ná Sharpeville. Dis vir ’n rukkie opgehef, maar weer in Junie 1986 afgekondig, waarna dit jare lank van krag gebly en kort-kort afgekondig is. Die politieke doodloopstraat waarin Suid-Afrika reeds was, het steeds meer versmorend geword.
Dié doodloopstraat kan met die tegniese term “stasis” of “ekwilibrium” beskryf word – bewerkstellig deur twee destruktiewe dryfkragte (revolusionêr en téénrevolusionêr) waarvan die eindresultaat onafwendbaar was: ’n sosio-politieke inploffing en ’n mislukte staat. Soms word van ’n “hurting stalemate” gepraat. Ek het nooit die storie van ’n staat wat in beheer was en wat met méér en sterker magsmiddele nog lank beheer sou kon uitoefen, aanvaar nie. Die Suid-Afrikaanse staat was teen 1986 vinnig op pad na ’n mislukte staat waarvan die elite op ’n totalitêre wyse beskerm sou moes word. Die ANC se meer gematigde leierskorps was nie hieroor opgewonde nie. ’n Mislukte staat, deur magsmiddele in stand gehou, vernietig oor die middel tot langer termyn ongeveer álle ontwikkelingsmoontlikhede. Per woord het PW Botha se Rubicon-toespraak Suid-Afrika miljoene rande gekos. Die gematigde ANC-leierskorps, waaronder Tambo en Mandela, wou nie ’n verwoeste vaderland erf nie. Die nuwe generasie Afrikaners wat in Angola moes veg, ook nie.
Hóé uitsigloos die doodloopstraat geword het, was veral in die VSA duidelik. Op 21 Januarie 1986 is die Comprehensive Anti-Apartheid Act van 1986 in ’n gesamentlike sitting van die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat (die Kongres se 99ste vergadering) aanvaar. Dit was in alle opsigte “omvattend”. Die argument dat sanksies veral die onderdruktes en benadeeldes erger as die bevoordeelde wit mense sou tref, is daarmee vir goed van die tafel afgevee. Sanksies is aanvaar as die énigste oorblywende niegewelddadige middel om apartheid tot ’n val te bring. Die wetgewing het ook die VSA se beleid ten opsigte van ’n “negotiated settlement” uitgespel. Daarin is onder meer die volgende voorwaardes gestel: Beëindiging van die noodtoestand; vrylating van politieke gevangenes soos Nelson Mandela; ontbanning van die ANC en ander politieke bewegings; herroeping van apartheidswetgewing soos die Groepsgebiedewet en die Bevolkingsregistrasiewet; en die toekenning van universele burgerskap aan alle Suid-Afrikaners, ook dié van die “tuislande”, oftewel sogenaamde onafhanklike en selfregerende swart state soos die Transkei en KwaZulu.
’n Internasionale konsensus, soos in die betrokke wetgewing vertolk, het begin wortel skiet. Dit is dié konsensus waaraan die De Klerk-regering in Februarie 1990 gehoor moes gee. Dis interessant om daarop te let dat die VSA in die wetgewing van 1986 hom daartoe verbind het om ’n ooreenkoms te help bewerkstellig “to suspend violence and begin negotiations through co-ordinated actions with the major Western allies and with the governments of the countries in the region”. Op ’n ander plek in die wetgewing word selfs gesê dat “unbanning” moet geld vir alle groepe “willing to suspend terrorism and to participate in negotiations and a democratic process”. Die kwessie van geweld, of dit opgeskort (“suspend”) of afgesweer (“renounce”) moes word alvorens ’n onderhandelingsproses kon begin, was vir baie lank ’n turksvy. So ook die vraag of ander regerings by die skikkingsproses betrokke moes wees.
Die VSA was in die Westerse wêreld ’n baie belangrike speler in die sanksieveldtog en meer as honderd maatskappye onttrek uit Suid-Afrika. Toe kom die skerpste en langste spyker: Finansiële sanksies, met die Amerikaanse Chase Manhattan-bank wat in Augustus 1985, ná die Rubicon-toespraak, die eerste hamerhou slaan. Sanksies het begin werk. ’n Lewenslange persoonlike vriend, Howard Wolpe, ’n vooraanstaande lid van die Amerikaanse Kongres en aktivis binne die Demokratiese Party, was die voorvegter in dié verband. Ons skerp verskille het nie ons vriendskap in die gedrang gebring nie, maar my wel gehelp om Suid-Afrika se krisis beter te verstaan. Self het ek nooit gedink dat die ANC en Thabo Mbeki se invloed op die anti-apartheidsbeweging volledig krediet vir die sanksiesukses moes kry nie. Die onbeholpe manier waarop die Suid-Afrikaanse regering sedert die tagtigerjare die politieke krisis in die land hanteer het, en veral die katastrofale Rubicon-toespraak, was ook ’n vername rede. Dit het apartheid van al sy moreel-politieke bekleedsels gestroop en die keiser poedelnaak in die Westerse openbare arena laat staan.
