gewoond aan haar baas se blitsige besluite oor glase en koppies en messegoed. Na die tyd het Koba verduidelik dat Felicity alles sou stileer, met haar slimfoon afneem en ’n e-pos sou saamstel met foto’s aangeheg. Die finale besluit lê by die kliënt, maar sy wat Koba is, doen altyd die aanvanklike “bossies uittrek” – nog een van haar selfgemaakte besigheidsterme. Dit voorkom dat kliënte voor te veel keuses te staan kom en moontlik dom besluite neem. Vir Retta was dit soos om twee uur lank in ’n ander land te gaan kuier. ’n Land waar Koba Retief die welbeminde alleenheerser was. G’n wonder Koba het nie ’n man of kind in haar lewe nodig nie, het sy besef. Sy het reeds ’n hegte, met die hand uitgesoekte klein familie wie se salarisse sy betaal om lojaal aan haar te wees en die grond te aanbid waarop sy in haar Louboutins trippel. Hoe sleg kan dit nou wees?
Nou is dit nog nie eens twee suksesvolle jare later nie, en Koba se Kaapse tak bring amper net soveel werk in as die een in Johannesburg. Dit voel asof haar vriendin al hoe minder in Johannesburg is. En op dae soos vandag laat dit Retta ’n bietjie afgeskeep voel.
“Wanneer is jy weer hierdie kant?” Retta trek aan die klein wolletjies van die sybokhaarkombers wat oor die voetenent van haar en Tobias se bed hang. Sy wens dit was heeltemal glad. Hoekom kan sybokhaarkomberse nie heeltemal glad wees nie?
“Jissie, vriendin, ek weet nie.” Koba klink vir haar ontwykend. “Maar sodra ek weet, maak ons dadelik ’n date – oukei?”
“Dis nou my luck. Ek het ’n man én ’n vriendin wat trekvoëls is,” sê Retta dikbek.
Sy voel teleurgesteld, soos ’n kind wat op ’n sonskyndag nie buite mag gaan speel nie. Sy wou so graag vandag saam met Koba gaan koffie drink het. Vir eens en altyd haar twyfel oor die vreemde lughawegesprek uitwis. Sy hoor weer die geskuifel en gefluister aan die ander kant van die foon. Sy wonder of Koba haar vermy. ’n Ongemaklike vermoede roer in haar. Hoe lojaal kan iemand wees wat ander mense betaal om lojaal aan háár te wees? Hoe eerlik kan iemand wees wat oëverblindery en egostreling as ’n loopbaan gekies het?
Toe Retta aflui, sit sy ’n hele paar minute in doodse stilte op haar bed. Dan gaan haal sy ’n skeermes in die badkamer en begin die wolletjies van die sybokhaarkombers met pynlike presisie afskeer.
Toe die ouwêreldse deurklokkie in die Victoriaanse dubbelverdieping klingel, skrik Suria en skuif haar stoel met ’n skraapgeluid agtertoe. Sy kyk na die tyd op haar selfoon. Dis baie later as wat sy besef het. Sy struikel oor die stapel boeke op die vloer langs haar lessenaar en trap amper op die kat, wat haar geïrriteerd aankyk waar hy in ’n sonkol die tuin lê en bespied. “Fok!” gil sy en gryp haar groottoon terwyl sy op een been in die rigting van die voordeur begin hobbel. Sy sien haarself in die gangspieël en fluister hierdie keer direk vir die vervaarde vrou in die weerkaatsing: “Fok, fok, fok.” Dis die tweede dag wat sy dieselfde klere dra: ’n uitgerekte jogabroek en ’n los langmou-T-hemp. Haar donker bos hare staan in alle rigtings. Sy vorder tot by die hoedestaander wat in die Manser-huishouding bekend staan as “Lost and Found”, want dis waar sy en Klara allerhande items sommer met die intrapslag neersit en dan vir dae los. Halfvol bottels koeldrank en water, pos, tydskrifte, reklamepamflette wat op straathoeke deur die motorvenster gedruk word. Sy sien een van Klara se haarrekkies op die hoedestaander lê en bind haar hare behendig in ’n losserige bolla vas. Dan steek sy haar voete in die paar silwer plakkies wat altyd by die voordeur staan vir die kere wat sy uitvlug tuin toe vir vars lug of inspirasie. Voordat sy die voordeur oopmaak, trek sy haar asem diep in.
“Koba!” Suria sê die naam ’n titsel te hard, asof sy met haar skitterende glimlag en entoesiasme wil kompenseer vir haar onversorgde voorkoms. Die vrou wat voor haar staan, is die toonbeeld van elegansie.
“Suria. So gaaf om jou te ontmoet.” Suria herken dadelik die skakelpersoon in Koba. Die geoefende sjarme wat moeiteloos uit elke porie straal. Hulle is twee eende van dieselfde dam, besef sy. Dan korrigeer sy haarself. Hulle is van dieselfde dam, ja. Maar Koba is beslis ’n swaan.
