tion>
Aanvaar mekaar se uniekheid
Lux Verbi
God het julle gekies. Julle is sy spesiale mense in die wêreld. Hy is baie lief vir julle. Daarom moet julle die “klere” aantrek wat by julle pas. Julle moet baie vir ander mense omgee en gaaf met hulle wees. Wees op jou plek en moenie te veel van jouself dink nie. Moet ook nie ongeskik met mense wees nie, maar hanteer hulle mooi. Gee mekaar ’n kans sonder om mekaar met kritiek uitmekaar te skeur. Kyk ook by mekaar se foute verby. Die Here het immers by al julle foute verbygekyk. Daarom word niks minder van julle verwag nie. Tussen die klere wat die Here julle gegee het, is daar ’n kledingstuk wat alles perfek afrond. Jy moet dit altyd en oral dra. Hierdie kledingstuk is die liefde. As julle mekaar liefhet, leef julle presies soos God dit wil hê. Liefde hou julle na aan mekaar soos julle veronderstel is om te wees.
Kolossense 3:12-14
Voorwoord
Hoekom koeke en terte?
Toe ek by die tuisnywerheid instap, het die groot verskeidenheid eetgoed my dadelik opgeval. Daar is so baie verskillende koeke en terte en koekies en happies – alles gemaak van uiteenlopende resepte met verskillende bestanddele, geure, smake, vorms, kleure en voorkomste om van te kies.
Wat my toe laat dink aan al die uiteenlopende vroue wat die Here gemaak het. Vroue is so verskillend en uniek soos die koeke en terte en wat nog als in ’n tuisnywerheid. Ons styl, persoonlikheid en kleur verskil; ons vorm, grootte en bestanddele verskil. Party is soeter, ander s(t)outer. Sommige is styf, ander meer plooibaar …
So begin my gedagtes toe met my op loop sit en ek kry hierdie wonderlike idee vir ’n splinternuwe, innoverende geestelike (en humoristiese) boek: ’n koek-en-tert-boek waarin ek al die verskillende geloofsvroue uitbeeld wat al my pad gekruis het.
Hierdie uiteenlopende geloofsvroue was almal so uniek.
En tog in baie opsigte ook eenders.
Sedert die verskyning van my debuutroman, Oros vir die siel, in 2007 het my lewe byna oornag ’n nuwe rigting ingeslaan. Ek het ’n nuwe roeping ontvang waarin ek my gawes en talente kon gebruik. Die afgelope 12 jaar word ek feitlik elke week genooi om as motiveringspreker by ’n groot verskeidenheid en uiteenlopende damesfunksies landwyd op te tree.
Aanvanklik was ek maar skepties en senuweeagtig oor die versoeke van kerke, skole en vroueorganisasies wat ingestroom het. Wat was hierdie onbekende vroue se verwagting van my? En wat was my verwagting van hulle? Wat gebeur alles by so ’n funksie? En watter soort vroue woon dit by? Hoe lyk hulle? Wat dra hulle? Wat glo hulle? Is hulle krities of verwelkomend? Oorwegend koekerig en styf, of is daar ook terterige vroue en inbetweens? Het sommige van hierdie vroue darem ’n humorsin, of is almal baie ernstig?
Ek het begin stres. Sou ek as ’n ongewoon kleurvolle kunstenaar met ’n skerp humorsin daar inpas – of soos ’n seer oog uitstaan?
Voor 2007 was ek nooit eens ’n gas by enige sodanige damesfunksie nie. Nou skielik moes ek die spreker wees, die een wat voor gaan staan, die een wat die onbekende kerktannies toespreek en hulle probeer inspireer. Dit het my tot buite my gemaksone en my talente se reikwydte gesleep.
Ek het baie met die Here geworstel hieroor, veral oor die onderwerpe waaroor ek dan moes praat en die aanslag wat ek moes kies. Ek het my bedenkinge gehad of ek die regte kandidaat was om met vroue by ’n damestee of vrouedag, of waar ook al, te praat. Hulle sou my waarskynlik onder ’n vergrootglas ontleed. (Ja, ek bely ek het vooropgestelde idees oor die gemiddelde kerkvrou gehad. En hulle sekerlik oor my ook. Het ons nie maar almal ons vooropgestelde idees oor mekaar nie?)
“Is ek nie te ánders vir hierdie konserwatiewe vroue nie?” wou ek die hele tyd by die Here weet. “Is ek regtig geskik vir dié job? Ek is ’n onvolmaakte vrou, met baie foute en flaters.”
Dalk is jy te anders vir sekere mense, het ek gevoel die Here my geantwoord. Maar nie vir My nie. Ek het jou met my eie hande ontwerp en jou met ’n doel gemaak. En my doel met jou nou is juis om die boodskap van my genadige liefde met almal te gaan deel. Gaan bou brûe met my liefde daar waar verdeeldheid is tussen die uiteenlopende happerige dogters in my kerk.
