Pieter-Dirk Uys

Pieter-Dirk Uys: Weerklink van 'n wanklank


Скачать книгу

finaal sak, is hulle versadig en verkwik, gereed om weer in die realiteit te verdwyn. Hulle dra die herinnering en betowering met hulle saam en vertel ander daarvan, selfs mense wat nooit die passie en opwinding heeltemal sal verstaan nie.

      Dus: “Pieter-Dirk Uys, wat doen jy nou eintlik?”

      Soek nat sand

      My nuutste sandkasteel het ’n naam gekort en het met ’n Engelse titel begin. The Echo of a Noise. Die weerklink van ’n wanklank. Maar wat beteken dit? Is ek die weerklink van ’n wanklank uit die verlede? ’n Gister-gees wat vasklou aan die wrak van ’n politieke passasierskip wat in 1994 op die rotse van verandering geloop het? Of is ek die eggo van daardie gister se rommeling wat homself slim herskep vir die toekoms? Ja, dit alles en nog meer. In Afrikaans, my moedertaal, het al dié dinge my nog nader aan die hart gelê. Maar wat moet dit wees? ’n Satiriese revue? Kan dit in boekvorm betekenis vind? Of is dit net nog ’n outobiografiese Groot Trek die bekende onbekende in?

      Ek het reeds twee memoires uitgegee. Die eerste was Elections & Erections – A Memoir of Fear and Fun in 2002 deur Zebra Press gepubliseer. Verkiesings was toe deel van die proses van grootword in die wit paradys genaamd Suid-Afrika, en die “ereksie-seksie” het gehandel oor ’n nuwe virus waarvoor daar destyds nog nie ’n teenmiddel was nie. Apartheid was die eerste virus wat ek in my lewe moes beveg; MIV die tweede. In 2005 was Between the Devil and the Deep – a Memoir of Acting and Reacting op die rakke. Dié keer was die fokus op my lewe in die teater – die skryf, vervaardiging en opvoering van dramas in die twee wêrelde wat my lewe vorm, die afsonderlike ontwikkeling van gister en die ongebonde vryhede van vandag.

      Natuurlik het my musikale gesin hoofrolle in albei beklee. My pa, Hannes Uys, en my ma, Helga Bassel, hand aan hand met Mozart, Schumann en Chopin, asook twee oumas, een ’n Afrikaanse matriarg en die ander ’n gemütliche Deutsche Oma. Daar was een oupa wat ek vaagweg onthou en ’n suster – Tessa – wat die Jin tot my Jang geword het, die begeleiding vir my lied. Saam het ons gebang en baljaar, baklei en gebraai in ons ineengevlegte kultuurkoeksister van Afrikaans, Engels en Duits.

      Ek wou nie die paadjie deur die mynveld vol herinneringe loop nie, maar soos alte dikwels wanneer jy iets beplan, gebeur die teenoorgestelde. Ná die verkenningsreis deur foto’s, familiealbums, briewe en bedoelinge, het ek begin skryf oor twee mense wat my vertelling ongenooid binnegesluip het. Die een is ’n kleurryke, komplekse, soms misterieuse man – my pa. Ons verhouding was ingewikkeld en verward. Ons het gedurig gebots. Dán was ons maats, dán was ons in ’n skermutseling met mekaar. Die ander is ’n vrou – parmantig, teer en wys. Nie my ma nie. Sannie Abader het saam met ons geleef, onder die banier van huishulp en wat-sou-ons-sonder-haar-doen. “Die Uyse se meid.” Sy het dekades van haar lewe met ons gedeel en het ’n onherroeplike invloed op my ontwikkeling as jong mens gehad, eers as Pietertjie Uys en later as Suid-Afrikaner. Hierdie twee mense het na vore getree uit die magdom byspelers wat my ondersteun en help sin maak het van die wanklanke in my lewe.

      Ek het met opset besluit om hierdie reis sonder die Tannie aan te pak. Evita Bezuidenhout is vir so lank my alter ego dat sommige mense dink ek kan niks anders doen nie. Ek sal nie stry nie. Die gans wat die goue eiers lê, sal nie sommer in die pot beland nie. Maar daar is ander geluide wat deur my lewe eggo. Musiek is nooit ’n wanklank nie; dis eerder die klankbaan van my lewe. Dit is my eerste inspirasie. As ek die regte musiek in my kop kan speel om die perfekte atmosfeer te skep, is enige storie moontlik – en welkom. Vir dié sage kies ek die werke van Brahms, Schumann, Scarlatti en Liszt met hier en daar ’n lied deur Mimi Coertse. Ek het deur die jare ontsaglik baie klassieke musiek leer ken, maar kan selde my vinger op die naam van die komponis of die stuk lê. Dis die storie van my lewe en bewys dat die sambreel van ’n bietjie kennis jou in ’n stortreën kan droog hou. Dis in musiek dat die asem van die lewe weerklink. Die een kan nie sonder die ander bestaan nie.

