Chris Karsten

Die verdwyning van Billy Katz


Скачать книгу

net die boekhouer, Manny Souza is die logistieke bestuur­der. Manny Souza sê hy sal eers moet soek, want Katz Transport se vyf­tig lorries is 24/7 op elke denkbare Suid-Afrikaanse pad aan’t ry, met elke denkbare vrag. Ook op elke denkbare pad in elke denkbare buurland – Mosambiek, Zimbabwe, Botswana, Namibië, Zambië, glo tot by die kopermyne in Zaïre. Angola is die uitsondering. Paaie en brûe is verwoes en steeds te gevaarlik ná die grensoorlog, en Savimbi se bosoorlog hou nog aan. Uiteindelik kry ek die naam van ’n klant uit Manny Souza gewurg: Global Trading, Atomweg, City Deep.”

      “Wat laat jou dink hulle smokkel, as die permitte dan in orde is?”

      “As jy die groter prentjie sien, Loutjie, sal jy ook die klokkies hoor lui. Ná die besigheid by Kazungula gebruik Katz se lorries nou die Wenela-grenspos. Vermy Botswana, ry reguit van Katima Mulilo in Zambië se koperbelt in. So ses weke gelede deursoek Namibie­se doeane ’n lorrie op pad terug Republiek toe by Wenela. Weer ’n vrag koperskroot, weer malagiet. Maar dié slag ook kobalt en ander erts – toermalyn, akwamaryn, ametis. En honderde diervelle, on­gebrei, net ingesout. Ook weer ’n paar honderd rou olifanttande en honderde gekerfde ivoorartikels. Geen renosterhorings nie. Alle per­mitte weer in orde, behalwe vir die tande en gekerfde ivoor. Billy Katz en ’n prokureur vlieg Katima toe met die permitte. Begin jy die patroon sien?”

      “Halfedelstene? Is dit ’n nuwe ding?”

      “Dis presies wat ons ook vir mekaar vra. Brei hulle uit na half­edelstene, edelstene, diamante? Nie ons jurisdiksie nie, maar ons weet mos almal dat diamante Savimbi se gunsteling-betaalmiddel vir wapens is, dan tande, horings en kiaat uit Angola se woude.”

      “Maar hoekom karring julle so met Global Trading? Daar’s tog seker baie ander smokkelaars met ivoor en horings om te gaan vang. Of met perlemoen en broodbome. Of ietermagôs, hoor hulle raak meer bedreig as renosters.”

      “Global Trading interesseer ons om verskeie redes. Een is die permitte wat elke keer kastig vergeet is. ’n Ander is ’n vertroulike CITES-verslag wat sê Global Trading is al die afgelope vyftien jaar een van CITES se grootste probleme in Suider-Afrika. En nie­mand kry vatplek aan hulle nie, want Global Trading het hoë vriende. Lekker diep in die regering se gat ingekruip – dieselfde regering wat die grootste teenstander is van CITES se besluit om inter­nasionale ivoorhandel te verbied, dieselfde regering wat tydens die grensoorlog gehelp het om Angola se manjifieke olifanttroppe uit te wis – met oorlogswapens, nie jag vir sport nie, jag vir fokken geld.”

      “Ja,” sê Lou, “dieselfde regering wat seuns vir kanonvoer gebruik het.”

      Lou is gelukkig, dit duur net vyf dae voor hy Os Osler in die hande kry, vroegoggend by sy suster se huis in Jeppestown.

      Os is eers astrant. “Is ek ’n verdagte? Billy is my vriend! Ons kom al jare saam, vir wat sal ek hom ontvoer?”

      “Miskien om ’n miljoen vir sy vrylating te eis?” sê Lou.

      Dit lyk of Os wil stik. Hy vee met ’n palm oor sy kaal kop. ’n Gróót kop, en nie ’n mooi een nie, ongelyk soos ’n ryp papaja, met ’n tatoe agter die oor en ’n ring in die lel.

      “Hoe lank gaan ons besig wees? Ek moet werk toe gaan, my lorrie gaan regkry. Ek ry Sondag Zambië toe.”

      “Jy’t ’n keuse: ons gesels hier sonder dat ek alles uit jou moet trek, of ek vat jou moord-en-roof toe vir ’n formele gesprek, wat ure kan duur, indien nie dae nie. Wat’s jou antwoord?”

      “Ons praat hier. Wat wil jy weet?”

      “Ek gaan alles opneem, dan hoef ek nie so baie te skryf nie. En onthou, die waarheid en niks anders as die waarheid nie. Hoe lank ken jy vir Billy?”

      “Tien jaar.”

      “Waar’s hy, wat het van hom geword?”

