Zelda Bezuidenhout

Die dekonstruksie van Retta Blom


Скачать книгу

      “Ek dink ek verstaan. Jy weet, die negatiewe-ruimte-ding. Ek moet leer om daai onsigbare goed raak te sien. Hoe het jy so slim geword?”

      “Een woord: oorlewing.” Leigh lag. Sy druk haar sigaret dood en kyk haar vriendin in die oë.

      “Dawid moet sy eie pad vind, Retta. Jy kan hom nie dwing om te glo waarin jy glo nie. Hy’s ’n grootmens. En jy weet mos, ek sukkel self om te glo aan die fairy tale van God wat vir ons sondes gesterf het. Maria wat sonder seks preggies geraak het. Die hele ding is vir my net te weird.”

      “Ja, ja. Maar jy’s ’n uitvaagsel. Dawid is my sagte kind, my hart se punt.”

      “Oh well, thank you very much! Jy gee dus nie om dat ek ’n one-way ticket na die verderf het nie? Jy’s net geworried oor jou kosbare Dawid?”

      Leigh gryp geskok na haar hart met haar een beringde hand. “Weet jy wat staan in Moses drie vers drie?”

      Retta rol haar oë, want sy kan net raai wat nou kom.

      “If all else fails, have another dop.”

      Met dié skroef Leigh weer die Bombay se prop los.

      “Weet jy, Leigh, my lewe is vrot van die negatiewe ruimte.” Dis asof daar vir Retta Blom ’n lig opgegaan het. Sy het ’n kode uitgewerk en voel asof sy op die randjie van ’n deurbraak is.

      “Ons almal se lewens is, girlfriend.”

      “Ek bedoel, daar is meer goed wat nié gesê en gedoen word nie as wat wel gesê en gedoen word. En ek staar my blind teen die krummels van die sê en doen.”

      Retta dink aan haar grootwordjare met haar pynlik netjiese ma. ’n “Senuweelyer”, soos mense destyds na neurose, psigose en enigiets siekerigs aan die sielskant verwys het. Sy kan eerlikwaar nie onthou dat daar ’n enkele oomblik van warmte tussen hulle was nie. Nie ’n drukkie of ’n sagte woord of ’n koekblik met tuisgemaakte beskuit voor sy koshuis toe moes gaan nie. Net die alewige druk om alles perfek netjies en reg te hou, veral haar lyf en klere. Dit wat die wêreld kan sien. Die diëte wat haar ma vir haar en haar suster uitgeskryf en op die yskas geplak het saam met knipsels van vet mense. Die Atkinson-dieet. Die druiwedieet. Die Hartstigting se dieet. Sy glimlag.

      “En dié smile?” wil Leigh weet.

      “Ek dink nou net aan die keer toe my ma vir my en Irma op die Hartstigting se dieet gesit het. Op dag twee of drie kon mens net een vrug vir aandete eet. Dit was somer, en Irma het summier na die Portugees op die hoek gery en vir haar ’n hele waatlemoen met haar sakgeld gaan koop. Ek sal nooit vergeet hoe sy met daai yslike waatlemoen in haar fiets se mandjie aangery gekom het nie. Ek was verslae, en toe ek vra wat aangaan, het sy net gesê: ‘Aandete.’ Sy het daai hele waatlemoen probeer verorber daai aand. Ek het gehelp. Ons het deur die nag aanhoudend opgestaan om te piepie.”

      Leigh skud soos sy lag. “Dis classic!”

      Dan is sy weer ernstig. “Die alewige diëtery – dis natuurlik ook negatiewe ruimte. Dink mooi daaroor: ons praat hier van die kos wat julle nié geëet het nie. Die samesyn wat julle nié gehad het nie.”

      Retta knik haar kop instemmend. Is dit regtig die liefde wat sy nié as kind gekry het nie wat haar gevorm het? Sy dink aan die kere wat sy en Irma saam met hul ma dorp toe is om klere te koop, en moes aanhoor hoe dik hulle was, hoe groot hul plaasvoete was, hoe g’n gewone klere of skoene hulle ooit sal pas nie. Hoe hulle nooit mans sal kry met sulke lywe nie. Sou sy minder obsessief-kompulsief gewees het as haar ma haar nou en dan vasgehou het? Sy het altyd gedink dis haar ma se verbale afknouery waaraan sy so swaar dra in haar grootmenslewe. Dalk is dit baie eenvoudiger as dit. Dis die gebreke en verlies, die “oop ruimte” om haar, wat haar afets as persoon. Gebrek aan liefde en hartlikheid in haar grootwordhuis. Die verlies aan haar pa op ’n tere twaalfjarige ouderdom.