Ek was steeds onseker …
Een ding waarvan ek egter wel baie seker was, was dat ek op ’n onmiskenbare geloofsreis saam met die Here sou vertrek, ’n groot avontuur met nuwe ontdekkings oor Hom – en oor myself. En oor die jare heen is ek inderdaad geslyp en gesnoei. Ek het dieper insig gekry in hoe die Here se hart lyk. Sy hart is sag, vol liefde en medelye – ook vir dié buite die tradisionele boks, die ongewone, andersoortige mense. Mense soos ek. Mense soos jy. Ek moes op Hom vertrou vir dié nuwe avontuur. Hy sou my as spreker bemagtig om sy boodskap van liefde oor te dra.
Met die eerste paar funksies was my mond kurkdroog en ek moes kort-kort water sluk om te kon praat. Agter my was ’n skerm met notas om aan vas te hou, soos ’n lewensanker. In my hand was ’n lang stok om die notas op die bord te beklemtoon – en ’n paar kletsende dames op die kop te tik.
Die eerste paar optredes in sale vol vreemde kerkvroue was so vreesaanjaend soos om na ’n nuwe skool in ’n nuwe land met ’n vreemde taal te gaan. Ek was bang vir die oë wat vol verwagting op my gerig was. As aktrise was ek gewoond aan ’n vaste teks in my hand en ’n regisseur wat aan my kon leiding gee. Ek kon agter ’n karakter skuil. Al was dit ook Daisy de Melker wat twee van haar mans en haar seun vergiftig het …
By hierdie funksies was daar egter nie ’n karakter om agter te skuil nie, het ek besef. Ek het naak gevoel en dikwels gewens ek kon ’n tjalie oor my gesig gooi om my ongemak te bedek. Ek was lus om te vlug. Ek was te anders …
Wees nederig en bly altyd volkome afhanklik van My. Ek gee elke tree saam met jou, het ek die Here se stem in my hart gehoor. Elkeen in hierdie saal en in al die sale waarheen jy nog sal gaan, is uiteenlopend en anders en uniek deur My gemaak. Maar as vroue is julle ook in baie opsigte eenders. Fokus dáárop, en bou brûe na mekaar toe met dit wat julle as beroepsvroue, ma’s, oumas, susters, tannies gemeen het: dieselfde hemelse Vader. Aanvaar mekaar soos ’n verskeidenheid lekkernye in my tuisnywerheid. Sjokoladekoeke, wortelkoeke, Peppermint Crisp-terte, koeksisters, vetkoeke, droë koekies, cupcakes … Want Ek kyk na die bestanddele aan die binnekant van elke vrou, eerder as na die versierings, die voorkeure en die modegiere aan die buitekant.
Wat net weer bewys, om anders te wees is nie die klip op jou geloofspad nie. Die klip in die pad lê diep in ons elkeen se hart, in ons gesindheid teenoor mekaar. En veral die gesindheid teenoor dié wat volgens ons maatstaf nie inpas by ons tuisnywerheid nie.
As ons Skepper al die vroue op aarde presies eenders wou gehad het, kon Hy ons in groot maat deur dieselfde fabriek gestuur het – almal met dieselfde beige uniform, dieselfde haarstyl, dieselfde stemtoon, dieselfde gesigsuitdrukking, dieselfde kleur en dieselfde persoonlikheid. Netjiese afskrifte. Maar Hy het elke vrou oorspronklik en uniek geskep, met sterkpunte en swakhede, met ’n rede: om ons nederig en afhanklik van Hom te hou. Om ons te leer om ten spyte van ons verskille steeds ’n liefdevolle en eensgesinde geloofspan te vorm.
Dit is nou al 12 jaar later en ek het omtrent al die hele land en die buurlande deurkruis. Nadat ek oor my aanvanklike vrees en vooropgestelde idees oor kerkvroue gekom het, het ek hierdie vrouefunksies en die vroue baie meer begin geniet. Ek was al meer ontspanne en bewus van God se genade en guns wat op my rus. Sy krag het my gevul en my sterk gemaak. My fokus het verskuif, weg van myself na dienaarskap. Ek het ’n kykie gekry op hoe ware naasteliefde lyk.
Wat ’n wonderlike deurbraak op my geloofspad!
Wanneer ek klaar met die vroue by ’n funksie gepraat het, is daar natuurlik altyd koffie en tee en ’n verskeidenheid uiteenlopende smulgoed om te geniet. Dit het my al meer begin opval hoe uiteenlopend die eetgoed op die tafels was wanneer ons so saam gekuier het. Elke tafel was uniek.
Maar wat my nog meer getref het, noudat ek meer ontspanne