Koos Kombuis

Die Tyd van die kombi's


Скачать книгу

n>

      

      Die tyd van die Kombi’s

      ’n Persoonlike blik op die Afrikaanse rock-rebellie

scan0001.jpg

      Koos Kombuis

      Human & Rousseau

      Baie dankie aan Kerneels Breytenbach, Alida Potgieter, Erns Grundling en die taalversorgers vir bystand, raadgee, deurlees en die talle taal- en kontinuïteitsfoute wat hulle raakgesien het.

      Baie dankie aan alle rolspelers in die gebeure in hierdie boek wat om die een of ander rede nie in die teks self genoem is nie. Julle is te veel om elkeen persoonlik te bedank, maar ek wil graag die volgende mense uitsonder:

      Francois Naudé, vir die mooi prentjies op my kitaar; Riaan van Barloworld Toyota in Stellenbosch; Michelle Shocked, vir die woorde van aanmoediging; Frans Swart, wat die beroemde duet tussen my en Jurie Els gereël het; Dave Marks en sy gesin in Durban, vir jul gasvryheid en hulp; Dawie, Thomas en Angelo, my getroue Nissan-handelaars; Albert du Plessis, producer van my mees onderskatte CD (Equilibrium); Sarah Theron, vir haar no-nonsense vriendskap deur die jare; Anne-Marie Mischke, my mentor in die rubriek-skryfkuns; Roof, want jy was eintlik die beste; Aan Carel, Misha, Theresho en al die ouens by Oppikoppi se span; Die FAITH Fund (Foetal Alcohol-Syndrome & Interrelated Treatment Help), vir die geleentheid om vir julle te help geld insamel vir julle inligtings- en opheffingsveldtogte; Jaap, Jaap se hond, Dapper Jannie, Tommy van die Paarl, Miriam van Colesberg, en Thys K en al sy familie met hul Bo-Kaap-herinneringe; Nols de Bruyn, die dominee wat vir my en Kannetjie getrou het.

      Indien ek na enigiemand se redelike mening onwaarhede verkondig het in hierdie boek, of as my geheue my in die steek gelaat het, of as ek onbewustelik skuldig was aan oordrywing, skryf asb. aan my by [email protected] sodat ek ’n regstelling kan aanbring in ’n herdruk van die boek.

      Die gedigte van Breyten Breytenbach en André le Roux word met hul vriendelike vergunning gebruik.

      vir Maryke

      “’Cause in the end

      we had all become

      prisoners of war”

      – David Kramer

      Proloog

      Ek het dit sien kom. ’n Sekonde voor dit gebeur het. ’n Sekonde wat rek … en rek … en rek. Die kar het teen topsnelheid oor ’n rooi robot gekom, en reg op ons afgepyl. Op die laaste oomblik het die bestuurder probeer rem, dit was asof die kar getilt het. Impak was onvermydelik. Hy’t vinnig gery, baie vinniger as die spoedbeperking. In daardie oomblik van absolute helderheid, net voordat die kar ons Kombi getref het, was dit asof my hele lewe voor my verbyflits, en ek alles in ’n totaal nuwe perspektief sien. ’n Ondenkbaar nuwe perspektief. Wat as alle mense ewe onnosel is? Wat as ras, kultuur of geloof niks met enigiets te doen het nie? In daardie breukdeel van ’n sekonde, in daardie klein stukkie tyd, daardie infinitesimale klein oomblik wat skielik so lank soos ’n ewigheid gevoel het, het ek al my optimisme sien verdamp, my ganse jeugdige idealisme sien wegvloei soos wyn uit ’n geskeurde papsak, het ek besef dat ek nie ’n vryheidsvegter se gat is nie, dat ek nooit Ché Guevara sou wees nie, dat ek eintlik my hele volwasse lewe weggerook het, dat dit amper al was wat ek gedoen het, die gerol van dagga-joints, die aansteek van dagga-joints, die aanpass van dagga-joints, eindelose dagga-joints, elke dag, elke nag, my hele lewe lank. My hele lewe is gewy aan orale fiksasies! My ma se tiete. My eerste dummy. My eerste botteltjies formula-melk. Om nie te praat van alles wat ek gerook het nie! Pype, sigarette, Turkse bongs, tuisgemaakte bottelnekke … en dan het ek nog niks gesê van die alkohol nie … ek was nie ’n bierdrinker nie, ek het gehou van wyn, maar nie duur landgoedwyn nie, o nee! Ek het goedkoop wyn gedrink. Sommer reguit uit die bottel. Om die waarheid te sê, dit was die image wat my beroemd gemaak het, die foto van my, op stage, met ’n bottel goedkoop rooiwyn teen my lippe – ek het dit gesuip soos koeldrank. Tassies. Hulle het my op die ou end geborg, hulle het nie eintlik ’n keuse gehad nie, in die oë van die publiek was ek en Tassies reeds sinoniem. Ek het my lewe voor my sien verbyflits, en ek het besef dit was alles ’n mors van tyd, ’n totale verkragting, ’n gejaag na wind. Ek het besef dat as ek vanaand sou doodgaan, dit alles verby sou wees, daar sou niks oor wees nie, niks pyn of plesier nie, niks meer musiek nie, niks meer plannetjies maak vir al die goeters wat ek nog wou doen nie, ek sou nooit in die Alpe gaan ski nie, nooit in ’n sportmotor deur die strate van Parys ry met die wind deur my hare nie, ensovoorts. Hoe stupid kan ’n mens wees? Hoe ongelooflik onnosel? Ons wou almal Amerikaners wees. Amal was so funky. Die ganse stryd teen imperialisme en apartheid is gevoer met die metafore van Hollywood en Big Business, die sigarette en die saksofone en die gepunte skoene en die shades en die attitude, daar was niks van Afrika daar nie, nóg by ons, nóg by die ouens van Sophiatown; dit was gangster-rap, dit was ou movie-soundtracks gespeel teen die drive-in screens van die verbeelding, Boys in The Hood, die hele lot van ons. Dis waaraan ek dink terwyl die kar op ons afjaag, in daardie sekonde voor impak. In daardie oomblik heroorweeg ek my lewe, beoordeel ek my keuses, en besef ek, wat ook al gebeur, of ons lewe en of ons sterwe, of ons vermink is of opstaan en van die wrak af wegstap, die revolusie is verby nog voor dit ooit begin het. Dat daar nooit enige revolusie was nie. Dit was alles net kak outfits, swak smaak en opgefokte longe.

