van inligting op ’n ontoelaatbare wyse en in sy ergste vorm by wyse van marteling.
Volgens Tos Pienaar, die Natalse Stormjaerleier, is Johannes Rokebrand in aanhouding so op die rug geslaan om inligting oor sy sending na Lourenço Marques uit hom te kry dat hy lank net op sy maag kon lê. Pienaar het bygevoeg: “Hy het geeneen van ons name genoem nie; hy het net eenvoudig die lyding self gedra.”14
Talle anti-oorlogsgesindes wat aangehou is, het vertel van slaapontneming en aanhoudende ondervraging onder skerp ligte. Die Terreurgroeplid Hen Pretorius noem die ondervraging het dag en nag geduur: “Hulle het my enige tyd in die nag wakker gemaak, uitgepluk en dan begin hulle my vir ’n paar ure ondervra … jy slaap ’n uur. Dan maak hulle jou wakker en dan begin hulle van voor af aan met dieselfde vrae.” Speurders het die ondervraging om die beurt waargeneem.15
Dat so baie verklarings wat die politieke speurders by getuies en verdagtes afgeneem het later deur howe as ontoelaatbare getuienis verwerp is, spreek boekdele van die ongeoorloofde ondersoekmetodes.
In die polisieselle is versteekte mikrofone geplaas om in te luister na wat die aangehoudenes vir mekaar sê. Dié het groot genot daaruit geput om voor ’n versteekte mikrofoon te staan en ’n wind te laat, saam met een of ander aanmerking. Lokvinke is ook in die selle geplaas om inligting uit die aangehoudenes te kry.16
Die speurders het voortdurend in die vroeë oggendure klopjagte op verdagtes se huise uitgevoer. Dikwels het hulle dieselfde mense herhaaldelik so geteister.
’n Verdere regulasie wat die anti-oorlogsgesindes hewig ontstel het, was die verpligte inhandiging van vuurwapens by polisiekantore onder die voorwendsel dat dit die oorlogspoging sou steun, terwyl die ware bedoeling was om enige gewapende opstand te bemoeilik. Teen Augustus 1940 is 88 000 vuurwapens reeds gekonfiskeer en nog sou volg.17 Die heftige beswaar teen die ontwapening is oor ’n rasseboeg gegooi met beskuldigings dat die Smuts-regering die wit gemeenskap weerloos laat teen ’n swart aanslag.18
Sommige regulasies het aan die absurde gegrens. Die verbod op driloefeninge en die dra van OB-uniforms was vanuit die regering se oogpunt verstaanbaar. OB-vroue is egter verbied om wit rokke te dra, wat klaarblyklik as uniforms beskou is. Die gevaar het nou bestaan dat die minister van justisie, Colin Steyn, se suster en hoofvrou van die OB, Emmie du Toit, in hegtenis geneem kon word as sy ’n wit rok dra. Steyn het egter spoedig die belaglikheid van dié verbod ingesien en dit opgehef.19 Die onsinnige bepaling was waarskynlik ’n erkenning van die stille mag van vroue.
Ondermynende materiaal is om verstaanbare redes verbied, maar in die proses is sekere boeke ook onnodig verbied, wat herinner aan die onbesonne besluite van die sensuurraad in die 1960’s en ’70’s.20 Daar was ’n geheime sensor wat alle korrespondensie kon deurgaan en telefoongesprekke afgeluister het.21 In die algemene oorlogspsigose het die SAUK nie Duitse musiek van komponiste soos Beethoven en Wagner gespeel nie.22
Tydens die oorlog is sekere noodsaaklike lewensmiddele gerantsoeneer. Baie Afrikaners het geviktimiseer gevoel oor die selektiewe wyse waarop permitte vir brandstof soms toegeken is. Weens die ernstige skaarste van brandstof en motorbande sou die opslag- en bewaarplekke daarvan teikens word vir die Stormjaers, wat gereeld rooftogte en diefstalle uitgevoer het om tekorte aan te vul. Baie Afrikaners het erg verontrief gevoel deur die skaarste van kos soos meel en vleis asook ander noodsaaklike gebruiksartikels omdat dit vir die oorlogspoging aangewend is.23
Die OB is nooit verbied nie, maar in 1941 is alle staatsamptenare verbied om lid daarvan te wees. In ’n slim teenreaksie het Hans van Rensburg alle staatsamptenare wat OB-lede was, eensklaps eervol ontslaan en van ontslagbewyse voorsien sodat hulle nie hul werk sou verloor nie. So het hy die angel uit die regulasie gehaal. As gevolg van die regeringsbesluit is baie staatsamptenare egter ondergronds gedryf en van hulle het by die geheime Stormjaers aangesluit.24
Dat die OB nooit verbied is nie, word aan Smuts se wysheid toegeskryf. Nadat die Nasionale Party en OB se paaie geskei het, kon hy sy natuurlike drang om in te gryp uitgeoefen het, maar hy het wyslik nie. Die onderlinge Afrikaner-stryd het “Slim Jannie” gepas en hy het sy troefkaarte briljant gespeel. Toe Smuts gevra is waarom hy “sagkens” optree, het hy skalks opgemerk: “Waarom moet ek hulle ophang as hulle mekaar se kele afsny?”25
Om die onstuimige jare van die Tweede Wêreldoorlog in Suid-Afrika te verstaan, moet ’n mens Smuts ook verstaan. Dat hy ’n wêreldstaatsman en intellektueel briljant was, is nie te debatteer nie. Dat hy die wêreld veel groter gesien het as die belange van Afrikaner-nasionalisme, was sy uiteindelike ondergang. Die Burger en Die Oosterlig het gepraat van Smuts se gewilligheid om te “draf wanneer daar deur die Britse base hande geklap word” en het hom die skelname “Handyman”, “Henceman” en “Handlanger van die Empire” gegee. Dit sou hom met die verkiesing van 1948 inhaal.
