Chris Karsten

Die verdwyning van Billy Katz


Скачать книгу

      Fok jou ook! En hardop: “Ons het nog forensiese manne hier nodig. Ek sien nie ’n worsteling nie, behalwe in sy bed. Die bedde­goed sal onder UV ondersoek moet word vir vlekke en hare. Dalk het hy sy aanvaller of ontvoerder geken en hom ingelaat. Daar kan van sy hare op ’n sitplek wees, en vingerafdrukke. Forensies kan my help met ’n prent.”

      “Prent?” blaf Steyn. “Watse fokken prent?”

      “’n Prent van Billy se leefwyse en roetine en veral besoekers. En hou op om alles te bevraagteken wat ek sê. Of sal ek vir die briga­dier gaan sê jy wil eerder na klein Billy Katz soek?”

      Lyk of Steyn gaan verstik. “Jou … jou klein kak, jou tjank trap ek nog af!”

      By Katz Transport in Midrand weet Lionel Katz nie meer as sy ma nie. Billy is beslis nie op Plett nie, sê hy, die polisie het al gaan kyk, die huis is stil. Hy weet ook nie of sy broer vyande het nie. En nee, hy glo nie dis ’n ontvoering vir ’n losprys nie. Sy pa ook nie, hulle het oor so ’n moontlikheid gepraat. Nee, sy pa is nie beskikbaar nie, sy pa weet nog minder as hy. Billy en sy pa het nie ’n besonder hegte verhouding nie, Billy is eerder sy ma se kind.

      Lou tik sy verslag vir Steyn op sy groen Remington, faks Billy en die Porsche se beskrywings en bel Julia die flirt se nommer. Niemand antwoord nie. Geen antwoordmasjien nie.

      Hy wonder hoe sy lyk, veral tussen Billy se deurmekaar lakens.

      Die volgende dag bel hy weer. Steeds nie antwoord nie. Hy sal nog ’n dag wag en Steyn dan vra vir ’n lasbrief sodat hy haar adres deur die foonnommer kan opspoor.

      Hy’s nuuskierig om te hoor wat Forensies alles in Billy se plek gekry het, hoeveel verskillende vingerafdrukke, hoeveel verskillende hare in sy bed, watse liggaamsvloeistowwe aan sy lakens – dié op sy bed sowel as die lakens in die oorvol wasgoedmandjie.

      4

      Vanaand kyk Mona en haar kinders na Episode 2 van hierdie nuutste toevoeging tot hulle versameling tuisflieks. Hierdie nuwe video is ’n lang opname, 195 minute, en daarom in twee episodes ver­deel.

      Die eerste episode – van die hart wat uitgesny en die hand wat afgesaag word – is presies 93 minute, so lank soos Mahler se Sim­fonie Nr. 2, ook genoem die “Wederopstanding”. Heidi het dit as agtergrond­musiek gekies; uitgevoer deur die New Yorkse Filharmo­niese Orkes, met Bernstein as dirigent. Die tweede episode is 102 minute, die duur van Mahler se Simfonie Nr. 3. “Pan se ont­waking” lei die eerste beweging in van dié uitvoering deur die Weense Filharmoniese Orkes, met Abbado as dirigent.

      Die Pottas-gesin se tuisflieks is ’n tradisie wat haar pa begin het. Hy het destyds ’n Bell & Howell Zoomatic gebruik om hoogtepunte in die gesin se lewe te dokumenteer, en Mona bewaar die ou kamera nog steeds in haar porseleinkas, saam met al die opnames, insluitend die heel eerste een van haarself, toe sy so nege, tien jaar oud was. Daai ou 8 mm-Kodachrome-film van drie minute was klankloos, die kleur uitgewas, die terugspeel flikkerend en horterig oor die projektor se ratjies. Sy het dit ’n paar jaar gelede laat digitaliseer en die kleur elektronies laat verskerp, saam met al hulle ander ou tuisflieks op film en later videokasset.

      Ná haar pa se dood het sy op vyftien oorgeneem en heel be­drewe met die ou Zoomatic voortgegaan om die hoogtepunte (en soms ook laagtepunte) van hulle lewe te dokumenteer. Die Zoomatic is mettertyd vervang deur videokameras, en Vera het later die kamera­werk oorgeneem.

      Vir hierdie nuwe video het Vera hulle nuwe, gesofistikeerde digi­tale Sony Handycam HDR-CX520V gebruik en ook self die klank gemeng. Heidi het die teks geskryf.

      Vera se vertellerstem gee eers ’n inleidende oorsig van die preservering van menslike liggame. Sy noem die voorbeeld van Chili se Chinchorro’s wat al in 5000 v.C. stamlede gebalsem het – 2000 jaar voor die Egiptenare dit met die farao’s begin doen het – en haal aan uit Boek II van Herodotus se geskiedskrywing, waarin die Egiptiese proses van mummifisering in besonderhede beskryf word. En so voort tot by die meer moderne balsemings, beskryf spesifiek die gevalle van Lenin, Mao en Ho Chi Minh.

