Chris Karsten

Die verdwyning van Billy Katz


Скачать книгу

Sy staan op en stap nader. ’n Reeks botaniese skilderye, soos teksboek-illustrasies van die swamfoto’s by Ontvangs.

      “Jy hou van paddastoele, nè?” sê sy oor haar skouer.

      “Paddastoele?” sê hy. “Ja, dis my beskeie kunsversameling. Helaas net Charles Peck en Mary Banning, nie Monet nie. Waterverf en gouache van nederige fungi. Sampioene is eintlik makrofungi – en dis sampioene, nie paddastoele nie.”

      “Dankie vir die lesing.”

      In die rak is ook boeke daaroor: Psilocybin: Magic Mushroom Grower’s Guide; Psilocybin Production; Psilocybin Mushrooms of the World; The Mushroom Cultivator: A Practical Guide to Growing Mushrooms at Home.

      “Jy klink na ’n paddastoel-ekspert.”

      Hy aarsel vir ’n hartslag. “Dit was my stokperdjie. Jare lank my eie sampioene gekweek.”

      “Myne koop ek sommer in die supermark.”

      “Ek ook – chanterelles, buttons, portobello’s, en as ek geld het, truffels en matsutakes. Maar my spesialiteit was Psilocybe cubensis, en hom kry jy in g’n supermark nie.”

      Wat haar meer interesseer as swamme, is sy boeke oor ou foren­siese pioniers. Lacassagne, Locard, Bertillon, Tardieu, Spilsbury en ander. Sy gaan sit weer, haar nuuskierigheid ’n bietjie bevre­dig, maar nie heeltemal nie. Hy dra nie ’n trouring nie, daar’s nêrens gesinsfoto’s nie, nêrens ’n troufoto of portret van ’n mooi vrou nie.

      “Ek’s nuuskierig oor jou liggame sonder liggaamsdele, meneer Pepler.”

      “Sonder vingers. En los die gemeneerdery, net my ryk klante noem my meneer Pepler. En net my ma en ouma het my Lourens genoem, bless hulle siele. Ek’s sommer net Lou.”

      Die trek om sy mond kan enigiets beteken. Lyk of hy dit geniet om haar tereg te wys. Sy hou nie van teregwysings nie, nie eens deur kolonel Sauls nie.

      “Vertel my van jou ou saak,” sê sy. “Hoekom bel jy ons daar­oor?”

      Die deur gaan oop voor hy kan antwoord, en hy maak plek vir Phumi se skinkbord. Die gemmerkat kom saam ingeslenter, en nie meer jonk nie. Tydsaam. Kom gee haar been ’n speelse skuur op pad om die lessenaar. Verskyn agter op Lou Pepler se stoel, spring op die breë vensterbank, kry sy sit, begin ’n uitgestrekte voorpoot was met lang, ritmiese hale van sy skurwe rooi tong.

      “Dis Kandas,” sê sy baas. “Kandas die Derde.”

      Op die skinkbord is ’n lang glas met vloeistof wat lyk soos dik, vars osbloed, en ’n koffiebeker met ’n geglasuurde skets van ’n polkakol-paddastoel.

      “Ek’s destyds aangewys om die verdwyning van ’n jong man te ondersoek. Dit het by hom begin en by ’n spul mummies geëindig.” Hy vat die glas. “Ek lees ’n forensiese antropoloog ondersoek jou voete. Al resultate gekry?”

      “Dis vertroulik. As ekspolisieman weet jy mos ek kan niks oor my ondersoek sê nie. Maar hoe kan jy my help?”

      “Ek het nie gesê ek kan jou help nie. Jy lyk mooi groot, jy kan jouself help, jy’t mos die reeksmoordenaar gevang wat almal so op hol gehad het. Jy was in die koerante, op TV, oral. Luitenant Neser sou beter geklink het, dit val lekker op die tong, beter as adjudant-offisier Neser. Sien, ek volg jou loopbaan met belangstelling, ek’s ’n groot fan van jou.”

      “Dankie, ek’t nie baie fans nie.” Sy sien sy blik op haar hande toe sy die koffiebeker oplig en effe op die skinkbord stort.

      Hy sluk diep aan sy osbloed. “Jy was amper self toontjies in die lug, nè?”

      “Kan ons oor iets meer tersaaklik praat, meneer Pepler?”

      “Aha!” Die wysvinger wikkel afwysend heen en weer. “Daar doen jy dit weer! Asseblief. Nie meneer nie.” Hy sit sy halfvol glas neer. “Is dit hoekom jou hande so bewe, nog die residu van daai trauma? Om ’n lewe te neem, selfs dié van so ’n boosaard, sit nie lig aan mens nie, nè, warrant?”

