en kussings,” sê Johan.
“Ek klim in, iemand moet onder haar inskuif,” sê Andries.
“Sê nou dis nie haar bene nie, sê nou dis haar rug?” Dis haar ma, sy probeer sag praat.
“Ek hoor vir Ma,” sê Magriet. “Dit is my bene.”
“Ek sal kyk.” Haar familie begin nou so deurmekaar en oor mekaar praat dat sy nie kan byhou nie.
“Jy’s ’n veearts, Andries!”
“Diere het ook skelette.”
“Bring daai komberse!”
“Wat van suikerwater?”
“Gaan haal kussings en kry verbande vir haar arms!”
“Waar’s die draadskêr?”
Almal praat, almal het raad. Dis hoe hulle is, ’n wilde gesin, gewoond aan rampe en ongelukke, goed met planne en noodhulp. Een tandarts, twee veeartse en een amperse dokter – elkeen met sy eie mening.
“Het iemand die ambulans gebel?”
“Ek het, hulle is op pad.” Haar pa klink moeg. Hoeveel soortgelyke affêres is hy nie al deur met sy spul kinders en kleinkinders nie!
Johan, Andries en Walter is besig om die res van die trampolien los te knip en uit te ruk.
“Ek het jou gesê die ding raak oud!”
“Los nou, Carol.”
Carol het intussen ’n dosie vrugtesap gebring wat sy vir Walter gee om vir Magriet te gee. Carol lyk of sy wil huil.
“Dis nie julle skuld nie, ek het te hard gespring,” troos Magriet. “Jammer, Ma. Op Ma se verjaardag!”
Millie skud haar kop. “Dis ’n ongeluk, my kind, niemand se skuld nie. Ons moet jou net by ’n dokter kry.”
“Miskien het die ambulansmanne ’n manier om haar uit te haal?” vra haar pa.
Johan sleep ’n groot stuk van die trampolien weg. “Hulle het net so min ’n manier soos ek en Pa.”
“Hulle sou haar wraggies al daar uit gehad het.”
Walter sit met sy knieë teen sy ore, hande in die hare. Sy idees het opgeraak.
Andries seil langs Magriet in die gat af en wikkel hom styf teen haar in.
“Het jy pyn?”
“Net as ek beweeg.”
Hy druk-druk met sy vingers al langs haar ruggraat en vat dan haar heupe vas, ewe professioneel.
“Watse dier is ek nou?” spot sy.
“Kies maar.”
“Skilpad?”
“Wel, skilpad, die dop op jou rug is nie gekraak nie.”
Magriet maak haar oë toe en leun teen hom sodat sy glad nie op haar bene hoef te rus nie. Sy voel niks, tensy sy beweeg, dan skiet die pyn van alle kante af deur haar lyf.
“Dis my pootjies wat seer is, nie my dop nie.”
Andries haal ’n rol verbande uit sy sak. “Die hospitaal sal dit moet regruk, ek keer net solank die bloeding voor jy jou leeg bloei.”
“Wat gaan hiér aan?” hoor hulle van bo.
Tjaart en Berdine is altyd laat. Berdine is in haar huisdokterjaar en Tjaart is ’n kameraman by SuperSport, nooit sonder sy kamera nie. Soos gewoonlik begin die verfilming onmiddellik, maar Berdine keer.
“Tjaart, jou suster het seergekry! Los tog die kamera.”
“Dis vir die rekord. Haai, Magrieta, wat het jy dan gedoen om dít te verdien?”
Haar straf omdat sy Walter en sy ouers die hele vakansie lank verwens het, dís wat dit is. Berdine het ’n wit langbroek aan, maar gaan sit op haar knieë en kyk af na Magriet. “Hoe lyk dit?” vra sy vir Andries, wat besig is om Magriet se arms te verbind.
“Sy’s ’n sterk meisie,” antwoord hy bedaard.
“Het julle haar iets gegee vir die skok?”