      Sou sy beter kon cope op universiteit as daar ’n koekblik met fudge en kleinkoekies van haar ma in haar kas was? ’n Briefie in haar boekesak wat sê: Sterkte vir die termyn, my kind. Ek is so trots op jou, soos haar kamermaat se ma gemaak het? Sou sy meer onderskeidings in haar onderwyskursus gekry het en meer suksesvolle verhoudings aangeknoop het as haar ma haar self kom aflaai het en nie elke keer ’n saamrygeleentheid vir haar en Irma gereël het nie?

      Irma. Retta voel hoe prik trane agter haar oë. Haar jonger suster is al ses jaar dood. Sy mis haar nog elke dag. Negatiewe ruimte het vir Irma ingesluk.

      “Ek wil vir jou ’n song speel,” sê Leigh en verdwyn in die huis. Die volgende oomblik is die volume van die Bluetooth-kassie op sy hoogste en die eerste note van ’n nuwe snit weerklink deur die huis en spoel uit na die klein tuintjie.

      “Dis die Dave Matthews Band,” kondig Leigh aan toe sy weer kom sit. “ ‘The Space Between’. Luister na die woorde, Rets.”

      Retta hoor hoe Dave Matthews sing van die ruimte tussen mense, emosies en gebeure. Van alles wat mense nié vir mekaar sê nie. Die leuens wat ons vertel om ons teen pyn te probeer beskerm. Sy het die song al hoeveel keer gehoor, maar nog nooit regtig na die woorde geluister nie.

      “The wicked lies we tell,” eggo Retta die lirieke ingedagte. “Leigh, daar’s iets wat ek jou nog nie vertel het nie. Die tas in die boot …”

      “Urgh, not that old chestnut!” sug Leigh oordrewe.

      “Ek weet jy dink ek’s net neuroties. Maar daar’t nog iets gebeur waarvan ek jou nié vertel het nie.”

      Leigh se gesigsuitdrukking lyk soos dié van iemand wat sien hoe lank die ry by die belastingkantoor is. Retta sluk die laaste jenewer uit haar glasie met een lang, gedetermineerde teug. Sy het iemand in haar hoek nodig. Iemand wat nie sal oordeel nie en wat vir haar perspektief sal gee. Sy is so gatvol daarvoor om stil te bly en privaat te wroeg oor alles. Dis net nóg goed wat nie gesê word nie, en wat haar aanhou definieer as die een wat cope, die een wat volmaak is, die een met die wit-en-beige lewe. Sy voel dit aan haar water dat iets verkeerd is. So what as sy oorreageer of ’n bietjie paranoïes is? Paranoia is nie gevaarlik nie. Gelatenheid wel. Dit kan mens in die moeilikheid kry. Die afgelope ruk se maak-asof-alles-oukei-is werk nie meer vir haar nie.

      “Koba het gesien hoe iemand vir Tobias by Kaapstad se lughawe aflaai. ’n Vrou met ’n jong kind. Sy het my net daar van die lughawe af gebel. Wat my laat dink sy het gevoel iets was nie heeltemal pluis nie. Tobias het die dogtertjie op die voorkop gesoen en gelyk asof hy hulle baie goed ken.”

      Dave Matthews rasper sy waarhede oor die speletjies wat mense met mekaar speel terwyl daar nou ’n onkenmerkende stilte tussen die twee vroue hang. Vir die eerste keer lyk dit vir Retta asof Leigh dalk haar twyfel ernstig opneem.

      “En hy het jou niks oor sy lift lughawe toe vertel nie?”

      “Nee.”

      “Jy’t hom ook niks daaroor gevra nie?”

      “Nee. Ek wou. Maar op die ou end was ek te bang vir wat ek gaan hoor.”

      Noudat Retta dit hardop sê, besef sy vir die eerste keer dat dit wel die rede is waarom sy besluit het om nié vir Tobias te konfronteer nie.

      “Daar’s waarskynlik ’n baie logiese verduideliking vir die lift lughawe toe. Jy besef dit, nè?”

      “Ek is nie so seker nie. Ons ken nie mense met jong kinders nie. Veral nie in die Kaap nie. Tobias vertel my nie alles van sy werk en kollegas nie, maar ek dink hy sou vir my genoem het as een van sy kollegas se vrouens hom by die lughawe afgelaai het. Hy gebruik gewoonlik ’n Uber.”

      Leigh skud haar kop en maak ’n geluid tussen ’n snork en ’n lag.

      “Wat?” wil Retta weet.

      “Fokkit, Retta. Jy’s net weird, dis al. Ek sou die man ingewag het en dadelik met vrae gepeper het. Nee, hel, ek sou hom al op die lughawe gebel het, die oomblik wat ek uitgevind het van sy lift. Jou restraint is amper bomenslik.”

      Die goed wat ons nié sê nie.

      “Ek