“Dis omdat …” Marissa moet lank stilbly en haar emosies onder bedwang kry voordat sy verder praat. “Iets slegs het gebeur … Noudat ons weg is, weet almal seker, tant Martha en oom Jan ook. En dis nie my skuld nie!”
“Wat, my kind?”
Sy kan haar trane nie meer inhou nie, al huilende snik sy die waarheid uit. “Dawie het my in die gang voorgekeer, my in die kamer ingedwing, die deur gesluit. Hy’t my so te sê aangerand, maar ek kan hom nie blameer nie. Mamma, ek is nog lief vir hom.”
Irma trap so skielik rem, die kar gly in die gruis aan die kant van die pad en ruk in die sloot tussen die pad en die veld tot stilstand. Sy steur haar nie daaraan nie, sy maak haar veiligheidsgordel los, buig na Marissa toe oor en neem haar in haar arms. “Ag, my kind, my arme meisiekind,” troos sy.
Marissa huil haar hart uit, sommer oor alles wat die laaste tyd met haar verkeerd gegaan het, ander verhoudings ook wat sy halsoorkop aangeknoop het: soos met Simon die wynboer en Jean-Luc die akteur. Toe, om alles te kroon, die professor na wie Dawie verwys het en sy vas geglo het ’n geheim was. Wie het haar agtervolg? Wie het haar en John afgeloer? Deur die venster gesien hoe lê sy in sy arms terwyl hy vir haar gedigte lees en hulle rooiwyn drink uit sy brandewynglase.
Op die ou end huil sy harder oor hom, haar digter wat van haar afskeid geneem het met Byron se gerieflike verontskuldiging: “And the heart must pause to breathe, and love itself have rest.”
Dít nadat sy hom genooi het om Kersfees plaas toe te kom en die feestyd saam met haar en haar ouers deur te bring. Dis nie dat sy hom aan haar wou vasmaak nie. Hy sou die aantreklike ouer man wees wat haar na die troue vergesel. Hy kon dit nog vir haar gedoen het, al het hy ’n reputasie van rondvry onder sy studente. So min het hy omgegee. Hy wou toe nie betrokke raak nie, nadat sy so gewillig was dat sy kaal vir sy kunsfoto’s poseer het. Haar fout. Sy het haar in die verhouding begeef om te vergeet en toe verlaat haar minnaar haar, seker klaar sy oog op iemand vir volgende jaar wanneer sy nie meer op Stellenbosch is nie.
“Marissa, ek vra …” Haar ma druk ’n snesie in haar hand, sy kyk haar streng aan. “As hy jou seergemaak het, is hy jou liefde nie werd nie.”
“Mart is pregnant, hy moet met haar trou.”
“Dawie! Moet hy sowaar? Ek dag hy het beginsels. En Mart! Maar die arme Mart is so hard-up sy sou enigiets doen om getroud te raak. Dat hy jou gaan staan en vasdruk op die vooraand van sy troue! Dis net om jou deurmekaar te maak. En nou voel jy skuldig. Het hy jou vertel dat Mart swanger is of waar hoor jy dit?”
“By hom, hy’t my gesê.”
“Ek ken hom nie so nie. Dalk jok hy om jou seer te maak.”
“Mamma, dis die waarheid.”
“Het Mart ook iets gesê?”
“Nie in woorde nie, maar ek het vir ’n grap aangebied om hulle eerste kind se peetma te wees. Toe bloos sy verskriklik en gaan aan die huil. Die ander het gedink sy huil omdat ek nice was. Ek was nie nice nie, ek het haar per ongeluk aan haar skande herinner. Dink Mamma tant Martha weet?”
“Ek glo nie. Sy is nie die soort vrou wat so iets vir haarself kan hou nie. Sy sou by my kom huil het.”
“Miskien soek sy net ’n geleentheid?”
“Sy sou my lankal vertel het, al is dit net om in te vryf dat Dawie sy geluk by Mart kom soek het.” Irma maak haar arms om haar los. Sy sit teen die rugleuning van die kar terug, haar hande op die stuurwiel. “Jy moet jou trane afvee en jou neus blaas en vergeet van Dawie. Ná al die jare wat hy soos ’n seun in ons huis was, is ek nou bly hy word nie my skoonseun nie. Gespe jouself vas, ons ry.” Sy skakel die viertrek aan en gee vet om uit die sloot te kom. Toe hulle veilig op dreef is, praat sy weer. “Volg my raad, dis die moeite werd om te vergeet en aan te gaan met jou lewe. Vergeet van hom.”
“En Mamma? Mamma was dan altyd so lief vir hom.”
