sluk, loer onderlangs na die rewolwer wat die togryer met die wegtrek tussen hulle neergesit het, en probeer weer. “Eerste keer dat ek met ’n ossewa ry, Oom.”
“Dis g’n ossewa dié nie.” Barend spoeg die pruimpie so driftig uit dat Asem, wat by sy voete lê, haar ore lig. “Dis ’n bokwa. Sterker as ’n ossewa. Kan tot drie ton dra.”
Leopold skuif ongemaklik rond. Eintlik is hy min gepla watse wa dit is. Al wat hy wil doen, is om sy lam boude van die harde sitplek af te kry. Verlangend kyk hy na Sarel wat loslit voor langs die span osse loop. Kaalvoet ten spyte van die byt in die lug. Verflenterde broek. Verslete hemp wat gans te groot is vir hom. En die vuil hoed wat soos gewoonlik laag oor sy ore afgetrek is. Sy skraal heupe swaai-swaai, amper asof hy ’n liedjie in sy kop hoor. Nou en dan fluit hy skerp en klap windmakerig met sy sweep in die lug.
“Dalk moet ek vir Sarel gaan help,” soek Leopold uitkomkans.
Barend maak ’n bromgeluid en aangesien die wa so tydsaam aanskommel dat hy sommer in die ry kan afklim, besluit Leopold om dit as ’n ja te beskou. Hy wip na onder en val in pas langs die osse. Niks lus vir nog ’n afjak nie, maar uitgehonger vir geselskap, bekyk hy Sarel se figuur aan die voorpunt. Snaakse mannetjie dié, met sy hoë stem en kleilatlyf.
As Sarel hom uit die hoek van sy oog gewaar het, wys hy dit nie. “Waterberg! Swartland!” begin hy die span se name van voor tot agter uitroep. Sy sweep se voorslag swaai rakelings bokant die osse se horings verby.
Toe die sangerige rympie klaar is, waag Leopold dit nader. “Jou pa het jou goed geleer,” probeer hy vrede maak. “Sal jy my ook wys?”
Sarel gee hom ’n skewe kyk. “Met daai sawwe handjies? Hoekom het jy nie liewer die poskoets gevat nie?”
“Hoe bedoel jy?”
“Moenie jou onnosel hou nie. Mense met handjies soos joune het geld. Hulle vat die poskoets en is oor agt dae in Kimberley, hulle sukkel nie weke lank met ’n transportwa aan nie.” Hy draai sy kop skuins en bekyk Leopold van kop tot tone. “Soos ek jou uitkyk, sal jy eersteklas ry ook, lekker binne op ’n sawwe sitplek.”
Onwillekeurig steek Leopold sy hande in sy baadjie se sakke. Sy vingers raak aan die beursie met sy ma se laaste paar munte, en ’n bitter smaak stoot in sy keel op. “Jy’s gelukkiger as ek, jou pa het jou geleer om ’n touleier te wees. My pa het niks vir my gelos nie. Niks!” Hy skop na ’n graspol.
Sarel se vingers vroetel met die velsakkie wat aan ’n riempie om sy nek hang. Dit lyk of hy iets wil sê, maar dan eis ’n skerp draai in die pad sy aandag. Hy fluit deur sy tande en klap sy sweep. “Draai die disselboom, Hapoor! Komaan, Witvoet!” por hy die naasagterosse aan.
Die wa wieg om die draai en ’n ruk lank loop hulle in stilte. Daar is ander verkeer ook. ’n Swaargelaaide ossewa wat tydsaam aansukkel. Rytuie wat deur perde of donkies getrek word. Hulle kom ander transportwaens teë, sommige in dieselfde rigting op koers, ander weer op pad terug Kaapstad toe.
Leopold begin net wonder of hy nie liewer weer langs Barend moet gaan sit nie toe Sarel met ’n vuil vinger na die horison wys. “Dis nog ’n uur se trek tot by ons eerste uitspanplek en doerie wolke pla my. As dit nou begin reën en die wa val vas, sal ons die vrag moet afpak.”
