Willie Esterhuyse

Eindstryd


Скачать книгу

nou dié wat vas oortuig was dat hervorming op ’n stuksgewyse manier van binne af moes geskied en dat die NP die enigste werktuig in dié verband was. Die verligtes, ten einde hulle idees te propageer en aanvaarbaar te kry, het hulleself baie skerp van Afrikaners wat toe reeds buite die Afrikanernasionalistiese kraal as liberales geposisioneer was, afgegrens.1

      Die liberales of moraliste – en ek gebruik dié woord in ’n positiewe sin – was op ’n dogmatiese wyse liberaal-demokrate. Sommige van hulle het selfs openbare morele woede bepleit as ’n vorm van verset teen apartheid. Dit het enige vorm van samewerking met apartheidstrukture asook strategiese kompromieë uitgesluit. Hierteenoor het die verligtes vir strategieë gekies wat ingespeel het op die reformistiese moontlikhede wat die stelsel gebied het. Hulle is soms verlei deur die opwinding wat “brinkmanship” hulle gegee het, was bevoorreg om goeie toegang tot die Afrikaanse en Engelstalige media te hê, en om talle meningsvormende praatjies by sake-, kulturele, politieke en kerklike byeenkomste te lewer. Dit het oor tyd heen ’n rol in die stimulering van veranderingsprosesse en denkskuiwe gespeel.2

      De Villiers het in haar invloedryke rubrieke die verligtes behoorlik gekasty. By een geleentheid het sy hulle selfs spottend “sjokoladesoldate” genoem. As die politiek te warm word, smelt hulle. Ek was vanaf 1968 tot 1974 senior lektor in filosofie by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, tans die Universiteit van Johannesburg. RAU, so het professor Gerrit Viljoen, die stigtingsrektor, graag gesê, is in 1967 gestig “deur die Afrikaner vir die Afrikaner in die stad”. Viljoen was later administrateur-generaal in die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) en uiteindelik die minister van grondwetlike sake in president FW de Klerk se kabinet wat die politieke oorgang na ’n eenheidstaat moes bestuur. Hy was tydens sy rektorskap ook die voorsitter van die invloedryke Afrikaner Broederbond (AB). In ’n stadium was hy ook die voorsitter van die konserwatiewe, maar invloedryke Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-Aangeleenthede (Sabra), van wie se Jeugaksie ek onder Viljoen die voorsitter was, maar uitgeskop en deur prof. Carel Boshoff vervang is.

      Viljoen het op ons, die jong en entoesiastiese garde van RAU-dosente, ’n groot invloed gehad. Ons was almal Afrikaner-idealiste en begeester deur die idee van ’n waardige plek vir die Afrikaner en vir Afrikaans in die Goudstad. Die meeste van ons was ook gemotiveer deur die idee van hervorming van binne af. Ons het in en rondom Johannesburg talle byeenkomste van Afrikaners, veral uit die werkersklas, toegespreek. En ook rubrieke in Afrikaanse koerante, soos byvoorbeeld die intussen heengegane Transvaler en Vaderland, geskryf.

      Fleur de Villiers se kastyding van die verligtes het my as destydse Afrikaner-idealis mateloos geïrriteer. Sonder ’n afspraak meld ek my op ’n dag in 1974 by haar in haar kantoor aan. Ek sê: “Is jy die joernalis wat ons progressiewe Afrikaners wat iets positiefs vir die land wil doen, so kasty? En jy is ’n De Villiers!” Dit was die begin van ’n lewenslange en verrykende vriendskap wat nie net ’n invloed op die vorming van baie van my politieke idees en oortuigings gehad het nie, maar op die politieke ontwikkeling van Suid-Afrika self ’n voetspoor gelaat het. Dis veral sy wat my die belang en werking van nie-amptelike en persoonlike netwerke beter laat verstaan het. Haar eie netwerke was uitstekend en het later oor kontinente en tussen ’n verskeidenheid van rolspelers gestrek. Sy het tot die middel-tagtigerjare ook baie goeie toegang tot NP-kabinetsministers en senior politici gehad omdat hulle respek vir haar integriteit as joernalis gehad het.

      Fleur de Villiers het my uit Londen geskakel. Dit is waar sy haar in 1986 gevestig het, onder meer omdat sy bekommerd was oor ons land se toekoms ná Botha se Rubicon-toespraak in Augustus 1985, ’n toespraak waarin hy op ’n kragdadige wyse alle hoop op ’n onderhandelde skikking in Suid-Afrika van die tafel afgevee het. In Londen het De Villiers vir haarself naam gemaak as rubriekskrywer vir meningsvormende koerante en joernale, asook as konsultant vir verskeie internasionale maatskappye, onder meer De Beers en Consolidated Goldfields.

      Sy het oor die foon verduidelik: “Ek is betrokke by gesprekke met die bestuur van die maatskappy Consolidated Goldfields hier in Londen. Ons is baie bekommerd oor die politieke doodloopstraat waarin PW Botha en sy regering die land laat beland het. Die konflik gaan erger word. Daar moet dringend oor die moontlikheid van onderhandeling gepraat word. Ek het met Humphrey Woods van Consgold gepraat. Hy en die voorsitter, Rudolph Agnew, stem saam dat ’n informele en vertroulike gesprek tussen Afrikaner-meningsvormers na aan die regering en ANC-leiers in die buiteland dalk kan help. Kan jy help met ’n lysie van mense wat moontlik kan deelneem? Wat van Pieter de Lange en Johan Heyns? Wat sê jy? Wil jy met ANC-leiers op ’n vertroulike basis in die buiteland praat?”