      “Ek weet nie, almal soek hom. Hy’t niks vir my gesê nie.”

      “Is iemand kwaad vir hom? Weet jy van vyande?”

      “Almal het fokken vyande.”

      “Wanneer het jy hom laas gesien?”

      “Daai Saterdagaand by Gems. Dit was 2 Oktober.”

      “Jy’t ’n goeie geheue met datums.”

      “Ja, want my ma verjaar op 3 Oktober, dis hoekom my geheue so goed is. Ek en Elizabeth is die Sondag Sasol toe vir haar ver­jaardag. Billy het nogal vir haar ’n present saamgestuur. Badolie en lekker­ruikseep.”

      “En dit was die laaste, jy’t nie weer van hom gehoor nie?”

      “Nee. Is ons klaar?”

      “Ek soek jou vingerafdrukke en monsters van jou bloed en hare.”

      “Vir wat? Het jy ’n lasbrief?”

      “Om dit te vergelyk met dié wat ons in Billy se dupleks gekry het. En nee, ek het nie ’n lasbrief nie. Maar ek vra jou samewerking, en Billy se ouers vra jou samewerking sodat ons hom kan opspoor. Of moet ek vir hulle gaan sê jy stel nie belang om saam te werk nie, want jy traak nie oor jou vermiste vriend nie?”

      “Nee, ek’t niks om weg te steek nie.”

      “Goed, kom in stasie toe vir die afdrukke en monsters. Gee my vooraf ’n lui sodat ek dit kan reël. Vóór jy Zambië toe gaan. Raait, vertel my nou van Gems. En van ene Heidi.”

      Transkripsie van getuieverklaring: Walter “Os” Osler

      Adres: Dukestraat 33, Jeppestown, Johannesburg.

      Datum: 22 Oktober 1993.

      Tyd: 11:30.

      Afgeneem deur: Sersant Lou Pepler, Moord-en-Roof, Brixton.

      Ek is 27 jaar oud en ongetroud. Ek en Billy [die ver­miste William Katz] is beste vriende.

      Gems [’n rave-klub te Venusstraat, Melrose] is Billy se favourite uithangplek, veral naweke, elke Vrydag-, Saterdag- en Sondagaand. Myne ook, saam met hom, as ek nie op pad is nie [vir Katz Transport].

      Ons gaan Vrydagaand 24 September 1993 soos ge­woonlik Gems toe. Billy het baie vriende en chicks hou van hom. Daar is altyd ’n gekoek om hom.

      Sy vaste girlfriend is Julia Beyers. Sy gaan partykeer saam, maar nie baie nie, sy sê sy raak bietjie gatvol vir Gems. Sy was nie die Vrydagaand saam nie, want sy sou oor ’n week na ’n nuwe woonstel trek en sy wou inpak.

      In die loop van die aand wys Billy ’n groep van drie chicks by ’n tafel vir my. Sy woorde is iets soos: “Ek tjek hulle al die hele aand uit, hulle is alleen. Ek dink dis tyd dat ons hulle gaan uithelp.”

      Met “uithelp” verstaan ek hy bedoel ons gaan hou hulle company en dans met hulle.

      Ons gaan sit by hulle en Billy bestel dop vir almal. Ek kan sien hoe hy op een van hulle inzoem, Heidi. Sy’s mooi en jonk, ’n blond. Billy is charming en vol grappe, laat almal lag. Dit lyk of Heidi vir hom val, want hulle dans baie.

      Sy drink nie dop nie, net orange juice. Middernag staan die chicks op en sê hulle gaan waai. Billy sê vir Heidi hy sal haar huis toe vat as sy nog wil kuier. Sy wil nie. Hy vra of hy haar later kan bel, hy wil haar uit­vat vir ’n date. Sy gee haar nommer vir hom.

      Ek kan net twee chicks se name onthou: Heidi en Valerie. Ek dink dis Valerie, kan ook Vanessa wees, of Verity, so iets.

      Billy bel my vroeg Saterdagoggend, sê ek moet saam gaan brekfis eet, ons maak ’n foursome met Heidi en haar vriendin. Ons ontmoet hulle by Basil’s in Rosebank. Dis ’n lekker brekfis, die chicks geniet dit en lag vir Billy se grappies. Ek ken al sy grappies, maar ek lag saam. Hy hou daarvan as mense lag as hy iets vertel. Billy weet hoe om mense te entertain. Ek hoor hoe hy vir Heidi vra of hy haar daai aand [Saterdagaand, 25 September 1993] weer by Gems kan sien, maar sy sê nee, sy moet studeer.

      Ons los hulle ná brekfis want sy is ’n student en wil gaan boeke koop.

      Saterdagaand kuier ek en Billy soos gewoonlik by Gems.