Chris Karsten

Die verdwyning van Billy Katz


Скачать книгу

iets anders sê as die mond; arms wat vou en ontvou; voet wat geïrriteerd tyd hou.

      “As jy net nog ’n flirtasie was, hoekom het hy jou aan sy ma gaan voorstel?”

      Haar oë rek. Dít het sy nie verwag nie. Sy verskuif, streel met haar vingerpunte oor haar nek en die kuiltjie in haar keel.

      “Hoe weet jy dit?”

      “Sy’t vir my gesê. Mevrou Katz onthou jou naam.”

      “Sy onthou seker baie name, ek’s sekerlik nie die eerste een wat Billy gaan voorstel het nie. Sal ook nie die laaste wees nie.”

      Sy staan op en vat die glase kombuis toe, sonder om nog Coke aan te bied, die lyftaal sê: Dis tyd dat jy padgee.

      Hy hou sy pen en notaboek vir haar. “Jou werknommer en werkplek. As ek dalk iets van Billy hoor.”

      Sy skryf en gee die notaboek terug. “Hy’t my belieg en met ’n ander teef verneuk – dís waaroor die uitval was. Natuurlik moes ek dit verwag het, maar dit was nogtans ’n skok. Ek het regtig vir hom omgegee, en ek het gedink hy gee vir my ook om. Hy’t my aan sy ma gaan voorstel as … as die toekomstige ma van sy kinders. Grappenderwys, maar tog ook ernstig. Of só het ek gedink. Paar dae later hoor ek hoe hy in Gems hand om die blaas met daai flerrie sit.”

      Hy kyk na haar handskrif in sy notaboek en vergelyk dit met haar naam en nommer op die vel wat hy in Billy se laaikas gekry het. “As julle mekaar so goed ken, sal hy mos jou foonnommer uit sy kop ken. Hoekom sal hy jou nommer op hierdie stuk papier hê, nogal in jou eie handskrif?”

      Sy staar vir ’n oomblik na hom, asof sy eers wag vir haar brein­ratte om in plek te val. “Die antwoord is eenvoudig. Ek het begin September hier ingetrek en die telefoon is eers teen die middel van die maand geïnstalleer. Eintlik baie gou, ek vermoed Billy se pa het toutjies getrek. Ek het my nuwe nommer vir Billy neergeskryf. Tevrede?”

      “Jy werk by Global Trading, is dit wat hier staan?”

      “Ja, in City Deep, maar probeer om my nie daar te kom pla nie. Global Trading het ’n vervoerkontrak met Katz Transport. Dis hoe ek Billy ontmoet het.”

      “Raait. Jy sê Gems, daai rave club in Melrose?”

      “Ja, Billy se tweede huis. Waar hy sy los flossies optel. Een van my vriendinne het hulle saam daar gesien. Ek het sy pel Os gevra en hy het dit bevestig. Billy ontken dit natuurlik blink en bles. Maar nou ja, help nie jy gaan sit in ’n hoek en krepeer nie. Jy beweeg aan, jy hoop op iemand beter. Daar’s áltyd iemand beter, of hoe, sersant?”

      Hy weet nie, hy’s nie eintlik ’n ekspert met sulke goed nie. “Waar kry ek dié Os?”

      “Hy’s ’n lorriedrywer vir Katz Transport. Billy het die werk vir hom gekry.” Sy gaan haal ’n foonboekie uit haar handsak op die eettafel, blaai daarin rond. “Hier’s dit. Os Osler. Jy kry hom nie maklik in die hande nie, hy’s gewoonlik op pad met ’n vrag. Bly by sy suster, dis eintlik haar nommer. Elizabeth. Los ’n boodskap by haar dat jy vir Os soek. As ek jy is, sal ek nie sê ek’s van die polisie nie.” Sy bly by die tafel staan. “Hoe lank nog met hierdie inkwisisie, sersant? Ek het baie dinge om te doen voor ek môre teruggaan werk toe.”

      Hy staan op. “Laaste vraag: Wanneer het Os en jou vriendin vir Billy met die nuwe meisie in Gems gesien?”

      “Kan nie onthou nie.”

      “Jy kan nie onthou wanneer hy jou verneuk het nie?”

      “So drie weke terug.”

      “Jy kom seker ook in Gems, of jy het, saam met Billy. Ken jy haar, die … flossie met wie Billy jou verneuk het? Ek sal graag met haar ook wil gesels.”

      “Kans is goed dat sy saam met hom weg is.”

