Chris Karsten

Die verdwyning van Billy Katz


Скачать книгу

      

      Die verdwyning van Billy Katz

      Chris Karsten

      Human & Rousseau

      Vir Simone

      The man had killed the thing he loved,

      And so he had to die.

      – Oscar Wilde

      1

      Dit lyk soos ’n operasietoneel waarin twee dokters geboë oor ’n pasiënt staan: ’n middeljarige man, kort en stewig, met ’n skalpel, en sy assistent, ’n jonger vrou met ’n blonde vlegsel.

      Die kamera zoem in.

      Onder die skerp lig het die pasiënt se vel ’n tint van loodgrys; sy oë is toe, sy bors oop. Maar daar is geen bloeding nie, geen narkose­masker, geen rekenaarskerms waarop lewensfunksies gemoniteer word nie.

      Die vier TV-kykers is stil, hulle oë stip op die skerm. Ook die verteller swyg eers. Dis of die vertrek sélf sy asem ophou, terwyl die snare en houtblasers van die agtergrondmusiek die skemer ruimtes vul en plegtig daar bly vibreer, ingehoue wag dat die onsigbare dirigent ook die ander instrumente loslaat.

      Van die operasietafel trek die lens terug vir ’n wyer skoot en wys hoe die man die hart uit die bors oplig. Hy betrag dit ’n oomblik, asof verbaas dat dit nie klop soos ’n hart moet klop nie. Die vrou, haar hand vlugtig en goedkeurend op sy skouer, ontvang dit dan in ’n blink metaalkom, al die are afgesnoei, geen polsende, lewegewende orgaan meer nie, net ’n pers stuk vleis.

      Die musiek vervaag en die verteller hervat, haar stem on­betrokke en toonloos terwyl die kamera die vrou met die vlegsel na ’n staaltafel volg. Sy haal die hart uit die kom en plaas dit op ’n disseksie­bord van wit plastiek. Sy gaan sit en kies ’n skalpel uit chirurgiese instrumente netjies uitgestal op ’n metaalskinkbord.

      Die kamera beweeg terug na die bleek liggaam en die fors snyer, sý vel ’n tint van melkerige tee. Hy hou nou ’n ystersaag vas. Met sy ander hand het hy die pasiënt se regterhand in ’n stewige greep. In die zoemskoot rus die saaglem net agter die pols se knop, swart armhare in skerp kontras met die spektrale vel.

      Die tempo van die simfonie neem toe, die snare en houtblasers aangevul deur glockenspiel.

      Asof dit óók op die dirigent se baton gewag het, begin die lem beweeg. En die skerp, fyn tandjies vreet in kort, egalige hale deur die vel, en deur die een, dan die ander been van die voorarm. Steeds geen bloeding nie.

      Ineens is die hand vry van die liggaam waarvan dit so lank deel was.

      Die snyer plaas die saag skuins oor die oop borskas, en die kamera volg die wiegende tred van sy kort bakbene na die tafel waar die vrou met die hart werk. Hy laat sak die hand in ’n glasfles met vloei­stof.

      ’n Crescendo van tromme en simbale, trompette, tjello’s en klawers.

      Die musiek en beeld doof uit en die vertellerstem sê: “Einde van Episode Een.”

      Voor die TV is daar ’n oomblik stilte, die gesigte van die vier gesins­lede steeds op die nou donker skerm gerig. Dan klap Mona haar hande en sê: “Mooi, baie mooi!”

      Die ander sluit in sagte applous by haar aan.

      Haar twee dogters, regs van haar, aantreklik in hulle veertigs, leun na mekaar vir ’n kort fluistergesprek. Vera, die verteller, is die ouer een met donker hare wat weerskante van haar gesig afhang, Heidi die een met die blonde vlegsel.

      Die fors snyer sit op die stoel links van Mona – haar aangenome seun, Rakker, sonder teken van emosie op sý gesig. Hy vat net die waslap op sy skoot en dep die speeksel aan die hoeke van sy mond.

      Dis vir Mona belangrik om haar gesin so intiem bymekaar te hou. Nie net vir hulle selfbehoud nie, maar vir die heling van hulle wonde, en veral vir die vergelding van al die onregte wat teen hulle gepleeg is, aan hulle liggame sowel as aan hulle gees. Want nie een van die vier is ongeskonde nie.

      Sy leer haar kinders steeds, elke dag, dat die wêreld ’n bose plek is waar woestelinge op onskuldiges jag maak, veral op vroue. En dril haar leuse by hulle in:

      Jy red jouself, of jy bly ongered.

