hy die tengerige bruin seun met die ligblou oë langs ’n kampvuurtjie sien hurk. Langs hom, onder ’n opvoutafel waarop ’n ketel en ’n paraffienblik vol boerbeskuit staan, verwelkom die wit hond Leopold met ’n lagbek.
“Dis Sarel, my touleier.” Die boggelrug beduie na die seun, wat net sy velhoed dieper oor sy oë trek. “En daardie karnallie is Asem.” Hy wys na die hond. “Kan haar prooi enige plek uitsnuffel.”
Verbaas kyk Leopold na Asem. Dis moeilik om te glo dié vriendelike brakkie is ’n jaghond.
Steun-steun sak die boggelrug op ’n veldstoeltjie neer, vis ’n rol pyptabak uit sy sak en sny ’n stuk met ’n knipmes af. “My naam is Barend,” stel hy homself bekend.
“A-aangename kennis, Oom.” Leopold steek sy hand uit. “Ek is …”
“Leopold de Villiers.” As Barend die verbasing op Leopold se gesig gesien het, wys hy dit nie. Hy stop ’n pruimpie in sy kies. “Kan jy skiet?”
“Hoe nou, Oom?”
“Ek vra of jy kan skiet. Vir die pot. Roofdiere. Rowers. Of het jy gedink dis grappies om transport te ry?”
Leopold roer sy skouers ongemaklik. “Ek woon hier in die Tuine, Oom, ek ry nie transport nie.”
Die touleier se blou oë flits in sy rigting, maar toe spoeg hy in die kole en vroetel met die sakkie om sy nek. Die ketel begin sing en hy pak twee blikbekers op die kamptafel uit.
“Ek moet gaan, Oom.” Leopold draai om, maar dit kry die man nie van sy storie af nie.
“Dis drie en ’n half maande met die transportwa tot in Kimberley,” sê hy. “Goeie plek om jou fortuin te soek.”
“Ek soek nie …” begin Leopold weer, maar Barend vat die blikbeker wat Sarel vir hom aangee en blaas oor die stomende koffie.
“Môre, voor die oggendster bleek word, wil ek al ver trek.”
Leopold besluit dat dit nie sal help om met die ou man te stry nie. “Dis reg, Oom, dan sê ek maar nag, Oom,” paai hy terwyl hy tot by die hoek van die ossewa retireer. Toe hy daar kom, vlieg hy om en nael oor die plein. Hy weet nie hoekom nie, maar iets voel verkeerd. Baie verkeerd. Hoe meer treë hy tussen homself en die boggelrug sit, hoe beter.
Leopold hou eers op hardloop toe hy by die hoek van hulle straat kom. Hy gaan staan met sy hande op sy knieë om asem te skep. Geen teken van iemand wat hom agtervolg nie, dankie tog.
Sweet pêrel op sy voorkop en hy vee dit met sy mou af voor hy straatop loop. Hulle huis se vensters is donker. Dit beteken die begrafnisgangers is weg en Oudok het die testament laat lees sonder om vir hom te wag. Maar wat maak dit saak? Al wat hy nou wil doen, is slaap. Ten minste sal hy dan vir ’n rukkie kan vergeet dat hy sy ma nóóit weer gaan sien nie.
Gelukkig is die voordeur nie gesluit nie. Dis donker in die portaal, maar na agter gewaar hy die gloed van ’n olielamp. Leopold se hart lig. Ai, dié Mieta darem!
Sy het juis gister deeg uitgerol om hoenderpastei te bak vir die groot eet ná die begrafnis en soos hy haar ken, het sy ’n skeppie gebêre, spesiaal vir hom. Dalk het sy wakker gebly sodat hulle kan praat. Hy is nou alleen in die wêreld. Hy móét weet van sy pa.
’n Entjie in die gang af laat geluide hom vassteek. Gedempte stemme. Leopold frons. Wie sal dié tyd van die aand by Mieta kuier?
Hy spits sy ore. Een van die stemme ís Mieta s’n en dit klink of sy huil. Toe praat ’n man. Behoedsaam, sodat die houtvloer nie raas nie, sluip Leopold nader. Die kombuisdeur staan op ’n skreef oop en in die geel lig van binne af sien hy vir Mieta waar sy met haar elmboë op die skoongeskropte greinhouttafel sit. Haar gesig is in haar hande en haar skouers ruk.
“Mastag, Mieta,” herken Leopold Moos se stem. “Dit help nie jy verknies jou nie. Ons hande is afgekap.”