“Stap sommer deur na my studeerkamer. Dis lekker sonnig daar. Kan ek vir jou iets kry om te drink?”
Suria stap vooruit. In die gangspieël sien sy dat Koba se oë vlugtig op haar boude rus. Haar agterstewe lyk seker enorm in die uitgerekte jogabroek. Boesmanboude, noem Jas dit as hy haar goedig spot of speels knyp. ’n Ander vrou sou miskien aanstoot neem of haar wip, maar nie sy nie. Sy weet hy is gek oor haar lyf. Elke wulpse sentimeter daarvan. Die seningrige vrou se afkeurende blik laat haar haar heupe aspris ’n bietjie meer swaai. Sy wou om verskoning vra vir die feit dat sy vanoggend lyk asof sy uit ’n tuimeldroër geklim het, maar nou gaan sy nié. Sy wou ook verduidelik het van Klara, en hoekom alles hierdie week so deurmekaar is by haar, maar sy skuld die vrou niks nie.
In plaas daarvan, koer sy: “Koffie? Ystee? Lemoensap?”
“Niks vir my nie, dankie.”
Die ongeskrewe reëls van besigheidsetiket geld vanoggend, dink Suria toe sy weer agter haar oorlaaide lessenaar inskuif. Sy is duidelik die kliënt hier, gemaklik in haar ou klere en plakkies. Koba is uitgevat in ’n sake-uniform: snyersbroekpak van wit linne en Christian Louboutin-skoene wat met elke tree ’n parmantige flits rooi sool wys. Sy ril om te dink wat die vrou se spykerhakkies aan haar houtvloere doen. Jas gaan ’n oorval kry.
Voordat Koba Retief kan sit, moet sy eers die pienk babamonitor van een van die stoele afhaal. Sy sit dit op die lessenaar neer.
“Supermamma,” sê sy geoefen en flits ’n glimlag vir Suria.
Dis seker hier waar ek haar vertel hoeveel kinders ek het, maar ek gaan nie, dink Suria en glimlag net terug. Sy kan die vrou se koue blik op haar agterstewe nie uit haar kop kry nie. Sy is beslis geweeg en te swaar bevind.
“Jou dogter?” Koba wys na die foto van Klara in die silwer raam wat op die lessenaar staan.
“Jip. Klarabelle. Mens kan nie dink dat niemand ná al die dekades nog ooit met ’n varser idee vir skoolfoto’s opgekom het nie, nè? Dis altyd die gevreetjies met die aangeplakte smiles, wat agter ’n lessenaar sit met ’n pen in die hand.”
Koba tel die raampie op. “Ja! En daar moet altyd ’n appel in die foto wees – het jy al opgelet? Jip. Daar’s hy. Die famous appel!” Sy wys na die blinkrooi appel op die foto.
Suria glimlag. Dis waar van die appel. Sy het nog nooit so daaraan gedink nie. An apple for the teacher.
“Nou toe, sal ons begin?” Suria skuif ’n dokument na Koba se kant van die lessenaar. “Alles is eintlik hierin vervat, maar kom ons gaan sistematies daardeur, sodat jy vir my ’n omvattende kwotasie kan gee. Is dit reg met jou?”
“Natuurlik. Dis presies hoe ek daarvan hou om te werk. En wag, ek het ietsie vir jou ook.” Koba haal ’n rooi boksie uit haar groot Louis Vuitton-handsak en stoot dit na die ander kant van die lessenaar.
“A! Ek het al gehoor van Koba Retief se legendariese ysbrekers! En nou het ek een van my eie! Baie dankie. Ek sal later kyk wat in die boksie is. Nou-nou moet ek deel.” Sy knik stout vir Koba toe sy dit sê. “Jy moet darem weet hoe absoluut chuffed ek is dat A-list ons as kliënt aanvaar het, Koba. Ek het gedink ons joppie is te klein vir jou. Die mense in die Kaap rave oor jou.”
Hier begin die wedersydse egopoetsing, dink sy terwyl sy dit sê. Suria besef dat sy die stylvolle vrou hier voor haar aan haar kant moet kry as sy ’n suksesvolle produkbekendstelling die lig wil laat sien.
“Dankie vir die kompliment. Vir my is dit ’n geval van kwaliteit versus kwantiteit. Ek verkies eintlik kleiner geleenthede, omdat mens baie meer beheer het oor die detail. God is in the details, soos hulle sê. En ek dink ons gaan goed saamwerk.”
Twee uur later sit Koba haar pen neer.
“Ek dink ons het dit. It’s in the bag,” sê sy.
Suria kyk ’n bietjie verbaas op. Sy het nie gedink sy en hierdie hoogs gepoleerde pop gaan so sinergisties kan saamwerk nie. Dit was eintlik moeiteloos. En groot pret ook, as sy eerlik moet wees. Mediese instrumentasie is nie juis sexy produkte om te bemark nie, maar sy dink die Medstruments-span gaan hoogs beïndruk wees. Wat meer is,