      Was dit?

      die sondes van die vaders

      Rotte. Hulle is orals.

      Ek lê op my elmboog op die enkelbedmatrassie en kyk benoud na die vloer. Onder my beweeg ’n swart kombers. In die donker is dit moeilik om die diertjies self te sien. Dis net hierdie moerse swart kombers wat beweeg, beweeg, en klein piepgeluidjies maak.

      Ek kan nie opstaan nie, en ek het ’n pie. En die enigste toilet hier op die derde verdieping is af in die hoerhuis se gang. As ek van die bed sou probeer afklim, sal ek op ’n rot trap. Definitief. Daar is letterlik honderde van die goed. Al is hulle nie baie groot nie, is hulle baie. En baie, baie besig.

      Om die een of ander rede probeer hulle nie by die bed opklim nie. Dalk is die metaalpote van die bed te glad. Miskien het hulle nog net nooit daaraan gedink nie. Miskien, as ek baie stil lê, sal hulle nooit daaraan dink nie.

      Ek sluit my oë, lê terug op my kussing, en probeer vir myself sê: “Ek het nie ’n pie nie.”

      Langs my lê my girlfriend, Jillian, en slaap. Ek kan haar ritmiese asemhaling hoor. Ek hoop sy hou aan met slaap. Dis dalk beter vir haar as sy glad nie nou wakker word nie.

      Onder die bed hoor ek steeds die fyn gepiep.

      Iewers buite in die nag, die veraf loei van ’n polisiesirene. Daar is ook die gewone geluide van die straat. Twee mense wat iewers luidkeels argumenteer. Die eggo van ’n skoot. Die gemurmel van voertuie deur strate wat nie meer lank donker gaan bly nie.

      Binne-in die hoerhuis is dit egter stil. Wanneer die dag breek, sal nuwe geluide ons rus versteur: voetstappe in die gange, deure wat klap, glas wat breek, radio’s wat popmusiek uitblêr. Die klanktapisserie van ’n disfunksionele wêreld.

      Dis Kaapstad, 1983. Ek is ’n skrywer van kortverhale vir Huisgenoot. Ek het al ’n digbundel of twee op my naam, en op die oomblik werk ek aan ’n roman wat weirder is as weird. Dis die Groot Afrikaanse Roman. Dit gaan ons letterkunde op sy kop draai. My uitgewers weet ek is ’n genie. Die slim mense wat vir die koerante werk, skryf rave reviews oor my werk.

      Nou, as ek dan so wonderlik is, hoekom huur ek ’n kamer in ’n hoerhuis? In Langstraat? Tussen rotte? Hoekom woon ek hier saam met my bruin meisie? Hoekom is die bruin meisie se van Botha? Is sy dalk verlangs familie van P.W. Botha? Dieselfde ou wat, as president van die land, ’n wet handhaaf wat sê dat ingevolge die Ontugwet seks oor die kleurskeidslyn ’n misdaad is?

      As ek ’n gepubliseerde skrywer is, hoekom is die mure van hierdie kamertjie oortrek met die name en adresse van intekenaars op ons ondergrondse protestydskrif?

      Teen wie rebelleer ek? Waarom is ek so vol haat? Waarom mors ek die beste jare van my lewe in hierdie plek van armoede en gevaar? Hoekom lewe ek nie gemaklik, soos ander whiteys van my ouderdom