Willie Esterhuyse

Die tronkgesprekke


Скачать книгу

die Nasionale Party en die Afrikanergesetenheid groot gevolge gehad het. ’n Hele netwerk hegte Afrikanerorganisasies is daarvoor gebruik, byvoorbeeld die Afrikaner-Broederbond, kultuurorganisasies, kerke, Afrikaanse feestye en ander byeenkomste.

      Dié witskrif verskyn na die 1976 Soweto- en ander opstande deur swart jeugdiges. Dit het nie net die NP-regering as sodanig en Botha in die besonder geskud nie, maar ook die wit sakesektor wat daarna die Stedelike Stigting begin het om verhoudinge, behuising en fasiliteite in stedelike gebiede te verbeter. Niks het die mislukking van die Verwoerdiaanse droom beter geïllustreer as Soweto in 1976 en die vermelde witskrif nie. ’n Nuwe, inspirerende toekomsdroom was afwesig. ’n Totale Strategie is al waarmee vorendag gekom kon word.

      Botha doen wel ’n paar interessante dinge:

      •Op retoriese vlak lewer hy in Augustus 1979 sy opspraakwekkende en (sogenaamde) “Pas aan, of sterf”-toespraak in Upington.

      •Hy stel Kobie Coetsee in Oktober 1980 aan as minister van justisie.

      •Daar word aangekondig dat ’n nasionale veiligheidsbestuurstelsel ingevoer sal word. Die departement van verdediging sal daarin ’n groot rol speel.

      •’n Nasionale intelligensiediens word ontwikkel met Niël Barnard, ’n professor van Bloemfontein, as hoof. Volgens bronne was Kobie Coetsee instrumenteel hierin, maar tydens die onderhandelingsproses met die ANC en ander rolspelers het hul weë geskei.

      Botha se houding ten opsigte van onderhandelinge met die ANC, die vrylating van Mandela en ander politieke gevangenes, en veral gesprekke met Mandela, is baie streng bepaal deur sy fokus op veiligheid en daarmee samehangend sy grenslose teenkanting teen kommunisme. Daar is twee boekies wat ons hieroor inlig, boekies wat aan leiers binne die Suid-Afrikaanse Weermag (burgermagleiers inkluis) beskikbaar gestel is:

      •Handleiding oor terroristewapens (Geheim en beperk) en

      •Talking with the ANC. 5

      Die doel van die eerste boekie was om ’n beskrywing te gee van “die wapens en toerusting wat algemeen in die besit van terroriste in ons buurstate is”. Daar word ook gesê dat terroriste “hulle toerusting van oor die hele wêreld ontvang”. Die lys van toerusting is formidabel, meesal vanuit kommunistiese lande.

      Wat die boekie onregstreeks vertel, is dat “terroriste” se wapentuig besig was om te verbeter. So ook hul opleiding om dié wapentuig meer doeltreffend te gebruik. ’n Verskerpte militarisering en investering in die wapentegnologie was onafwendbaar.

      Talking with the ANC (Junie 1986) gee vir ’n mens, agterna gesien, ’n goeie aanduiding van wat die amptelike posisie was, hoe dié posisie beredeneer is en hoe PW Botha se platformverklarings ’n deurslaggewende rol hierin gespeel het. Die datum van uitgawe, Junie 1986, is belangrik, want in Junie, tien jaar vantevore, het swart, bruin en Indiër-jeugdiges die land met hul verset laat ontplof en aan die brand gesteek. Selfs die ANC is onkant gevang deur dié versetoptrede en het byvoorbeeld haastig in 1978 ’n afvaardiging na die beroemde generaal Giáp van Viëtnam gestuur. Die ANC het advies oor die idee van ’n People’s War gaan vra. Daar was ’n vrees dat die kinders die revolusie van die ANC kon kaap.

      Botha was Machiavelliaans. Hy het geweet waaroor die konsolidasie van politieke én militêre mag gegaan het en dat organisasie, en veral die beheer oor sleutelinstellings van die staat, dié waarborg vir beheer en hiërargiese gesagsinstellings is. Hy transformeer Suid-Afrika mettertyd in ’n doeltreffende veiligheids-, oftewel sekurokratiese staat. Hy koop, na Vorster, polities gesproke tyd.

      Oor die ANC, en veral onderhandelinge met die ANC, was hy onversetlik. Die boekie Talking with the ANC vertel dié storie. Dit verwys na ’n toespraak wat Botha op 15 Mei 1986 in die destydse parlement gelewer het. Kobie Coetsee, sy minister van justisie en gevangeniswese, het al die vorige jaar, in November 1985, vir Nelson Mandela in sy private hoedanigheid besoek na laasgenoemde se opname in die destydse Volkshospitaal. Hy was die eerste NP-minister wat dit gedoen het.

