Susan Coetzer

Koeke en terte


Скачать книгу

help jou in jou geestelike groei.

      •Dit versterk jou lewensgehalte.

      Moon sluit haar referaat af deur te sê die ontwikkeling van ons persoonlike talent en hoëvlak-prestasie lei tot ’n lewe van vervulling. Om jou gawes en talente suksesvol te ontwikkel gaan daaroor om moeite te doen om nuwe vaardighede te bemeester. Dit doen jy deur hard te studeer en nog harder te oefen om jou doelwitte te bereik en jou drome en ambisies waar te maak.

      As jy as gelowige egter ook jou Groot Doel op aarde wil bereik, sal jou sukses nie net gefokus wees op jouself en persoonlike gewin nie. Jy sal ook as dienaar van God aanmeld en deel van sy Groot Plan word. Jou werk (wat jy ook al doen) en jou menswees (hoe jy met ander omgaan) sal getuig van jou liefde vir Hom en van jou liefde vir jou naaste. Wanneer jy binne God se Groot Plan werk, as deel van sy liggaam, sal jy ander mense se lewe ten goede beïnvloed, hulle as mens verryk en hulle geestelik inspireer. Dit sal God laat glimlag en sê: “Mooi so, my getroue dienaar. Ek is baie tevrede met jou lewe.”

      ’n Laaste bemoediging van my: Word wie jý veronderstel is om te wees. Moenie ongeduldig wees met jouself nie. Jy sal nie oornag resultate sien nie. Dit is ’n ewige reis na geestelike en emosionele volwassenheid, ongelukkig nie ’n halfdag te perd nie. Wees dapper, wees sterk, wees vasberade en wees doelgerig om jou volle potensiaal in God te verwesenlik.

      Slypskool vir Degies

      Dink nou mooi na oor hierdie vrae en skryf jou antwoorde in jou joernaal neer.

      •Is jy ’n Degie? Motiveer jou antwoord.

      •Het jy sommige van die eienskappe van ’n Degie?

      •Wat is jou sterkpunte?

      •Wat is jou swakhede?

      •Wat is jou natuurlike talente?

      •Wat is jou geestelike gawes, geïnspireer deur die Gees van die Here?

      •Wat is jou drome?

      •Wat is jou passies?

      •Hoe lyk die nuwe jy waarin jy wil verander?

      •Watter bestanddele wil jy uit jou huidige resep weglaat?

      •Watter nuwe bestanddele wil jy byvoeg om die beste jy te word?

      •Wat is vir jou haalbare doelwitte vir hierdie week, hierdie maand, hierdie jaar?

      •Wat is jou lewenstaak as jy dink aan die kombinasie van al jou geestelike gawes, natuurlike talente en sterkpunte wat die Here spesifiek in jou geskenkpakkie geplaas het om die wêreld mee te verryk?

      Die Woord vir Degies

      •1 Korintiërs 12:4-31

      •Matteus 25:29

      •Handelinge 20:24

      Stilwordtyd by God vir Degies

      Lees die Bybelgedeeltes hierbo in stilte en met jou volle aandag deur. Jy is welkom om ook ander Bybelgedeeltes saam met hierdie te lees en oordink. Wanneer jy die gedeeltes klaar aandagtig gelees het, vra jou af:

      •Wat het my getref? Bid daaroor.

      Luister dan in stilte en met ’n oop hart na God se aanwysings vir groei in jou lewe. Luister vir antwoorde op moontlike vrae soos:

      •Hoe kan ek my bestaande resep verbeter? Wat moet uit? Watter nuwe bestanddele kan in?

      •Wat keer dat ek ’n deurbraak beleef?

      •Hoe kan ek my hart, teenoor myself én my medemens, prakties verruim?

      Slypskool vir almal wat saamreis

      Dink nou mooi na oor hierdie vrae en skryf jou antwoorde in jou joernaal neer.

      •Hoe voel ek oor Degies?

      •Hoe hanteer ek hulle?

      •Hoe kan ek hulle bemoedig en help om hulle volle potensiaal te bereik?

      •Hoe wil die Here hê moet ek Degies hanteer?

