was. Sy politieke en morele sensitiwiteite was voortdurend in konflik met mekaar en, soos sy voorganger, BJ Vorster, kon hy dit nie hanteer nie. Sy opvolger, FW de Klerk, het dit beter hanteer. Dis vermoedelik die rede waarom Botha hom ná sy uittrede aan ’n fundamentalistiese verstaan van die Bybel oorgegee het.
Ek het vanaf die begin van 1988 baie oor die konflik in Angola-Namibië vanuit die gesigspunt van die ANC gehoor. Dit het my baie gou tot die besef gebring dat die skikking van dié konflik ’n voorwoord vir die beslegting van die burgeroorlog in Suid-Afrika sou wees. En, terwyl eersgenoemde konflik géén militêre oplossing gehad het nie, het die tweede dit selfs nog mínder gehad. Ek en Thabo Mbeki was dit hieroor van meet af aan eens. Min datums in ons geskiedenis was myns insiens so belangrik soos 22 Desember 1988, enkele dae voor Kersfees. Toe word die trilaterale ooreenkoms tussen Suid-Afrika, Kuba en Angola onderteken. ’n Uitmergelende en duur oorlog was verby. Generaal Jannie Geldenhuys, Niel Barnard en Neil van Heerden (buitelandse sake) was deurslaggewende vredesmakelaars. In 1989 lei die Namibiese onderhandelingsproses tot ’n inklusiewe verkiesing en in Maart 1990 is Swapo in Windhoek aan bewind.
Ná Botha se Rubicon-toespraak het die Botha-regering ál dieper in die moeilikheid gesink. Sleutelmeningsvormers het hulle ondersteuning van die idee van hervorming van binne af prysgegee. Ander het hulle entoesiasme vir dié strategie verloor en liewer stilgebly. Soos iemand uit NP-geledere dit in 1988 gestel het: “Intellektuele bankrotskap het by die NP ingetree. Al wat oorgebly het, was die gebruik van magsmiddele.” Later sou blyk dat morele bankrotskap ook ingetree het. Elemente van die staat is in moordmasjiene omskep. Die Botha-regime en sy veiligheidsmagte het hulle hande vol gehad met erge binnelandse burgerlike verset onder die meerderheid van die bevolking in ons land. ’n Interne erosieproses het ná PW Botha se Rubicon-toespraak ingetree. Dit het versnel namate buitelandse druk en binnelandse buiteparlementêre verset verhewig het. Die veiligheidsmagte was nie werklik in beheer nie, ondanks bombastiese versekerings. Die afgekondigde noodtoestande was hiervan die bewys. Soos Franklin Sonn dit in 1988 aan my gestel het: “’n Regering wat deur middel van noodtoestande regeer, is ’n regering in ernstige nood. Dis ’n kwessie van tyd. Apartheid staan reeds op die rand van sy graf.” Self het ek dié erosie sedert 1985 van baie naby ervaar vanweë my betrokkenheid by die Stedelike Stigting.
3
Hospitaalbesoeke en geheime ontmoetings: Mandela, Coetsee en Barnard
Dis een van die groot historiese ironieë van Suid-Afrika se oorgangsproses na ’n inklusiewe demokrasie: Die vurige en charismatiese Winnie Mandela, toe nog die vrou van die politieke gevangene Nelson Mandela, gooi ’n tou uit na die NP-minister Kobie Coetsee, ’n gebeurtenis wat uiteindelik sou lei tot Mandela se ontmoeting met Botha in Tuynhuys, Kaapstad, op 5 Julie 1989. Dis onwaarskynlik dat sy self gehoop het so iets sou gebeur. Dit was eerder ’n geval van die altyd selfversekerde Winnie Mandela wat haar deur niks en niemand laat intimideer het nie. Kobie Coetsee móés haar aanhoor. Sy was immers Nelson Mandela se vrou, na die Vrystaat verban en boonop bevriend met (wit) kennisse van Coetsee. ’n Paar dae ná haar man se tweede hospitalisasie weens tuberkulose (op 12 Augustus 1988) loop ek haar op die destydse DF Malan-lughawe, tans die Internasionale Lughawe van Kaapstad, raak. Haar prokureur, Ismail Ayob, was ook in haar groep. Ek was by dié geleentheid op pad na Brittanje vir samesprekings met Thabo Mbeki en sy groep. Sonder om twee keer te dink, stap ek nader. Ons groet. ’n Horde fotograwe en joernaliste storm terselfdertyd op haar af om foto’s te neem en vrae te vra. Ek vlug haastig. Dit was nie ’n foto waarop ek wou verskyn het nie.
Nelson Mandela, toe 67 jaar oud, is in November 1985 in die Volkshospitaal in Kaapstad opgeneem vir ’n prostaatoperasie. Die Volks, soos dit genoem is, is deur die NG Kerk begin en in 1930 geopen. Dr. DF Malan, ’n eertydse dominee, later eerste minister van Suid-Afrika en een van apartheid se vaders, het die openingsrede gehou en onder meer gesê: “Dis geen plaaslike inrigting nie. Dit behoort aan die hele volk. Dis nie alleen maar ’n hospitaal nie. Dit is ’n volkshospitaal.” In 1981 moes die Kaapse Provinsiale Administrasie die hospitaal oorneem en in 1998 het Medi-Clinic die nuwe eienaar geword. ’n Interessante anekdote wat baie van die mens Mandela vertel, is wat tydens ’n besoek van George Bizos, Mandela se senior regsverteenwoordiger, aan hom in die hospitaal gebeur het. Die verpleegsters was Afrikaans en hulle moes gereeld die verbande omruil. In ’n stadium knip Mandela die gesprek met Bizos kort: Die verpleegsters moet hulle werk kan doen sodat hulle huis toe na hulle families kan gaan.
