Wilhelm Verwoerd

Bloedbande


Скачать книгу

      Die naakte, koue feite betrap my onkant. ’n Foto van die dolk en van Tsafendas se gesig illustreer die berig, maar ek kan nie my oupa se moordenaar in die oë kyk nie. My oë dwaal na daardie bevlekte hemp en ek ril onwillekeurig.

      Ek was van kleins af baie bewus van die feit dat my beroemde oupa voortydig ’n gewelddadige dood gesterf het. Wildvreemde Afrikanerooms en -tannies sal my tot vandag toe nog vertel presies waar hulle was en hoe groot hul skok en hartseer was toe hulle die radionuus vroegmiddag op 6 September 1966 hoor. Maar ek kan nie onthou dat daar ooit binne ons familie gepraat is oor wat presies daardie middag in die parlement gebeur het nie. En ek sou dit nooit gewaag het om te vra nie. In elk geval nie so direk soos kleinneef Wilhelm nou die dag in oupa Hendrik-hulle se vakansiehuis in Bettiesbaai, Blaas ’n Bietjie, nie.

      Op sewe het dié agterkleinkind – die derde geslag Wilhelm Verwoerds wat in Suid-Afrika gebore is – nog nooit gehoor hoe sy oupagrootjie dood is nie. Toe sy twee ouer sussies ’n album met koerantuitknipsels in ’n kas ontdek, het Wilhelmpie oor hul skouers geloer, kinderlik geboei deur die foto’s van die staatsbegrafnis en die verwysings na die sluipmoord.

      “Wat het gebeur?” wou hy nuuskierig by sy pa weet.

      “Oupagrootjie is deur ’n man met ’n mes doodgesteek.”

      “Maar hoekom?”

      “Ek’s nie seker nie.”

      “Hoekom het Oupagrootjie die man nie gekeer nie?”

      “Die man was ’n bode van die parlement; Oupagrootjie het gedink hy bring vir hom ’n boodskap.”

      Die familiekonsensus was nog altyd dat “die man” Tsafendas (ek twyfel of daar ooit met sy naam na hom verwys is) waansinnig was; dat, soos die amptelike staatsondersoek bevind het, ’n verbeelde lintwurm hom op daardie noodlottige dag gemotiveer het. Die familie, ouma Betsie inkluis, het sonder trane aanvaar dat wat gebeur het “God se wil” was.

      Een middag – waarskynlik hier teen die einde van my laerskooljare of vroeg in die hoërskool – het my oog op ’n spesifieke boek geval in Pa se groot versameling van alles wat oor sy pa geskryf is: Die moord op Dr. Verwoerd.1 My hart het skielik vinniger begin klop en ek het ongeduldig na die hoofstuk oor die aanval geblaai. So het die herinneringe van sy toegewyde ondersteuners en selfs ’n ooggetuie se verslag deel geword van my gedagtewêreld rondom oupa Hendrik se bloedige lewenseinde.

      Ek bring my gedagtes terug na die berig in die vertoonkas voor my en Pumla:

      “Nadat Tsafendas ’n stewige vastrapplek gekry het, het hy die Eerste Minister nog drie steke toegedien – een op die linkerskouer, een op die regterboarm en nog een in die linkerborskas, waar hy dr. Verwoerd die eerste steekwond toegedien het. Een het tot in die linkerventrikel van die hart deurgedring, ander tot in die longe. Aan die dikderm was ook ’n snywond. Die steke het so vinnig op mekaar gevolg dat die een skaars van die ander te onderskei was.”

      Ek het nooit geweet dat die donker pak en wit hemp wat Oupa daardie dag gedra het baie jare lank in my ouers se besit was nie. Hoekom het dié inligting my so instinktief ongemaklik laat voel? Heel menslik ’n diepgewortelde afkeer van verspilde bloed? My ma se fobie vir bloed wat ek geërf het?

      Terwyl ons voor die vertoonkas staan, vertel ek Pumla van my onlangse gesprek met my ma:

      “Ma, wat het presies daai tyd met Oupa se laaste klere gebeur?”

      Van waar my ma by hul ronde etenstafel sit, het sy ’n onbelemmerde uitsig op haar geliefde Stellenboschberg – die uitsig wat 45 jaar gelede die deurslag gegee het in hul soektog na ’n nuwe huis.

      “Kyk, Oupa is die 10de September, op ’n Saterdag, begrawe. Daai volgende Dinsdag daag twee polisiemanne met ’n koffer by ons huis op. Hulle sê hulle het iets vir Pa gebring wat waarskynlik vir hom belangrik sou wees. Hy maak die koffer oop en hier lê die gekreukelde pak vol bloedvlekke. Ek het dadelik weggedraai, ek kon nie daarna kyk nie.”

