Cecilia Steyn

Die eks-noodgeval


Скачать книгу

vou haar hande om Braam se elmboë om haarself staande te hou. Sy reageer sonder om te dink en soen hom sowaar terug.

      Braam se mond laat elke sel in haar lyf klop en hunker. As hy haar nou hier in die parkeerterrein van haar nuwe werk op haar motor se enjinkap syne wil maak, sal sy hom nie kan keer nie … en sy is seker hy weet dit ook.

      So onverwags soos wat Braam haar begin soen het, los hy haar.

      En sy wil hom terugtrek en steeds haar honger mond met syne stil.

      Hy lek oor sy lippe asof hy haar nog daar wil proe. Asof hy ook nie genoeg van hul eerste soen in vyf jaar gehad het nie. “Ek dink jy jok vir my,” sê hy. “Na daardie soen vermoed ek jy mis my ook.”

      Is hier nie iewers ’n rolstoel nie? Die man!

      Braam hou haar deur oop en sy val dankbaar in die bestuursitplek neer. “En Lana,”

      “Ja?” vra sy en kyk op in sy oë. Sy ken daardie onrustige kyk.

      Sy oë gaan weer na haar borste. “Lekker slaap.”

      Terwyl die woorde in haar kop weergalm, verdwyn hy in die donker parkeerarea.

      3

      Onder in die straat waar Alana nou by ’n meenthuiskompleks ingedraai het, maak Braam ’n U-draai. Stadig ry hy weer verby die kompleks. Haar motorligte hou stil voor ’n motorhuis naby die ingang.

      Sy is nie meer joune wat jy veilig moet hou nie, pel, skree sy gewete. Is daar iemand wat vir haar by die huis wag? Daarvan het sy niks gesê nie. Daar was nie ’n ring aan haar ringvinger toe hy netnou vir die tweede keer vandag skelm geloer het nie. Maar dit is nie te sê daar is nie iemand nie. Hy weet van baie dokters wat verkies om nie trouringe te dra nie omdat hulle heeldag hande was.

      Terwyl hulle getroud was, het sy haar ring vir niks in die wêreld afgehaal nie, maar toe was sy nie soos nou heeldag in teater nie.

      Wat ’n verrassing was dit nie toe sy vandag sommer netso weer in sy lewe ingeloop het nie! Sy is nog steeds die mooiste vrou wat hy ken. Die donkergroen teaterklere wat sy gedra het, het haar blou oë nog blouer laat lyk. Deur die klere kon hy sien sy is nog net so sexy gebou soos altyd. Sy dra teaterklere soos wat modelle ontwerpersrokke dra.

      En daardie romp wat sy vanaand aanhet? Hy het hard probeer om nie te staar nie, maar hy is nie seker dat hy dit reggekry het nie.

      Al was dit donker, is hy amper oortuig daarvan hy het haar behoorlik laat bloos. Goed so. En was dit huiwering wat hy elke keer in haar stem gehoor het wanneer sy oor Evie gepraat het?

      Sy harde lag weergalm in die valhelm. Alana dink hy en Evie is ’n couple.

      Hoe verkeerd is sy nie!

      Hy is nie seker hoe vinnig hy haar gaan reghelp nie. Een van die verpleegsters sal wel vir haar sê dat hy enkel is. Hemel weet, hulle wil hom altyd vastrek wanneer hy hier kom werk.

      Die twee jaar van hul huwelik maal in sy kop toe hy huis toe ry. Reëls vir kinderlose paartjies wat skei, is anders as vir dié met verantwoordelikhede. Hy en Alana is al vyf jaar uitmekaar en het nog nooit eens weer ’n woord met mekaar gepraat nie.

      Sou sy hierheen getrek het as sy geweet het dit is waar hy ook dalk een van die dae gaan woon en werk?

      Tydens hul egskeiding het hy deur hel gegaan. Sy wou hom nie glo dat hy haar nié verneuk het nie. Die troubeloftes wat hulle aan mekaar gesweer het, was nie genoeg vir haar nie.

      Hul troudag is soos gister. Hel, hy dra nog ’n troufoto in sy beursie rond. Die ding het al so verweer omdat hy dit ten minste een maal per maand uithaal en dan daarna staar. Sy was vier-en-twintig en hy ses-en-twintig.

      Sy was nog ’n intern. Hy het pas begin werk as paramedikus. Hulle was so verlief dat hulle nie kon wag om te trou nie.

      Sy familie was kwaad omdat hulle sommer in die landdroskantoor getrou het sonder om iemand te sê. Hulle het natuurlik ’n groot makietie verwag. Hy, weer, het altyd vermoed Alana se ouers was verlig oor die weglopery. Ten minste moes hulle nie hul ryk vriende na hul jongste dogter se troue met ’n paramedikus nooi nie.

