Willie Esterhuyse

Eindstryd


Скачать книгу

daaroor met Richard Rosenthal, na wie nog verwys sal word, en ook met Thabo Mbeki gepraat. Dit was waarskynlik ’n wins dat daar nie formele kontak tussen Idasa en die Afrikaner-ANC-gespreksgroep was nie. Dit het ruimte gelaat vir meer dimensies en verskeie gelyktydige gesprekke.

      Ander kontakte met die uitgeweke ANC het ook plaasgevind. As die ANC onder die leiding van Tambo en Mbeki die diplomatieke stryd in die internasionale wêreld loshande teen die Suid-Afrikaanse regering gewen het, is daar ook reuse-vordering gemaak ten opsigte van kontakte met sleutelpersone uit wit Suid-Afrikaanse geledere. Dit het al in 1984 begin met mense soos HW van der Merwe, ’n professor van die Universiteit van Kaapstad, Piet Muller van Beeld en Hugh Murray van Leadership. In 1985 besoek Van Zyl Slabbert en Colin Eglin, albei van die PFP, ook Lusaka. Die ys is gebreek toe ’n klompie bekende sakelui, waaronder Gavin Relly van Anglo American, in September 1985 gesprek in Lusaka gaan voer het. Tambo, Mbeki, Hani, Pallo Jordan en Aziz Pahad is van die ANC-ers wat hulle te woord staan. President Kenneth Kaunda van Zambië het dié ontmoeting met die “kapitaliste” baie sterk gesteun. Dit het in sekere kringe in die Suid-Afrikaanse politieke en sakewêreld beroering veroorsaak, maar was ’n belangrike bydrae tot die ontdemonisering van die ANC, veral toe die woord versprei is dat Tambo die byeenkoms met gebed geopen het.

      Daar vind ook in 1986 ’n paar “toevallige” ontmoetings plaas. Dié tussen Thabo Mbeki en professor Pieter de Lange, leier van die Afrikaner Broederbond, in Junie van daardie jaar, moet veral uitgesonder word. Dit het op Mbeki “groot indruk” gemaak, vertel hy my later. Die AB was toe self binne ’n fase van ernstige besinning waarin mense soos De Lange en Willem de Klerk ’n groot rol gespeel het. En dan was daar natuurlik in 1988 Louis Luyt, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, se kontak met die ANC. Die politieke keerwalle teen kontak het gekraak.5

      In die volgende hoofstukke vertel ek meer van die mense en prosesse wat ’n bydrae gelewer het om ’n klimaat van onderhandeling en ook die agenda van die onderhandelingsproses te bepaal. Hier gee ek besondere krediet aan die NI en Niel Barnard. Dit moet genoem word dat die NI nie vir president PW Botha volledig oor die gespreksproses ingelig gehou het nie, soos Mike Louw in ’n onderhoud met Geoffrey Heald (2006: 89) toegegee het. Louw, wat die mening toegedaan was dat menslike denkraamwerke “elasties” moet wees om groot veranderings te verstaan en te aanvaar, het gemeen dat PW Botha, gegee sy geskiedenis en ouderdom, nie dié kapasiteit gehad het nie.

      Die goue draad wat deur my vertelling loop, is die verband tussen nie-amptelike, private en vertroulike gesprekke (in die literatuur “tweede spoor” gesprekke genoem) en amptelike, formele gesprekke (“eerste spoor”). Heelwat meer oor die teorie hier agter word in die Epiloog bespreek.6

      2

      Tussen die ystervuis en dialoog: Die politieke konteks

      Op 15 Augustus 1985 lewer president PW Botha sy berugte Rubicon-toespraak. Min politieke toesprake in die geskiedenis van ons land het so ’n inploffing van hoop op ’n onderhandelde skikking by die meerderheid Suid-Afrikaners veroorsaak as dié toespraak. Dit het twee gevolge gehad: Enersyds die denkskuif in internasionale kringe en by baie verligte Afrikaners in Suid-Afrika dat die van-binne-af-strategie nie meer voldoende of selfs aanvaarbaar was nie; andersyds die mening onder diegene wat met die United Democratic Front (UDF), gestig in 1983, geassosieer het, dat druk op die Botha-regering verhewig moes word, en ook verhewig kón word in die lig van die internasionale reaksie op die Rubicon-debakel. Golwe van opstand en protes het toe al sedert veral September 1984 oor ons land gespoel. In Desember 1985, soos later sou blyk, vind die Vlakplaas-eenheid onder bevel van kolonel Eugene de Kock dit selfs nodig om ses MK-kaders in Lesotho dood te skiet. Kort na dié voorval is De Kock en die lede van sy eenheid met medaljes deur Louis le Grange, minister van wet en orde, vereer.