      Die Woord vir almal wat saamreis

      •Johannes 13:34-35

      •Handelinge 20:28

      Stilwordtyd by God vir almal wat saamreis

      •Wat het jy in hierdie verse oor naasteliefde geleer?

      •Wat sê die Here vir jou?

      •Hoe kan jy dit prakties toepas?

      •Het jy enige lightbulb-oomblikke beleef?

      2

      Sponskoeke

      Hoe identifiseer jy ’n plein, droë sponskoek in ’n saal vol vroue? Dis moeilik, want Sponskoeke het die neiging om ander vroue se eienskappe op te suig soos ’n spons eerder as om hulle uniekheid uit te leef. Gooi karamel oor ’n sponskoek en die sponskoek word ’n karamelkoek. Dieselfde gebeur wanneer jy sjokolade of vla gebruik.

      Sponskoeke kruip graag agter ander meer baldadige en uitgesproke vroue weg. Hulle verkies om nie opvallend te wees in ’n groep nie en dra graag kamoefleerpakkies in skakerings van beige of bruin wat hulle maklik met die agtergrond laat saamsmelt. Selfs hulle skoene is gewoonlik beige of bruin en ryg meestal toe met veters, soos skoolskoene.

      Hulle haarstyle is deel van die incognito-strategie. Dis prakties en verg min instandhouding en trek min aandag. Kuiwe is wel gewild, want dit steek al eenderde van hulle gesigte weg. Sponskoeke het nooit uitspattig gekleurde of flambojante salonkapsels soos ander in die saal nie.

      Hierdie vroue het egter baie pluspunte, en besonder goeie maniere is een daarvan. Hulle is altyd die minste en druk nie soos voorbarige Tipsyterte voor in die ry by die kostafel of die boeketafel in nie. Hulle staan koponderstebo en doodstil heel agter in die ry en wag geduldig hulle beurt af. Wanneer hulle uiteindelik voor my staan, praat hulle so sag en verskonend dat ek my ore regtig moet spits om te kan hoor wat hulle sê.

      Sponskoeke glo nie in hulleself nie. Hulle bestaan feitlik net uit vrees, onsekerheid en senuwees. Dit maak my so hartseer, want ek self was ook ’n skaam, jammer-dat-ek-leef-vrou, iemand wat verkies het om in ander suksesvolle vroue se skadu te leef. Tot ek uit die boks geklim en my potensiaal begin ontwikkel het. Hoe? Deur ’n paar nuwe wenbestanddele by my resep te voeg soos die Meesterbakker dit aan my geopenbaar het.

      Ek gesels graag met ’n Sponskoek wanneer ek ook al die kans kry. “Wat is jou natuurlike passie, talent of gawe?” is een van my beste aanknopingspunte. Gewoonlik staan die Sponsie dan verstom daar met ’n mond vol tande.

      “Ek weet nie … daar is nie regtig iets waarin ek uitblink nie.”

      “Daar móét iets wees,” moedig ek haar dan aan.

      “Nee wat, ek het nie talente gekry om oor te spog nie. Ek is maar net ’n plein huisvrou vir my man en my kinders. Kook ’n bietjie, maak huis skoon en so aan …”

      Op hierdie beskeie noot sal ’n uitgesproke vriendin (gewoonlik ’n rondborstige Melktert) dikwels intjip met ’n klip in die bos. “Hierdie vrou is vrot van die talent,” sal die Melktert uitbulder sodat die hele saal dit kan hoor. “Sy kook vyfsteretes vir ’n hele rugbyspan en doen lieflike naaldwerk en blommerangskikkings. Sy het ons tafel so mooi versier. Sy is so beskeie, ek wil haar sommer stamp dat sy kan bykom.”

      “Sy oordryf regtig,” sal die Sponskoek antwoord en skaam afkyk na haar hande met die kort geknipte naels. “Ek het sommer net ’n paar tuinblommetjies in die water gedruk. Julle is die glansvroue met die ware talente en gawes, nie ek nie. Ek is regtig ’n doodgewone huisvrou. Niks spesiaals aan my nie.”

      Herinner hierdie oorbeskeie, skaam vrou, wat haarself gedurig in geselskap as die stert eerder as die kop posisioneer, jou dalk ’n bietjie aan jouself? Sponskoeke glo nie in hulle potensiaal