Chris Karsten

Die verdwyning van Billy Katz


Скачать книгу

noem Fred net as voorbeeld, kolonel. Ek kan vir Papi gaan help met die taxi-skietery.”

      Hy reik na ’n vars Nicorette. “Dis moord-en-roof hierdie, g’n die Heilsleër nie. Ons doen niks stadigies nie.”

      Serious & Violent Crime, wil sy sê – die ou naam mag nie meer gebruik word nie, veral nie voor politiek korrekte senior offisiere nie. Behalwe Silas Sauls. Hy’s politiek inkorrek en aweregs en weier om te konformeer. In SVC-gange word gefluister hy kon al generaal gewees het as sy kop nie so hard en sy nek so dik was nie.

      “Ek weet, kolonel.”

      Hy beduie met die kougomblokkie tussen duim en wysvinger. “Is dit oor wat hy met jou gedoen het? Of oor wat jy met hóm ge­doen het? Dis nie so duidelik in hierdie verslag nie.”

      Hy het eers ’n stuk van haar maagvel probeer uitsny. Haar toe later met ’n nat handdoek gewurg tot bloed by haar neus en oë uitkom en dit voel of haar hart en longe wil oopbars. Abel Lotz het haar nie net ’n tydelike wond aan die gemoed toegedien nie, ook permanente letsels aan haar maagvel en keel. Maar die kolonel is reg: om iemand se lewe te neem, selfs ’n bose lewe, is nie iets wat jy afskud soos ’n stowwerigheid van jou mou nie.

      “Ek’s orraait, kolonel, ek en die berader het alles uitgepraat.”

      “Julle het álles bepraat? Ook die geval van die perd?”

      “Die perd, kolonel?”

      “Die een wat jy dadelik weer moet opklim as hy jou afsmyt.”

      Hy druk die nikotienkougom in sy mond. “Die voete is in die Shakespeare-tuin gekry. Was jy al daar, het jy al ’n romantiese uurtjie of wat daar gaan deurbring? Gediggies in iemand se ore ge­fluister?”

      “Ja, kolonel. Maar nie gediggies gefluister nie.”

      “Kaptein Julies en sy manne is reeds op die toneel. Nou toe, wat wag jy, vir beter dae?”

      By haar lessenaar pluk sy ’n snesie uit die no-name-boks en snuit haar neus. Kry ’n nuwe een, dep haar voorkop, neus, bolip. Demmit, dís wat hy opgemerk het: die bewerasie in haar hande.

      Sy druk die kolonel se verfrommelde klam sakdoek in haar skouersak en grou vir die Ativan. Haat enige soort pil, maar die berader sê dis vir ’n noodgeval. Vier geamputeerde voete is ’n noodgeval, veral die implikasies daarvan. Sy sluk die pil en begin google.

      Vier linkervoete is gelyk aan vier geskende liggame, lewend of dood. Dis afleiding een.

      Afleiding twee: Die liggame is waarskynlik dood, want ’n lig­gaams­deel wat in ’n operasieteater geamputeer word, lê nie in ’n open­bare tuin rond nie.

      Afleiding drie: Daarom is die voete waarskynlik die resultaat van gemene spel, deur óf massamoord (al vier voet-eienaars is in ’n enkele voorval van bloedige geweld uit die weg geruim), óf reeks­moord (die vier is met verloop van tyd van kant gemaak).

      A, dis ’n mooie: Here’s flowers for you: Hot lavender, mints, savory, marjoram; The marigold, that goes to bed wi’ the sun, and with him rises weeping; these are flowers of middle summer, and I think they are given to men of middle age.

      Die kruie en blomme verstaan sy, nie die verwysing na middel­jarige mans nie. Sy ken net een Shakespeare-aanhaling – oor rose, uit Romeo and Juliet wat op skool voorgeskryf was. Nou ken sy twee.

      Sy staan van die rekenaar op en gooi haar sak (met ’n voorraad snesies) oor haar skouer. Die kolonel bied nie eens aan dat iemand saam met haar gaan nie, sy moet die wilde perd alleen beklim en ry.

      Wel, sy sal hom wys.

      Sy draai uit Olifantsweg na die hoofingang van die Botaniese Tuin langs die Emmarentia-dam. Sy was al ’n paar keer hier. Sy hou veral van die roostuin, dis so romanties. Sy het die roostuin lanklaas besoek.

      Die Shakespeare-tuin is minder flambojant, meer afgesonder. En ook dáár het sy nog nooit vir enigiemand gediggies gefluister nie; Bam was nie juis die blom-en-gedig-tipe nie, hulle het nie versies in mekaar se ore gefluister wanneer hulle met min klere en baie wyn gekuier het nie. Toe tuimel die hele kasteel dak en al op haar kop af, die aand toe sy hom saam met daardie beswete blonde hokkiespeler betrap – háár bed, háár huis, háár rugbyspeler.

