wil nie een van daai vrouens wees nie, Leigh.”
“Maar obviously ís jy een van daai vrouens! Kyk hoe wroeg jy dan oor die hele ding?”
Retta dink mooi daaroor na. Haar verduideliking is nie die volle waarheid nie. Sy voel op ’n eienaardige manier dat sy die hef in die hand het en dat sy die inligting vir haarself moet hou as sy Tobias wil “uitvang”.
“Sodra ek Tobias begin uitvra oor goed, sal hy snuf in die neus kry oor mý snuf in die neus. En dit sit my in ’n swakker posisie om agter die waarheid te kom. Maak dit sin?”
Leigh knik haar kop stadig.
“Dit doen. Knowledge is power. Terwyl hy nie weet jy wantrou hom nie, sal hy nie op sy hoede wees nie, en as daar iets is om uit te vind, sal jy dit makliker kan uitvind. I get that.”
“Presies.”
“Maar ek dink nog steeds jy sit jouself verniet deur al hierdie pyn, Retta. Tobias is net nie die soort ou wat so iets sal doen nie. Ons weet dit al twee.”
“Weet ons? Weet ons dit régtig, Leigh?”
“Girl, ek dink dis tyd dat jy iets vir jouself doen. En daarmee bedoel ek nie jy moet jou slaapkamer optert met behulp van Mark Tossels nie. This isn’t something you can throw scatter cushions at. Ek praat van iets cools nét vir jou. ’n Nuwe hobby. ’n Ontdekkingsreis. Kleur die Retta-prentjie so ’n bietjie in. En vergeet van jou obsessie met die negatiewe ruimte om jou. Daai is ander mense se shit. Konsentreer op dit wat jou gelukkig maak. For once in your life.”
Leigh is natuurlik reg. Sy wat Retta is, is altyd besig met goed wat haar gesin gelukkig hou, of ander mense beïndruk. Selfs mense wat sy glad nie ken nie moet geakkommodeer en gepaai word. Sy ly aan akute ordentlikheid. Soms wonder sy of sy regtig so baie van haar wit paleis hou. Mark put egter soveel genot daaruit om Retta as een van sy binneversieringskliënte te hê, dat sy soms die opknappingsprojekte aanpak bloot om hóm happy te hou.
Sy kyk om haar na die chaos van Leigh se leefruimte. Selfs die stoepie waar hulle sit, is ’n ontploffing van kleur en tekstuur. Mosaïek op potte en teen die lae muurtjie, oral plante wat uitbundig blom, sonder struktuur of plan. Leë bierbottels in ’n krat. Twee vet katte op ’n verslete ou kussing. Retta sal nooit in só ’n deurmekaarspul wil bly nie, maar sal nie omgee vir ’n kleiner, eenvoudiger huis nie.
“Komaan, gryp jou skoonmaakgoed. Ons kan kuier terwyl ons skrop.” Leigh maak die leë bottel en glase bymekaar en stap binnetoe.
Toe hulle binne is, wil sy by Retta weet: “Nou wat het actually gebeur gisteraand? Hoekom was dit so interessant?”
“Wel, die kids het soveel moeite gedoen. Een of ander bekende sjef se nagereg gemaak. Nie iets eenvoudigs soos pavlova of mousse nie, Leigh. ’n Hele produksie. Dit was spek-en-eier-poeding of so iets.”
“Yuck.” Dit lyk asof Leigh tot in haar kleintoontjie gril.
“Dis juis die ding. Dit was ongelooflik lekker. Maar Paul het dieselfde reaksie as jy gehad, en dit het vir Dawid vreeslik ontstel.”
“Sorry, maar my eerste reaksie is dat ek regtig nie van brekfis as poeding sal hou nie.”
“Ek weet. Maar die beroemde sjef bedien dit glo al jare in sy restaurant in Londen, en mense is gek daaroor. Nadat ek dit geëet het, verstaan ek waarom. Mens moet net oopkop wees.”
Leigh lag lekker. “Jý lecture mý oor oopkop wees. Well, that’s a first!” sê sy en knik vir Retta.
“Dis nie net die nagereg nie. Die hele aand was Paul regtig onsmaaklik teenoor Dawid en Amy en hul pogings met die kos. Negatief oor alles. Wou nie eens die aptytwekkerdrankie drink nie en het gevra vir ’n bier. Maar dis my skuld. Ek moes jóú genooi het. Of vir Hermien. Mense wat nuwe goed sal probeer.”
