Chris Karsten

Die verdwyning van Billy Katz


Скачать книгу

dit net die seksuele frustrasies waarvan ou Freud praat?

      Haar foon lui. Sy bekyk dit. Is dit weer hy? Sélf die vingers afgeknip, liewe herder!

      Sy tel op. “Ja, Neser hier?”

      “Julies hiér. Kaptein Julies. Jimmy vir sy vriende, en solo­tenoor …”

      “Jy’s boonop ’n sanger, Jimmy?”

      “In die kerkkoor van die Eerste Independente-gemeente. Klink nie of jy sover ’n goeie dag het nie, dalk kan ek dit bietjie op­helder. Ons het afdrukke gekry aan die Checkers-sak – van ’n duim en voor­vinger. Ek weet dis min, maar dis iets.”

      “Dis goeie nuus, ek voel klaar beter. Dis nie dalk die voëlman s’n nie … meneer Hattingh?”

      “Nee, en die nuus word beter. Ek het dit vir AFIS gevoer, en nou kan jy maar Halleluja!”

      “Jy’t ’n match gekry?” Dankie tog vir die Automated Fingerprint Identification System.

      “Ja, die duim en wysvinger pas by ’n tienvinger-afdruk wat ons lankal op AFIS het, van die lang vingers van ’n ou kalant, onder vriend en vyand bekend as Stink Attie Kieser. Met ’n misdaadrekord van omtrent net twee bladsye korter as Crime and Punishment.”

      In die elektroniese argief bekyk Ella hierdie indrukwekkende in­ventaris van leeglêery, dronkenskap, openbare onsedelikheid, van ’n jong daggaroker wat dwelmsmous word, kleindief wat vorder tot sakkeroller en grypdief, met tussenin ’n paar kar-inbrake. Dis ’n CV wat strek van Stink Attie se twaalfde verjaardag tot nou, sy twee-en-veertigste jaar, in en uit die tronk. Lyk of hy sy MO die laaste jare verfyn het. Hy hang nou by winkelsentrums rond op soek na sagte teikens wat hy van inkopies en/of handsakke kan verlos. Die beeld wat by haar opduik, is van ’n wildehond wat die trop geduldig volg, op ’n veilige afstand, om die mank of sieklike ou bok uit te soek.

      Uit die rekords blyk dit Stink Attie se prooi is deesdae byna uit­sluitlik ouer vroue. Dit blyk verder dat hy ten minste twee adresse het. Sy semi-permanente domisilie per adres Medium A-seksie, Leeuwkop-plaastronk, Bryanston. En wanneer hy nie daar is nie, opereer hy van sy suster se huis in Albertskroon, Johannesburg.

      Breggie van Albertskroon is nie meer in die fleur van haar lewe nie; lyk of sy laas op skool in haar fleur was. Ella skat haar iewers tussen veertig en sestig. Sy sê sy soek vir Attie, hy kan haar help in ’n ondersoek, en nee, sy kan nie sê watse ondersoek nie. Waar is Attie?

      Breggie sê haar jongste boetie is nie juis huisvas nie en hy lig haar ook nie eintlik in waar hy elke dag sy eerlike brood gaan verdien nie, soms by verkeersligte, soms by winkelsentrums. Sy weet reg­tig nie waar hy is nie, cross my heart and hope to die, en suig haar sigaret tot ’n woedende rooi kool. Voeg dan in ’n walm rook by: haar boetie is arm maar eerlik, daarom vat hy enige werk, pas karre op, was karre se ruite, verkoop robbies by robots, stoot ou anties se trollies vir hulle.

      Breggie bied bokswyn aan. Ella skud haar kop en kyk hoe Breggie haarself uit die tapkraantjie help met ’n stewige maat van iets wat soos suur piepie lyk en ruik, en waaraan sy dan dorstig sluk en haar lippe smak. Ja, sy hét vir Attie gevra oor sy parool. Hy sê hy gaan meld hom stiptelik by sy paroolbeampte aan, het genoeg van die joint gehad, wil nie teruggaan Leeuwkop toe nie.

      Alles die lewe se skuld, nie Attie s’n nie, sê Breggie met lippe wat pap en nat om die sigaret se filter vou. Dis die lewe wat hom soontoe dryf, vir hóm wys die wêreld mos net sy gatkant. Hy’s eintlik goed van inbors, net onder die invloed van verkeerde vriende, en dié draai elkers sy slap armpie verkeerde kant toe. Maar sy moet tog na hom omsien, hy’s mos bloed van haar bloed.

      Ja, ja, sal dadelik bel as Attie ’n slag huis toe kom, cross my heart.