      Botha beantwoord in sy toespraak die vrae: Kan daar met die ANC onderhandel word? Indien wel, wanneer en onder watter omstandighede?

      Sy antwoord is as volg: “As far as the Government is concerned it remains adamant that it is prepared to negotiate with citizens of South Africa, provided that they do not resort to violence as a means of attaining their political and other goals, or call in foreign agencies to support them …”6 Hy beklemtoon: “Negotiation of necessity implies that participants should accept that not all their requirements are likely to be met; it implies a willingness to listen, to discuss and seek solutions. But these solutions will result from deliberations by South Africans in the interest of South Africans.”

      Hierna volg die argument wat vanaf John Vorster se dae al holrug gery is: Die ANC is ’n kommunisties beheerde organisasie. Daarom is die revolusionêre strewe, die gewelddadige omverwerping van die huidige regeringstelsel en die oorname van “total power for itself” die ANC se strewe. Onderhandelinge word deur elemente in die ANC as ’n taktiek beskou om álle mag deur middel van geweld oor te neem. ’n Kompromis deur middel van ’n grondwetlike skikking waarin mag gedeel word, is nie ’n doelwit van die ANC nie. Die ANC volg ’n strategie gebaseer op die idee van ’n tweefase-revolusie waarin geagiteer word vir ’n “national liberation” met die eintlike doelwit van ’n kommunisties gereguleerde politieke stelsel. Wat in Viëtnam, Kuba en Nicaragua gebeur het, word as bewysmateriaal aangevoer. Die ANC is ’n terroriste-organisasie onder beheer van kommuniste.

      Dié posisie het natuurlik om ’n rede bestaan, wat die publikasie ook tereg aandui: Suid-Afrika wás ’n gewelddadige samelewing, vasgevang in ’n burgeroorlog, oftewel vryheidstryd. So verklaar die ANC-beheerde Radio Freedom op 18 Februarie 1985 uit Lusaka: “Enemy property must be petrolbombed or attacked in any possible way. Enemy agents and collaborators must also be isolated and attacked.” En op 10 Oktober 1985 verklaar ’n ANC-segspersoon, Alosi Moloi, by die California State University: “Among us we have people who have openly collaborated with the enemy. You have to eliminate one to save hundreds of others.” Soos Winnie Mandela op 13 April 1986 gesê het: “… with our boxes of matches and our necklaces, we shall liberate this country.” Dit verwys na die halssnoer-moordmetode, waarmee ANC-ondersteuners beweerde meelopers van die apartheidstelsel vermoor het deur hul arms met buitebande vas te pen en hulle dan aan die brand te steek.

      Op 15 Mei 1986 verklaar staatspresident PW Botha: “I would, however, shrink my responsibility if I do not state clearly that the Government is adamant to maintain order. People who perpetrate violence must take note that if they do not renounce violence, they will inevitably face the full power at the disposal of the state, which has not nearly been applied to the full. In future there must be no misunderstanding about this.”

      Vier dae ná Winnie Mandela se uitbarsting, op 17 April 1986, was Botha selfs nog méér spesifiek: “… negotiations will not be conducted with the SACP, international or national terrorist groups or other fanatics.” Trouens, hy spesifiseer soos reeds gesê: “As far as the Government is concerned, it remains adamant that it is prepared to negotiate with citizens of South Africa, provided they do not resort to violence as a means of attaining their political and other goals, or call in foreign agencies to support them.” Botha was fel gekant teen inmenging van binnelandse of buitelandse drukgroepe.

      Afswering van geweld vóór ’n onderhandelingsproses kon begin, was vir Botha ’n baie sentrale saak. So ook sy totale teenstand teen, en selfs weersin in, die SAKP. Op 28 April 1986 probeer hy selfs ’n wig indryf tussen ANC-nasionaliste en die kommuniste. Hy verklaar: “… it is high time for those ANC leaders who do not support communism to step out, to come back to South Africa and to take part in constitutional action.” ’n Paar dae vantevore verklaar Botha in ’n toespraak: “… there are Black nationalists within the ANC who are not aware that they are being manipulated by hardened communists”. Dit is ook die rede waarom Botha die Idasa-besoek van Van Zyl Slabbert en Alex Boraine aan Dakar so verpes het. By geleentheid het hy aan een van die skrywers van dié boek (Esterhuyse) gesê: “Hulle wil buite-om ons land se wettige regering met kommuniste oor ons land se toekoms onderhandel. Dis waarom hulle die parlement verlaat het.”

      2.