Wilhelm Verwoerd

Bloedbande


Скачать книгу

ection>

      

      WILHELM VERWOERD

      Bloedbande

      Tafelberg

      Vir my familie

      Familie is mos ’n band van bloed wat nie gebreek kan word nie. – Tannie Annatjie Boshoff

      Dis belangrik dat mense moet weet. As die pyn van die verlede nie uiting vind nie, kom dit op vernietigende maniere uit. – Naledi Mabeba

      Voorbrief

      Blaas ’n Bietjie, Bettiesbaai

      25 Januarie 2014

      Liewe oupa Hendrik

      Amper 50 jaar het verloop vandat ek rustig op Oupa se skoot gelê en melk drink het. Dis ook al byna 50 jaar ná Oupa se bloedige dood, tog voel dit vreemd reg om nou hierdie brief vir Oupa te skryf. Waar sal ek begin? Dalk met die rede waarom ek vandag hier in Blaas ’n Bietjie se ruim woonkamer sit?

      Ná twaalf jaar van vredeswerk in Ierland en Noord-Ierland het ek onlangs na ons geliefde Suid-Afrika teruggekeer. Gedurende die tyd in die buiteland het ek openhartige dialoog tussen voormalige vyande help fasiliteer. Ten spyte van ’n bloedige verlede en te midde van ernstige politieke verskille het ons veral oudstryders aangemoedig om diep na mekaar se lewenservaring te luister en sodoende mekaar bloot as mense te aanvaar. Sonder uitsondering.

      Hierdie opdraande laatnagtelike werk het my toenemend laat wonder: Kan ek dieselfde binnepad met Oupa stap? Hoe kan ek gehoor gee aan my groeiende behoefte om juis Oupa as méns te ontdek? Durf ek Oupa probeer verstaan – in eerlike, selfondersoekende nederigheid, met hart en siel en verstand – gegewe die gevaar dat diegene wat onder dr. Hendrik Verwoerd se beleid gely het (en steeds onder die gevolge daarvan gebuk gaan) my empatiese strewe na insig as sout in hul wonde mag ervaar? Is dit moontlik dat ek as kleinkind ook Oupa kan vermenslik sonder om die rou verband wat soveel Suid-Afrikaners tussen Verwoerd en hul historiese ontmensliking lê te onderskat?

      Hier waar ek by die ovaal etenstafel sit, word ek feitlik deur Oupa omring: Agter my is ’n enorme skildery waar Oupa in die Vaalrivier visvang en aan my regterkant ’n wit marmerborsbeeld van Oupa in profiel. Op die laaikas teen die oorkantste muur staan ’n effens verbleikte foto van Oupa en Ouma wat glimlaggend buite op die grasperk daar aan die berg se kant staan en langsaan, in die verste linkerhoek, is ’n foto van ’n trotse Oupa langs ’n allemintige sewe voet lange tuna, met bokant die foto ’n groot gedroogde visstert en die stewige vishoek en lyn waarmee Oupa manalleen daardie bielie ingekatrol het. En voor my, teen die westemuur, hang hierdie Huisgenoot-familiefoto met sy byskrif:

      “Oupa en Ouma Verwoerd met hul kleinkinders, Libertas, Pretoria, 8 September 1964”.

      Ek het al vele kere na dié toneeltjie gestaar. Omring deur nefies en niggies, sit Oupa met my op Oupa se skoot en ek drink melk uit ’n bottel in Oupa se hand. Natuurlik kan ek niks van daardie oomblik onthou nie, maar ongelukkig het ek ook geen latere persoonlike herinnerings aan Oupa nie. Ek was net twee en ’n half toe Oupa vermoor is, maar ek het grootgeword met ’n oorvloed positiewe beelde van Oupa. Ek is eers ongeveer 30 jaar gelede die eerste keer werklik gekonfronteer met die beeld van “Verwoerd, die argitek van apartheid”.

      Dit was die begin van ’n intense innerlike worsteling, Oupa, ’n langdurige geloofskrisis en uiteindelik ’n politieke distansiëring van daardie Verwoerd. Uit lojaliteit aan Oupa het ek my bes gedoen, maar teen die vroeë 1990’s kon ek regtig nie meer dr. Verwoerd se afsonderlike ontwikkeling versoen met my medemense, en veral mede-Christene, se ervaring van apartheid nie.

      Vir my, as een van Oupa se kleinkinders, het ’n baie moeilike tyd gevolg. Sommige familielede, veral Pa, het gevoel ek het Oupa en die familie in die skande gesteek. Hulle het my openbare kritiek op dr. Verwoerd se beleid en optrede as verraad beskou.