      “Kén jy haar?”

      “Nee, ek ken haar nie, maar ek weet wie sy is. Ek bedoel, ek ken haar naam. Heidi.”

      Lou ry terug kantoor toe. Julia Beyers werk by Global Trading in City Deep?

      Hy bel eksswaer Willem Roos in Pretoria.

      Dié antwoord met: “Loutjie! Lanklaas van jou gehoor, my maat.”

      Asof hulle nie twee maande terug met mekaar gepraat het nie. En wat hom amper net so erg irriteer as om knaend aan ’n sekere katoolse tandarts herinner te word, is om “Loutjie” en “my maat” ge­noem te word.

      “Luister, Willem, ek …”

      “So, vang jy steeds moordenaars?”

      “Ja, en vang jy nog veediewe?”

      “Wilddiewe,” sê Willem, enigsins gesteurd.

      Lou móés die stekie inkry, weet goed Willem is lankal nie meer by die veediefstaleenheid nie. Hy is al ’n paar jaar by die nuwe een­heid vir die beskerming van bedreigde spesies, want dis juis oor die spesies dat hy hom nou bel. En probeer weer: “Luister, Willem …”

      “Darem al bevordering gekry?”

      Willem is nou besig met ’n duel, want hy’s mos luitenánt Roos. En hy weet baie goed Lou is nog steeds ’n sersant, met blerrie min kans op bevordering, met dié dat sy toekoms in die hande is van Steyn en Otto. En vermiste Billy Katz.

      “Wil iets by jou uittjek, Willem. Laas toe ons gesels het, het jy gepraat van ’n groot ondersoek waarmee julle besig is, ’n gesmokkel met ivoor en renosterhoring uit Angola. Verbeel my jy’t iets ge­noem van Katz Transport?”

      “Ek lees juis in die koerant die vermiste Billy Katz is jou saak. En ek dog jy’s ’n móórdspeurder.”

      “Wat van Katz se lorries?”

      “Katz Transport is net die karweier, hulle permitte is in orde. Die probleem is die eienaar van daai vragte.”

      “En die eienaar is Global Trading? Is dit die naam wat jy laas genoem het?”

      “Ja, en so glibberig as tien palings. Waar kom jý aan hulle?”

      “My Katz-ondersoek. Billy se lover … sy eks werk vir Global Trading. Sê sy en Billy het mekaar ontmoet deur Katz Transport se vervoerkontrakte met Global Trading.”

      “Ek sukkel my gat af om by Global Trading se baas uit te kom, vorder net tot by sy sekretaresse.”

      “Miskien kan ek help,” sê Lou. “Belowe niks, maar sal probeer.” Sonder veel hoop dat Julia Beyers vir hom ’n gunsie sal doen.

      “Dankie, my maat,” sê Willem. “Ons het in Oktober ’90 die eerste keer van naderby kennis gemaak met ’n Katz-lorrie uit Zambië, danksy die samewerking van Botswana se doeane. Hulle het ’n agtienwieler gestop toe dit by Kazungula van die veerboot afry.”

      Willem se stem is ’n oomblik stil en daar is ’n geritsel van papiere.

      “Kry nie nou die lêer nie, maar ek onthou die doeanemanne het ’n vrag koperskroot op daai lorrie gekry. Permitte in orde, be­halwe vir goedere in staaltrommels wat onder seile versteek was: honderde olifanttande, rou en gekerf, nog honderde kleiner ivoor­artikels soos armbande, halssnoere en beeldjies, byna honderd swart­renosterhorings en ’n hoeveelheid malagiet. Miljoene werd. Hulle arresteer die drywer en skut die lorrie en sy vrag. Doeane gaan kyk in hulle argiewe en sien dat Katz-lorries al sedert die vroeë tagtigs die grens tussen Botswana en Zambië met die veerboot oorsteek. Twee dae later daag Billy Katz en ’n prokureur by Kazungula op. Met stapels dokumente, onder meer die ontbrekende invoerpermitte vir die rou én gekerfde ivoor, laasgenoemde glo bestem vir soewenier­winkels. Hulle vra doeane nederig om verskoning dat die drywer nie al die dokumente by hom gehad het nie. Botswana het nie ’n keuse nie en laat gaan die drywer en sy lorrie, vrag en al.”

      “Ek raai die vrag was ook bedoel vir Global Trading.”

      “Jy raai reg. Hoe weet jy?”

      “Ek’s ’n siener. Ek sien dinge.”

      Willem