      Maar dié sandkasteel het nie plek vir die bekendste wit vrou in Suid-Afrika nie. Sy en haar geleende diamante is nie welkom in dié toring nie en sy sal hulle nie hier flits om die oog van die ridders van die Orde van Amandla op hulle wit perde (of in hulle nuwe Mercedesse) te vang nie. Dit is PDU sonder die grimering! Sonder enige rekwisiete, vals wimpers of hoë hakke om agter weg te kruip. Die eggo’s wat ek hier laat hoor, sal vir die eerste keer gehoor word. Laat ek dus eers vriendelik mevrou Bezuidenhout afhandel.

      1981: Die vrou van die LV vir Laagerfontein, mevrou Evita Bezuidenhout.

      Bring die nar te voorskyn

      “Uys dons false eyelashes and presidents listen.” Só skryf die Los Angeles Times in 2004, ’n bewys dat sy bestaan hoewel daar nie werklik iemand soos Evita Bezuidenhout is nie. Ek kry sommer lekker as ek dink dat, ná amper veertig jaar se baljaar op hoë hakke, dié skepping van my verbeelding ’n legende is. Dit was geensins die plan nie. In die vroeë 1980’s was sy net nog ’n karakter in ’n konsert, sonder naam, een in ’n koor van politieke aikonas. Sommige was gebaseer op vlees en bloed, ander slim vermom om binne die raamwerk van wet en orde te bly, want almal het steeds in sensuur geglo, iets wat meer geslaagd was as wat enigiemand ooit kon voorspel het.

      Anargie was my enigste uitweg – seksuele verwarring, sosiale stereotipering, etniese kleurgewing, alles met ’n tikkie onwelvoeglikheid, godslastering en kulturele terrorisme. Met ander woorde, enigiets waarvan die ooms en tannies (en my pa) nie gehou het nie. Dit het gehelp dat dié banket opgedis is deur ’n bekende sosiale vlinder in elegante hofskoene wat haar gaste herinner aan ’n gevreesde skoonma, ’n kwaai onderwyseres of dalk hulself. Die feit dat dit in daardie jare van beheer en reguleer onwettig was vir mans om vroueklere te dra, het gesorg dat ekstra adrenalien in die gehoor se are bruis. Ek het nooit kans gehad om te toets hoe dit ’n akteur se werk raak nie, maar het dié beperking nogtans geesdriftig uitgebuit.

      Uit ’n praktiese oogpunt het akteurs ’n verkleurmannetjieagtige talent om elke foefie en truuk in hulle boek van geheime te gebruik en hulle stemme, gesigsuitdrukkings en vermomming in te span om in ’n karakter te verdwyn. Die teatergrimering waarmee ons op dramaskool moes werk, was in buise wat soos vet sigare gelyk het en elke skakering was genommer om hier te verhelder en daar skadu te skep voordat donker en lig met ’n versigtige laag poeier ingeskakeer is. Dit het ure gevat terwyl ons soos gediertes onder die dik verhooggrimering sweet. Ek onthou nog hoe ek my soos Laurence Olivier se Mahdi in die rolprent Khartoum opgemaak het, met ’n donker vel, woeste blik onder ’n paar vals wimpers en ’n wit handdoek om my kop gedraai. Toe kom die sexy, verlepte oë van Marlene Dietrich met haar sorgvuldig ingekleurde wondrooi lippe. Wangbene is uit die niet opgetower. Ek het opgetree met vals neuse, kort hare, lang hare, vlegsels, snorre, baarde, littekens en sproete. Net omdat ek kon, het ek my oë ingekleur dat hulle soos katoë lyk en my vol rooi lippe in die spieël soos die Italiaanse filmster teen my kamermuur getuit.

      Evita Bezuidenhout het haar naam by twee mense gekry. In 1978 het die redakteur van die Sunday Express my gevra om ’n weeklikse rubriek te skryf om die mallemeule van die Inligtingskandaal se politiek met humor uiteen te sit. Nuusberigte moes destyds, in die dae voor twiets en televisieflitse, op koerantvoorblaaie staatmaak en dié is dikwels gesensor. Toe skep ek ’n Afrikaanse dame wat een keer ’n maand by ’n opskop in Pretoria haar geliefde Nasionale Party verheerlik met flou, lomp lof. Die redakteur het my ingeroep. “Hoe is dit dat jy wegkom met sulke dinge wat ek nie eens op die voorblad kan plaas nie?” het hy gestoom. “Daardie vrou is waarlik die Evita van Pretoria.” Dit was die tyd van die musiekblyspel oor die lewe van ene Evita Perón. Ek het ’n biografie van dié merkwaardige monster gelees en daar en dan die bloudruk vir my eie ikoon gekry.

      Die Suid-Afrikaanse ambassadeur in die onafhanklike swart tuisland van Bapetikosweti (1981-1993).

      In my eerste eenmansvertoning, Adapt or Dye, het my Evita in ’n pienk tabberd verskyn, met ’n pelsjas en groot Marie du Toit-hoed bo-op ’n serp wat versigtig soos ’n tulband om haar kop gedraai is. Oornag het dié gesig bekend geword en was sy die teiken van ’n geskinder en gesis. Ek het