      Daar was toe alreeds skakeling tussen Britse sakeleiers en ANC-leiers. Die joernalis Anthony Sampson, wat noue bande met die ANC gehad het en later ’n biografie oor Nelson Mandela geskryf het, was hierin instrumenteel. Op 24 Oktober 1986 ontvang hy byvoorbeeld vir Oliver Tambo by hom aan huis in Londen. Tambo is deur David Astor, voormalige eienaar en redakteur van The Observer, na Londen genooi. Astor, fel teen apartheid gekant, bring tydens Tambo se besoek bekende Britse sakelui met die ANC-leier in kontak. Tambo ontmoet ook die redakteur van The Economist, Andrew Knight, en die voorsitter, die invloedryke bankier Evelyn de Rothschild. Dit word die begin van ’n diplomatieke coup vir die ANC in Brittanje.

      De Villiers het my later vertel dat die Consgold-projek, soos ons dit mettertyd genoem het, as ’n laaste poging, en uit ’n stygende gevoel van moedeloosheid, voorgestel is. Consgold, die Britse mynhuis met ’n dekades lange geskiedenis en winsgewende goudbelange in Suid-Afrika, was betrokke by verskeie byeenkomste tussen ANC-leiers en Britse sakelui, waaronder ’n redelik beslissende byeenkoms in Londen op 24 Junie 1987, waar 23 bekende Britse en ander sakelui met senior ANC-leiers soos Oliver Tambo, Thabo Mbeki, Mac Maharaj, Aziz Pahad en Jacob Zuma gesprek gevoer het. Die sakeleiers het mense soos Lord Barber, voorsitter van Standard Bank, Sir Alistair Frame van Rio Tinto, George Soros van die Soros-fonds en Evelyn de Rothschild ingesluit. Michael Young, die kommunikasiehoof van Consgold en iemand wat later ’n sleutelrol in die nie-amptelike ANC-Afrikaner-kontakgroep (die Consgold-projek) gespeel het, was ook teenwoordig. Die vergadering in die hoër-middelklas Connaught Rooms, met David Astor die gasheer, het die teenwoordiges nie baie hoop gegee nie, maar tog ’n sterk gevoel vir dringende optrede geskep.

      Die idee van georganiseerde informele en nie-amptelike gespreksvoering tussen ANC-leiers en Afrikaner-meningsvormers is hieruit gebore. De Villiers sou die aanvanklike skakeling met die Afrikaners aan die gang sit en Young die skakeling met ANC-leiers. Dit vind plaas in dieselfde tydgleuf as die Dakar-konferensie, maar op ’n totaal andersoortige manier. Dié projek is vanuit die sakesektor geïnisieer.

      Die rol wat sakelui in hervormingsinisiatiewe en oorgangsprosesse in Suid-Afrika gespeel het, kan nie onderskat word nie. Hulle het natuurlik ’n regstreekse belang daarby gehad. Toe Afrikaner-sakelui uiteindelik besef dat apartheid nie ekonomies sin maak nie, het hulle hul politieke deuntjie begin verander. Hulle het die Botha-regime onder groot druk geplaas, al was dit hoofsaaklik om strategiese en nie morele redes nie. Die oorgangsproses na ’n inklusiewe demokratiese bedeling is ook deur ekonomiese kragte en werklikhede geïnspireer, selfs in ANC-geledere.

      Johan Heyns, ’n bekende teoloog wat ook vir die projek genader is, het die uitnodiging van die hand gewys. Hy het later teenoor my erken: “Die kerk sou my gekruisig het.” Pieter de Lange, ’n eertydse kollega van my by RAU en ’n geesgenoot, het ook die uitnodiging van die hand gewys. So ook Tjaart van der Walt, rektor van die Universiteit van Potchefstroom. De Lange was toe die voorsitter van die Broederbond. Hulle posisies binne die geïnstitusionaliseerde Afrikanerdom, wat nie net sterk hiërargies was nie, maar ook rof met afwykendes kon werk, het bywoning onmoontlik gemaak. ’n Keuse vir van binne af werk plaas ernstige beperkings op diegene met institusionele posisies wat dan tog buite die kraal iets wil doen om oorgangsprosesse te stimuleer.

      Uiteindelik was dit net ek, Willie Breytenbach en Sampie Terreblanche. Ons drie het die eerste gespreksessie in November 1987 met vier ANC-leiers bygewoon. Ons was al drie van die Universiteit van Stellenbosch, het mekaar goed geken en was as verligtes bekend. Bowendien was ons as akademici relatief onafhanklik en in beroepsposisies waar ons nie deur politici voorgeskryf kon word nie. Dis iets wat nog nie die nodige erkenning gekry het nie, naamlik dat akademici aan tradisionele Afrikaanse universiteite ’n hoë vlak van akademiese onafhanklikheid en vryheid geniet het. In die woestyn van apartheid was Engelstalige