      Ella hoor niks van Breggie nie en die paroolbeampte sê Attie is on­gereeld met sy aanmeldings. Daarom sit sy en Stallie nou al die vyfde agtereenvolgende aand straataf van die huis in Albertskroon en wag. Maar steeds geen spoor van Stink Attie nie.

      Natuurlik sou Breggie haar boetie uitgevra het oor hoekom ’n speurder hom dié slag soek. En net die woord “poelieste” sou ’n klapper onder hom aangesteek het om gat skoon te maak. Dis hulle manier, ’n soort dierlike instink van veg of vlug, meestal vlug.

      Die gewag gee haar kans om Stallie te pols. Hy’s mos nou sersant Stalmeester; hy’t bevordering gekry, sy nie. “Wat’s fout met my, hè, Stallie?”

      “Oor wat? Oor jy bang is? Of oor jy nie ’n lover kan kry nie?”

      Sien, daar som hy die tweeledige probleem presies op, kort en kragtig. Ken haar beter as wat sy haarself ken, want hulle is kollegas én pelle. Is elke oggend saam in die gim, sy in haar swart spandex, sy knypgatjie in ’n perse.

      Bang. Hy’t haar skielike gebrek aan selfvertroue raakgesien voor sy dit self agtergekom het. Nie eens die traumaberader het dit só sekuur gediagnoseer nie. (Dank die Vader daarvoor, anders was sy nie afgeteken nie.) Haar vrees vir die onsekerheid, dís die ergste. Hoe gaan sy optree wanneer sy weer oog tot oog voor die volgende reeksmoordenaar te staan kom? Gaan sy veg, of vlug soos Attie? Haar aard sê veg, haar instink vlug. Dis vir haar ’n vreemde instink en dís waarom haar selfvertroue moer toe is. Vroeër sou sy King Kong aanvat.

      Maar dis nie eintlik waaroor sy met Stallie wil praat nie.

      “Ek soek nie ’n lover nie, Stallie, ek soek net geselskap – ’n goeie man s’n. Ek meen, jy’s ’n goeie man, rêrig, maar jy’s nie die soort wat kortasem raak oor ’n rok nie.”

      “Jy dra nie rokke nie.”

      “Ek het probeer.”

      “Vir omtrent ’n dag lank, ja.”

      “Stallie! Rok is nie die punt nie. Die punt is ónder die rok.”

      “So, jy soek ’n lover. Dis mos wat ek sê.”

      “Ek kom op g’n plek of okkasie waar ek dalk sulke mans kan ontmoet nie. Ek’s ’n dêm kluisenaar. Die opwindendste sosiale ge­beurtenis in my lewe is wanneer Mara my nooi vir vleis, rys en aartappels, of as jy my saamvat Pink Flower toe. Ek’s nie on­dankbaar nie. Nee, dis net . . dis nie juis plekke waar ek die man van my drome gaan ontmoet nie, of hoe? Dink jy mans sien my nie raak nie? Dit voel of hulle óór my kyk, of déúr my. Is ek só seksloos?”

      Hy tik teen sy slaap. “Kopskuif, dis wat jy nodig het, Ellatjie. As jy nie self dink jy’s sexy nie, gaan niemand anders so dink nie. Gaan koop iets skandaligs, ’n regte dekadente onderdingetjie. Paradeer daarmee voor die spieël en verbeel jou dis Bam wat na jou kyk, of daai ander ou … Wat’s sy naam nou weer?”

      “Jy bedoel Milo?”

      “Ja, Milo. Ek hou nie van rugbyspelers nie, maar sou nie omgegee het om Milo Pink Flower toe te vat nie.” Hy wys na Breggie se huis. “Daar’s nou ’n kar. Is dit ’n Beetle?”

      “Ja.” Sy voel skielik die polsslag in haar keel terwyl sy kyk hoe die bestuurder uitklim om die hek te gaan oopmaak.

      Sy sit haar hand op haar holster. “Hy kan gewapen wees.”

      “Gewapen? Attie Kieser?”

      “Jy weet nooit.”

      Hy snork. “Nie daai vent nie.”

      Hulle kyk hoe die Volksie langs die huis inry.

      “Sulke mense kan desperaat wees,” sê sy. “Hulle sal enigiets doen om nie terug te gaan tronk toe nie.”

      Die karligte word gedoof, die donker figuur klim uit en sleep die hek toe.

      “Hy’s g’n desperaat nie.” Stallie draai die aansitter.

      “Hy loop met vier voete in ’n dêm sak rond, Stallie. Hy kan van sy trollie af wees en op ons begin skiet.”

      “Jy’t self sy rekord gesien, hy’t nog nooit enige soort wapen ge­bruik nie. Hy’s ’n patetiese kleindief, nie ’n geweldenaar nie.”

      “Wel, ek vertrou hom nie. Waar kry hy die