jaar oud. Oor ’n paar dae moet ek ’n solokonsert gaan speel op die hoof-stage by die Oppikoppi-rockfees. My twee klein kindertjies hardloop rond, om en om die Jan Smuts-museum, en dit weerklink van die oorlogskrete soos hulle speel. Ons eet lasagne en drink goedkoop droë witwyn wat bedien word per glas, nie per bottel nie. Ons het hiernatoe gery in ’n gehuurde Mercedes Vito diesel-Kombi. Omtrent vyftig tree na links staan Jan Smuts se antieke swart Cadillac (of Packard) (of whatever) geparkeer in die son. Dit is ’n museumstuk. Ek is ook ’n museumstuk. Ek wens ek was so aantreklik soos Ozzy Osbourne. Gelukkig is ek – anders as die meeste celebrities – nie op drugs nie, en gelukkig is my vrou – soos die vroue van die meeste celebrities – nog nie halfpad so oud soos ek nie. Die meetsnoere het vir my in redelik oukei plekke geval.
Oor ’n klein rukkie gaan ons almal deur die perfekbewaarde Jan Smuts-familiewoning stap en alles besigtig: die oudmodiese badkamer, die kieries en die uniforms, die gepoleerde houtvloere, die outydse broodroosters en die vergeelde vredesverdrae in glaskaste.
Jan Smuts was eerste minister van Suid-Afrika net voordat die Natte per ongeluk die verkiesing gewen het in 1948. Hy het die verkiesing verloor omdat hy óf te stadig óf te haastig (niemand is seker watter een van die twee nie) was om politieke mag te gee aan die swart mense. Hy het ook filosofiese boeke geskryf oor ’n teorie met die naam holisme en was betrokke by die stigting van die Verenigde Volke! ’n Uitsonderlike man. ’n Oorlogsveteraan. ’n Volksheld. Net jammer hy’t nooit leer kitaar speel nie.
My ma vertel my hoe erg sy my pa mis. Ek is altyd verbaas as sy sulke goed sê. Daar was ’n tyd in die geskiedenis toe dit hoogmode was vir vroue om hulle volwasse lewens neer te lê ter wille van hulle mans. Niemand onthou vandag meer hoe absoluut die heerskappy van die vaders was nie. Die feit dat hierdie mans dikwels ruggraatloos, geestelik bankrot en emosioneel ontoereikend was, het hoegenaamd nie die vroue verhoed om hul eie lewens neer te lê nie. Hulle was dapper genoeg om die grootste, mees bisarre offer te bring: die buiging van hul eie wil, in totale oorgawe en stille onderdanigheid, voor die outoriteit van ’n ander mens.
Ek moes wag vir my pa om dood te gaan voordat ek ’n normale verhouding kon begin met my ma.
Ons moes almal baie lank wag vir onafhanklikheid.
Onafhanklikheid. Ja, wat ’n mondvol.
As jy so na my kyk waar ek hier in my studeerkamer sit en peins, sou jy sê ek het alles bereik in die lewe wat ek nodig het; dat ek tevrede en gelukkig is.
Ek het ’n huisie by die see. Van die boonste verdieping kan ek amper die see sien. Partykeer ruik ek dit. Dis net ’n paar kilometer weg.
Ek het ’n ronde, vrolike vrou, ek het so te sê twee kinders, ’n huishulp, ’n opreggeteelde hond, ’n SPCA-kat en ’n troetelrot. Die rot is wit, die huishulp nie. Die hond is koffiekleurig. Ek het vanoggend met die hond gaan stap net nadat die huishulp vir my kom vertel het haar susterskind is gister doodgeskiet tydens ’n transitoroof in Johannesburg.
Dis waar, ek is suksesvol, en ja, ek is gelukkig, maar ek is nie altyd tevrede nie. Daar is tye wanneer ek oorval word deur ’n allesomvattende gevoel van weersin. Veral laat in die nag, as ek in my kantoor sit, omring deur die lewelose stilte van suburbia. Ek hoor nie meer die rewolwerskote van Langstraat nie, dis waar. Maar nou is dit die stilte – die afgryslike, genadelose stilte – wat my teen die mure uitdryf.
Die stilte wat soms vir weke, maande kan duur en dan ewe skielik, een nag, geboorte kan skenk aan chaos. Aan roof. Of moord. Ongenooide indringers wat waansin saai waar orde en vrede moet heers.
Ek lees deesdae weer Breyten Breytenbach. Ek het hom weer ontdek. Ek lees sy nuwe werk, sy onlangse publikasies, want ek deel sy ontnugtering met hierdie land, dit wat ons geword het. Jare gelede was dit sy jeugdige prosa en poësie wat die drang na protes in my wakker gemaak het. Sy woorde – sy wilde, subversiewe gedigte – was vir my die wekroep na ’n lewe van opstand teen apartheid.