Magriet wys die vrugtesapboksie. Haar hande en arms, haar hele lyf bewe nou, kom sy agter.
“Johan, julle het hierdie gat darem deeglik diep gegrawe!” Tjaart mik met sy kamera.
Andries hang ’n kombers om Magriet se skouers toe hy klaar is met die verbande. Sy weet nou hoe ’n skilpad voel wat in ’n gat geval het – hulpeloos.
Carol bring nog kussings, die tuinmeubels s’n. “Ons gaan vir jou ’n kussingtoring bou,” sê Johan. “Dan lig ons jou op en maak ’n hoër een langsaan, dan lig ons jou weer. Sal jy dit kan verduur?”
“Enigiets om my uit te kry.”
Walter staan arms gevou. “Weet nie van julle nie,” sê hy, “maar ek begin worrie oor daai vleis in die oond. Dit gaan mos uitdroog?”
2
Teen die tyd dat die ambulans arriveer, lê Magriet op die bank in die gesinskamer en knibbel aan ’n stukkie boerewors. Die res van die familie het hul borde behoorlik gelaai. Walter, wat hom langs haar tuisgemaak het, trek al by sy tweede bord vol.
Die ambulansmense kyk verlangend na die bakke tjops, wors, sosaties en aartappelslaai, maar beduie heel professioneel dat hulle aan diens is toe Johan en Carol hulle nooi om eers saam aan te sit.
Magriet se hartklop en bloeddruk word gemeet en dan word sy sagkens opgelig en op ’n smal ambulansbedjie gelaai. Walter staan by – tjop in die hand. Hy vra toestemming om saam agterin te ry, maar dit word geweier. Geen passasiers nie, selfs nie Magriet se ma nie. Hulle moet in hul eie motors volg.
Carol en Linda bly tuis met die kinders. Die res los hul kos, pak vier motors vol en trek saam met die ambulans weg. Magriet is maar bly sy hoef nie die optog te aanskou nie.
“Julle blaas nie toeters nie!” hoor sy Carol roep. Wie sal ooit vergeet hoe Louis en Gert in hul Hummer agter Carol en Johan aangejaag het hospitaal toe om hulle by te staan met die geboorte van die tweeling! Carol het nie hul hulp nodig gehad nie, beslis ook nie die sirkus nie, maar Johan kon nie sonder sy broers nie.
Die ambulans ry sonder die sirene. Magriet spits haar ore en hoor geen toeters nie. Die snye en skrape brand en haar gebreekte bene sing hul eie storie. Skielik sien sy uit na die hospitaal se pynmedikasie.
Een ambulansman het ’n knyperbord op sy skoot. Hy vra adresse en telefoonnommers en sy antwoord outomaties. Alles wat sy sê en dink, is omgewe van wolke pyn. Die ambulans ry teen ’n afdraand af en dit voel of haar bene van haar lyf af geskud word.
Wat het haar besiel om Johan en Carol se stokou trampolien soos ’n sweefstokarties te bespring? Magriet wil skree van pyn, maar sy byt op haar tande en hou uit.
Eindelik! Die ambulans ry stadig deur die hospitaalhekke en klim versigtig oor die spoedhobbels. Die woord “trauma” doem in rooi hoofletters voor haar op. Hulle is flink en sy word vinnig uitgelaai.
“Domestic accident. One female patient, lacerations and possible leg fractures.”
Die ontvangskamer is koel en vlekkeloos skoon. Verpleegsters in netjiese uniforms verskyn langs haar bed.
“Pyn?”
Magriet knik. Nou het sy regtig lus om te huil.
Hulle trek haar jeans versigtig uit en rol Andries se verbande van haar arms af. Dis ongelooflik seer.
“Het jy iets vir die pyn geneem?”
“Nee.”
Iemand druk ’n naald in haar arm.
“Wat het gebeur?” vra die suster simpatiek en Magriet vertel.
“Wie