’n ry sonbesiedoppe. Twee lyk gekou. Langs die tikmasjien lê ’n koperraampie met ’n foto van Karel en die kleinkinders voor ’n vreemde huis. ’n Rooiwynvlek laat die gesigte vertrek. Die sleutels van die tikmasjien brand sy vingers. Hy sit terug in die stoel, kyk na die dowwe lynpatrone op sy vingerpunte, en wag. Daar is ’n dooie kriek voor hom op die grond. Orthoptera Gryllidae. Hy tel dit op en hou dit teen die son. Striduleerder! ’n Teug uit die bottel. Hy skeur die bene een vir een af. Dan begin hy met die vlerke.
*
Sy pa staan verlede jaar op die werf hy skop die grond stof spat hy sê Hierdie grond sal my nie vat nie los my vir die jakkalse laat my net lê. Hierdie aarde sal my bene uitspoeg as sy klaar gekou het.
*
’n Klop aan die deur. Hy skrik, stamp die leë whiskybottel van die lessenaar af. Daar is iets in sy mond. Hy spoeg ’n halfgekoude kriektorso uit, staan vinnig op. Dit is die seun. Die hand op die deurhandvatsel trek soos altyd sy oog. Hy kon nooit werklik gewoond raak daaraan nie. Die hande van Siegfried. Die voete en die hande, selfs die gedeelte tussen duim en wysvinger, is volledig geweb. Visman. Frats.
“Ek’s nie honger nie. Weg weg,” sê hy kortaf, te sat vir paddasang. Gesanik. Die sonbesies is stil. Hy spoeg op die grond. Die seun kom hom altyd roep vir aandete. Hoe laat is dit?
“Oom Smet. My pa is dood oom.” Siegfried stap verby hom die kamertjie binne en gaan lê, met sy gesig na die muur, op die staalbed. ’n Groteske fetus, knieë opgetrek, met ’n duim in sy mond, en enorme voete wat by die bed afhang. Hy staar ’n paar oomblikke na die liggaam voor hom: die man is soos ’n platipus, ’n masjien met eklektiese parte, onmoontlik om te klassifiseer.
Linnaeus sien sy gat. Of iets drekliks.
Ou kaklike Smet. Die vraag na benoeming. Name is ekskresie. Snotstrepe op ID-boekies. Hy word al jare aangespreek as “oom Smet” deur die idioot. Landman sou seker sy seun verbied het om die innoverende bynaam voor die slagoffer self te noem. Die kindman is nie te blameer nie; hy is te gatvol om die kind ooit reg te help. ’n Deel van hom hou van die naam. My pa is dood oom. Laat hy op onseker whiskyvoete uitgaan. Laat hy weer die deur met ’n oorkompensasie van momentum toeslaan en laat hy weer eens ’n sigaret opsteek. Die drommel moet maar slaap; hy kan later besluit wat om te doen, sodra hy meer nugter is.
*
Hy is op ’n bed. Watse bed dis nie sy bed nie. Sy bene is seer sy een hand slaap. Hy skud dit wakker. Komaan hand. Dis oom Smet se huis. Hy roep oom Smet. Die oom is nie daar nie. Hy moet huis toe. Hy moet nou studeerkamer toe. Hy is alleen. Hy sien die swart skip wat hom jaag sy bene stap swaar hy kan nie vinniger nie hy is amper daar die skip kom. Sy voet haak aan die trap. Nou is die huis nog donkerder. Die gang is lank en ver. Hy stap stadig na die studeerkamer daar om die draai. Die deur is toe hy sukkel met die handvatsel dis rond en glad Saartjie het dit te veel gebrassou. Hy sit die ganglig aan nou sien hy die handvatsel reg. Sy hand gly ’n paar kere. Hy maak al sy vingers oop. Dan het hy dit vas. Sy seile is pienk om die handvatsel. Die deur maak stadig oop dit skree. Sy pa het vergeet om olie te gee. Daar is die lessenaar daar is die linkerkantse boonste laai dis toe die lessenaar staan ver daar anderkant. Hy stap op sy heel stadigste hy val amper om hy stap nie regtig nie hy loop nie eintlik nie hy wieg vorentoe. Die mat is dik onder sy stewels sy voete voel dood. Die kamer ruik na stof. Hy gaan sit in die groot stoel voor die lessenaar. Hy ruik leer en olie. Hy maak die hortjies oop. Die lig kom in.
*
’n Duif donner teen die ruit Gotta skrik hy die duif fladder op die grond buite die een vlerk hang pap die duif hop die duif gaan nêrens nie. As die duif net gekoerkoer het bietjie hoër net een Siegfried hoër was sy oor die dak en by die plaas verby al amper by die hoofpad. Net so een mens te laag net nie reg saam met die wind nie en die vlerk is moertoe die duif moet vrek. So loop hy sê sy pa so loop hy.