Toe ek ’n kind was, is Breytenbach se werk nie op skool behandel nie; daar is oor hom gefluister in die gange, sy boeke is onder die skoolbanke aangestuur, ons moes dit in die geheim lees wanneer niemand kyk nie. Sy gedigte was sondig, opwindend, heerlik anargisties. Alles wat hy geskryf het, was ’n stille kreet in die donker, ’n kreet wat gerebelleer het teen “die bedreiging van die siekes”; teen die ganse saai lewe, die blanke eenvormigheid van my kinderjare.
Nou lees ek die werk van die volwasse Breytenbach. Ek lees sy nuutste digbundel, Die windvanger. Die windvanger gaan oor vele onderwerpe, maar onder andere is dit ’n stem van protes teen die ganse saai – ja, saai! want te veel van dieselfde ding, al is daardie ding raserig en chaoties, raak saai – … die ganse saai, swart eenvormigheid wat die slagspreuk van die nuwe Suid-Afrika geword het.
Ja, hier sit ek in my studeerkamer in die boonste verdieping van my huis in Suburbia, ek sit hier tot laat in die nag, en ek weet ek is veronderstel om te werk aan my volgende rustige gemoedelik-lokale roman, maar eintlik lees ek net Breytenbach se grafskrif vir ons land, en ek drink KWV brandewyn (ek drink baie daarvan, maar ek drink deesdae die 5-jaar-oud, want ek kan nie meer die 10-jaar bekostig nie). Ek sit hier, en partykeer huil ek, en partykeer bid ek, en partykeer steek ek wierook aan, en partykeer kyk ek laatnagpornografie op die TV, en partykeer oorweeg ek dit om ’n geweer te koop en my eie breins uit te blaas.
Maar ek sal seker nie regtig nie. Dis te morsig.
En tog. Wat sê Breyten nou weer in sy gedig “Belydenis”?
ek het hoog en laag probeer preek
teen armoede en onreg
maar op die ou einde was ook dit
slegs selfbevlekkende romantisisme
en niemand wou aanvaar ek is ’n Afrikaan nie …
O, amper vergeet ek: die man wat gister doodgeskiet is in die transitorooftog was die pa van twee gestremde kinders.
In my amptelike outobiografie (Seks & Drugs & Boeremusiek) het ek baie gefokus op die tekortkominge van my familie. Dit was een van die hooftemas van die boek: die feit dat my familie sulke horrible mense was.
In hierdie outobiografie gaan ek niks daarvan sê nie.
Ek gaan nie konsentreer op die feit dat my pa ’n kleindorpiekroek was wat my ma se swaarverdiende pensioenfonds geblaas het op alles van piramideskemas, wonderkruiemiddels, matskoonmaakmiddels tot seewier-ekstrak nie. Ek gaan niks sê van die weduwee van die oorlede adjunk-minister wat byna my ouers se huwelik opgefok het nie. Ek gaan nie weer moan oor my jaar in die rehabilitasiesentrum vir dwelmslawe waar hulle my toegesluit het nie, maar aangesien ek nou al weet dat niemand my anyway ooit glo nie, bêre ek daardie inligting vir wanneer ek eendag voor die groot regterstoel van God staan en Hy my vra of daar enige versagtende omstandighede was vir my skandalige lewe.
Ek het my familie genoeg uitgeskel. Soms moet ’n mens vreemde kulture eenvoudig aanvaar, al verstaan jy nie al hul tradisies nie.
In elk geval was alles in my kinderjare nie net sleg nie. As ek die moeite sou doen, sou ek enkele mooi herinneringe ook kon opdiep. Ek sou byvoorbeeld kon skryf hoe die son geglinster het in die plasse water op ons rooi stoep toe ek klein was. Van die aande toe ons domino’s gespeel het by ’n gaslamp in ons gehuurde rondaweltjie op Hartenbos. Ek sou kon vertel van die keer toe my broer vir my ’n hand vol pampoenpitte gegee het om te plant in die sand agter een van ons huurhuise in die agterplaas, en my absolute gevoel van verwondering toe die pampoenplantjie ’n paar dae later opkom. En van die klein plastiek-cowboy-en-Rooi-Indiaan-mannetjies wat my pa vir my gekoop het in die Paarl toe ek ’n kleuter was. Ensovoorts.
Terloops, ek het ure lank oorlog-oorlog gespeel met daardie plastiekmannetjies, min wetende dat dit ’n inleiding was tot die rassespanning wat toe al gedreig het om ons land te oorspoel.
En oorspoel het dit toe al, daardie jaar in die Paarl, toe die bruines uit die lokasie een nag die dorp