      Ek wonder hoe Oupa daaroor gevoel het? Ai, ek wens so ek kon Oupa self vra! Ek kon Ouma darem pols. Sy wou weet of my besluit deur my beginsels en geloof gemotiveer is. Toe ek opreg ja kon sê, het sy – sover ek kon oordeel – haar daarin berus. Sy het nooit my kleinkindskap bevraagteken nie.

      Weet Oupa hoe dikwels ek al gewens het dat ek Oupa behoorlik kon leer ken het? Oupa is die eerste persoon wat ek graag sal wil ontmoet wanneer ek eendag in die hemel kom. Intussen voel dit egter of daar ’n onoorbrugbare kloof tussen ons gaap. Dis so moeilik om ’n betroubare aanvoeling te kry van wie Oupa werklik was. Ek wens Oupa het soos Ouma dagboek gehou, of ook persoonlike briewe geskryf – getuienis wat my vandag sou kon gehelp het om te verstaan wat destyds binne-in Oupa aangegaan het: die vrese en vrae en gevoelens waarmee Oupa geworstel het, die vreugdes en drome wat Oupa gekoester het, Oupa se geloofspad …

      Ek is bang om so eerlik vir Oupa te skryf. Ek weet nie eens hoe om Oupa aan te spreek nie. “Oupa” kom natuurlik, ook die instinktiewe vermyding van jy en jou. Ek hoop regtig dat ek as kleinkind nou oud genoeg is om ook van man tot man te skryf, openhartig en met min doekies omdraai, sonder dat Oupa dit van meet af aan as oneerbiedig teenoor ’n voorouer afskryf.

      Ek is nie seker hoe om te groet nie. “Vriendelike groete” klink te koud. “Liefde” is lomp, veral omdat ek dikwels nie seker is wat ek werklik teenoor Oupa voel nie. So, in hierdie stadium volstaan ek dus met:

      In eerlike, nederige soeke

      U kleinkind

      Wilhelm

      Hoofstuk 1

      Bloedbad

      Die reis om jou voormalige vyand as ’n volledige mens te leer ken … was moeiliker en pynliker, want dit het my ’n donkerte in myself laat ontdek wat nie maklik is om in die oë te kyk nie. Alles in my wil van hierdie dieper reis weghardloop.

      – Alistair Little, Noord-Ierland

      ’N HOOGS BEJAARDE OUMA Betsie Verwoerd se laaste uitspanplek was in die Groot Karoo, haar geliefde geboortewêreld. Op ’n afgeleë deel van die Oranjerivier se suidelike oewer staan haar eenvoudige huis: ’n kleinerige sitkamer, ’n kombuis, ’n eetkamer, ’n badkamer en ’n paar slaapkamers. Tans is dit die tuiste vir die Dr. HF Verwoerd Gedenkversameling in Orania. Een vertrek is heeltemal gevul met geskenke van tradisionele leiers aan oupa Hendrik Verwoerd tydens sy termyn as minister van wat destyds naturellesake genoem is, 1950-1958. Nog geskenke is in ’n hangkas of twee, en vertoonkaste vol memorabilia staan in die gang.

      Dis Julie 2013 en deur gange en vertrekke waar die mure met foto’s en skilderye behang is, stap ek saam met kollega Pumla Gobodo-Madikizela – professor in sielkunde en spesialis in historiese politieke trauma wat ek in die 1990’s in die dae van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) leer ken het. Behalwe om af en toe ’n persoonlike herinnering, opgeroep deur ’n foto, met haar te deel, praat ons nie veel nie.

      Opeens bevind ons ons voor die vertoonkas met die klere wat Oupa dáárdie dag gedra het.

      Die outydse, formele uitrusting waarin hy daardie noodlottige middag werk toe – parlement toe – is, is omring deur bekende foto’s en sketse van hom as eerste minister. In die linkerhoek van die vertoonkas staan ’n paar stapkieries en op die bodem is sy sakhorlosie, beursie, ’n paar penne, sy leesbril en ’n eksemplaar van die amptelike program van sy staatsbegrafnis. Sy skoene staan langs die netjies opgevoude broek en op die pak se baadjie is rooi pyltjies aangebring om die plekke van die dolksteke aan te dui. Die wit hemp wat onder sy kruisbande lê, het eintlik geen aanwysers nodig nie. Die bloedvlekke is dalk dof, maar steeds sigbaar.

      In die regterhoek van die kas hang die Geloftedag-aanhaling uit sy eerste jaar in die hoogste politieke amp: “Ons veg nie vir geld of goed nie, ons veg vir die lewe van ’n volk” (16/12/1958). My oë sak af na ’n koerantuitknipsel oor die amptelike nadoodse ondersoek.

      “Op 6 September 1966 om 14:14 het die dolksteke van die sluipmoordenaar, Demitrio Tsafendas, dr. Verwoerd in sy parlementêre bank getref. Die lem was nege sentimeter lank. Die eerste steek was in