Chris Karsten

Die verdwyning van Billy Katz


Скачать книгу

Ella, dis Stink Attie Kieser!”

      Stallie hou voor die lendelam hek stil. Sy klim uit. Stallie stoot die hek oop en hulle stap na die donker stoep. Sy klop en staan opsy, weg van die deur af, Stallie oorkant haar.

      Sy leun deur toe en klop weer, harder.

      Trekking van maagspiere toe sy die voetstappe binne op die hout­vloer hoor aankom. Hand klem om die Beretta se kolf.

      Die stoeplig gaan aan, deur gaan oop.

      “Hoesit!” sê die benerige vent met die slierterige hare en gaping waar ’n voortand was.

      Sy herken hom aan die polisiefoto’s. “Meneer Attie Kieser?”

      “Dissy, yours truly. En julle is die cops, Breggie het gesê julle soek my. Hoe kan ek julle help met julle case?”

      Stallie tree vorentoe. “Kom, laat ons ry.”

      Attie deins terug. “Ry? Whoa. Stop. Waarheen ry?”

      “Moord-en-roof toe. Vir jou onderhoud met warrant Neser. Dis haar saak.”

      “Watse saak? Hoe moet ek help?” protesteer Attie.

      “Kom, dis ’n formele onderhoud,” sê Ella. “Ek sal alles mooi ver­duidelik, seker maak dat jy jou regte verstaan.”

      “Ek ken julle cops. Julle praat van interview, maar eintlik is dit police brutality.”

      Stallie gryp hom aan die arm. “Moet ek jou boei? Wil jy in die kattebak ry?”

      Stallie hanteer die video-opname van agter die eenrigtingglas en sy begin met die onderhoud. Dis wat dit genoem word; streek­kom­missaris Pitso duld nie politiek inkorrekte woorde soos “onder­vraging” in sy polisiearea nie.

      “Die tyd is 22:36. Die plek is Onderhoudkamer 3, Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdaad, Brixton, Johannesburg. Teenwoordig is adjudant-offisier Ella Neser en Atticus Petrus Kieser, aka Attie Kieser, aka Stink Attie, ’n ooggetuie en/of verdagte in saak MAS 82/04/15.”

      Attie sweer op sy goeie woord van eer en dié van al sy voorsate dat hy in sy hele lewe nog nooit sy voete in enige botaniese tuin gesit het nie. Hy weet ook niks van enige Checkers-sak nie, hy koop by Spar.

      Ella sukkel om die spartelende rotogies vas te vang. “Wat van jou afdrukke op die sak?”

      “Is geplant!”

      “Wie sal dit plant?”

      “Die poelieste!”

      “Hoekom sal hulle so iets doen?”

      “Ek ken hulle, hulle doen weird goed, enigiets om jou te vang.”

      Sy sny met ’n voorvinger oor haar keel vir Stallie agter die spieël en sien hoe die kamera se rooi liggie uitdoof.

      “Luister, Attie, voor ons aangaan, laat ek dit reguit vir jou sê: Ek het baie tyd vir hierdie onderhoud, g’n man of kinders wat vir my wag nie, ek het niks anders om te doen nie. As dit nodig is, sit ek en jy vir sewe dae en sewe nagte hier, sonder slaap. Of liewer, ék sal so nou en dan bietjie gaan skuinslê, nie jy nie. Iemand met minder geduld sal die gesprek kom oorneem wanneer ek moeg is. So, jy gaan nie veel ruskans kry nie.”

      “Dis oukei, warrant, ek’s nie eintlik ’n groot slaper nie, in die joint leer jy af om te slaap.”

      “Dan’s dit gaaf, Attie, want een van die ander ondervraers is ook nie ’n groot slaper nie. Sersant Beneke. Was glo ’n goeie slot. Voor ek gebore is. Die sarge sal kom oorneem wanneer ek bietjie rus. Hy martel nie, verstaan goed, want martel is teen die wet. Maar die sarge het ander maniere. Mense wat weet, sê dis erger as martel. Die sarge is bietjie outyds, en bietjie swaarmoedig van geaardheid. Ken jy die Briels, Attie, al van hulle musiek gehoor?”

      “Nee, warrant. Ek like Die Antwoord, ‘Fatty Boom Boom’ en ‘Cooky Thumper’ en so.”

