Luné Olivier

Droomberig


Скачать книгу

vreemdeling!

      Later daardie week droom Anelia van geheimsinnige groen oë wat haar dophou.

      Sy staan onder ’n lou stort terwyl die bewonderende oë elke beweging van haar volg sodat sy van hom af wegdraai en haar kop onder die water indruk. Net toe sy haar arms oplig om haar hare uit haar gesig te vee, gaan die stortdeur oop. Sy skrik toe hy met klere en al in die stort klim. Onthuts kyk sy op na sy gesig en sien hoe sy lippe naderkom. Sy tree terug totdat die kraan teen haar rug druk. Met dié draai die kraan warm kant toe en brand haar vel.

      Sy skrik wakker.

      Haar hele lyf is aan die brand sodat sy huiwerig oor haar skouers vryf. Gelukkig het sy darem nie regtig gebrand nie, maar dit voel wel of sy vuurwarm aan die binnekant is.

      Sy haal ’n paar keer diep asem om weer tot verhaal te kom. Hoe verklaar sy dié drome? Sy het die man skaars ontmoet, en hy spook snags by haar.

      Inteendeel, hy het haar al in haar drome besoek nog voordat hulle ontmoet het.

      Die volgende oomblik gaan die wekker af.

      Traag staan sy op en stap kombuis toe om die perkoleerder aan te skakel, want sy glo aan ordentlike koffie. Veral vir ontbyt. Daarna stap sy badkamer toe om haar gesig met koue water af te spoel, haar liggaam steeds ietwat koorsig.

      Hierdie storie moet nou end kry.

      Later in die dag is sy so besig met navorsingwerk saam met die span dat sy van haar droom vergeet. Sy geniet die werk en leer baie.

      Daardie middag skakel Zack haar weer. Sy antwoord sonder entoesiasme. In haar kop het sy reeds vrede gemaak daarmee dat sy hom nie meer as deel van haar lewe wil hê nie. Soos Mercia gesê het, laat hy haar nie in die nag wakker lê of hartverskeurend huil nie.

      “Prinses, wil jy dan nie vanaand saam met my gaan uiteet nie? Asseblief?” drup die heuningkwas.

      “Ek het planne met Mercia.” Gelukkig hoef sy nie weer te jok nie.

      “OK, kan ek jou dan môre vir middagete iewers kry, asseblief?” Hy begin nou desperaat klink.

      “Goed,” stem sy in, al is dit net, besluit sy, om hom af te sê.

      “Wonderlik, by He/Brew’s?” vra Zack.

      Hulle was nog nooit saam daar nie, maar hy onthou blykbaar dat dit haar gunsteling-koffiewinkel is. Hy gaan net die hele koffie-ondervinding daar vir haar bederf.

      “Ek kry jou eerder by die koffiewinkel verder af in die straat. Ek was lanklaas daar,” dink Anelia gou ’n verskoning uit.

      “Reg so, prinses. Sien jou dan twaalfuur.” Zack klink baie ingenome met homself.

      Anelia moet keer of sy sug hardop toe sy groet.

      Sy trek gou aan, gee die kat kos en ry na Mercia toe. Sy is die een persoon by wie sy net haarself kan wees, geen grimering en geen ander pretensies ook nie. Anelia kan selfs in haar nagklere gaan kuier, sou sy wou, en daar sal geen veroordeling wees nie.

      “Al werk ons so semi saam, voel dit asof ek jou nooit sien nie,” groet sy Mercia met die intrapslag na ’n stywe drukkie.

      “Ek stem, dis jammer ons kalenders is nie in sync nie.”

      Mercia het haar pantoffels aan, sien Anelia en glimlag. “Ek hoop jy het jou beste kookboeke uitgeruk, ek is vanaand rasend honger,” skerts sy.

      “Ek het, glo my. Ek wil sommer vir Shawn ook bietjie bederf. Jy weet, ons is al amper ’n jaar saam, ek kan nie nou al begin slap lê nie. My ma het altyd gesê jy kan nog oud en lelik wees, maar jou man moet altyd gelukkig aan tafel en in die bed wees,” lag sy.

      “Wel, ek glo vandat jy in Shawn se lewe is, is hy een van die gelukkigste mans op aarde, vriendin.”

