… so …”
Hy moes seker gesien het dat sy naby breekpunt was, want skielik het hy haar gegryp en teen hom vasgehou en toe kon hy nie ophou jammer sê nie.
’n Rukkie het haar vuiste nog teen sy bors gehamer, maar toe het haar bene onder haar geswik en het sy magteloos teen hom gehang. Die geluide wat uit haar bors gekom het, was rou krete van teleurstelling.
Hy het haar bed toe gedra, die duvet oor haar getrek, toe uitgestap en die deur agter hom toegetrek.
Dit was omtrent elfuur daardie aand toe sy opgestaan het om badkamer toe te gaan. Haar kop was seer en haar mond droog, en sy is kombuis toe om pille en water te kry.
Dit het gereën en die groot eikeboom se takke het in die wind teen die kombuisvenster geskuur.
Sy het die pille in haar hand uitgegooi, maar voordat sy dit kon sluk, het ’n glas iewers in die huis gebreek.
Christiaan? was haar eerste gedagtes. Waar is hy? Op haar tone is sy die gang af. ’n Lig het uit die studeerkamer geskyn. Sy wou net omdraai en terug kombuis toe gaan, toe nog ’n glas breek. Voor die halfoop deur het sy gehuiwer en dit versigtig oopgestoot. ’n Ry glase het voor Christiaan op die lessenaar gestaan. Almal half met whisky of brandewyn. Een vir een het hy die inhoud in sy keel afgegooi en die glas dan teen die oorkantse muur stukkend gegooi.
Voor hom, op ’n stuk bruinpapier, was drie rytjies wit poeier.
Sy het haar hand moedeloos oor haar mond geslaan om die snik te keer. Nie weer nie.
Asseblief tog, net nie weer nie. Skuldgevoelens het haar oorweldig. “Christiaan?” Sy naam was net ’n fluistering.
Tog het die blou oë opgekyk na haar, haar om hulp gesmeek.
“Jy sal my nooit kan vergewe nie, nè?” Sy mondhoeke het in misnoeë afgetrek. “Ek het alles opgemors. Ek is een groot, bliksemse mislukking. Almal verwag ek moet soos my pa wees, ek moet doen en wees wat hy was. Ek sal nooit hý kan wees nie, Rien, al probeer ek hoe hard. En jy … ek …”
“Ai, Christiaan. Dis nie waar nie!” Met ’n swaar hart het sy skrikkerig die vertrek binnegestap. “Kom ek help jou kamer toe. Ons kan môre verder …”
“Jy haat my, nè? Hoe …? Hoekom? Jy wou mos geweet het. Ek’s ’n gemors, nè?”
Nog ’n glas het teen die muur gebreek voordat sy by hom kon uitkom.
Sy was verbaas dat hy gewillig opgestaan en haar toegelaat het om hom terug na hul kamer toe te lei.
Sy het hom gehelp uittrek en gesorg dat hy in die bed kom.
Toe het sy haar trots in haar sak gestop en langs hom ingekruip. Op daardie oomblik het sy hom bitterlik jammer gekry. Hoe graag sou sy nie haar studentemaat en haar eerste liefde wou terughê nie. Êrens, diep binne die bekende liggaam langs haar, moes hy tog nog wees.
Daardie Christiaan sou nooit sulke dinge gedoen het nie. Hy was altyd die onselfsugtigste mens wat sy geken het. Al was hy hoe gewild, het hy altyd ander se probleme en behoeftes eerste geplaas. Hy was die een wat nagte by ’n vriend sou deurbring om hom deur ’n krisis te help. Hy was die een wat almal se probleme wou oplos, wat sy vriende altyd bygestaan het.
Met die beeld van haar studentemaat in haar kop, het sy hom toegelaat om haar te liefkoos. Elke keer wat die rooikop se beeld wou oorneem, het sy met mening gekeer. Al was die hande wat haar geliefkoos het, warm en sweterig, al het die asem in haar nek na drank geruik en al was dit allesbehalwe aangenaam, was sy dankbaar dat die drie rytjies poeier nog onaangeraak op sy lessenaar gebly het.
Vroeg die volgende oggend het sy gaan draf. Sy moes haar kop skoon kry. Die draf was nie baie suksesvol nie, want sy was meer deurmekaar as die vorige aand.
Miskien is dit tyd om haar lewe op sigself ook onder ’n vergrootglas te kry. Heel moontlik lê die probleem by haar. Hoekom anders gaan soek ’n man ander weiveld en ontvlugting in drank en dwelms?
Het sy maar daardie oggend liewer nie gaan draf nie, of het sy daardie dag liewer nooit terug huis toe gegaan nie.
