Willie Esterhuyse

Eindstryd


Скачать книгу

tion>

      

      Eindstryd

      Willie Esterhuyse

      Tafelberg

      Vir Annemarie:

      Jy het dit wat in hierdie boek vertel word, moontlik gemaak. Jy het my nie net geïnspireer nie, maar was my ook polities vooruit. Dankie dat jy my krities begelei, verdra en verduur het. En altyd teenwoordig was.

      Ter verduideliking

      Ek word dikwels gevra waarom ek vanaf 1987 betrokke geraak het by vertroulike gesprekke met die verbode ANC. Verskeie faktore het ’n rol gespeel, maar twee staan uit. My deelname aan die werksaamhede van die Stedelike Stigting vanaf 1985, met Jan Steyn die leidende lig, en dan, ’n toneelstuk wat ek in Mei 1989 in Londen beleef het.

      Steyn se passie vir reg en geregtigheid en ’n Suid-Afrika waarvoor ons nie skaam hoef te wees nie, was besonder inspirerend. Deur die Stedelike Stigting is ek ook blootgestel aan die werklikhede van Suid-Afrika. Een insident waarby ek via die Stigting betrokke geraak het, het my onherroeplik verander: Vermeende hardhandige polisieoptrede by Roodekrans, noord van Johannesburg, teen plakkers, en ’n verklaring daaroor. Sommige plakkers se hutte is plat gestoot en ander hutte afgebrand. Sollie Masilela het veral erge brandskade gely en alles verloor. ’n Familielid van hom vertel daaroor, in Afrikaans, op 14 Maart 1987. Ek sluit ’n gedeelte van die verklaring in:

      As die regering so maak met die mense, wat gaan in die land gebeur? Die polisie is onder die regering, en as die polisie sulke gemorste maak, dan is dit mos die regering se skuld? Ek wil nie gaan kyk nie. My broer ook nie – ons het halfpad gegaan, toe word ons knieë lam van die ding, toe draai ons om.

      As ek dink aan die ding, my kopvel trek sommer so opmekaar. Hoe is dit dan, as die kinders in die townships huise brand, dan is hulle skuldig en hulle word geskiet, maar die polisie mag huise brand?

      So ’n ding kan ’n man klaarmaak. So ’n moeilikheid is te veel. Hy sal sommer die tou om die nek sit en homself versmoor, en dan sê die mense hy is mal, maar hoe kan ’n mens so ’n moeilikheid vat? Jy het niks oor nie – al die jare se bietjie-bietjie bymekaarmaak, geld en meubels en goed, en dit brand in een nag. Jy sal vir God sê: nee, hier is verkeerde dinge in hierdie land, dis beter dat ek uitgaan …

      En nou kan ons nie die nuwe pas kry nie. Die tou staan so ver as daardie hek, en hy kom nie klaar nie. Ek het in Oktober gegaan, en hulle het gesê volgende maand. Ek het Desember gegaan, en Januarie, en Februarie en Maart, maar ek het nog nie die pas nie. Hierdie elke maand se loop kos baie geld. Nou hoor ons as ons Juniemaand nie pas het nie, en hulle vang jou, dan kry jy drie maande. As hulle jou weer vang, ses maande, derde keer kry jy een jaar en dan 18 maande met niks ‘fine’ nie, jy moet net sit. Nou wat moet ek nou maak?

      Dit was nie vir my moeilik om in 1987 te besluit om aan die gespreksprojek met die ANC deel te neem nie.

      Dié besluit is opnuut vir my geregverdig deur wat ek in 1989 in Londen beleef het. “My last performance was at the Comedy Theatre in May 1989,” vertel die onsterflike akteur Sir Alec Guinness in sy boek A Positively Final Appearance. “It was a two-hander, with Ed Herrmann, with whom I became great friends, and me playing USA and USSR diplomats.”

      Ek was daar. Die stuk was A Walk in the Woods van Lee Blessing: Herrmann vertolk die jong karakter in die toneelstuk, die Amerikaanse onderhandelaar John Honeyman, en Guinness die ouer, meer ervare karakter, die Russiese onderhandelaar Andrey Botvinnik. Die stuk belig die uitgerekte onderhandelings oor atoomontwapening tussen die groot moondhede in Wene, Oostenryk. Botvinnik en Honeyman, aartsvyande rondom die onderhandelingstafel, ontmoet toevallig in die woud en neem op dieselfde houtbank plaas. Die twee praat en praat. In die woud op die houtbank is hulle net twee mense wat mettertyd wedersydse respek en begrip vir mekaar kry. Dit word ’n aangrypende verhaal van hoe vertroue en vrymoedigheid tussen politieke vyande geskep kan word: Die totstandkoming van ’n “onmoontlike vriendskap” wat die gang van die geskiedenis verander.

      Ek het Sir Alec se laaste optrede in Londen kon bywoon omdat ek in Mei 1989 namens die Suid-Afrikaanse Nasionale Intelligensiediens ’n histories belangrike boodskap aan Thabo Mbeki in Londen moes gaan oordra. Dié boodskap het die pad na amptelike onderhandelinge in Suid-Afrika oopgemaak.