Op Dinsdag, 29 Oktober 1985 kry die ANC die geleentheid om voor die Foreign Affairs Committee van die Britse parlement vrae te beantwoord en getuienis te lewer. Oliver Tambo, Thabo Mbeki en Aziz Pahad verteenwoordig die ANC. Die fokus van die gesprek is veral op geweld en die aanwending daarvan teen “sagte teikens”, asook die kwessie van sanksies. Robert Harvey wat die boek The Fall of Apartheid: The Inside Story from Smuts to Mbeki geskryf het, is as parlementslid ook teenwoordig. Die gesprek word, soos Mbeki dit teenoor my gestel het, “a grilling”. Maar ook ’n “breakthrough” vir die ANC se diplomatieke inisiatief. Tambo slaag die toets as ’n gematigde voorstander van onderhandelinge. Die Suid-Afrikaanse regering se mite van ’n bloeddorstige vyand word in die buiteland as ongeloofwaardig uitgewys.
Die Westerse wêreld het in die middel-tagtigerjare sy hoop dat Afrikanerleiers tog ’n onderhandelingsproses op dreef sou bring, verloor. Selfs Margaret Thatcher was nie meer bereid om ’n goeie woord vir Suid-Afrika te doen nie. Botha was oor haar houding baie goed ingelig. Verskeie sakeleiers met invloed, soos dr. Anton Rupert van die Rembrandtgroep, veral vanweë sy Switserse kontakte, is mettertyd ingeroep om te help red wat daar te redde was. Rupert skryf uiteindelik vir Botha ’n lang brief (24 Januarie 1986) waarin hy sonder doekies omdraai sê dat die eintlike probleem van Suid-Afrika apartheid is. Dit het nie gehelp nie.1 Thabo Mbeki, wat nie juis ’n goeie woord vir Margaret Thatcher gehad het nie, het my in 1988 iets baie interessants meegedeel. Margaret Thatcher het haar vir PW Botha vererg. En die rede? Hy het Geoffrey Howe, haar minister van buitelandse sake, beledig. En al het Thatcher nie juis baie van Howe gehou nie, was hy darem die “Britse” minister van buitelandse sake en lid van haar span. Thatcher, wat Botha vantevore, in Junie 1984, by Chequers ontvang het, het tydens die ontmoeting dit redelik onomwonde gestel dat hy Mandela moes vrylaat. Sy was gekant teen volskaalse sanksies en het ook, tot Botha se groot vreugde, gesê dat ’n beëindiging van geweld ’n voorwaarde vir onderhandelinge met die ANC was. Dié kwessie sou baie lank ’n struikelblok wees.
Howe besoek Suid-Afrika in Julie 1986. Nóg lede van die ANC, waaronder Nelson Mandela, nóg biskop Tutu wil hom te woord staan. Botha ontmoet Howe op 23 Julie en ook op 29 Julie. Botha was in een van sy slegte buie. Hy reken Tutu se menings is niks werd nie en dat buitelanders moet ophou om in Suid-Afrika se sake in te meng. Belangrike en doeltreffende politieke druk het ongetwyfeld hierna veral vanuit Brittanje gekom, ’n vername handelsvennoot en ook ’n land met ’n kulturele en demografiese erfenis in Suid-Afrika. Iemand in die binnekring van die Thatcher-regering, Patrick Fairweather – op ’n keer ambassadeur in Luanda, Angola, en daarna ’n senior Britse amptenaar in Londen – het dit teen die einde van 1988 kragtig aan my in Londen gestel: “Die krake in die Botha-regering kan nie meer toegesmeer word nie. Hulle sal al groter word.” Dit was inderdaad die geval. Die krake hét al groter geword en kon nie meer met skuifelende stuksgewyse hervorming bestuur word nie. Daar was net te veel skerp beitels wat hulle punte in die barste en krake ingekry het. Of slegs één prominente beitel as van die mees deurslaggewende belang uitgewys kan word, is twyfelagtig. Dit was eerder ’n geval van meerdere beitels, oftewel dryfkragte en prosesse wat gesamentlik ’n energie ontwikkel en veranderingsinisiatiewe moontlik gemaak het. Dié dryfkragte het ’n politieke kantelpunt (“tipping point”) onafwendbaar gemaak.
’n Mens kan van primêre en sekondêre dryfkragte praat. Om daarom die krediet vir die historiese omwentelingsproses of politieke kanteling wat plaasgevind het, op ’n oordadige wyse aan ’n paar mense te gee wat nou as “heldefigure” geloof word, is om die werking van historiese politieke en maatskaplike omwentelingsprosesse té oppervlakkig te verstaan. Ek noem dit retrospektiewe mitologisering. Onderdrukkende stelsels soos apartheid is van ’n sistemiese aard. Stelselomwentelings vereis daarom prosesgedrewe sistemiese transformasie en nie bloot openbare leierskapsinisiatiewe of selfs leierskapsverandering nie. Ook nie bloot openbare konferensies, seminare en werksessies nie. Die jaar 1986 was van sleutelbelang vir die politieke prosesse wat oor die daaropvolgende vier tot vyf jaar vorm sou aanneem, al het Suid-Afrika toe al ses atoombomme gehad. Die berugte instromingsbeheermaatreëls wat swart mense se trek na stedelike gebiede en eiendomsbesit probeer blokkeer het, word vullishoop toe gekarwei. En deur PW Botha! Dis voorafgegaan deur intense “lobbying”, veral deur Jan Steyn en sy Stedelike Stigting.2 Die betrokke wet was ’n hoeksteen van