      Wie was daar ná Bam? ’n Paar eendagsvlieë, maar van hulle het sy ontslae geraak voor hulle ’n oorlas kon word. Sou nie omgegee het vir Milo Boonstra se skoene op haar bedmatjie nie. Oë soos water met net ’n effense tint van ysblou. Hare die kleur van ryk botter. Ou wit letsel oor die wang – nie een wat jou afsit nie, een wat jou aantrek, wat jy gesond wil soen terwyl jy ril van lekkerte oor hoe gevaarlik hy kan wees. Ja, misterieuse Milo het haar eierstokke geroer. Maar dit het anders uitgewerk, baie anders.

      En dis die som: Bam en Milo, net twee minnaars in sewe maer jare.

      Sy draai in en sien links tussen die bome deur die sonspatsels op die damwater. Net ’n paar besoekerskarre in die parkeer­terrein. Twee, as jy nie die vier polisiekarre tel nie: Jimmy Julies s’n is die CSM-ene (Crime Scene Management), die K9-bakkie, ge­wone patrolliebakkie en ’n ongemerkte wit Corolla met ’n SAPS-nommer­plaat.

      ’n Vermorsing van skaars mannekrag wat haar betref, want dis nie eens die moordtoneel nie, net die dêm dump-plek vir vier ou voete in ’n Checkers-sak.

      Verby die inligtingskiosk en restaurant steek sy by ’n pad­predikant vas met name en pyle in alle windrigtings: Herb Garden en Hedge Garden soontoe. Succulent Garden en Chapel Garden in daai koers. Arboretum soontoe. Aha, Rose Garden en Shakespeare Garden op die plaveipaadjie tussen naaldbome deur.

      Twintig tree verder ’n boommerker: Podocarpus Forest. Klink na ’n soort vis, maar ruik na vars denne, jy wil ’n kombers oopgooi, ’n piekniekmandjie uitpak, sonnette vir iemand voorlees. Vir wie? Wat het van al die ordentlike mans geword, dié wat nie net agter een ding aan kwyl nie? Net één man uit al die miljoene, dis al wat sy soek: die Ideale Man, goed genoeg om haar nie weer teleur te stel nie.

      Voor haar duik die imposante struikomheining op, in ’n groot sirkel en maklik twee meter hoog, netjies glad en haaks gesnoei soos dit ’n goeie privet betaam, en ondeurdringbaar, behalwe vir twee nouerige ingange regoor mekaar. Albei is afgesper met geel polisiebaniere.

      By die naaste ingang buk sy onder die banier deur en beskou die vista voor haar. Die Shakespeare-tuin is in konsentriese sirkels uitgelê. Onder in die middel, teen ’n helling af, lê die ronde amfi­teatertjie soos die swart kolskoot wat sy gewoonlik sekuur op haar skyfskietteiken tref. Die volgende sirkel bestaan uit die grasperk­helling, dan die sirkelpaadjie van rooi bakstene met bankies waarop besoekers kan rus. Die laaste sirkel, tussen die paadjie en die hoë heining, is die Bard-beddings waaraan die hele tuinopset sy naam ontleen.

      Jimmy en die konstabels is gebukkend op soek na leidrade, ook die K9-ou met sy mooi snuffelhond. Skoenlappers fladder en dans oor die kruiebeddings; nuwe geure bereik haar neus. Sy herken roosmaryn en salie, laventel en kruisement, die sitrus van verbena. Op ’n beddingmerker lees sy: There’s rosemary, that’s for remembrance … And there is pansies, that’s for thoughts. There’s fennel for you, and columbines. There’s rue for you, and here’s some for me …

      Daar wink Jimmy haar nader.

      “Waar’s die voete?” vra sy.

      “Jy bedoel waar’s jou slagoffers?” Jimmy grinnik en lei haar na ’n bank onder die enigste groot boom, daar langs die bedding met tiemie en kanfer en wildekanferfoelie, en beduie na die Checkers-sak langs die bank.

      Sy wikkel haar vingers in latekshandskoene, hurk, maak die sak oop, loer in. ’n Bedompige walm tref haar en sy draai haar gesig weg. Kom orent, stroop een handskoen af en strompel by die kanfer verby na die kruisement, kneus ’n blaar tussen haar vingers en asem die geur diep in.

      Sy trek weer die handskoen aan en gaan staan langs Jimmy. “Beslis nie vars voete nie, nè? En is hulle gemummifiseer? Is dit hoe­kom hulle so swart is?”

      “Ja, vier mummie-voete,” sê hy met ’n omkyk na die ander