      A Walk in the Woods het ’n groot rol gespeel in dit waaroor in hierdie boek vertel word. Reeds voor ek die stuk gesien het, het ek alles gelees wat ek oor die Wene-onderhandelinge oor atoomontwapening in die hande kon kry, myns insiens van die mees belangrike onderhandelinge sedert die Tweede Wêreldoorlog. Wat ek gelees het, en die toneelstuk self, het my geweldig aangegryp. Dit het in ’n bepaalde opsig my “model” geword van hoe vertroue tussen politieke vyande gebou kan word.

      Baie jare later, in 2006, woon ek ’n konferensie oor vrede by die Universiteit van Notre Dame in die VSA by. Ek verwys na die toneelstuk A Walk in the Woods wat my so beslissend beïnvloed het. Ollie Williams, professor in sake-etiek aan Notre Dame, vra: “Wil jy die ware verhaal hoor? Sien jy daardie toringgebou? Op die boonste verdieping is vader Theodore Hesburgh se kantoor. Hy kan jou vertel presies wat in Wene gebeur het.”

      Vader Hesburgh, ’n kenner van atoomfisika, was as geakkrediteerde verteenwoordiger van die Vatikaan van meet af by die onderhandelingsproses in Wene betrokke. Hy word uiteindelik die persoon wat die onderhandelinge tot ’n suksesvolle einde help bring deur die persoonlike, nie-amptelike kontak wat hy tussen die vyandige onderhandelaars bewerkstellig het.

      In sy kantoor by Notre Dame ontmoet ek ’n vriendelike, ontspanne en geselserige mens. Hy rook sigare dat die dampe staan. Ek het ’n sinusprobleem, maar sit vasgenael. Hy vertel my die volle verhaal, sigaar op sigaar, en inspireer my opnuut. Hesburgh, as toegewyde priester, is ’n vredemaker. ’n Brugbouer. Hy glo vas dat toegewyde enkelinge ’n verskil kan maak. Die informele kontak wat hy as tussenganger tussen individuele onderhandelaars bewerkstellig, lei uiteindelik tot ’n deurbraak en tot ontwapening. Die bou van vertroue tussen “vyande” is deurslaggewend.

      Toe ons groet, beklemtoon hy weer: “Hoop is die sleutel tot die toekoms.” Die “onmoontlike” ís moontlik.

      1

      Twee telefoonoproepe

      My betrokkenheid begin in 1987 met twee telefoonoproepe. Die een uit Londen en die ander een uit Pretoria. ’n Paar weke uitmekaar. Met die eerste oproep was dit reeds winter op Stellenbosch – nat en koud soos dit op dié Bolandse dorp in wintertye kan wees. Dit was kort voor die opspraakwekkende Dakar-konferensie in Senegal tussen 9 en 12 Julie 1987 en ek was by my huis in Mostertsdrift, toe die telefoon lui. Ná die oor-en-weer-groetery vra Fleur de Villiers: “Wil jy met die ANC in die buiteland praat?”

      Kort daarna was daar ’n ander oproep. Die manstem was saaklik: “Professor, my naam is Koos. Ek en my kollega werk vir die staat. Ek skakel hier vanuit Pretoria en ons wil graag ’n belangrike saak met u kom bespreek. Ons wil ’n afspraak by u aan huis reël. Hoe lyk u dagboek oor die volgende week of twee?” Sonder om te vra wie “Koos” en sy “kollega” nou eintlik is, reël ek met hulle ’n datum en tyd.

      Ek het aanvaar dat die gesprek privaat moet wees. “Koos” het spesifiek gesê: “Ons wil u nie by u kantoor ontmoet nie.” Stellenbosch, so het ek geweet, was ’n sif. Almal het van almal en van alles geweet. Daar was nie net mededinging tussen akademici om openbare aandag nie, maar ook toenemende politieke verskille tussen wat Willem de Klerk, die broer van FW de Klerk, die stryd tussen die verligtes en die verkramptes binne die Nasionale Party genoem het. Stellenbosch was destyds ’n intellektuele en kulturele Mekka van die Afrikanerdom. ’n Organisasie soos die Afrikaner Broederbond was op dié dorp ’n toonaangewer. Die Rembrandt-ryk van dr. Anton Rupert, Suid-Afrika se voorste Afrikaner-entrepreneur, was ook daar gesetel. Ek het Koos Kruger se aandrang op privaatheid verstaan, later selfs beter ná sy verduideliking van sy betrokkenheid by die staat.

      Ek en my gesin was bevriend met Fleur de Villiers en haar ma, Edna, sedert 1974. Voor haar vertrek na Londen was sy assistentredakteur van die Suid-Afrikaanse Sunday Times. Sy was een van Suid-Afrika se beste politieke joernaliste, en was die eerste vroulike lid van die parlementêre persgalery. Haar waardestelsel was konsekwent liberaal-demokraties.

      De