Willie Esterhuyse

Eindstryd


Скачать книгу

borrelende fonteine wat probeer uitbreek het uit die harde kors van apartheid. Hulle was tuistes vir baie mense wat lojale verset en oop gesprek beoefen het ten spyte van die werksaamhede van die staat se veiligheidsdienste op selfs Afrikaanse kampusse.3 Dit was vir my byvoorbeeld ’n groot skok toe ek deur iemand van die NI teen ’n bekende studenteleier, Mark Behr, gewaarsku is. Hy het as politieke aktivis geparadeer en was selfs die Stellenbosse takvoorsitter van die National Union of South African Students (NUSAS). Volgens my segspersoon was Behr in werklikheid ’n informant van ’n ander, baie militante veiligheidsdiens van die staat. Hy het my soms aan huis besoek om sogenaamd advies oor sensitiewe politieke kwessies te vra. Dis ook hy wat in die tagtigerjare ’n groep studenteleiers na Lusaka vir gesprek met die ANC geneem het.

      Ek het baie moeite gedoen om te probeer verstaan hoe dié “dienste” werk en wie die sleutelspelers is. Dié poging was, wat detail betref, nie juis suksesvol nie, maar het nietemin ’n goeie gevolg gehad: Ek het my nie laat insuig in ’n atmosfeer van wantroue waarin samesweringsteorieë die toon aangee nie. Dié doelbewuste dissipline is by my versterk toe ek in 1988 Ronald W Clark se boek Benjamin Franklin: A Biography in His Own Words gelees het. Toe Franklin gewaarsku is oor spioene wat hom dophou, was sy antwoord dat hy één reël in sy lewe onderskryf, en dit was om nie betrokke te raak by politieke sake waarvoor hy hom sou hoef te skaam as dit openbaar gemaak word nie. Eerbare optrede, te alle tye en onder alle omstandighede, moeilik soos dit ook al mag wees, het hy gesê, gee hierin die deurslag. Eerbaarheid in ’n omgewing waarin vertroulikheid en geheimhouding geld, stel natuurlik hoë morele eise. Jy moet bereid wees om mislukkings in dié verband baie gou en eerlik te erken. My vrou, Annemarie, was hierin my aktiewe gewete. Haar steun en samewerking was nooit vanselfsprekend en kritiekloos nie.

      Behalwe die drie Stellenbossers het vanuit ANC-geledere Aziz Pahad, Tony Trew, Wally Serote en Harold Wolpe die eerste byeenkoms van die kontakgroep bygewoon. Dit was ’n bedekte seën dat die getal beperk was, want nuwe terrein moes verken en lekkasies vermy word. Ek sou aan die binnelandse kant as kontakpersoon optree en in konsultasie met Thabo Mbeki en Young uitnodigings aan ander Afrikaner-meningsvormers rig namate die gespreksprojek vordering getoon en dit wat bespreek moes word, nuwe toetreders vereis het. Young sou vanuit Consgold die hele projek koördineer, met die ANC-leierskorps skakel en alle logistieke reëlings tref. Consgold sou die koste dra. Young sou ook as onafhanklike voorsitter van die gespreksessies optree. Tog sou daar genoeg geleentheid wees vir die Suid-Afrikaners om sonder Young se teenwoordigheid met mekaar te konfereer.

      Young het die geskeduleerde sessies baie goed gehanteer. Sy politieke verbintenisse in Brittanje, soos byvoorbeeld met Lynda Chalker, wat die Konserwatiewe Party van Brittanje se deskundige oor Afrika was, was ook goed. Dis trouens Young wat, strydig met die riglyne van die Britse premier Margaret Thatcher, ’n vergadering tussen Lynda Chalker en Oliver Tambo in Junie 1987 gereël het. Die waarde van ’n voorsitter wat onpartydig is maar die politieke sensitiwiteite en kwessies goed verstaan, kan in dié soort verkenningsgesprekke nie onderskat word nie.

      Die Dakar-konferensie, wat tot heelwat negatiewe reaksie in die Afrikaanse media aanleiding gegee het, het ’n belangrike les tuisgebring waarvan ons deeglik in die beplanning van ons gespreksprojek kennis geneem het. Dié konferensie was onteenseglik ’n belangrike openbare demonstrasie van die noodsaaklikheid van ’n onderhandelde skikking. Die negatiewe reaksie daarop uit die geledere van Afrikaners en die maghebbende elite het egter beklemtoon dat verkennende gesprekke oor ’n onderhandelde skikking vir die Suid-Afrikaanse konflik te delikaat was om in die openbaar en op konferensievlak gevoer te kon word. Openbare konferensies bevorder publieke bewuswording en debat, selfs steun en mobilisasie dat iets gedoen moet word. Dis egter nie voldoende nie en iets anders is ook nodig: uitklaring en verstaan van die posisies van sleutelspelers; die skep van vertroue en ’n goeie dosis selfversekerdheid tussen strydende partye en mense wat mekaar as vyande beskou; ’n ongeformaliseerde kompakt tussen leiers van tradisionele vyande om ’n roete na vrede te karteer.