“Nie regtig nie, Marissa. Ek sou dit nooit vir jou gesê het nie, nou kan ek. Wat my betref, was hy te seker van homself: kaptein van die eerste rugbyspan, krieketspan, atletiekspan, slim ook en tog te bewus daarvan dat hy in alles uitblink, dat hy geld in die bank het en vee en grond, sy ouma se plaas wat sy direk aan hom bemaak het – en jy. Moenie dink ek het nie gesien hoe jaloers en besitlik hy oor jou was nie. Jy sou my nie glo as ek dit vir jou uitgewys het nie, maar hy was. Nog iets – ’n man wat so maklik by ’n ander vrou gaan inkruip, sal dit weer doen. Die eerste rusie en hy vat koers. Jy moet hierdie verhouding vandag afsluit. Beskou dit as geskiedenis, iets van die verlede. Bel vir Leandra, vra haar om vir jou in te staan en bly weg van Mart en Dawie. Jy hoef ook nie troue toe te gaan nie. Gaan kuier by Diana in Pretoria, kom terug vir Kersfees. Die egpaar gaan mos oor Kerstyd Mauritius toe vir hul honeymoon. Hulle sal eers ’n week ná Nuwejaar terug wees.”
As Dawie dit so lank in Mart se geselskap kan uithou, dink Marissa wrang.
Haar ma se woordevloed het opgedroog. ’n Ruk lank ry hulle in stilte, so asof sy spyt is en haar uitbarsting oordink. Sy vra egter nie om verskoning vir haar harde woorde nie, sy sit haar linkerhand op Marissa se skoot. “Voel jy beter?”
“Ek voel nie beter nie.”
“Is dit oor wat ek gesê het?”
“Hy het my verneder. Hy het die deur gesluit en Grieta-hulle het buite staan en klop. Toe spring hy weg en maak dit oop voor ek tot verhaal kon kom. Dit was so embarrassing, ek het nie geweet waar om my kop in te steek nie. Ons is op heterdaad betrap!”
“Klink my of hy dit beplan het. Dis wraaksugtig en onverantwoordelik! Geen wonder hy het nie vir die aandete opgedaag nie. Skaam hom seker.”
“Wat moet ek doen?”
“As Mart jou konfronteer, praat die waarheid. Sy en Dawie moet dit uitmaak voor hulle oor twee weke voor die preekstoel staan. As niemand jou uitvra nie, bly jy stil. Bel Leandra, maak verskoning by Mart-hulle, pak jou naweektas en gaan Pretoria toe. Ek onderneem om Mart se geheim te bewaar.”
“Wat van Pappa?”
“Jou pa hoef nie die besonderhede te ken nie.”
“Pappa het so gehoop ons plase kan ook trou.”
“Jou pa het genoeg grond.”
“Nogtans, ek het Pappa in die steek gelaat.”
“Jy het niks om jou oor te verwyt nie.”
“Ek wou nog altyd ’n boervrou wees.”
“Jy het op ’n plaas grootgeword, my kind. Jy kan dit op jou eie ook doen – boer, en met al jou grade, beter as enige man, selfs jou pa. Maar … En ek gaan my kop op ’n blok sit oor dié een. Jy is nie die soort vrou wat gemaak is om alleen deur die lewe te gaan nie. Iewers in jou toekoms wag daar ’n man wat jou gelyke is, baie meer as Dawie Nel van Bitterputs. Kyk hoe mooi sak die son oor die koppe. Dis jou wêreld hierdie en jy gaan nie dat die Nels jou verdryf nie. Gee kans, tyd genees. Oor ’n paar jaar is jy en jou man en Dawie-hulle bure en speel julle kinders met mekaar.”
Marissa luister met ’n skewe glimlag na haar ma se rooskleurige toekomsdrome. Daar sal baie water in die see moet loop voordat sy iemand kry wat Dawie se plek kan inneem, daarvoor het sy minder hoop as vir Dawie en Mart se huwelik. En die arme kindjie? Hy sal in ’n liefdelose huis grootword en die speelbal tussen sy ongelukkige ouers word. Nee, hulle sal nooit bure wees nie. Sy sal wag tot haar pa nie meer wil boer nie, dan verkoop sy haar erfporsie en trek ver weg. Namibië toe, boer met karakoel.
“Vir al wat jy weet wag geluk net om die draai.”
“Ja, Mamma,” sê sy gedwee.
Die son het agter die koppe verdwyn en die laaste lig gooi lang skaduwees oor die werf toe Irma by hulle hek indraai.
“Onthou nou, ons ontstel nie jou pa nie.”
Sy knik plegtig, haal diep asem toe hulle stilhou.
Haar ma druk haar hand vertroostend.