op Hannelie kan terugval, laat die hartkloppings in haar keel effens bedaar.
* * *
Deon het feitlik binne ’n uur nadat sy die dag gebel het, gewhatsapp om te sê Liezl het die akkommodasie gereël, ook om in P.E. oor te slaap voor hulle verder ry na Skuilkranz.
Teen nege-uur die oggend wat hulle vertrek is sy klaar gestort; sy trek haar donkergroen langbroek en netjiese strepies-langmoubloes aan. Daarby ’n ligte somersbaadjie – professionele drag wat die boodskap moet oordra: ek is seker van myself, ek is in beheer.
Toe sy haar bagasie reeds ingelaai het, gaan sit sy die telefoonnommer van die gastehuis in Skuilkranz op die kombuistafel neer.
Frank kom haastig die trappies afgestrompel, die vorige dag se gekreukelde hemp en bruin broek steeds aan sy ongewaste lyf. “Hemel, Corinne, weet jy wat jy aanvang? En verdomp, die Toyota ook nog! Jy weet die ouman het dit nog destyds vir my gekoop!”
Sy kan die whiskey aan hom ruik. Ná die paar dae waarin hy dit moes verwerk dat sy tóg saam met Deon en sy dogter gaan, al is dit teen sy sin, het hy weer eens laatnag bed toe gekom. Hy’t rondgerol, gekreun en deurmekaar gemompel in sy slaap. Later het sy opgestaan en in haar studeerkamer op die smal bedjie gaan lê.
In die vroegoggendluggie moet sy haar inhou om nie haar eie onsekerheid van baie jare, die toenemende argwaan van so lank in woorde om te sit nie. “Hene, Frank,” probeer sy paai, “ons is mos darem nie só met mekaar nie? As jy nóú vir my sê jy gaan saam, dan bel ek die twee en sê ons stel die reis met ’n dag of twee uit. En wat die Toyota betref – jy weet mos ek het die Subaru vir Gerdus geleen terwyl sy motor nog by die garage is. Ons het dan ooreengekom dat ek intussen die Toyota gebruik. En jy het nog die Fortuner om mee te ry.”
Hy draai om sonder om te groet, struikel teen die trappe op en klap die voordeur so hard agter hom toe dat die gekleurde vensters langs die deur rittel. Terug na sy studeerkamer, na die laai waarin sy vergeet lê.
Sy wil agter hom aanhardloop, haar arms om hom sit, hom smeek om net daar saam met haar op die mat te gaan sit en die jakkalse wat sy hart stuk vir stuk uitvreet, vir haar te wys. Saam-saam sal hulle hulle uitroei, totdat hy op ’n dag nie meer nodig sal hê om hulle in whiskey te verdrink nie.
Hoe meer sy daaroor nadink, hoe meer besef sy dit is nadat hy sy grootmaakouers na die reünie geneem het dat hy so anders geword het. En dit is die afgelope drie jaar, sedert die ouman se eerste hartaanval, dat hy so verbete selfdestruktief begin leef het. Sy hoor in haar gedagtes die bekende geluide wanneer hy homself opsluit in sy heiligdom: venster toe, boekekas toe, deurtjie oop, lessenaar toe, laai toe, glas toe. ’n Nooit voltooide marathon.
By die kothuis omtrent halfpad in Somerset-Wes se rigting hou sy stil. Dis ’n ou arbeidershuisie, onlangs met nuwe riet gedek. Deon en Liezl staan reeds op die voorstoep; hy lyk kraakvars in ligte chino’s en ’n wit hemp. Sy tas is groter as wat ’n mens van ’n man sou verwag, maar vir hom is twee, selfs drie maal skoon aantrek op ’n dag die norm.
Sy tred is heelwat vaster as toe sy hom daardie eerste middag in haar praktyk gesien het, maar haar geoefende oog sien die effense bewing raak. Hy kom aangestap. “Môre, dok,” groet hy. Hy loop voor na die passasierskant en sit sy tas op die agterste sitplek. “Is dit goed, kan hy maar hier lê, sal dit nie vuilmaak nie?”
Sy knik. “Ja, natuurlik, die kar het al baie natgeswete seuns en hulle toksakke rondgery!”
Hy maak die linkervoordeur oop en dan weer toe. “Ek is nou weer hier, ek moet net gou iets gaan doen,” sê hy gehaas deur die oopgedraaide ruit.
“Ek wag vir jou.”
Ai tog, sy moet dink voor sy praat! Die verwysing na die sweetlywe … Deon het die dag in die hotel gesê hy het die handewassery grootliks oorkom; sy moet hom nie nou terugdwing na waar hy was vóór die terapie en die kliniek nie. Sy kyk hom agterna, hoe hy haastig terugloop huis toe.
