voorwaar ’n menslike wonderwerk.”
“Jip. En dis waarom jy my love, girlfriend. Retta, as daai glasdeur nog skoner raak, gaan mense en voëls hulself afskryf omdat hulle nie die glas kan sien nie. I think you’re done there.”
“Vertel my net een ding, en dan belowe ek ek sal huis toe gaan.” Retta vou die lap waarmee sy gewerk het sorgvuldig in ’n piepklein vierkantjie.
“Shoot.”
“Hoe hanteer jy die aanslae van die lewe as jy nie in iets glo nie?”
Leigh gaan staan met haar hande op haar heupe. “Wag so ’n bietjie, ek glo nie in niks nie. Ek glo net nie soos jy glo nie. Daar’s wel ’n verskil, hoor.”
“Oukei, sure. Maar wat doen jy as jy leiding nodig het, of troos, of as jy dankbaar voel vir al jou blessings? Met wie praat jy?”
“Is dit hoekom jy in God glo, Retta? Omdat jy iemand nodig het om mee te praat? ’n Big Daddy wat jou verstaan en alles regmaak?”
Retta dink ’n rukkie en sê dan: “Dis beslis ’n groot deel van waarom ek glo, ja. Ek kan my nie die hopeloosheid indink van ’n wêreld sonder daai Big Daddy nie.”
“Jy kiés dus om te glo, want dit maak die lewe net makliker? Dis ’n besluit wat jy geneem het?”
“Miskien. Ek weet nie. Al wat ek weet, is dat ek nog nooit anders geglo het nie, en nooit sal nie. Vir my is God en die hiernamaals ’n feit. Finish en klaar. Maar hoe het jy my vrae nou met nog vrae beantwoord? Jou blerrie skelm!”
Leigh stoot die laaste houer vol verfbuisies onder een van die tafels in.
“Oukei. Hier’s wat ek glo. Ek glo in liefde. Ek glo in balans. Ek glo in what goes around, comes around. Energie kan nie vernietig word nie. Positiewe energie lok positiewe energie uit. Dieselfde gebeur met negatiewe energie. Dit kry plek om nes te maak en dis nooit goed nie. Ek glo dat enigiets moontlik is en dat die menslike brein nie die grootsheid van alles wat daarbuite bestaan, kan verstaan nie. Ek glo dat godsdiens ’n euwel is wat veroorsaak dat broers mekaar doodmaak. Godsdiens lei tot oorlog. Deur al die eeue heen nog. Ek kan eintlik nie sien hoe slim mense nie daai som gemaak kry nie. In die naam van God word die allervreeslikste kak aangejaag. En sorry, Retta, jy het my nou gevra en daarom gaan ek doodeerlik met jou wees: Baie mense, soos jy ook nou weer bevestig het, glo in God as ’n soort versekeringspolis om hulle eendag op die Goeie Plek uit te bring. Net ingeval daai plek wel bestaan. Dit werk nie vir my nie.”
Retta kyk na haar eksentrieke vriendin. Sy bid baie vir Leigh. Veral wanneer sy alleen gaan draf, sonder Berdine se aanhoudende gekwetter in haar ore.
“En waar dink jy sal jy wakker word wanneer jy dood is?”
“Ek gaan nie wakker word nie, girlfriend. Ek gaan dood wees. Soos in, vir ewig en altyd. Die Groot Swart. En ek moet sê, dit klink nie vir my onaangenaam nie. Ek is mos lief vir slaap.”
“Dis seker wat Dawid ook glo,” dink Retta hardop.
“Wat bedoel jy, ‘seker’? Hoekom vra jy hom nie reguit wat hy glo nie? Jy is tog sy ma? For fuck’s sake, Retta!”
“Ek moet waai. Kyk waar staan die tyd. Thanks vir die luister, Leigh. En vir die Morita-terapie. Ek voel regtig beter.”
“Wel, jy lyk soos shit. Gaan vroeg bed toe en kry ordentlike slaap. En dink aan ’n projek net vir jouself. Project Retta. Jy het dit nodiger as wat jy besef.” Leigh gee haar ’n drukkie. “Thanks vir jou harde werk, dolla. Volgende keer doen ons stap drie. Jy gaan mure afbreek!”
4
“Partykeer dink ek ek moet sommer permanent Kaap toe trek. Ek’s meer hierdie kant as by die huis.” Die stem aan die ander kant van die selfoon behoort aan Koba Retief. Sy praat soos gewoonlik asemloos, asof sy net sekondes het waarin sy ’n voorafbepaalde kwota woorde moet opgebruik.
Retta kan hoor dat haar vriendin ’n hele paar dinge gelyk doen terwyl sy die gesprek met haar voer. Nou en dan hoor sy die geklikklak van hoë hakke op die agtergrond, of die geluid van iets wat hard op ’n lessenaar neergesit word.
