hoek van haar huis word nou wel elke aand deur die welgestelde landgoedinwoners volgepak, maar sy is seker dat sy nog ’n bespreking sal kan maak.
“Shit, Ma. Laat my net toe om vir ons te kook. Dit kos julle ’n kakhuis vol geld vir my kursus. Laat ek julle wys dat dit actually werk. Ek belowe ek sal skoonmaak. Amy sal help.”
Die oomblik toe Retta instem, weet sy dat sy dit gaan berou.
“Nooi van julle tjommies ook. Dis ewe veel moeite om vir twaalf te kook as vir twee.”
Dis dalk nie so ’n slegte idee nie, dink sy. Hulle skuld al lankal vir Christa en Paul Biddulph ’n ete, en dit sal lekker wees as sy nie self hoef bont te staan nie. Wie weet, dalk kan sy ’n bietjie spog met Dawid se talente. Christa kan tog so aangaan oor haar begaafde kinders met skoolbaadjies wat drup van die balkies en erekleure.
Sy staan ’n rukkie stil nadat Dawid afgelui het. Sy was in haar en Tobias se slaapkamer toe die oproep deurgekom het, op pad na Tobias se kant van hul ekstra lang koninggrootte huweliksbed. Hy is by die werk en sy kan rustig deur sy bedkassie snuffel vir leidrade. Sedert Saterdagaand se koorsagtige en totaal onkenmerkende seks met haar man, het sy nog nie vir ’n oomblik ophou dink aan die vrou en kind by die lughawe nie. Sy en Koba sou vanoggend ontbyt gaan eet het in Greenside, maar haar vriendin het dit gisteraand gekanselleer. Dit voel vir haar asof Koba haar vermy.
Sy hurk voor haar man se bedkassie en staar na die intens persoonlike hoekie wat so baie van Tobias sê. Die ruimte aan sy kant van die bed lyk vanoggend vir haar soos ’n ou, vergeelde Polaroid-kiekie. ’n Oomblik uit die verlede wat vasgevang is en wat nou geheel en al uit plek lyk in ’n nuwe era. Op die kassie lê ’n biografie oor die ingenieur Nikola Tesla. ’n Pakkie Strepsils. Drie wit sakdoeke, in vierkante gevou. Tobias se neus gaan dikwels spontaan aan’t bloei in die middel van die nag. Hy het ’n hekel aan papiersnesies. Die enigste ander goed op die tafeltjie langs sy kant van die bed is ’n roomkleurige bedlampie en ’n klein kraffie portwyn met ’n glas – sy slaaptydplesiertjie elke aand.
Voordat Retta die bedkassie se enigste laai ooptrek, kyk sy eers na haar kant van die bed, waar ’n identiese kassie staan. Behalwe die bedlampie, is daar net drie items: haar houtkissie met Christelike dagstukkies, ’n potjie duur handeroom en ’n dun glasvaas met ’n enkele wit roos uit haar tuin. Alles perfek met mekaar belyn. Sy wonder hoe Tobias se bedkassie sou gelyk het as hy alleen gewoon het, of saam met iemand soos Leigh. Is dit regverdig om haar fanatiese netheid op haar huismense af te dwing? Maar dis seker simpel om na ses-en-twintig jaar se getroude lewe oor so iets te wonder.
Sy trek die laai oop. Tydskrifte. ’n Flits. Skuifspelde. Batterye. Kougom. Naelknipper. Die afstandbeheer vir die TV in hul kamer. Niks snaaks nie.
Sy stap na die wasgoedmandjie en kry die klein bondeltjie wasgoed wat vanoggend gedoen moet word. Sy sien die jeans wat sy Saterdag aangehad het, vroetel in die sak vir die knipsels fotopapier en gaan sit dit in die klein houtkissie met dagstukkies. Dan neem sy een van die kaartjies uit die boksie. Dit sê:
Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. – Hebreërs 13:5
Maar jou man sal heel moontlik, dink sy sinies. Sy buk af en kyk na die klere wat Tobias in die mandjie gegooi het. Sy tel een van die hemde op, ruik daaraan. Dit ruik na Tobias. Daar is geen sweempie parfuum of lipstiffie op die hemp nie. Ruk jou reg, dink sy. Jy fundeer al jou vrese op die posisie van ’n tas in ’n kattebak. En ’n vriendin se gebabbel.
Retta besluit om daadwerklik op te hou om haar man te wantrou. Sy was Saterdagaand so gedetermineerd om inligting oor die misterieuse ma en kind in die Kaap uit hom te kry. Maar toe sy Sondagoggend wakker word, het sy heeltemal anders gevoel oor die saak. Bang vir wat sy sou uitvind. Bang om haar twyfel voor hom oop te vou soos ’n tafeldoek waarop hulle ’n siek piekniek kon dek. Dis nie wie Tobias en Retta Blom is nie.