Bessie en Lena se verskrikte gesigte doem weer voor haar op. Hulle stemme klink vreemd terwyl hulle haar probeer keer om in die huis in te gaan. Hul oë is vol simpatie en vrae. Daardie dag het ’n deel van haar doodgegaan, het sy geleer wat dit beteken om te haat.
En nou, na ses jaar, moet sy voor hom gaan staan en hom weer in die oë kyk. Hoe gaan sy dit doen? Hóé?
Marina stap die ontvangslokaal binne. Haar hart klop onstuimig in haar bors. Sy probeer haar vrees vir die wedersiens en die onbekendheid van die omstandighede wegsteek. Gedurende die nag het sy aan honderd-en-tien goed gedink wat sy vir Christiaan wou sê en probeer beplan hoe sy gaan optree wanneer hulle uiteindelik weer voor mekaar staan.
Tog het sy steeds nie ’n idee hoe sy die situasie gaan hanteer nie.
Hopelik vra hy vir ’n oorplasing na ’n ander kliniek wanneer hy uitvind dat sy hier is.
Haar bene beweeg outomaties die gang af tot waar haar spreekkamer is. Sy betrap haarself dat haar oë die hele tyd rondsoek. Soek na enigiets wat moontlik bekend lyk en wat sy moet vermy. Toe haar soekende oog ’n rolstoel gewaar, voel sy hoe haar liggaam tot die vlugaksie wil oorgaan.
Die stoel is egter leeg, en sy berispe haarself: Kry beheer, Marina.
Lizel groet haar hartlik en skakel dadelik die koffiemasjien aan.
Marina plaas die lêers terug op Lizel se toonbank en klop haarself metafories op die skouer toe sy die meisie laggend omhels en vra of die afdeling darem sonder haar staande gebly het.
Lizel rangskik Marina se beker op ’n skinkbord, haal twee beskuitjies uit ’n houer en sit hulle in ’n bakkie op die skinkbord langs die beker terwyl sy laggend antwoord. “Alles staan nog, maar ons sê liewer nie hoe nie. Ek moet sê, ons het jou hierdie keer meer gemis as vorige kere. Dit was net asof elke nuwe pasiënt wat ons gekry het, spesiale uitdagings meegebring het. Veral die een ou. Onthou jy nog hoe oom Peter Gregory was toe hy hier aangekom het?”
Marina knik.
“Wel, maal dit met tien, dan kry jy Van Breda. Stug, hardkoppig en weier volstrek dat enigiemand aan hom raak. Hy sukkel soggens self in sy rolstoel in, sit die hele dag voor hom en uitstaar en sukkel weer saans terug in sy bed. Martie het hom eers behandel, toe gee sy hom oor aan Dewald om te kyk of hy meer geduld en luck het, maar nee wat. Van Breda bly net pleinweg ongeskik. Die ander afdelings kla net so.”
Marina luister geskok na die meisie wat al geselsend koffie skink. Sy het dit nogal so half en half verwag. Die prentjie in haar kop van Christiaan in ’n rystoel begin in die rondte draai, en sy gryp na die toonbank om nie om te kap nie.
Net soos die vorige aand, sak sy terug op Lizel se kantoorstoel.
Lizel, wat toe net omkyk, sit die skinkbord in haar hande gou op die toonbank terug. “Marina? Is jy oukei?” Sy kom hurk by Marina en vryf oor haar arm. “Jy is wasbleek. Moet ek ’n dokter gaan roep?”
Marina voel hoe die bloed weer stadig na haar kop terugvloei. Dankie tog dat sy destyds haar nooiensvan teruggeneem het. Na dese sou Lizel onmiddellik ’n konneksie tussen haar en Christiaan kon gemaak het. En natuurlik met Stiaan!
O genade, hoe gaan sy deur die dag kom?
Sy skud haar kop en glimlag stram. “Ek voel klaar beter, dankie. Miskien moet ek daardie koffie en beskuit in my lyf kry. Ek het nie gisteraand of vanoggend geëet nie – seker maar my vakansielyf se manier van kos vra.”
Amper lag sy kliphard vir haarself, want sy het geen idee hoe sy die koffie of beskuit deur haar gespanne keel gaan kry nie.
“Is jy seker? Ek het darem nou geskrik, jong. Jy lyk baie bleek. Kan ek nie …?”
Marina sit haar hand op die skouer van die meisie voor haar. “Ek’s fine, Lizel. Dit was maar net een van daardie oomblikke. As ek later weer so duiselig word, sal ek gaan dat hulle my bloeddruk toets.”
Sy