Wat hier van belang is, is Smuts se siening van oorlog. In ’n afskeidstoespraak aan die eerste kontingent soldate wat na die noorde vertrek het, het Smuts gesê: “I know what war means – seven years of my life have been spent in wars. They were among the hardest years of my life, but they were also full of the richest experience that life can give. I would not exchange my war experiences of the Anglo-Boer War and the last Great War for all the gold of the Rand.” Dis asof Smuts die smart van oorlog miskyk en oorlog byna verheerlik.26
Dieselfde geld vir die Afrikaner-saboteurs se siening van hul stryd teen Smuts. Hulle het geweld as moreel regverdigbaar beskou om hul oogmerke te bereik.
Maar die geskiedenis is nie sonder ironie nie. Ondanks hul radikaal uiteenlopende beskouinge en hul tekortkominge, was dit die voorkomende optrede van albei die opponerende leiers, Smuts en Van Rensburg, wat gekeer het dat fanatisme die oorhand kry en Suid-Afrika in ’n bloedbad dompel.
Die internering van baie Afrikaners in kampe tydens die Tweede Wêreldoorlog het die tragedie van die Anglo-Boereoorlog se konsentrasiekampe weer in die volksgemoed opgeroep. C.R. Swart, wat later die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika was, het gewaarsku die emosionele reaksie teenoor Smuts se interneringskampe sou dieselfde haat ontlok as Kitchener se kampe.27
Al het die interneringskampe hewige emosies ontketen, kon dit hoegenaamd nie vergelyk word met die smart en lyding in die konsentrasiekampe nie. Hierdie keer was dit ook nie vroue en kinders wat die spit moes afbyt nie, maar volwasse mans, van wie die meeste geïnterneer is weens hul vrye wilsoortuigings. Nietemin was die interneringskampe die grootste enkele steen des aanstoots vir die anti-oorlogsgesindes.
Daar was vyf interneringskampe: Andalusia (naby Jan Kempdorp), Baviaanskloof (naby Pretoria), Ganspan (naby Warrenton), Leeukop (noord van Johannesburg) en Koffiefontein (in die Suidwes-Vrystaat). Teen September 1941 is 3 936 mense geïnterneer, onder wie burgers van ander lande soos Duitsland. In een van die raaisels van die interneringsbeleid in die oorlogstyd is ’n aantal Jode – hoofsaaklik Duitse kommuniste – ook in Suid-Afrika in kampe aangehou.
Uiteindelik het 6 636 mense in die interneringskampe beland. Dis moeilik om te bepaal hoeveel van hulle Afrikaners was omdat party net ’n paar weke lank geïnterneer is en ander tot byna ses jaar lank.28 Die Bond van Oud-geïnterneerdes en Politieke Gevangenes het in 1953 beraam minstens 2 000 Afrikaners is tydens die oorlog geïnterneer, sonder om te noem hoe dit bereken is. In die Koffiefontein-kamp, wat later tot die belangrikste kamp sou ontwikkel, is gemiddeld sowat 800 Afrikaners geïnterneer – elk gemiddeld twee jaar lank. Die laaste geïnterneerde, J. Rokebrand, is in 1946 vrygelaat. Die politieke gevangenes in die Pretoria-Sentraal-gevangenis is later vrygelaat.29
Sir Theodore Truter, die hoof van die interneringskampe, was ’n bekwame man wat onder meer as die eerste kommissaris van die polisie gedien het. Maar hy was lank voor die Tweede Wêreldoorlog ’n gehate man onder baie Afrikaners. Truter was die voorsitter van die krygshof wat Jopie Fourie op ’n omstrede wyse in 1914 ter dood veroordeel het. Baie Afrikaners het dit nie vergewe nie en dit sou bly spook.30
Al die anti-oorlogsgesindes het die interneringsbeleid heftig teengestaan – wat D.F. Malan “interneringswoede” genoem het.31 Die arbitrêre redes vir internering was ’n groot bron van ontevredenheid. Soms is die redes nooit bekend gemaak nie of dit was vaag en dubbelsinnig. Die omstrede politieke speurder At Spengler, wat sy werk met oorgawe vir die Smuts-regering gedoen