      “Hy sal nou-nou hier wees. Kom ek gaan skink vir ons elkeen ’n glas rooiwyn,” nooi Mercia.

      Toe hulle elkeen met ’n glas in die hand op die bank sit, vra Mercia of daar enigiets interessants by die werk gebeur het.

      “Daar het …” Om een of ander rede speel die stortdroom weer voor haar af, soos al tientalle kere die week.

      “Dit kan net ’n man wees wat jou só laat bloos. Vertel!” Mercia raak skoon buite haarself.

      “Onthou jy toe die suidooster vroeër die week so wild gewaai het? Ons moes ’n storie daaroor doen.”

      “Ja, ek het nogal gedink Délicieux sal ietsie daaroor inbring.”

      “Ons het die storie in die oulikste koffiewinkel geskiet. Ons moet tog eendag daar gaan middagete eet en–”

      “Nee wag, daar moet iets interessanter as net ’n koffiewinkel in die prentjie wees,” val Mercia haar in die rede.

      “In elk geval, daarna het Lewis die toerusting bussie toe gevat terwyl ek koffie bestel het. Hy het die bussie gaan omdraai sodat ek makliker kan inspring, maar toe ek die koffiewinkel se deur oopmaak, suig die rukwind my na buite en vlieg ek teen ’n man vas. Hy het my darem weer na veiligheid gebring en vir ons cappuccino’s gekoop.”

      “Dit kan tog nie al wees nie.” Mercia sit vorentoe asof sy beter wil hoor. “’n Mens bloos nie só oor ’n koppie koffie nie.”

      “Ek was ’n bietjie onkant gevang, want ek het in ’n vierkantige ken vasgekyk en gespierde arms het my vasgedruk. Al die lug het my longe verlaat en ek het ’n lammigheid in my bene gevoel. En dalk sterre gesien. Ek kan nie meer alles so mooi onthou nie.” Terugflitse van Leon se warm, beskermende liggaam blits weer voor haar geestesoog.

      “Hey, jy dagdroom so, jy hoor nie eers wat ek vra nie,” ruk Mercia se stem haar terug na die werklikheid. “Het jy darem onthou om sy naam te vra terwyl jy so in vervoering was?”

      “Om die waarheid te sê het ek vergeet, maar hy het my gou genoeg in kennis gestel.”

      “Het jy jou nommer vir hom gegee?” pomp Mercia haar vir nog inligting.

      “Nee.”

      “Hoekom nie? Het hy nie gevra nie? Dalk is hy getroud. Het jy ’n ring aan sy vinger gesien?” Sy haal amper nie asem nie.

      “Hy het gevra, maar ek het dit nie vir hom gegee nie.”

      “Agge nee, genade!” Mercia gooi haar arms in die lug. “Wat is sy naam? Kan jy dit darem onthou?”

      “Leon le Hanie.”

      “Hoekom klink dit so bekend?”

      ’n Greintjie hoop kom lê in Anelia se binneste, maar voordat hulle verder kan gesels, stap Shawn by die voordeur in.

      “Hallo, dames,” groet hy opgeruimd.

      Mercia spring dadelik op en omhels hom asof sy hom maande gelede laas gesien het.

      “Wat ruik so lekker? Ek is rasend van die honger,” kla hy.

      “Ons het net vir jou gewag. Die kos is gereed,” beduie Mercia na die kombuis.

      Shawn gee Anelia ook ’n drukkie. “Goed om jou ook weer te sien, Anelia. Hoekom het jy vanaand nie sommer vir Zack saamgenooi nie?” vra hy ordentlikheidshalwe.

      “Ek het môremiddag ’n afspraak met hom. Om hom af te sê.”

      “Well, I’d never …” Mercia se mond hang amper oop, maar sy weet beter as om voor Shawn verder uit te vra.

      Sy sal wel een of ander tyd haar hart deel.

      Die aand is, soos gewoonklik, gesellig met heerlike boerekos en asynpoeding vir nagereg en Anelia is amper onwillig om terug te gaan na haar eensame meenthuis.

      3

      Twee weke later voel dit vir Anelia asof sy al baie gemakliker optree met die wêreld se oë op haar. Haar glimlag kom nou natuurliker en sy is bekend met Délicieux se prosedures, sowel as die aanbieding self.

      Dit