Winnie Mandela, op pad om haar man in die hospitaal te gaan besoek, was op dieselfde vliegtuig as Kobie Coetsee, wat by Jimmy Kruger as minister van justisie, polisie en gevangenisse oorgeneem het (in Oktober 1980). Dit was Jimmy Kruger wat oor die marteldood van Steve Biko, dinamiese leier van die Swartbewussynsbeweging, in 1977 gesê het dat Biko se dood hom “koud laat”. Dié uitspraak was soos ’n kanonskoot in die harte van baie Afrikaners wat die NP gesteun het, maar ’n groeiende gewetensonrus begin ervaar het oor die magswellus van hulle leiers. Kruger verban Winnie Mandela in 1977 na ’n klein dorpie, Brandfort, in die Vrystaat, ongeveer 60 kilometer vanaf Bloemfontein. Hy wou haar wegkry uit Soweto, wat in 1976 ontplof het, maar haar ook nie te ver van die wakende oë van die veiligheidspolisie hê nie. Sy kon op Brandfort beter as in Soweto dopgehou word. Die polisiestasie in Brandfort het toe ook ’n simboliese adres vir Afrikaners gehad: Voortrekkerstraat. Simbolies, maar met ’n goeie dosis galgehumor, was die naam van die swart woonbuurt waar haar nuwe tuiste – sonder lopende water – geleë was: Phathakahle. Dié woord beteken iets soos “hanteer versigtig”, en dit het met Winnie Mandela daar nuwe politieke betekenis gekry. Dis vanaf dié dorpie dat sy, met natuurlik die toestemming van die owerheid, die tog na die Volkshospitaal aanpak.
Coetsee, wat op 19 April 1931 op Ladybrand, ’n klein dorpie in die destydse Oranje-Vrystaat, gebore is, het regte aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein gestudeer. In 1968 word hy die NP-parlementslid vir Bloemfontein-Wes, die setel wat vakant geword het toe Jim Fouché as staatspresident aangewys is. PW Botha het Coetsee in 1978 as adjunkminister van verdediging en nasionale intelligensie aangestel. Hy word uiteindelik minister van justisie. Gevangenisse is later bygevoeg. In 1985 word hy tot die leier van die NP in die ovs verkies. Dis betekenisvol om daarop te let dat Coetsee ná die eerste demokratiese verkiesing in 1994 verkies is tot president van wat toe nog die Senaat genoem is, met die steun van die ANC. Hy sterf aan ’n hartaanval in 2000. Mandela het baie hoë waardering vir hom gehad.
In die vliegtuig op pad Kaapstad toe, stap Winnie Mandela na Coetsee en gaan langs hom sit. En sy praat soos net sy kan praat. Jimmy Kruger het nie daarin kon slaag om haar te demoraliseer nie. ’n Belangrike faktor het die gesprek vergemaklik, ’n faktor wat ook op die lang bemiddelings- en onderhandelingspad na die verkiesing in 1994 ’n groot rol gespeel het: die werking van persoonlike verhoudinge en die ervarings van gemeenskaplike Suid-Afrikanerskap. Aziz Pahad het dit baie raak gestel toe hy in Oktober 1987, tydens ons eerste ontmoeting, gepraat het van ons “common destiny and common country”. Coetsee was ook nie ’n Jimmy Kruger nie, maar ’n sensitiewe mens, ondanks sy sterk wil en ego wat soms te opsigtelik was. Kruger se verbanning van Winnie Mandela na Brandfort het “gelukkige onbedoelde gevolge” (felix culpa) gehad. Die enigste prokureur op die dorp, Pieter de Waal, en sy vrou Adéle, (’n nooi Retief), leer Winnie Mandela goed ken en ’n besondere vriendskapsverhouding ontwikkel. De Waal het ook vir Coetsee geken. Adéle de Waal kon ongelukkig nie in die vreugde deel van die eerste werklik demokratiese verkiesing (1994) ná haar en haar man se bydrae om verhoudings heel te maak nie. Sy sterf in 1990 in ’n motorongeluk.
Dis ’n stukkie geskiedenis wat illustreer wat die positiewe en grensoorskrydende rol van persoonlike verhoudings, vertroue en selfversekerdheid, wedersydse respek en nie-amptelike of private interaksie binne ’n groter politieke prentjie kan wees. Op Brandfort is dit bewys deur die verhouding tussen Kobie Coetsee en Pieter de Waal, die prokureur op die dorp, en die verhouding tussen Adéle de Waal en Winnie Mandela. Pieter de Waal en Kobie Coetsee het mekaar sedert hulle universiteitsdae in Bloemfontein persoonlik geken. Hulle het saam tennis gespeel. De Waal het dus toegang tot Coetsee gehad. As daar een ding is wat ek in hierdie periode van ons geskiedenis geleer het, soms op ’n harde wyse, is dit dat jy sonder toegang uit is. Toegang is in alle samelewings informeel én formeel. Die sakewêreld is hiervan ’n skoolvoorbeeld, soos die woord kontakte dit veronderstel.