*
Hy kyk na die Pierneefprent teen die muur. Dis nie ’n regte ene nie maar dis die mooiste een sê sy pa. Hy kyk na die groot boekrak al die stories al die boeke. Hy kyk na al die plate op die rak al die hartseer harde musieke van sy pa. Hy kyk rond in die kamer hy kyk na die dak en die lig wat daar hang hy luister na die duif se gevlerkklapklap op die sement buite dan moet hy kyk na die laai. Hy vat aan die laai se handvatsel. Dis oop. Hy kan dit maklik oopmaak. As hy wil. Sommer nou as hy wil. Sy pa sê As Iets Gebeur dan kyk jy in die laai in my lessenaar die boonste een aan die linkerkant. Sy pa sê hy moet alles vat daarin hy moet dadelik na sy oom toe gaan. Reguit na jou oom Bert toe hoor jy my. Hy sit sy hande op sy gesig hy vee op en af al die sweet weg en die trane hy vee deur sy hare hy hou sy hande albei saam vas hy druk hulle teen mekaar hulle word blou hy wil nie sy hand gebruik vir daardie laai nie. Hy sit. Hy wag. Hy sien oom Smet stap oor die werf hy gaan by die kombuis in. Die oom is in sy pa se kamer hy wil kyk na die kop van die lyf sy pa kyk in die gang af weg. Hy knyp sy oë toe hy trek al sy lug in hy trek die laai oop. Dit val op die vloer. Daar is die grys kissie met ’n slot die slot is nie gesluit nie. Hy sit die kissie op sy skoot. Hy maak oop. Daar is geld in hy tel drie blou buffelnote. Daar is ’n knipmes. Daardie rooie van sy pa wat soos MacGyver s’n lyk. Daar is ’n rol dun tou. Genoeg tou kan alles regmaak sê sy pa. Daar is die boekie. Hy maak dit oop. Daar staan klomp goed in so los geskryf dat hy dit ook kan lees. Daar is te veel goed in die hele ding is volgeskryf met klein lettertjies. Hy gaan dit nie nou al lees nie. Hy gaan nog wag. Sy pa het dan nou-nou nog regtig gepraat. Sy pa het gesê Hierdie donnerse mooiweer. Hierdie keer is daar nie ’n Bar-One in nie. Sy pa het nie geweet hy gaan omval nie. Al die goeters in die kissie sit hy in die sak by die plant in hy maak die sak reg toe. Hy sit die sak op sy rug sy hande is deurmekaar met die bande. Sy arms is vas agter sy rug die bande van die sak hou hulle vas. Hy wikkel hy skud die sak reg. Hy ken die gespe hy druk dit in nou sit dit reg op sy rug. Ready steady go sê sy pa. Volgende is die badkamer sy pa sê Mens loop eers jou draaie voor jy weggaan. Die plant kry ook water dis ver Stad toe waar oom Bert is. Hy haal die sak weer af hy gooi die plant se bakkie vol water en sit hom weer in die sak terug by die ander goeters sy rug raak nat die sak is nat. Hy haal die rugsak af hy pak al die goeters weer uit alles is reg net die boek is nat die bladsye is vas aan mekaar. Hy sit alles weer in dit sal weer droog word. Mens kan altyd wed op droogte sê sy pa. Hy dink aan die Stad. Hy het al paar keer die Stad gesien op televisie die klomp liggies sy pa sê Dis die stad in die nag maar dit lyk nie regtig so as jy daarin is nie. Sy pa sê Liggies is net mooi van ver af.
*
Hy staan dronk oor die boer se lyk. Hy voel naar. Hy spoeg gal. Die paddafiguur se voetstappe stop agter hom. Die boer se oë is sonder opdrag.
“Ek moet nou gaan oom.” ’n Gewebde hand klou aan sy hemp. Dit trek meer as sy aandag. Dit trek hom iets binne. En hy is te dronk om te weet waarin.
Bagger, dreghaak, vat weg, sleep weg, na nimmerplek.
Wilhelm Smit kyk op. “Waarheen?” vra hy. Hy voel hoe sy stem ver agter sy gedagtes aantrek.
“My oom. Hy’s familie. Hy’s die enigste. Oom Dirk is by die Here hy is my pa se broer. My pa sê oom Bert is die enigste familiemens van ons wat nog bo die kluite kruip.” Die manskind kyk grond toe. “Wat maar na my sal moet kyk. Hy sê altyd as. Iets. Met. Hom. Gebeur. Moet ek net my oom kry en hy sal help.”
“Kom. Hier moet jy uit.” Hy werk die mannetjie by die deur uit, val amper self, en kyk weer terug in die boer se dor oë. Hy sluit die oë en trek die deur toe. Buite is dit besig om skemer te word.
Die dag het room geword, o, wit heuning om ’n hoeremond.
“Waar bly hierdie oom van jou?”
“In die Seestad. Sy naam is oom Bert. Oom Bert Fischer. Dis my ma se van voor sy Pa se van moes vat.”
“Reg.” Hy sien blare by die sak uit oor die skouer peul. “En die plant?”
“Ek wil nie hê hy moet ook dood nie oom. Ek sal sorg.”
“Wie gaan saam met jou? Jy kan seker nie alleen nie.” Buite die plaasgrense staan hierdie gevinde skepsel geen kans nie. ’n Sweetstreep op ’n teerpad. Alleen sal hy nie ver kom nie.
“Ek moet na oom Bert toe.”
“Uiteraard.