      Ek waardeer toenemend my ma se anekdotiese helder, maar boweal openhartige geheue. Dié boeremeisie uit die destydse Wes-Transvaal deins nie terug vir sterk emosies nie.

      Alles was blykbaar daar, het sy vertel. Selfs die onderklere en skoene wat my oupa aangehad het. Maar wat om met dié klomp bloedbevlekte klere te maak? Kotie Roodt, die destydse hoof van die Nasionale Kultuurhistoriese Museum in Pretoria, se raad aan hulle was om die bloed onmiddellik met koue water uit te kry – sonder enige seep – om te keer dat die vismotte daarop toesak.

      “Koue water, koue water, koue water, totdat jy seker is daar is niks meer bloed in die pak se vesels nie. Pa vra toe of ek kans sien, want hý sien nie kans nie. Ek het nie ’n keuse gehad nie. Ek het julle daardie aand gebad en in die bed gesit. Toe het ek die bad vol water getap, die ding daarin gedruk en dit oornag laat lê. Die volgende oggend, nadat almal werk en skool toe is – alhoewel, in daardie stadium was dit nog net Hendrik wat in die skool was … ”

      “So, ons kinders was daar in die huis?”

      “Wel, jy was maar twee jaar oud, so, jy ’t natuurlik niks geweet nie. Dirk ook nie. Toe het ek maar begin. My hande daar ingesteek, die prop uitgetrek, die volgende bad water ingetap, gedruk en gedruk en gedruk en gedruk … jy mag nie vrywe nie, alles moet net gedruk word. Dan dink ek, nou ja goed, nóú is daar darem seker niks meer nie.”

      Maar steeds het bloed die water bly kleur. Eers ’n paar dae en ’n klomp baddens water later was sy tevrede.

      “Toe laat ek jou pa ook kyk of dit regtig skoon is. Toe hy die middag van die werk af kom, toe sê hy, nee, dit lyk of alles nou uit is.”

      Die klere moes sopnat opgehang word en my pa moes help om die skottel – swaar met die baie water – buitentoe te dra. Daar het hulle dit onder ’n koelteboom opgehang (“die vrou het gesê geen son nie”) en elke kledingstuk met die hand gladgestryk. Toe alles droog was, het hulle dit netjies opgevou en saam met vismotbolletjies in ’n koffer bo in ’n kas in hul slaapkamer gebêre. Elke paar jaar het hulle die koffer versigtig oopgemaak, seker gemaak dat alles in orde is en die vismotgif vervang.

      “Dit was ’n groot werk vir Ma!”

      “Oe! Dit was verskriklik! Daai reuk van bloed … Oeee! Ek sal dit nóóit vergeet nie.”

      Terwyl ek na Ma luister, kon ek Oupa se bloed amper ruik. Sy het vertel hoe sy gesukkel het om die reuk van haar hande af te kry: “Seep en seep en seep en seep en nog ’n maal seep en dan bly dit steeds. Kyk, dit trek in jou vel in.”

      “En hoe het Ma dit reggekry om daai reuk te weerstaan?”

      “Ek móés, my liefietjie! Wie anders sou dit doen? Pa se broers en susters het nie eens geweet daarvan nie. Pa het nooit vir iemand … ons het nooit vir enigeen daarvan gesê nie. Nie eens vir Ouma nie.”

      “My hart gaan uit na jou ma,” sê Pumla toe ek my storie klaar vertel het; die deernis in haar stem is opreg. Op dié koue wintersmiddag in Orania, in die Verwoerd Gedenkhuis, raak Pumla se gelouterde ubuntu my diep. Die warm empatie van ’n swart vrou teenoor ’n familielid van dr. Verwoerd val soos groot druppels koel water op ’n dor stukkie verborge sielsgrond. Saam met my ma se roerende herinneringe steek Pumla se medelye oor grense heen ’n vlammetjie van vermensliking in my binneste aan, word hulle die vroedvroue van my grondige aanvaarding dat die Man van Graniet werklik ook mens was – ’n brose mens met deurdringbare vel, longe, dikderm en hart. ’n Blote mens van kwesbare vlees en baie bloed. Tot kort ná 14:14 op 6 September 1966.

      “Hoe’t jy gevoel toe jy voor daardie vertoonkas staan?” wil ek van Pumla weet ’n paar jaar ná ons besoek aan Orania.

      “Ek was diep ontroer deur jou ma se verhaal. Om die waarheid te sê, ek moet selfs nou nog my trane terughou. Wat sy moes deurmaak! Wat my die meeste getref het, was die herhaling – die bebloede klere wat so weer en weer gewas moes word. Terselfdertyd moes sy dit vir jou en jou broers as jong kinders wegsteek.”

      Ek het hierdie ruim hart van Pumla twintig jaar gelede leer ken toe ek in die WVK se navorsingspan en sy in hierdie