en hom daar gelos met idees van reine ontvangenis en laggende geboorte.
*
Hy verkies om ’n statiese punt in die chaos te handhaaf en bly sit met die plant tussen sy bene op die trappie. Die bekende effek van whisky: alle konteks verdwyn; hy begin die wêreld as helder, as totaal sinloos, ervaar. Siegfried kom sit langs hom. Hy staar voor hom uit en begin dan stadig wieg, vorentoe en agtertoe. Toe Smit homself weer kry, is hy besig om saam te wieg. Siegfried glimlag vir hom, al wiegende. Hy probeer sy gesig trek in wat gelees sou kon word as ’n glimlag, maar binne hom skree dit: hier sit twee volgroeide mans in die middel van die Karoo en wieg hulleself, net voor hulle finaal ten gronde gaan.
*
Dieper die nag in kom Siegfried aangehardloop met die lang arms en waaierhande al flappende. Hy neuk ’n vullisdrom om en slaan ’n sigaret uit ’n bepermde vrou se hand. Hy stop, hygend: “Oom oom daar’s ’n heks!”
*
Die karavaan van die heks is geverf met patrone en krulle dis rooi en geel daar is liggies wat rondom skyn. Daar is ’n houttrappie in die karavaan in. Sy voete is te groot vir die trappie. Hy klim op met sy tone. Die heks is oud sy is lelik. Sy is nes die heks wat sy pa van vertel wat in die karavaan met die hoenderpote bly. Sy het kort beentjies en kort armpies. Haar naam is Madam Sosostris sê oom Smet die heks sê sy’t net verkoue haar naam is Cathy. Sy het kaarte waarmee sy speel daar is nie dieselfde nommers en Kings en Queens soos wat sy pa se kaarte lyk nie. Daar is darem ’n Joker. Dit lyk of die Joker van die berg wil afstap. Die oom is eerste hy sê dis eintlik ta-rou nie tar-rôt soos die heks sê nie. Die heks sê Tien rand. Sy lees die oom se hand want hy weet nie die kaarte se naam nie. Sy sê sy lyntjie is kort. Oom Smet sê saggies Fok hy moet buite gaan wag. Oom Smet sluk uit die sakkie in sy baadjie toe hy by die deur is. Die heks sê Sit. Sy kan nie sy hande lees nie sy kan nie die lyne van die webbe verstaan nie. Dit maak draaie wat sy nie van weet nie. Sy lees sy kaarte. Hy moet die kaarte pak in patrone op die tafel dan kan sy begin heks. Sy sê hy is die Joker hy gaan êrens afdonner. Die heks sê die Karoo is nie so plat dat mens nie êrens kan afdonner nie.
*
Toe die kroeg toemaak, kry hy ’n halwe bottel sjerrie by een van die studente wat saam met die pasgetroude laerskooljuffrouens begin dans het. Een van die juffrouens wen die gesogte kroon van Mejuffrou Agterkwart. Hy probeer die student bedank met ’n kort vers van Totius maar vergeet die eerste reël. Die tweede reël is “het eindelik skuimend uitgewoed . . .”
Die student sê: “Like whatever, oom,” en tol die onderwyseres in die rondte.
Hy gaan sit saam met Siegfried langs ’n ry bome aan die rand van die parkeerarea. Daar staan ’n paar jongmense rond wat ’n vuur tussen die motors gemaak het en nou begin wonder waar hulle volgende gaan drink. Een van die meisies staan teen die motor, sy weier om op die grond te sit.
“Die plek is vol oorkruipers.”
Hy neem sy kans waar: “Die benaming ‘oorkruiper’ vir die bekende insek van die orde Dermaptera, spruit uit ’n bygeloof. Die insekte is in der waarheid heeltemal onskadelik, uiteraard.”
“Kak,” voer die meisie se kêrel aan.
Die meisie se selfoon lui, sy lag en sê: “Sure.” Die jonges gooi die vuur dood en jaag weg na die volgende bron van bedwelming.
Agter die ry dennebome is die ronde skoubaan; in die middel van die baan pronk die grootste stuk groen gras in die dorp. Hy en Siegfried besluit om daar te gaan sit. Die gras is nat, die skielike koudheid onder sy gat laat hom ril. Sy kop draai. Hy sien twee Siegfrieds. Die gras wieg.
“Siegfried.”
“Oom?”
“Ons is God se trane.”
“Reg oom.”
“Siegfried.”
“Oom?”
