begroting bietjie tight, ou seun?”
Retta vang Dawid se oog en knik vir hom. Hy glimlag skeef terug en sy weet hy het darem die onbeholpe kompliment gehoor. Die vrede hou egter nie lank nie. Dawid skink klein doppies muskadel in Retta se pewterglasies. Terwyl hy besig is met die laaste een, kom Amy uit met vier borde op ’n skinkbord.
“Now, for the pièce de résistance!” Sy sit ’n bordjie voor elke gas neer.
Op elke bordjie is ’n hardgekookte eier met twee repies spek.
“Brekfis? Wat het van poeding geword? Is dit nou uit die mode?” Paul klink opreg teleurgesteld.
“Sjuut,” maak Christa hom vies stil.
“Heston Blumenthal se spek-en-eier-roomys,” kondig Dawid trots aan.
“Hester wie? Ek hoop sy is familie van Jan Ellis, want dis die poeding waarvan ék hou.”
Die twee jong sjefs ignoreer Paul Biddulph se aanhoudende gekarring en pogings om snaaks te wees. Dawid gaan staan langs Christa.
“Kan ek tannie Chris se eier voorberei?”
“I’m intrigued, young man!” sê Christa en leun afwagtend terug in haar stoel.
Amy speel nou assistent en gee vir Dawid ’n klein emaljekastrol en ballonklitser aan. Hy neem die eier wat voor Christa in die kelkie staan, breek die eierdop en giet die inhoud in die kastrol. Hy kantel dit sodat Christa die inhoud kan sien. Dis nie bloot eiergeel en -wit nie. Dis ’n romerige mengsel wat op ’n wonderbaarlike manier in die heel eierdop beland het. Amy giet ’n bietjie vloeistof uit ’n termosfles daarby en die mengsel begin onmiddellik rookwolke maak.
Christa snak hoorbaar na haar asem.
“Droë ys?” wil Tobias verwonderd weet.
“Liquid nitrogen,” sê Amy.
Dawid klop die mengsel totdat dit soos roereier lyk.
Dan skep hy dit versigtig terug in die eierkelkie en sê: “Smaaklike ete!”
Hierdie ritueeltjie word by elke gas uitgevoer, elke keer met meer selfvertroue. Hy los Paul vir laaste, en sê dan: “Amy, why don’t you do oom Paul’s. I’ll assist.”
“Ek kan nie onthou wanneer laas ’n jong meisie aan my eiers gevat het nie,” kom die onafwendbare simpel grappie.
Niemand lag nie.
“Dis absoluut hemels. Roomys met ’n speksmakie. Wie sou nou kon dink dit sal werk? En die bros karamel om die spekrepe is onbeskryflik lekker. Julle is geniuses!” Christa is in kulinêre vervoering.
“Dis blerrie lekker, julle twee. Well done.” Tobias trek al by sy tweede stukkie spek. “Jan Ellis kan gaan slaap.”
Paul eet sy roomys binne twee happe klaar en knaag dan raserig aan die karamelagtige spekrepe. Toe hy klaar is, kyk almal vir hom.
“En?” wil Retta weet.
“Call me crazy, maar ek dink spek en eiers is Wimpy-kos.”
Uit die hoek van haar oog kan Retta sien hoe Amy aan Dawid se arm vat.
“Dis seker nie almal se ding nie, Paul. Maar vir my was dit regtig spesiaal,” sê Retta. “The entire meal was something rather wow. Thanks, Amy; dankie, my kind. Onvergeetlik.”
Dis asof die hele aand se aanhoudende klein stekies ’n lelike wond in Dawid veroorsaak het. Dit bars nou oop en allerhande ongure derms peul uit.
Hy staan nog met die fles stikstof in sy hand. Dan gaan sit hy reg oorkant Paul by die tafel, sit die fles hard neer en haal diep asem.
“Oom Paul, het oom ’n probleem met my?” vra hy reguit.
“Natuurlik nie, ouboet. Ek het maar net nie gesofistikeerde smaak nie. Jy moet my maar vergewe.”
“Maar oom het tog maniere? Oom is tog ’n Christen? Staan dit iewers in die Bybel dat mens ’n pyn in die gat moet wees en vir niemand anders enigiets moet gun nie?” Dawid is nou bloedrooi in sy gesig, en dis nie van die gespook in die kombuis nie. Van kleins af kon hy sy humeur op skouspelagtige wyse verloor.