      Hiervoor is dialoog en kleingroepbyeenkomste meer geskik. Dit help om voetpaaie uit doodloopstrate uit te trap. Ek het trouens al vroeg in 1987 besef dat ’n duidelike onderskeid gemaak sou moes word tussen volhoubare skikkingsprosesse en opspraakwekkende openbare gebeurtenisse. Die een kan natuurlik die ander bevorder, maar dis nie noodwendig altyd die geval nie. Prosespolitiek, soos Wynand Malan, eers van die NP en later ’n voorbok van die Onafhanklikes, dit graag genoem het, is nooit bloot gebeurtenisgeoriënteerd nie. Dit fokus strategies en takties eerder op die skep van dryfkragte en energieë wat ontwikkelinge in ’n bepaalde rigting druk. So iets kan natuurlik onbedoelde gevolge hê.

      * * *

      Daar is iets anders wat oor 1987 gesê moet word. Op 26 Januarie 1987 kry ek ’n brief van die Afrikaner Broederbond na aanleiding van ’n vorige brief dat daar ’n “dinkskrum in verband met staatkundige ontwikkeling” op 7 Februarie sal plaasvind. Die program, met die name van die sprekers en die meeste van die referate ingesluit, laat my besef: hier kom ’n ding! Temas sluit onder meer in: die proses van staatkundige ontwikkeling; konfederasie, federasie en ander staatkundige stelsels/modelle; Suid-Afrika as een land met verskillende vaderlande; die positiewe en negatiewe kenmerke van die 1983-grondwet; die staatkundige implikasies van ander groepskenmerke as etnisiteit; groepvorming en dwang; vryheid van assosiasie in die konteks van die dinamiek van residensiële vestigingspatrone; meriete en goeie regering; die wenslikheid al dan nie van ’n handves van menseregte; politieke alliansies; binne- en buite-parlementêre politiek; die ANC, PAC en ander radikale groepe; die rol van ’n regering ten opsigte van ’n onderhandelde skikking. Ek moes praat oor: “Die identifisering van leiers”. En ek sê vir myself: Die “ding” het reeds gekom. Hóé geskik gaan word, wát geskik gaan word en wié gaan skik, is die eintlike “ding”. Die groot vraag is wel hoe en deur wie die voorbereiding vir die skikkingsproses moet geskied. En wanneer.

      Dit was my laaste optrede as spreker by ’n groot Afrikaner Broederbondvergadering. Daar het algaande erge konflik tussen my en die Broers van die Stellenbosse afdeling, waaraan ek behoort het, ontstaan. Dit het ’n lang aanloop gehad, beginnende in 1979 ná die publikasie van my boek Afskeid van Apartheid. Baie Broers was beswaard en ’n afvaardiging het my aan huis kom besoek. Carel Boshoff, toe ’n swaargewig in die Broederbond, het darem my reg op vrye meningsuiting verdedig. Die spanning gaan oor in openlike konflik in Maart 1987, met die NP-volksraadslid van Stellenbosch, Piet Marais, die leidende figuur. Ons goeie verhouding verbrokkel een aand tydens ’n afdelingsvergadering waarop ek my ten gunste van ’n een-mens-een-stem-verkiesing in ’n eenheidstaat uitspreek.4

      Dit was woelige dae in die wit politiek. Talle verligtes was behoorlik moeg vir die politieke gesukkel van die NP van president PW Botha. Baie van hulle het aanvaar dat ’n gebeitel en getimmer van binne af nie meer genoeg was nie. Hulle wou egter nie by die “Progge” (Progressiewe Federale Party), wie se leier, dr. Frederik van Zyl Slabbert, die vorige jaar, 1986, bedank en uit die parlement getree het, aansluit nie. Die politieke onbehae van die verligtes was die begin van die Onafhanklike Beweging wat in Mei 1987 aan die algemene verkiesing deelgeneem het. Advokaat “Lang” David de Villiers, wat naam gemaak het in die Wêreldhof in Den Haag namens Suid-Afrika oor die status van Suidwes-Afrika (Namibië), en wat uiteindelik besturende direkteur van die invloedryke Nasionale Pers geword het, het selfs uit die direksie van Naspers bedank om met die Onafhanklike Beweging te help.

      By die AB se nasionale kongres by die Hartebeespoortdam het Piet Cillié, doyen van Afrikaanse joernalistiek, redakteur van Die Burger en later voorsitter van Naspers en professor in joernalistiek aan die US, met sy vinger teen my bors gedruk en aan my gesê: “Ek sal ’n kersie laat brand sodat julle sal weet waarheen om terug te keer uit julle politieke duisternis.” Cillié was ’n verligte en was ook later in sy kantoor in Crozierstraat, Stellenbosch, die leidende lig in die Protea-gespreksgroep van ’n klompie Stellenbosse akademici wat oor die politieke pad vorentoe gepraat het. Hy was egter ’n toegewyde van-binne-af-mens en baie lojaal teenoor Afrikanerinstellings. Esther Lategan, Wynand Malan en Denis Worrall was die Onafhanklikes se kandidate in onderskeidelik Stellenbosch, Randburg en Helderberg. Malan het gewen. Worrall het naelskraap in Helderberg teen Chris Heunis, ’n belangrike minister, verloor. Heunis het polities nooit daarvan herstel nie. Lategan het teen Piet Marais verloor, maar in die proses die Afrikanernasionalistiese gesetenheid behoorlik geskud. Afrikanermag en Afrikanerhegemonie