Chris Karsten

Die verdwyning van Billy Katz


Скачать книгу

met die Checkers-sak binne-in? En hoe lyk daardie eienaar?

      Stink Attie knoop sy wenkbroue, bestudeer lang, vuil vinger­naels, die tatoes op sy kneukels, krap aan twee dobbelstene op die rug­kant van ’n hand: dubbelsesse; so, Attie beskou homself as ’n gelukkige man. Kyk op na haar. “Vrou. Jongerig.”

      “Hoe oud is jongerig? Ouer as ek, jonger as ek?”

      Sy verslete gesig plooi dieper. “Omtrent dieselfde.”

      “En? Moenie dat ek dit so uit jou uittrek nie. Kleur van haar hare?”

      “Donker, amper swart.”

      “Kort of lank?”

      “Kort.”

      “Sal jy haar gesig vir die polisiekunstenaar kan beskryf?”

      “Vir ’n identikit? Maybe. Maar as ek werk, kyk ek nie eintlik na gesigte nie.”

      “Ja, jy kyk na wat jy kan gryp. Komaan, Attie, as jy jou teikens uitsoek, is jy tog oplettend. Gee vir my detail. Dra sy ’n bril? Is haar gesig skraal of mollig? Is haar neus skerp of rond? Is haar lippe dun of vol? Is haar ken skerp of plat? Hoe lyk haar hare – krulle of steil? Haar klere – langbroek, rok, romp, bloes? Hoe lyk haar liggaams­bou – kort, lank, maer, geset? Jy sal tog na ’n jongerige vrou se lyf kyk, jy’s mos nie ’n klip nie.”

      Hy kyk na haar, flitsende ogies vir ’n oomblik stil. “Wat kry ek?”

      “Jy kry ’n goeie woordjie by jou paroolbeampte.”

      Hy sug diep. “Sy’s langerig en maerderig. En sorry en askies dat ek dit sê, warrant, maar sy’t bietjie agter in die queue gestaan in daai department, soos die warrant self …” Hy skulp vuil palms voor sy bors en laat sak sy oë kuis. Voeg skalks by: “But the rest is not bad, warrant, not bad at all.”

      Wie se res, die warrant s’n, of die slagoffer s’n? En sy kan haar voorstel hoe Stink Attie en sy mede-inwoners tydens sy volgende verblyf in Leeuwkop se Medium A ’n sekere moordspeurder se gebrekkige departement gaan bespreek.

      “Beskryf haar klere.”

      “Lang skirt, blou top … nee, langbroek en wit top.” Skud sy kop, gooi sy hande in die lug. “Ek’s confused, warrant. Ek was eintlik agter iemand anders aan, ’n ouerige antie met ’n trollie. Hierdie een het skielik voor my uit ’n jeweller gekom, amper teen my vas, jy weet. Kyk nie links of regs nie, met daai blou sak.”

      “Toe los jy die antie met die trollie vir die jonger een wat by die juwelier uitkom. Veel beter buit. En toe?”

      “Sy gaan sit by een van daai eetplekke wat in die pad is van alles, waar jy om die tafels moet loop om by die shops uit te kom. Sit daai blou sak langs haar stoel op die vloer, order tee, drink haar tee, sit geld in ’n bordjie, staan op en loop weg. Los die sak net daar. Wat moes ek doen, hè, warrant? Sy tempt my mos om dit te gaan vat.”

      “En dis presies wat jy toe doen – gryp die sak en maak dat jy wegkom. Waarheen?”

      “Uhm, Botanical Gardens toe. Dis lekker daar, ek like dit om daar te gaan relax.”

      “So, jy hét al jou voete in ’n botaniese tuin gesit.”

      “Uhm, ja, dis daai siekte wat my so confuse, warrant. Ek zip die sak oop, dog eers: twee vir die prys van een, dude, vandag is jou fokken lucky day.”

      “Attie!”

      “Sorry, warrant – uitgeglip, kan dit nie altyd keer nie, ánder medical condition, daai Franse siekte. Anyway, ek trek die Checkers-sak uit en maak dit oop. Fok … ek bedoel, moer … voete! Smyt dit net daar neer, maak gat skoon … Dis nie vloek nie, warrant, dis ’n expression.”

      “Maar jy skrik nie so groot dat jy die gimsak vergeet nie, nè? Wat het jy nog gekry? Juweliersware? En moenie weer vir my begin lieg nie.”

      “Nee, ek sweer, net die klere, my word of honour, warrant. Dis al wat in die sak was.”

      “Wat’s die naam van die juwelier en die koffiewinkel?”

      Lyk of hy diep dink. Sy sien dit aan die rooi oë wat wil omdop, binne toe wil kyk, na al sy sondes. Hy skud sy kop. “Nee, kan nie onthou nie. Dis daar op daai tweede level, jy sal dit kry.”