“Ons moet net nog jota en tittel,” hoor Retta hoe Koba vir iemand fluister – vermoedelik haar assistent, Felicity. Koba het haar eie woordeskat vir die werk wat sy doen. Retta weet al dat “jota en tittel” verwys na die laaste vergadering voor ’n “produksie” – haar woord vir ’n funksie wat A-list Events reël. Die kontras tussen Retta se voorspelbare dae met net een of twee afsprake, netjies in haar skooljuffrouskrif op die witbord in die opwaskamer geskryf, en Koba se maller-as-mal werkskedule is vanoggend weer skreiend. Maar sy het regtig ’n behoefte daaraan om met haar vriendin te gesels en het gehoop hulle kan dalk saam koffie drink. Ongelukkig sit Koba nou in die Kaap.
“Maar as ek na my dagboek kyk, tiep die skaal nog steeds Jozi se kant toe,” rammel Koba voort. “Ek sou sê so sestig persent van my kliënte is Joburgers.”
“Die ding is,” sê Retta, “jý is ’n Joburger, Koba. Ek kan jou sowaar nie permanent in Slaapstad sien woon en werk nie. Die pas is vir jou te stadig. Daai Capies sal jou mal maak. En jy vir hulle.”
“Mmmm, jy’s dalk reg. Maar ek hét darem genoeg Kaapse kliënte vir ’n corner office in Loopstraat, baby!”
Retta glimlag. As daar een mens is wat verstaan van window dressing, is dit die glansryke Koba Retief.
Skaars twee jaar gelede het sy wat Retta is A-list Events se Kaapse kantore eerstehands beleef toe Koba haar uitgenooi het om haar te kom help intrek. Sy het spesiaal daardie week saam met Tobias Kaap toe gegaan om haar vriendin by te staan, maar toe sy daar kom, het sy besef dat sy heeltemal oorbodig was. Soos altyd, was Koba geheel en al in beheer. Alles het reeds soos ’n goed geoliede masjien geloop en eintlik is Retta net vir spogwaarde genooi.
Haar mond het oopgehang toe sy die plek die eerste keer sien. Hoewel die perseel nie baie groot was nie, het elke klein besonderheid van die interieur ’n subtiele stelling oor sukses en onderbeklemtoonde styl gemaak. Van die bloedrooi telefoon op Koba se lessenaar (Hoekom mag net die Withuis ’n rooi foon hê?) tot die duur koffiemasjien, dikpooltapyt en ligte Skadinawiese meubels in die ontvangsportaaltjie. En natuurlik die sexy sekretaresse. Koba het destyds die fyne Felicity Carelse aan Retta beskryf as “’n porn-ster met die siel van ’n bibliotekaresse”. Dit was duidelik dat Felicity ’n magtige wapen in A-list Events se arsenaal was – veral as daar met manlike kliënte onderhandel moes word. Retta onthou goed hoe Felicity se doeltreffendheid haar beïndruk het daai eerste dag toe sy saam met haar vriendin ’n glas Veuve Clicquot by die pas geopende Kaapse A-list-kantoor gaan drink het.
Koba het haar in die portaal van die pragtige ou gebou in Loopstraat ingewag, opgewonde soos ’n tiener by ’n rockkonsert. Die twee van hulle het net-net in die klein gietysterhysbakkie ingepas, en toe hulle op die tweede verdieping uitstap, het Felicity reeds reggestaan met ’n silwerskinkbord met twee elegante sjampanjefluite daarop.
“Welkom in die Kaap, mevrou Blom,” het sy gespin, die skerp punte van haar rooi stiletto’s aan’t wegraak in die diep pool van die roomkleurige tapyt.
Daardie dag het Retta gevoel soos ’n kind wat saam met haar ma werk toe is vir Beroepsdag. Sy moes haarself meer as een keer herinner om haar mond toe te maak, want sy was letterlik oopmond-verstom oor Koba se wêreld. ’n Wêreld van oëverblindery, het sy later besef. Smoke and mirrors.
Terwyl Retta lomp in die deuropening van haar sakevrou-vriendin se kantoor bly staan het met ’n glasie goue borreltjies in haar een hand, het Koba haar sonbril afgehaal en na ’n netjiese stapel papier op haar lessenaar gekyk. Alles was mooi geprioritiseer met geel kleefnotas. Servet- en breekgoedmonsters was oor die hele tafelblad uitgestal en met genommerde plakkers gemerk.
Koba se wysvinger het in die rigting van die servet- en ander monsters op haar lessenaar rondgedans.
“Ons wys vir hulle nommer drie en vier, Felis, met sewe as ’n safety as hulle regtig nie van een van die ander twee hou nie. Vir die underplates, geen keuses