“Hoe kan jy so sê, Moos?” raas Mieta met haar man. “Die kind het voor ons grootgeraak, ons kan hom mos nie nou aan die genade oorlaat nie.”
Skrik skiet deur Leopold se lyf. Waarvan praat Mieta?
“En as daar nie geld is nie?” wil Moos weet. “Jy’t self gehoor Oudok het gesê daar’s nie ’n pennie in die boedel nie. Waar die rykdom vandaan gekom het waarvan sy mammie Isabella al die jare so lekker geleef het, weet g’n niemand nie.”
Leopold moet aan die muur vashou om nie om te kap nie. Niks hiervan kan waar wees nie! Al wat hy van sy pa weet, is dat hy dood is in ’n jagongeluk diep in Afrika, maar hy het tog ’n fortuin agtergelaat.
Aan die voetstappe wat opklink, hoor Leopold hoe Moos heen en weer loop oor die swart en wit teëls op die kombuisvloer. “Nou moet hierdie groot huis verkoop word om die skuld te betaal, ek en jy sit op straat en nie eens Oudok wil Leopold inneem nie, nie so sonder ’n erfporsie nie.”
“Ek sê jou, die kind gaan nié weeshuis toe nie.” Mieta snuif hoorbaar. “Ons sal vir hom sôre, al is dit iewers in ’n pondok.”
Straat … weeshuis … pondok … Die woorde tuimel deurmekaar in Leopold se kop. Stadig gly hy af teen die muur en gaan sit in ’n hopie op die plankvloer.
Die muurhorlosie in die gang het pas halfnege geslaan toe Leopold die voordeur oopmaak. Buite sif die maanlig oor die laaste herfsrose in sy ma se voortuin, en die sterre lyk koud en ver. Hy versit die bondel op sy rug. Dis lig. Net ’n paar stukkies klere. Op soek na geld het hy in sy ma se juwelekissie gaan krap, maar tot sy verbasing was daar geen teken van die diamanthalssnoer en ringe waarmee sy altyd gespog het nie. Sy het dit lanklaas gedra. Seker vir Oudok gegee om in sy kluis te bêre.
Gelukkig het hy nog sy ma se beursie. Leopold vat-vat na sy baadjiesak waar hy dit ingedruk het. Nie dat daar veel in is nie, net ’n paar munte en ’n klip. Hoekom sy ma die klip gebêre het, weet hy nie. Hy sal dit maar hou vir ’n gelukbringer.
Behoedsaam sluip hy met die paadjie af. By die tuinhekkie gekom, kyk hy terug na die donker vensters van hulle spoghuis en sluk teen die knop in sy keel. Hopelik kom Mieta eers môre by ontbyt agter hy is weg.
Al is die strate verlate, vermy hy die poele lig wat die lampe gooi. Maar wie sal hom soek? Van vandag af is hy amptelik ’n brandarm weeskind.
Hy loop vinnig tot by Koningin Victoriastraat. Daar draai hy regs in Waal, dan tot by Breëstraat, van waar hy die buitelyne van die kerk ’n entjie verder in die maanlig sien. Sy hart skop in sy keel. Hy is op die punt om die vreemde in te vaar, en dit saam met ’n boggelrugtransportryer wat hy van g’n kant af ken nie. As sy ma dít moet weet, draai sy in haar graf om.
Hy trek sy asem diep in. Hy sal ’n sak vol geld op die diamantvelde maak, terugkom en vir Mieta en Moos kom sorg. Ten minste weet hy nou wie regtig vir hom omgee.
Tot sy verligting staan die transportwa nog in die hoek van die plein. ’n Flikkerende liggie verklap dat die kampvuur brand en daar hang ’n watertandgeur in die lug. Braaivleis. Leopold snuif dit diep in en sluk. Ten spyte van die bang wat soos ’n vasgekeerde kakkerlak in sy maag kriewel, kan hy voel dat hy gister laas – onder Mieta se wakende oog – ’n stukkie kos ingewurg het.
Hy loop om die wa. Barend en Sarel sit nog op dieselfde plek waar hy hulle gelos het. Sarel se vuur het kole gemaak, waaroor daar nou repies vleis hang. Met Asem langs hom, sit Barend op sy riempiestoel, besig om ’n figuur uit ’n stuk hout te kerf.
Leopold loop nader en gaan ’n entjie van hulle af staan.
Barend se hande word stil. Asem se stert klap-klap in die stof. Sarel vroetel met die vuuryster sodat blinkrooi vonkies in die lug spat.
“Ek kan nie skiet nie, Oom.”
Die togryer kyk op en sy lippe vertrek in