      Verligte Afrikaners het vir baie jare geglo dat ’n van-binne-af-strategie politieke vrugte in die rigting van meer ingrypende hervormingsinisiatiewe sou dra. In 1985 het die Botha-regime immers die moreel-drakoniese Wet op Gemengde Huwelike en die berugte Artikel 16 van die Ontugwet wat seksuele omgang tussen rasse verbied het, herroep. Dit het by verligte Afrikaners die hoop laat opvlam dat verdere “hervormings” sou volg. PW Botha is as ’n hervormer wat stuksgewyse te werk gaan, beskou. Tydens ’n konferensie by die Suid-Afrikaanse ambassade in Londen in die 1980’s het ’n swart leier, John Mavuso, selfs verklaar dat PW Botha die Abraham Lincoln van Suid-Afrika is. Mettertyd het teleurstelling en ontgogeling ingetree. Botha is veral deur die intellektuele van die nuwe generasie Afrikaners beskou as déél van die apartheidsprobleem en nie as deelgenoot in die aftakeling daarvan nie. ’n Denkskuif het gewag om gebore te word. Toe dit plaasvind, het dit algaande ’n uitbreidende kettingreaksie veroorsaak wat later ’n impak op PW Botha self gehad het. Belangrike rolspelers binne en naby die Botha-regering het begin besef dat ’n militêre oplossing vir die Suid-Afrikaanse burgeroorlog en die ander konflikte waarby Suid-Afrika in die streek betrokke was, nóg finansieel nóg strategies ’n opsie was. ’n Politieke oplossing moes gevind word.

      Die UDF het ook dinge vir die Botha-regering moeilik gemaak. Die verbode en uitgeweke organisasies, soos die ANC en PAC, kon maklik as “terroristies” afgemaak word. Maar hoe doen jy dit met die UDF? Met gerespekteerde kerkleiers soos biskop Desmond Tutu en dr. Allan Boesak? Die Botha-regering kon hierop uiteindelik net op een manier reageer: ’n noodtoestand, inperkings en arrestasies! Dit het ’n mate van orde in sekere gebiede herstel, maar nie vrede, reg en geregtigheid nie. In Maart 1985, voor die Rubicon-toespraak, kom dinge al tot ’n punt. Die polisie skiet op ’n skare van ongeveer 4 000 mense in Port Elizabeth in die Oos-Kaap. Twintig protesteerders sterf. Tutu word selfs in hegtenis geneem. Die Oos-Kaap was in dié tyd ’n gebied waar politieke aktivisme hoogty gevier het. ANCleiers soos Nelson Mandela, Govan Mbeki, Thabo Mbeki en Chris Hani het uit die Oos-Kaap gekom, soos ook die bekende swartbewussynsleier Steve Biko, wat deur die veiligheidspolisie doodgemartel is. En dan was daar ook Matthew Goniwe en sy drie strydmakkers wat in 1985 deur die veiligheidspolisie vermoor is. Die staat se berugte moordbende, die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) wat met belastingbetalers se geld gefinansier is, word in dié tyd as “teen-revolusionêre strategie” gebore, ’n glybaan na ’n moreel-politieke moeras.

      Ook in die buiteland het die Botha-regering die wind erger as ooit van voor gekry. Die toespraak is internasionaal deur sowat 200 miljoen kykers dopgehou. Vooraf is hemelhoë verwagtings geskep deur veral minister Pik Botha en sy Departement van Buitelandse Sake. As daar nog êrens in die wêreld ’n mate van geloofwaardigheid aan die sogenaamde Totale Aanslag deur die kommuniste teen Suid-Afrika was, het Botha dit in sy Rubicon-toespraak verdrink. Ook Margaret Thatcher, eerste minister van Brittanje, leier van die Britse Konserwatiewe Party en persoonlik op ’n redelik goeie voet met Botha, het onder toenemende druk gekom, al het sy die ANC as “terroristies” afgemaak. Die Statebond was teen haar “sagte” benadering gekant en wou sterk sanksies instel. Dit is in Augustus 1986 gedoen. Haar woordvoerder, Bernard Ingham, het volgens Thabo Mbeki in 1987 nog na die ANC as ’n tipiese terroristeorganisasie verwys. Volgens Mbeki het hy gesê enige iemand wat dink dat die ANC Suid-Afrika eendag sou regeer, woon in “cloud-cuckoo-land”. Daar is onsekerheid oor die verband waarin dié opmerking gemaak is, maar Mbeki se weergawe vertolk wel sy persepsie van Thatcher en haar regering.

      Thatcher se sterk standpunt teen omvattende sanksies was vir apartheid-Suid-Afrika ’n groot politieke troos, al het dit ons land nie teen ekonomiese en finansiële erosie beskerm nie. Sy was nie net leier van die Britse Konserwatiewe Party nie, maar as mens ook konserwatief en sterk gekant teen kontak met die ANC as ’n organisasie wat volgens haar bandeloos en gewelddadig was. By geleentheid was sy selfs hoogs ontsteld oor die vooruitsig dat die destydse Suidwes-Afrika en Suid-Afrika deur Swapo, die ANC en die kommuniste gewelddadig oorgeneem kon word. Sy het onder meer vir Patrick Fairweather, Assistant Under Secretary of State, Foreign and Commonwealth Office, ingeroep om haar ontsteltenis onder sy aandag te bring. Dit blyk toe dat haar bron ’n verslag van ’n bekende Amerikaanse konserwatiewe instelling was. Dié het haar persoonlike konserwatiewe waardestelsel vertolk.

      Thatcher se vriend Ronald Reagan, president van die VSA, het haar meegedeel dat hy haar nie meer subtiel kon steun in haar teenkanting teen verskerpte ekonomiese sanksies en haar versigtige houding teenoor Suid-Afrika nie. Dit moet onthou word dat die Botha-regering, kort voor die Rubicon-toespraak