Sy tel die wasgoedmandjie op en trippel met die trappe af ondertoe. Op die witbord in die waskamer is net twee woorde geskryf: Bel sleutelmaker. Sy kyk na die netjiese boepensletters. “Ma se handskrif lyk soos die karaktertjies in South Park,” het Ben eenkeer opgemerk. Sy neem die bordveër en vee die woorde uit. Sy laai die wasmasjien, maak haar tuis op een van die stoele by die kombuistoonbank en bel vir Christa. “Hoe lyk dit, Chris, wil jy en Paul by ons kom eet? Dawid en sy meisie gaan vir ons kook.”
2
Die neuroloog se spreekkamer is klinies en modern. Dit is duidelik dat sy vrou haar wildste binneversieringsdrome kon uitleef sonder dat ’n vasgestelde begroting haar pret bederf. Die getekende afdruk van ’n William Kentridge-houtskoolskets beklee die ereplek bo die bottersagte leerbank. Selfs die tydskrifte wat in netjiese stapels strategies op ontwerperskoffietafels geplaas is, getuig van goeie smaak. Visi. Habitat. National Geographic. Vanity Fair. Slegte nuus vir mense wat beweer hulle lees die Huisgenoot slegs in mediese wagkamers. Hier gaan hulle nie regkom nie, dink Suria Manser. Sy neem ’n Vanity Fair en blaai na ’n artikel oor George Clooney. Nou en dan kyk sy op na haar dogter wat langs haar sit, en glimlag bemoedigend vir die kind.
Klarabelle Manser is klein vir haar ouderdom. Hoewel sy al elf jaar oud is, raak haar voete skaars aan die mat. Sy sit in ’n diep leunstoel langs haar ma en speel speletjies op haar foon.
“Gaan hulle weer die simpel drade aan my kop vasmaak?” vra sy in ’n oordrewe fluisterstem.
Suria maak haar tydskrif toe, leun oor na Klarabelle en streel oor haar kind se wilde bos swart hare.
“Jy’t dan laas gesê dit laat jou soos die Statue of Liberty voel? Jy’t hóéveel selfies geneem en dit op Instagram die wêreld ingestuur!”
“Dit was voordat ek vir drie dae met die goed op my kop moes lê. Dis lame, Mamma-Su. En ek wil nie weer saam met al daai weirdos in die hospitaal wees nie.”
Suria druk haar kop teen Klara s’n. Die twee-en-sewentig uur in ’n Johannesburgse kliniek was nie vir een van hulle ’n grap nie. Sy verstaan waarom die kind nie meer dink die EEG-elektrodes is cool of snaaks nie. Maar dit is die Kaap hierdie, en die dokter wat hulle vandag sien, is nie die een wat haar aan die vorige marteling onderwerp het nie.
“Mevrou Manser?” Die ontvangsdame is professioneel en vriendelik, met ’n lugwaardinstem.
“Juffrou,” help Suria die vrou reg.
“Juffrou Manser, dokter sal julle nou sien.”
Suria vat haar kind se hand toe hulle agter die vrou in die kort gang afstap. Die dogtertjiehand is koel in hare, soos ’n jong plant wat met wortels en al uit klam grond getrek is. Klara laat dit net ’n paar sekondes toe voordat sy haar hand uit haar ma s’n loswikkel.
Die dokter is jonger as die een in Johannesburg. Sy lessenaar is so groot soos ’n eetkamertafel en daar’s baie min goed daarop. Daar is wel ’n indrukwekkende versameling Star Wars-figuurtjies in ’n perfekte groepie naby sy telefoon. Hulle het skaars gesit, of Klara steek haar hand uit om daaraan te vat. Suria skud haar kop kwaai en die kind trek haar hand skuldig terug.
“A, ja, juffrou Manser … Klarabelle. Gaaf om julle te ontmoet. Ek is Anton Breedt.”
Hy blaai deur die lêer voor hom en kyk met groot belangstelling na bladsye en bladsye EEG-drukstukke.
“Klarabelle, hoe was jou kuier in Johannesburg?” wil hy weet, sonder om sy oë van die grafieke af te haal.
Klara kyk na haar ma en Suria knik vir haar asof sy sê: Dis oukei, jy mag maar met die dokter praat.
“Dit was lekker, uncle. Ag, ek bedoel dokter. Ons was Gold Reef City toe. En na Maropeng, waar die eerste oermense se geraamtes gevind is.”
“A, ja … Mevrou Ples.”
Klarabelle knik haar kop instemmend.
“En jy het ook by dokter Babu se kliniek gaan kuier vir drie dae, sien ek. Jou brein het vir ons interessante prentjies daar gemaak, jonge dame.”
Suria sug hoorbaar. Sy is keelvol vir medici in peperduur kamers wat neerbuigend met haar en haar kind praat, asof hulle al twee