      Was hý al amper ’n slagoffer, het hý al iemand doodgemaak? Het hý al op ’n donker stoep gestaan, maag geknoop, lyf in sweet, reg om op enige skaduwee los te brand? Beetgepak deur ’n onredelike, onverklaarbare vrees. Nie vir patetiese Stink Attie Kieser nie, maar vir wat hy verteenwoordig, hy en sy soort, op daardie glyskaal van lieplapper tot psigopatiese reeksmoordenaar.

      “Goed … hmm, Lou. Wat presies is die storie van die vingers?”

      “Hoe oud was jy in ’93?”

      “Wat de hel het dit …”

      Hy keer met ’n palm. “Ek weet, ek weet. Jammer, dis ongepoets, ’n vrou se ouderdom is haar eie saak. Ek probeer jou net in die prentjie plaas, in ’93 toe ek Billy Katz se verdwyning ondersoek het.”

      Dis ’n ontersaaklike feit en hy hoef dit nie te weet nie, maar sy was toe ses. “Hoekom het jy die vingers afgeknip? En was hulle nog lewend toe jy geknip het, of was hulle darem al dood?”

      “Jy ondersoek glo vier slagoffers. Ek wonder hoe oud daai vier voete is, dis hoekom ek Silas gebel het. Daar’s steeds baie los drade aan my destydse ondersoek, want ek’s in die middel daarvan … uhm, onderbreek.”

      “So, jy dink daar kan ’n verband wees tussen my saak en jou oue?”

      “Ek weet nie. Dit sal darem net té toevallig wees, of hoe? Al is toevallighede en selfs mirakels statisties glad nie so skaars as wat mense dink nie. Volgens Littlewood se Wet ervaar elke mens een mirakel per maand.” Hy sluk die laaste osbloed, vee sy mond met die rugkant van sy hand af. “Aan die ander kant: wanneer laas het jy gehoor van vier gemummifiseerde voete wat in ’n plastiek­sak gekry is? Vra vir Silas. Ek wed jou hy’t nog nooit gehoor van ’n moordenaar wat sy slagoffers se voete geamputeer het nie.”

      “Ek kan nie eintlik sien hoe ek jou kan help nie. Buitendien, ek glo nie aan mirakels nie.” En wie de duiwel is Littlewood?

      “Ek dog net dit sal gaaf wees as ons bietjie gedagtes kan uitruil oor jou voete en my mummies. Dis hoekom ek oor die antropo­loog vra – ek wil weet wanneer jou voete gemummifiseer is, of hulle dalk uit die vroeë negentigs dateer.”

      “Hoeveel mummies het jy gehad?”

      “Vier, waarvan ek geweet het.” Hy loer na sy horlosie. “Dis mos hoe dit altyd gebeur: dit begin by een en eindig met ’n reeks. En voor jy jou oë kan uitvee, sit jy met ’n helse gemors.”

      “Wel, ek kan nie besonderhede oor my ondersoek gee nie, dis teen die …”

      ’n Klop aan die deur en Phumi se gesig verskyn. “Jammer, Lou, meneer Greyling is hier vir sy twaalfuur-afspraak.”

      Hy knik vir haar en die deur gaan toe. Hy staan op. “So, jy’s hier op ’n eenrigtingpad. Ek moet myne wys, maar jy wil nie joune wys nie?”

      Sy kom ook uit haar stoel op. “Het jy Billy Katz toe gekry?”

      “Dis vertroulik.”

      “Ek sal bel vir ’n ander afspraak,” sê sy by die deur.

      “Besluit eers hoe ernstig jy oor jou ondersoek is. Daarna besluit jy of ons mekaar iewers in die middel kan ontmoet. Anders, moenie bel nie, ek het nog nooit gunste en gawes gevra nie, en ek gaan nie nou daarmee begin nie.”

      9 : OKTOBER 1993

      Lou bel die Julia-flirt se nommer vir die soveelste keer sonder sukses. Hy stap na kaptein Steyn se kantoor en stel voor dat hulle ’n lasbrief probeer aanvra om haar adres te kry. Hy wil persoonlik gaan kyk wat by haar blyplek aangaan en haar oor Billy Katz uitvra voor die brigadier weer die horries kry – maar dit sê hy nie hardop nie.

      Vrydagoggend kom plak vetsak Steyn die lasbrief op sy lesse­naar neer, sê brigadier Otto het dit sélf laat aanvra. Lou haal net sy skouers op. Wat traak dit hom hoe ’n senior offisier die sisteem manipuleer? ’n Landdros teken so ’n lasbrief net as dit op goeie regsgronde gemotiveer