Retta is besig om die flesse waarin Leigh se verfkwaste gebêre word, met ’n bottelborsel skoon te maak. Stadig, metodies en presies gaan sy te werk. Maar dan gryp Leigh die borsel uit haar hande.
“My goeie fok, Retta. Ek het daai bottels al vanoggend skoongemaak. Doen iets anders. En baie dankie dat jy my nié na die eksperimentele aandete genooi het nie. Shit, wat ’n close call. Jy kan my liewer aan ’n stoel vasmaak en my dwing om na countrymusiek te luister.”
Retta staan nou verbouereerd rond met leë hande. Dan sit Leigh ’n lappie in haar regterhand en sê: “Hierso. Was liewer die vensters.”
Die twee vriendinne werk ’n ruk lank in relatiewe stilte. Retta was die vensters met haar kenmerkende deeglikheid en Leigh sorteer haar verf en palette.
“Hierdie is soos die tweede stadium van Morita-terapie.”
“Huh?” Retta hou nie op om die vensterglas te poets nie.
“Jy weet, Shoman Morita, die Japannese sielkundige? Hy het hierdie vierledige terapiemodel gehad vir sy pasiënte met angs en depressie. Eers ’n tydperk van bedrus. Dan ligte, vervelige werk, soos wat ons nou hier doen. Daarna harder werk, meer uitputtend. En laastens het hy hulle die wêreld ingestuur om hul nuutgevonde krag te gaan uittoets.”
“Mmm, ek is seker jy dink al plannetjies uit oor hoe jy my gaan inspan vir die volgende stadium, die bloedsweet-fase. Ek gaan seker ’n muur moet bou of iets.”
Leigh glimlag. “Mure bou is after all jou spesialiteit, Lauretta Blom.”
Retta hou vir ’n oomblik op werk en gaan sit op die koue sementvloer. “Dit is so, nè? Hoekom doen ek dit? Flip, dit irriteer my so van myself. Hoekom kan ek nie meer soos jy wees nie?”
“Glo my, daar’s net plek vir een van my in hierdie wêreld.”
Retta se selfoon vibreer in haar broeksak. Dis Dawid.
“Hallo, seun. Is iets fout?”
“Niks is fout nie, Ma. Ek wou maar net jammer sê vir gisteraand. Dat ek so uitgefreak het omdat oom Paul ’n doos was. Hy is seker reg. Mens gaan customers kry wat nie van jou kos hou nie. Hy het my seker ’n moerse guns gedoen.”
“Jy hoef nie om verskoning te vra nie, my kind. Julle het ’n amazing maaltyd gekook. Dis Paul Biddulph se verlies as hy dit nie kon geniet of waardeer nie. Ek hoop jy en Amy sal weer vir ons kook.”
“Ja! En hierdie keer hoop ek jou ma nooi mense wat actually proeknoppies het!” skree Leigh vanuit die ander hoek van die vertrek.
“Sê vir Leigh ek sê howzit, Ma.”
“Ek sal.”
“Oukei. Dan groet ek maar. Be cool, Ma, don’t do drugs.”
“Dawid, wag! Ek wou nog sê, ek en Pa hou baie van Amy. Julle moet oorkom vir ’n kuier nou en dan. Ons bestel sommer pizza of iets.”
“Yes, oukei, Ma. Whatever. Ons doen nie eintlik Fiefie-en-Faffie stuff nie. Maar cool. Ek’s bly julle like haar. Gotta go.”
Dawid verbreek die verbinding en los vir Retta hangende. Sy het haar reggemaak vir ’n gesprek – al is dit ook hoe kort – oor sy meisie.
“Wat beteken dit, vra ek jou?” wil sy by Leigh weet, nog met haar selfoon in haar hand.
“Wat beteken wat?”
“Ons doen nie eintlik Fiefie-en-Faffie stuff nie.”
“Is dit ouboet wat so praat? Van hom en sy girl?”
“Jip.”
“Retta, relationships val deesdae nie in ’n enkele, oorkoepelende kategorie nie. Toe jy nog gedate het, was dit ‘Boy meets Girl, Boy dates Girl, Boy marries Girl’. Nou kan dit enigiets wees van ‘Boy dates many girls but bonks only one girl’ tot ‘Boy loves Boy but needs a Baby Mama Girl’ – en natuurlik al die variasies tussenin. Los die kinders net uit. En moenie te veel vrae vra nie.”
“Hoe het jy so slim geword, Leigh-Anne Dunbar? Jy’t nie eens kinders nie, maar jy weet alles van die bloedjies