“Wat is alles in die wa?” vra Leopold, om Sarel aan die gesels te hou.
Sarel trek sy skouers op. “Die vrouens soek seker materiaal en gare. Daar sal gereedskap wees, en twak vir die delwers. My pa het my vertel die winkeliers koop wol en velle. En kos. Wat wed ek jou daar’s kos! Gedroogde vrugte, biltong …”
Leopold begin lag. “Hou op, jy laat my mond water.”
Sarel vryf oor sy maag en trek ’n gesig. “Die ouman het gesê hy kom my met die karwats by as ek onder die seil inloer. Glo ’n spesiale vrag wat niks met my uit te waai het nie.” Hy blaas deur sy lippe. “Dink seker ek sal iets skaai.”
“Soos ek verstaan, hou delwers van brandewyn,” speel Leopold saam, bly dat sy reismaat ’n raps vriendeliker klink. “Wat sê jy, sal ons vanaand wanneer hy slaap bietjie loer?”
“Ons hoef nie tot vanaand te wag nie.” ’n Ondeunde glimlaggie kruip oor Sarel se gesig. “Netnou by die uitspanplek gaan ons eet en daarna sal die ouman onder ’n boom gaan lê, sy kop toetrek en slaap.” Sy oë vonkel. “Dan is dit ons kans!”
“Maar ons trek nog net so drie, vier uur? Is ons dan klaar vir die dag?”
“Jy weet ook niks nie!” Sarel klik sy tong. “Die osse moet vreet en rus, dis nie asof ons in ’n poskoets ry wat ná elke skof vars perde kry nie.”
Leopold se moed begewe hom. “So ons moet netnou uitspan en ’n ruk later weer inspan? Ugh!”
“Jy leer gou!” Sarel se mondhoek krul.
Leopold is nie seker of die touleier met hom spot nie en besluit om maar in sy goeie boekies te bly. “Ek kan sien jy weet waarvan jy praat,” sê hy en laat aspris ’n tikkie bewondering in sy stem deurslaan. “Jy werk seker al lank vir oom Barend.”
“Ken die ouman van g’n kant af nie.” Sarel loer na waar die togryer op die wakis sit en laat sy stem sak. “Het hom laas week die eerste keer op die Groentemarkplein gesien toe hy my gevra het of ek vir hom sal toulei. Gesê die hond het vir hom gewys wie om te kies.”
Leopold trek sy asem skerp in en Sarel kyk met skrefiesoë na hom. “Wat’s dit met jou? Het ek jou laat skrik?”
“Nee …” Leopold vee oor sy nek. “Dis net, ek het gesien hoe Asem teen jou opspring, die dag op die plein.”
“En wat daarvan?” In die verbygaan pluk Sarel ’n grashalmpie af en byt dit tussen sy voortande vas.
“Die eerste keer toe ek oom Barend gesien het, het die hond ook so uit die bloute op my afgepyl. En die dag van my ma se begrafnis was sy in die begraafplaas.”
Die grassie wip soos Sarel daaraan kou.
“Is dit nie vir jou ook snaaks nie?” hou Leopold aan.
Sarel spoeg die grashalm uit. “Asem is kêns, nes haar baas. Sy was eers danig vriendelik met my, maar nou knor sy as ek naby hom kom.”
“Regtig? Sy doen dit met my ook.”
“Toe, jy!” Sarel stamp hom met die vuis teen die boarm. “Ons ry net saam met die smous en sy brak, ons hoef nie van hulle te hou nie.”
“Ek weet, maar het jy gehoor toe oom Barend sê sy is ’n jaghond wat haar prooi enige plek kan uitsnuffel?” Leopold huiwer, dan glip die nare vermoede wat hom aan die nekhare beetgekry het nogtans uit. “Sê nou ons het nie per ongeluk by oom Barend uitgekom nie? Sê nou Asem hét ons uitgesnuffel? Soos prooi?”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.