“Dawid, dis nou genoeg,” probeer Tobias sy oudste seun kalmeer.
“Nee, Pa, ek gaan dit nié los nie. Ek en Amy beplan al ’n week aan hierdie ete. Dit was ’n mission om stikstof in die hande te kry. Ons het kilometers na die Italiaanse deli gery vir presies die regte gorgonzola. Dit was ’n labour of love. Nou vat oom Paul daai love en verander dit in … in … kak!”
“Dawid!” Retta spring op en begin verbouereerd borde opmekaarstapel.
Toe Dawid en Amy by die huis instap, is Retta kort op hul hakke.
“Jissis, Ma, moet tog net nie vir my preek nie,” gooi Dawid wal toe hulle al drie in die kombuis is.
“Ek gaan nie vir jou preek nie. Ek wil vir jou en Amy dankie sê vir ’n ongelooflike maaltyd. Vergeet nou van Paul Biddulph en sy reaksie. Hy fight sy eie demone.”
“Wel, ek dink hy’s ’n opperste doos.”
“Jy het die reg om jou mening te lug, Dawid,” sê Paul, wat van nêrens af in die kombuis verskyn het. “Maar ek het ook. Onthou net, nie almal gaan van jou kos hou nie. You win some and you lose some. As jy dit persoonlik vat, sal jy nie lank hou as ’n sjef nie. Jy het ’n mooi talent gekry. Nou moet jy net leer om nie so arrogant te wees nie.”
“Whatever,” sê Dawid.
Die volgende oomblik staan Christa ook in die deur.
“For what it’s worth, julle kos het my weggeblaas vanaand. Ek dink julle het ’n groot toekoms. Ek gaan nou vir ou suurgat huis toe neem. Kom, Paul, ek dink jy’t genoeg skade gedoen vir een aand.”
Toe die Biddulphs afgesien is en Dawid en Amy die skottelgoedwasser gepak en opgeruim het, sê Tobias: “Kom drink ’n glasie port saam met ons voor julle gaan, toe?”
Retta het haar slaapklere en japon gaan aantrek, ongelooflik dankbaar dat die stresvolle aand verby is. Dit het nie uitgedraai soos sy dit beplan het nie. Haar kombuis lyk oppervlakkig darem redelik skoon. Sy sal môre diep skoonmaak met al haar eie lappe en skropgoed.
Die twee jongmense lyk uitgeput en vaal in die skerp buislig van die kombuis. Hul mandjies met toerusting en bestanddele staan gepak en Amy het hul wit sjefsbaadjies oor haar arm gedrapeer.
“Pa, ek sien regtig nie kans vir ’n diep, filosofiese gesprek nie.”
“Ek ook nie, seun. Geniet ’n glasie port saam met my en jou ma, en dan kan julle waai. Die ete was ongelooflik. Daai spek-en-eierpoeding was my gunsteling. Dit was soos iets tussen kos en ’n magic show.”
“I know, hey?” sê Amy.
“Verduidelik net vir my een ding, Pa. Hoekom is oom Paul so suur? Is dit vandat hy en tannie Chris in daai religious drol getrap het?”
Retta wonder of Dawid die lelike sêding by Mark gehoor het.
“I thought you weren’t up for a deep, philosophical discussion?” herinner Amy hom.
“Wat het jy deesdae teen Christenskap, Dawid?” wil Retta weet. “Jy het tog self belydenis van jou geloof afgelê?”
“Please, Ma. Bedoel Ma die worsmasjien van fine, upstanding jongmense wat aan die einde van graad elf in hulle beste kleertjies voor in die kerk gaan staan en rympies opsê? Dis soos Forty Days of die postmatriekjol by Hartenbos. Tradisie, Ma. As mens sestien of sewentien is en nog onder jou ouers se dak woon, het jy nie exactly ’n keuse in die saak nie.”
Retta voel skoon naar. Dit is haar dierbare Dawid-kind hierdie. Die sagte een met die groot hart. Die een wat altyd ekstra kos saamgeneem het vir maatjies wie se ma’s nie ingepak het nie. Wat rondloperhonde en afvlerkvoëltjies huis toe gebring het. Wanneer het hy so hard geword? Hoe het sy en Tobie hom gefaal? Sy sien net