      Terwyl die musiek vervaag en die kameralens by die glas­deure van muurkaste inloer na spesimenflesse gevul met organe in forma­lien, vertel Vera hoe almal – van primitiewe anatome tot moderne balsemers – nog altyd dieselfde probleme met preser­vering ervaar. Organe, ook ’n hele liggaam, kan gedehidreer en daarna met natuurlike of chemiese middels behandel word om putrefaksie teen te werk, maar selfs in die mees ideale om­stan­dig­hede vind aftakeling uiteindelik plaas. Dieselfde geld nat chemiese preser­vering, by­voor­beeld die tipiese breine en aapembrio’s in laboratorium­flesse. Dit begin stink, verloor kleur, tekstuur en vorm, en disintegreer oplaas.

      Die ideaal is dus ’n proses waarin organe en liggaamsdele, selfs volledige liggame, steriel, reukloos en sonder die risiko van ont­binding vir ewig bewaar kan word. En nou is daar presies só ’n unieke metode van preservering. Nie meer heeltemal so nuut nie – die instituut vir plastinasie is reeds in 1993 in Heidelberg, Duitsland, gestig. Patentregte word wêreldwyd beskerm, en buite Duitsland is daar net enkele mediese skole waar dié soort polimeer-preservering in anatomie-laboratoriums gedoen word.

      “Soos hier gesien kan word, eksperimenteer Heidi nou ook daar­mee in ons eie laboratorium,” vertel Vera se stem. “Nou is dit nog net ’n hart en ’n hand, maar binnekort wil sy ’n volledige liggaam so preserveer.”

      Mona se gedagtes begin dwaal, sy verloor die draad van die ver­telling, die TV-skerm word wasig, Vera se stem net ’n ruising.

      Haar maag ruk.

      Hier kom dit. Sy weet, sy weet …

      Dis soos migraine, selfs met tipiese migraine-simptome: die naarheid, die lig en klanke en reuke wat sy nie kan verduur nie, die polsende pyn wat haar mal maak. Maar dis nie migraine nie, is die dokter se diagnose; dis simptomaties van moontlik angs, van iets sluimerends in haar brein wat skielik gewek word om haar liggaam te teister.

      Sy hóór dit en klap haar handpalms oor haar ore, al weet sy dit help nie, al weet sy dit kom nie van buite nie, maar van binne, met áltyd dieselfde versreël wat deur haar brein hamer en die slapende ding wek: It eats the brittle bone by night and the soft flesh by the day …

      Dit vreet ook aan haar gemoed en hart, dit maak haar rasend, dit bring ’n verstikkende benoudheid in haar bors, verstop haar keel sodat sy nie kan asem kry nie, sodat dit voel of die are in haar voorkop wil bars, of haar oë begin opswel, en haar neus en tong sodat sy blind en stom word en nie om hulp kan roep nie.

      Sy staan op, strompel by die TV-kamer uit. In haar badkamer bring sy bitter gal op, spoel koue water oor haar gesig, sluk twee naratriptans. Sy gaan lê op haar bed met ’n koel, nat waslap oor die oë, die verwoede kopseer wat tussen haar oë klop, klop, klop. Só erg dat sy later nog ’n pil drink.

      Toe sy wakker word, is dit ná middernag. Sy lê lank so met geslote oë, nog steeds met ’n vae naarheid en dowwe klopping. Maar sy voel beter, haar kop is helderder. Dis nie daai versreël wat die aanvalle veroorsaak nie, die reël is bloot ’n waarskuwing oor wat kom; die versreël is haar prodroom, want nou kan sy die hele stansa onthou, en dis tog onskadelik, want kyk, niks gebeur nie:

      And all the while the burning lime

      Eats flesh and bone away,

      It eats the brittle bone by night,

      And the soft flesh by the day,

      It eats the flesh and bones by turns,

      But it eats the heart alway.

      Sy kon vroeër groot dele van dié hele lang ballade opsê. Sy onthou sulke fragmente van baie gedigte in Afrikaans én Engels, selfs Duits. Dis die voordeel (soms nadeel) as jy ’n onderwyseres was.

      Ten minste was sy gekwalifiseerd om vir Rakker tuisonderrig te gee, want die optelkind was mos nie welkom in hulle skool of kerk nie – nie met sy agterstand, gebreke en veral velkleur nie. Sy’t hom naas skryf en somme ook gedigte geleer om sy trae verstand en geheue te prikkel en te ontwikkel. Maar net in Afrikaans, om hom nie verder te verwar nie.