      Daardie tyd was haar pa hoof van die Departement Neurologie by Stellenbosch Universiteit se Tygerberg-kampus. Die ou man het hom gehaat omdat hy Lana se belangstelling in trauma geprikkel het. En hy het haar pa gehaat omdat hy haar ’n helse groot probleem met vertroue gegee het.

      Professor Frik de Koker kon sy hande nie van vroue afhou nie. Om dieselfde rede haat Alana se sus, Heleen, nou ook vir Braam. Sy het Alana aangehits om hom te los.

      Haar seker oortuig dat hy net soos hulle pa is.

      Met die instap sit Braam die sitkamerlig aan. Die meenthuis waar Alana nou bly, lyk na ’n kliniese gedoente. Hoe lyk haar slaapkamer daar? Seker als spierwit. Het sy van hulle meubels gehou of het sy alles vervang wat hulle saam gekoop het?

      Alana het nog altyd ’n kalmerende omgewing probeer skep. Wat sal sy van die huis sê wat hy in ’n ouerige buurt gekoop het? Sal sy van al die verbeteringe hou wat hy self aangebring het? Hulle het altyd so gedroom oor wat hulle alles sal doen wanneer hulle eendag hul eie huis besit. Dit het toe nooit gebeur nie.

      Met haar in sy gedagtes, het hy dié huis gekoop. Asof hulle ooit weer saam sou bly.

      Hy skud sy kop. Wat ’n dag!

      Selfs die verbeteringe wat hy aangebring het, is afwerkings wat haar goedkeuring sou wegdra. Sy was nog altyd mal oor suurbehandelde sementvloere.

      Daarom gaan dit in elke vertrek in die huis wees. Hy is darem al so halfpad met die vloere.

      Op die oomblik is die huis eerder ’n bouterrein as ’n blyplek. In die Kaap, waar hy eintlik woon, huur hy nog, maar hy kon dié huis nie weerstaan toe Evie hom daarvan vertel het nie.

      Hy het darem eers doodseker gemaak dat Evie die eiendom nie self wil aanskaf nie. Sy was nie juis lus om verbeteringe aan te bring, in ag genome die ure wat sy werk nie.

      Hy, aan die ander kant, het nie omgegee nie. Toe koop hy dit. Om besig te bly het hom nog altyd gehelp om nie te dink aan Alana en wat hulle verloor het nie.

      Elke keer wanneer hy Melville toe moes kom om opleiding te gee, woeker en werk hy aan die ou geraamte.

      Hande op die heupe staan hy in die huis en rondkyk. Hier is nie ’n televisie nie. Net ’n matras in sy kamer op die vloer. In die sitkamer staan een gemaklike stoel met ’n tafeltjie langsaan. Die bad is uitgekap en net die stort is klaar vervang. In die kombuiskaste is een glas, een bord, een beker en ’n mes, vurk, ’n lepel en een teelepel.

      Pateties en eensaam.

      Braam skop sy skoene uit en trek sy T-hemp oor sy kop. Vir ’n oomblik huiwer hy. Toe druk hy die hemp teen sy neus. Alana se reuk klou sowaar daaraan. Hy trek sy asem diep in voor hy mik om die hemp in die wasgoedmandjie te gooi.

      Dan druk hy dit weer teen sy wang.

      Dêmmit. Die vroumens het nog altyd die mag gehad om hom op sy knieë te dwing. Na vyf jaar kry sy dit sowaar steeds reg.

      In die kombuis krap hy in die vrieshokkie en haal ’n bak kitslasagne uit vir aandete. Gewoonlik maak hy darem ordentlike kos, maar vanaand is hy sy eetlus kwyt.

      Al waaraan hy kan dink, is dat Alana nie in die Kaap is nie, maar hiér! Ook nie eens so ver van waar hy bly nie.

      Toe die kos warm is, sak hy in die enigste stoel neer. Hy vat ingedagte ’n hap en haal sy foon uit sy sak. Hy wens net hy het ten minste haar nommer gehad. Dan kon hy vir haar nag gesê het.

      Alana se mond het soos eksotiese speserye gesmaak. Dit was heeltemal te lank vandat hy haar laas gesien het. En toe soen hy haar. Sy het hom ook nie gekeer nie.

      Beteken dit nie iets nie?

      Hy skud sy kop en lag. Haar stem was so ferm asof sy hom wou afskrik, asof sy haarself ook moes oortuig het dat sy hom nie wil sien nie.

      Toe sy haar wenkbroue vir hom lig,