“Jy . . . jou naam . . . jy was ’n held.”
“Oom?”
“Ag, fok Germania. Fok Wagner . . .”
“Oom?”
“Heil jou webbe . . .!”
*
Siegfried skud hom wakker. Die son brand in sy oë.
“Hierso oom. Hierso eet.” Siegfried is besig om iets teen sy lippe te druk. Hy maak sy mond oop en proe dadelik die frank smaak van toktokkie.
“Brekfis oom.” Die webman is die ene tande, heel in sy noppies.
“Dankie, Siegfried. Dankie . . . uiteraard.” Hy druk die kind vas, los dan onmiddellik.
“Oom ons moet ry na oom Bert toe oom.”
“Hoe laat’s dit?”
“Weet nie oom. Maar daardie boer met die perde sê ons moet trap.”
Hy dwing sy oë oop. Die son sit hoog. Hulle is in die graskringetjie in die middel van die skoubaan. En hulle is nie alleen nie. Bakkies, perde, mans, honde.
“Het die modderfokkers jou kom wakker maak?”
“Ek het maar wakker gebly want oom wou slaap dit was bang hier.”
*
Hulle kry die Lammie-oom by die plek van die bokkoppe. Lammie sit in die lorrie die enjin raas hy skree Gee julle boys om om agterop te sit. Die vrou het nou besluit om te saam sê hy. Sy’s gek oor Stellenbosch se coffee shops en wil gaan antieks ook koop. Oom Smet sê Dis uiteraard nie ’n probleem nie meneer en nogmaals dankie. Lammie maak soos ’n vark. Hulle klim agterop die lorrie. Die vloer brand. Oom Smet vra vir bokse om op te sit. Hulle vou die bokse plat en sit. Die Dawie-Lammie-tannie gee ’n bottel water aan van voor af oom Smet klap op die dak die lorrie begin jaag hy gly. Hy sien al die dinge wat vinnig verbygaan die vaal strepe hy was nog nooit verder as die dorp nie hy is bang dis die swart skip by hom hy is koud sy webbe is pap.
*
Wanneer hy aan die slaap raak net voor hy begin met die drome onthou hy. Hy onthou hoe hy in die bad sit. Die warm water is om hom. Sy ma sit by die bad op haar knieë. Sy was hom. Sy laat hom speel met sy eende en bote. Hy kyk vir sy ma sy lyk bly. Sy sit en kyk hoe hy met sy webbe deur die water vee dat dit strome maak. Hy is nie bang in die bad as sy ma daar is nie. Sy swem soos ’n meermin sê sy pa. Die swart skip is ver weg. Hy hou sy asem lank op hy luister na die onderwater se snaakse geluide hy hoor sy eie perde. Onder die water is alles ver weg. As hy met sy waaiervingers deur die water speel noem sy hom My Vissie party kere My Paddatjie. Sy pa vertel hom van paddas wat in die woestyn woon.
*
Siegfried lê en slaap, uitgestrek op die kartonne in die son. Sy kop skud liggies rond soos die vragmotor die slegte pad verder deurtrap. Hy sit sy een voet teen die kop om dit te stut. Hy hou sy oë op skrefies, hierdie son brand nog vandag sy siel droog. Hy vat ’n sluk water uit die bottel. Spoeg dit dadelik uit. Sy kop klop. Hy wonder vir die eerste keer oor die boer se lyk. Bloch sal sy buurmanlike plig pleeg deur die polisie te bel. So nie, sal die lyf begin ruik voor Saartjie, die skim wat net een keer ’n week verder as die kombuis toegelaat is, voorbarig genoeg sal wees om liggies aan die deur te klop.
*
Smit skrik toe die lyf langs hom skielik ruk in die dromery. Daar is geen baard op sy wange nie, byna niks hare op sy arms nie. Selfs die vaalblonde hare op sy kop is yl. Hy sal binnekort bles begin word. Sy plooilose, haarlose vel maak hom enigiets tussen twintig en veertig. Siegfried begin stadig wakker word.
Laingsburg se padbord flits verby. Lammie kyk om en beduie hulle gaan stop. Siegfried sit regop en strek homself uit met sy hande bo sy kop. Die son skyn deur die webbe. Mens kan die aartjies onder die vel sien. Twee eksotiese skulpe soos die Shell-teken.
Hy vat ’n sluk van die bottel warm water, spoeg dit weer uit. Hy brand vir ’n whisky met baie ys.
“Waar’s oom se vrou?”
Hoekom