“Dit gaan eintlik goed met hom, dink ek.” Liezl het by die deur agter haar ingeklim en leun vorentoe. “Ek squat nou darem al ’n hele rukkie by hom en hy’t my ’n klomp goed vertel. Dit moes vir hom heluit erg gewees het. Ek probeer steeds verstaan, maar net van die bietjie wat hy al gesê het – ek dink hy’s regtig op ’n beter plek as wat hy was. Dis ook eers noudat hy weet hy gaan terug, dat sy vrese en die handewassery weer erger geword het.”
Corinne gee ’n suggie. “Ek is bly jy sê my. Selfs nou nog, nadat ek hom so lank nie gesien het nie, bekommer ek my.”
Sy praat nie verder nie. Sy’t instinktief besluit om van die begin af openlik met Liezl te wees. En as die meisie later wel sielkunde as rigting kies, kan sy met hierdie reis ook die professionele kant daarvan ervaar.
Maar sy wonder: sal die kind haar pa kan sien soos wat sy hom gesien het – die klein seuntjie daar onder die buitestort by die see, die man wat na hom staan en kyk. En kýk. Sy sien die rilling deur sy lyf gaan soos sy dit so baie maal tydens hulle sessies gesien het. Selfs noudat hy al soveel beter is, het hy die dag by die Stellenbosch Hotel gesê hy hoor steeds voetstappe in sy slaap. Wág hy. In die donker.
Deon asem diep uit toe hy langs Corinne op die sitplek neersyg. “Hemel, dok, voor die drang kom, voel ek weer die haat teen myself, die selfbejammering en my eie willoosheid alles tegelyk. Dis eers wanneer ek begin was dat dit beter raak, wat ek begin bedaar, maar dit gebeur darem baie minder as tevore, regtig,” sê hy. “Ek weet net nie of ek dit ooit heeltemal gaan oorwin nie.”
Corinne skakel die motor aan. “Obsessiewe kompulsiewe gedrag ís geneesbaar, dit het ek jou al vele kere gesê, en jy het ’n ver pad gekom. Jy kan trots voel op jouself, Deon. En noudat jy voel jy is gereed om die verlede vierkantig in die oë te kyk, gaan jy oor die laaste paar hekkies ook kom. Nie dat dit maklik gaan wees nie, maar dit is baie positief dat jy ook vir Liezl van dié dinge begin vertel het.”
Die pad oor Sir Lowryspas is besig. Ook hier is die koppe en velde kaal en swart. Dis stil in die kar. Deon praat nie; sy kan duidelik op sy gesig lees waarheen sy gedagtes dwaal. Liezl sit met oorfone aan in ’n wêreld van haar eie.
By Riversdal ry Corinne stadiger, vra of hulle nie honger is nie, maar Deon skud net sy kop. Sy hou nogtans stil. “Ek moet ’n draai gaan loop. Rek maar solank julle bene.”
Terwyl sy vir die wegneemkoffie wag, vang ’n opskrif op die voorblad van ’n koerant haar oog: “Onderwyser in die Noord-Kaap geskors oor seksdade met seuns”. Sy draai weg; vandag moet sy nie met so ’n berig by Deon aankom nie.
Sy gee vir hulle die koffie deur die venster aan en klim terug in die kar.
“Dankie,” sê Deon. “Jammer, dok, ek is nie die beste geselskap vir die langpad nie, maar terwyl ons ry, herleef ek weer alles, dag vir dag, week vir week. En ek het nie woorde nie; nie nou nie.”
Sy maak ’n gebaar na sy kant toe: Als reg, moet jou nie bekommer nie. Voeg in haar gedagtes by: Maar ís dit?
Sy weet: hierdie rit saam met Deon kan dalk haar eie lewe ook omvergooi. En nie net hare nie. In die truspieëltjie vang sy Liezl se oog. Sy’t haar verseker haar pa is baie beter, maar Corinne sien ook die vraagtekens in haar oë. Toe Sieg Deon na haar verwys het, het sy gewonder of sy werklik daarin sou slaag om hierdie man wat al soveel jare met depressie en OCD saamleef, so ver te kry om by die wortel van die kwaad uit te kom. Sou die terapie wat hulle in sulke gevalle met pasiënte doen, die gang van sy gedagtes kon herlei? Hy was so diep versonke in sy ellende.
Op pad Albertinia toe staan die aalwyne swart gebrand langs die pad, die bome skelette in die sandgrond. Oral staan werkershuisies turend met uitgerukte oë soos dié van ’n koning Lear, daar waar eers vensters was wat na buite kon kyk.
By Mosselbaai draai sy in. “Nou moet ons regtig iets eet, julle twee, dis nog ’n ent Port Elizabeth toe en ek het vanoggend net ’n stukkie beskuit saam met my koffie gehad.”
Deon het nog die hele pad skaars ’n woord gesê; net nou en dan na die swart landskap gekyk en een keer gemompel: “Hoe gaan die boere oorleef?”
Sy opmerking het Corinne verras.