      “Die Briels stamp nie koekies nie, hulle sing goed soos ‘’n Traan van droefheid’ en ‘Drie wit kissies’. Jy sal die sarge later smeek om jou terug te vat Leeuwkop toe. Die sarge like die Briels, hy speel dit hárd, sonder einde. Maak jou mal, jy wil later van droefheid die mure uitklim en hom …”

      Attie sit ineens regop, die swart ogies stip op haar. “Wat bedoel jy met terugvat, warrant?”

      “Volgende week, terug in die tronk. Jy’t jou paroolvoorwaardes verbreek. En ek ondersoek ’n saak van moord, ek het nie tyd vir jou nonsens nie. As jy nie met my wil praat nie, dan praat jy met Beneke en die Briels.”

      “Wait a fucking second, warrant!”

      “Nee, jý wag. Ek het jou aan die begin mooi gevra om nie te vloek nie. As jy aanhou vloek, gaan sluit ek jou nou toe sodat jy kan afkoel.”

      “Sorry. Maar moord, warrant? Is ek ’n murder suspect?”

      Sy lig haar hand en sprei haar vingers oop. “Vier moorde.” Sy staan op. “Dink bietjie oor jou toekoms, Attie. Besluit of jy met my wil praat of nie. Sien jou later.”

      Sy stap uit, sluit die deur en gaan sit by Stallie, hulle oë op Attie.

      Sy gee hom ’n kwartier, en toe sy weer oorkant hom gaan sit, sê hy: “Warrant, ek sit so alleen en dink, toe val iets my by.”

      “O, jy begin jou geheue terugkry?”

      “Ja, dis wat gebeur. Dis nie dat ek lieg nie, dis net … ek het ’n medical condition, my geheue is nie lekker nie, jy weet, dis daai Duitse siekte.”

      “Goed, kom ons begin van voor af. Jy praat, ek luister. Wag net ’n oomblik.” Sy wys duim-op vir Stallie en sien die rooi liggie aangaan.

      “Oukei, Attie, laat ek hoor.”

      “Daar was ’n ander sak.”

      “Jy bedoel ’n tweede sak? Waar’s dit?”

      “In my kamer. Breggie se huis.”

      Sy kyk na die spieël en sny weer met haar voorvinger oor haar keel.

      Hulle ry met Attie terug Albertskroon toe.

      Die blou gimsak staan op die onderhoudkamer se tafel. Lululemon Duffel, en duur. Sy het ook een, maar rooi en effe kleiner, ’n Apera Sling.

      Met rubberhandskoene aan rits sy dit oop. ’n Vae blomgeur van potpourri ontsnap. Sy loer in, wil nie die inhoud versteur voor Fo­ren­sies dit ondersoek het nie. Nee, dis lankal reeds versteur; Stink Attie sou tog nie sý lang vingers van die inhoud kon afhou nie.

      Die klere lyk alles nuut. Die prysetikette is afgeknip, maar die nylon­stukkies is net so gelos. Niemand het die klere gedra nie, dus geen spoorelemente nie – geen hare, sweet, spoeg of ander liggaams­vloeistowwe, geen epiteliale selle van die vel of ander weefsel wat DNS kan oplewer nie.

      Sy besluit om tog die inhoud te ondersoek, moet weet wat in die sak is voor sy Attie verder kan ondervra. Buitendien dokumenteer Stallie alles met die videokamera.

      Sy lig die items een vir een met haar vingerpunte uit. Sit ’n poeier­blou handdoek op die onderhoudtafel neer. Dan ’n blou oefen­bra. Swart jogabroek. Wit sokkies. Alles Lululemon. Wit-en-blou vrouetekkies, Nike. ’n Potpourri-sakkie.

      Iemand wat van blou hou, het gedink potpourri is ’n goeie manier om die reuk van gedroogde voete te verdoesel.

      “Die tyd is 23:54. Onderhoudkamer 3. Onderhoud word hervat, adjudant-offisier Ella Neser met Atticus Petrus Kieser, aka Attie Kieser, aka Stink Attie, ’n ooggetuie en/of verdagte in saak MAS 82/04/15.”

      “Oukei, Attie, kom ons begin weer voor, vir die derde keer. Waar’t jy hierdie sportsak gekry?”

      “Opgetel.”

      “Jy bedoel dit staan verlate iewers, toe tel jy dit op?”

      “Exactly! En hoe sê hulle van optelgoed is pisgoed …”

      Sy leun vorentoe. “Hei! Stop