan milkshake drink?” Chantel se blik beweeg weer goedkeurend oor Tim. “Miskien moet ek sommer saamkom.”

      “Nee, jammer,” keer Tim vinnig. “Ek en Marli wil ’n bietjie skinder.”

      Sy suster kyk hom vraend aan.

      “Oukei, hou jou maar snaaks.” Chantel lag effens. “Milkshake is in elk geval nie goed vir mens se figuur nie. Onthou dit sommer, Marli. As jy ’n goeie model wil wees, moet jy van soetgoed wegbly. Kyk na jou lyf. Ek sien hier loer alreeds ’n vetrolletjie.” Sy tik op Marli se maag.

      “Ons loop nou,” sê Tim. “Lekker koop, Chantel.”

      “Sien jou weer by die skool of die stalle, Tim.”

      “Cool.” Tim trek vir Marli aan die arm weg in die rigting van Fego’s.

      “Chantel is nogal oulik,” sê sy suster.

      “As jy so dink.”

      “Sy is. En sy is ’n goeie model. Jy moet haar sien.”

      “Nee, dankie.”

      “Hoekom nie?”

      “Kom ons gaan drink daardie milkshake.”

      Voor