      2

      Oor sy lessenaar bekyk Ella kolonel Sauls se kouende kake. Een­kant waar sy sigaretboksie altyd gelê het, lê nou die Nicorette-boksie. Mara se werk, maar Ella kan klaar ’n newe-effek opmerk: die mollige wange en die boep wat die hempsknope beproef. Pleks van rook kou hy nou, en dis nie altyd ’n Nicorette daar in sy kieste nie.

      “Wat probeer jy sê – dat jy nog nie uitgerus is nie?” Hy loer oor sy brilraam na haar. “Jy’t drie maande by die huis gesit. Kon jy en die berader nie jou kop in drie maande uitgesorteer kry nie?”

      Dis die ánder newe-effek van ophou rook: sy moerigheid. Hy was altyd ’n ou buffel, nou is daar skaars met hom huis te hou. Ten minste hier op kantoor. Net Mara kan, godswonder hoe; by haar is hy ’n lam, en haar kop vat skaars aan sy oksel.

      Hy druk die halfraambril teen sy neus op, tik met ’n dik voor­vinger op die dokument. “En hier staan dit geskryf: jy’s afgeteken, die kopkwak sê jy’s gesond, reg vir diens. Wat’s nou skielik jou probleem?”

      “Ek het nie skiélik ’n probleem nie, kolonel.” Sy kom agter haar palms is nat en soek na ’n snesie in mou en bra.

      ’n Woeste wenkbrou lig. “Nou wat dan? Is die kwak verkeerd, is jy nog nie reg nie?”

      “Nee, kolonel … Ek bedoel, ja, ek’s reg, ek kan werk. Dis net … dis …”

      Dêm, g’n snesie nie, nie gedink sy gaan een in Silas se kantoor nodig hê nie. En nou is dit nie meer net nat palms nie, die neus begin loop, die oë begin lek. Wat’s fout met haar?

      Sy soek ’n diep teug lug, vee die kuif van haar voorkop weg. “Net gewonder, kolonel, as dit … as dit oukei is. Of ek nie eers saam met een van die ander kan uitgaan nie, kan dalk vir Fred gaan help met daardie OTM wat opgeblaas is.”

      Hy smyt sy bril op die berader se verslag, leun skuins en haal ’n sakdoek uit sy broeksak, netjies gestryk en opgevou, hou dit oor die lessenaar na haar uit.

      “Dankie.” Hees stemmetjie, dunner en heser as gewoonlik. Sy dep haar oë, vee oor haar neus. Kry die waterlekke gestop, nie die heserigheid nie, leef al ’n paar maande met die padda in haar keel.

      Die kolonel leun weer skuins, spoeg die koutjie in sy snipper­mandjie, bestreel sy netjiese moestassie, kug. “Hmm, vir Fred gaan help, sê jy?”

      “Ja, kolonel. Net gedink ek moet dit eers kalm vat.”

      Die laringitis sou ná twee, drie weke opgeklaar wees. Week vier stuur die dokter haar vir X-strale van die keel. Die plate wys geen fout nie. Die dokter krap kop. In ’n CT-skandering kry hulle die fyn breuke in die kraakbeen van haar larinks.

      “Is dit wat die kwak sê? Dat jy dit kalm moet vat?”

      “Nee, kolonel, dis net hoe ék voel. Om eers soort van stadigies weer in dinge in te kom.”

      Die dokter sê: Vergeet van sangdrome, die breuke versteur die vibrasies van jou stembande, jou heserigheid is ’n permanente kon­disie. Die berader sê: Jy’s nog geestelik broos, en jou soort werk is nie juis bevorderlik vir ’n broos gemoed nie. Probeer om eers gevaarsituasies te vermy, ons wil nie dat sluimerende stres dalk op­vlam nie.

      Dís wat sy deur Silas se dik skedel probeer kry.

      Aan die ander kant: kantoorwerk? Sy met die rooimiere. Buiten­dien, wat presies is eintlik so gevaarlik aan vier voete in ’n botaniese tuin?

      “Stadigies?” sê hy.

      “Ja, kolonel.” Beloer daardie wenkbrou wat so op sy eie wriemel, nes ’n rustelose wurm.

      Hy leun terug. “Jy sien nie kans vir nog ’n reeksmoordenaar ná daai Abel Lotz-besigheid nie. Is dít wat jy sê?”

      “Nee, kolonel, dis nie wat ek sê nie. Ek sien kans vir enigiets, vir enigiemand, ek