      Tweede verdieping. Ja, sy weet waar dit is, dis die juwelier naby The Fitness Shop waar sy ook haar sportklere koop. Sy weet ook van die koffieplek, het al daar koffie gedrink. En sy het die datum toe Attie die sak “opgetel” het: Maandag 6 April.

      Wat alles beteken dat as die vrou met ’n kredietkaart of tjek vir die oefenklere betaal het, kan sy nog ’n deurbraak maak, kan sy dit onder die kolonel se neus gaan druk, vir hom sê sy is al besig om haar sit te kry op daardie perd, moet nog net die vrou opspoor en inbring vir ’n onderhoud – daardie mooierige, langerige, skralerige, jongerige vrou met die korterige, steilerige swart hare en kleinerige borsies, geklee in ’n langbroek (of lang romp) en blou bloes (of wit bloes), sonbril op die kop.

      Sy kom ná twee in die bed, die wekker gestel om Stallie sesuur by die gim te kry.

      Daarna moet sy by eksspeurder Pepler in Linden ’n draai gaan maak; die kolonel wou al weet of hulle notas uitgeruil het. Ten minste het Pepler nie in sy ore gaan kerm oor sy haar sogenaamd gewip het nie.

      6 : OKTOBER 1993

      Hierdie Sondag is hy af en Lou bring die papierwerk vir sy dossiere op datum. Veral die Billy Katz-een. Daar is al hoe meer druk van bo af. Mens sou sweer dis ’n hoëprofielsaak, sluipmoord op ’n minis­ter of iets, nie net ’n klein losbol wat weggeloop het nie. Héél bo druk Gladys Katz haar man se generaal-tjom, die generaal druk die brigadier, die brigadier druk die kaptein, die kaptein skyt op die sersantjie.

      Tussendeur braai hy vier tjoppies onder die prieel, ook ses groot portobello-sampioene gevul met feta en basiliepesto. Hy sit op sy opvou-strandstoel, eet sy tjoppies en sampioene en die oorskiet-aartappelslaai wat hy in sy kroegyskassie ontdek het. Hy het nie ’n kroeg nie en drink nie alkohol nie, maar die yskassie pas sy behoeftes. Hou nie eens melk aan nie, eet nie goed soos Weet-Bix en Rice Krispies nie; eet sampioene vir brekfis, saam met eier op roosterbrood. Baie gesonder. En hy drink sap.

      In die yskassie is ’n paar eiers, ’n oopgemaakte blikkie katkos, boerewors in die vriesgedeelte. (Steak en tjops koop hy soos beno­dig vir ’n af Sondag.) Die res van die yskas is gepak met sampioene, enige eetbare soort vir enige tyd van die dag of nag, en met die bestanddele vir sy versapper: beet, wortels en seldery, afgewissel met beet, wortels en appels, afgewissel met beet, wortels en kom­kommer, afgewissel met beet, wortels en pynappel, afgewissel met beet, wortels en gemmer. Suurlemoen na smaak.

      Ná die tjops en sampioene hou Billy Katz hom tot laatmiddag besig. Toe hy die lêer toemaak, lê die son laag, die prieel in skadu. Die loom ure van die Sondag het aangebreek. Sy stiltyd. Hy kyk na Kandas, dié begin lui spin toe hy hom met ’n groottoon in die lies kielie. Sy volle naam is eintlik Kandas die Tweede. Die eerste Kandas is ontvoer. Hy weet presies wie die ontvoerder is, maar hy kan niks daaraan doen nie.

      In die kombuis gooi hy kookwater in ’n beker en dompel ’n rooi­bos­sakkie daarin. Hy skep van die salm-in-jellie in Kandas se eetbak en gooi vars water in sy drinkbak. Maak die dossiere en lêers bymekaar en druk dit in sy ou leersak, reg vir werk môre.

      By die eettafel beloer hy die inhoud van die vrugteflesse; canned-fruit-bottels, het sy ouma die Consols genoem. Die nuwe mushie-oes lyk pragtig, g’n skimmel nie, en die eerste vruggies begin knop maak.

      Hy meet ’n groot lepel heuning in die teebeker af, dan vier knippies droë mushies uit ’n ander, kleiner glasbottel, dié een ’n Mason, nog so kwart vol, genoeg tot die nuwe oes gedroog kan word. Net ’n paar gram op ’n slag is genoeg om die goeie allitererende tweeling in die tee los te laat: die psilocybin en psilocin wat sy kop moet diens.

      Hy druk die Grateful Dead se In the Dark in die kassetspeler. “I will get by, I will survive …” Gaan sit met sy tee op die ou sofa