Stefaans Coetzee

Wit Wolf


Скачать книгу

      

      STEFAANS COETZEE

      & ALITA STEENKAMP

      WIT

      WOLF

      Die Worcester-bomplanter

      se storie van bevryding

      Tafelberg

      Aan elke slagoffer wat ná vergifnis

      steeds met die pyn, letsels en herinneringe

      moet saamleef.

      VOORWOORD

      Ek het Stefaans Coetzee se naam vir die eerste keer in 2002 by die oud-Vlakplaasbevelvoerder Eugene de Kock gehoor. Ek het De Kock gereeld in die Pretoria-Lokaal-gevangenis besoek en hy het genoem dat hy besorg was oor die jong man wat saam met hom daar aangehou is.

      Stefaans is van Upington na Pretoria oorgeplaas en het in dieselfde afdeling beland waar verskeie regses aangehou is. Onder hulle was Clive Derby-Lewis, moordenaar van die destydse leier van die SA Kommunistiese Party, Chris Hani, en Koper Myburgh, Jan Voetbol van der Westhuizen en Cliffie Barnard, almal lede van die Afrikaner-Weerstandsbeweging.

      Daar het De Kock die saadjie by Stefaans geplant wat sy pad na versoening oopgemaak het. Hy het hom oor die jong man ontferm net soos Jan Voetbol jare tevore gedoen het. Maar waar Jan Voetbol ’n ontvanklike jong seun in ’n wêreld van haat en uiteindelik moord ingelyf het, het De Kock positiewe energie in Stefaans se doellose lewe agter tralies geblaas. Hy het vir hom ’n positiewe vaderfiguur geword.

      De Kock het my gereeld uit die tronk gebel en van Stefaans se probleme vertel. Ek het mettertyd uit ons gesprekke agtergekom watter stryd tussen De Kock en Jan Voetbol gewoed het om die hart en siel van die jong Stefaans. Aan die een kant was die fanatiese Israel Visie-geloof waarmee Jan en sy twee luitenante, Cliffie Barnard en Koper Myburgh, Stefaans onder hul beheer wou hou. Aan die ander kant het Eugene eerlike goedheid in Stefaans se hart raakgesien en hy wou hom help.

      Ek het toe begin om Stefaans oor naweke in die tronk te besoek. Dit was in die tyd toe hy met die hulp van sy staatmaker-vriendin dr Magriet Haasbroek na sy slagoffers begin uitreik het.

      De Kock het dit sy lewenstaak gemaak om Stefaans te red. Ek het hierdie stryd eerstehands ervaar. Hy het telkens tydens my besoeke en in driftige telefoonoproepe my hulp gevra. Soms was hy regtig moerig. Dan het ek geweet daar was weer harde woorde en dreigemente tussen hom en Jan Voetbol oor hoe die Israel Visie-klomp met die jong man se kop gesmokkel het. Ander kere kon ek die desperaatheid en moedeloosheid in sy stem hoor.

      Die magstryd het jare geduur, maar De Kock het nooit moed opgegee nie. Hy het geweet Stefaans het een brandende begeerte in sy hart wat hom uiteindelik sou red uit die Israel Visie se kloue – sy begeerte om met sy slagoffers versoen te raak.

      Vir my was die hoogtepunt van Stefaans se pad na versoening een middag laat in Januarie 2013 toe ’n groot groep van sy Worcester-slagoffers in die Vredestrein op Pretoria se stasie aankom. Hulle was doodmoeg ná die lang rit en ’n onseker afwagting het in die gespanne atmosfeer geheers.

      In die groep was Olga Macingwane, ’n tenger vroutjie wat dié noodlottige dag in Shoprite ernstige beenbeserings in die ontploffing opgedoen het. Vir my was dit ’n merkwaardige geleentheid om haar te ontmoet in die hotel waar die groep tuisgegaan het en met haar te gesels. Dit was duidelik dat sy respek onder die ander afgedwing het. Ondanks haar nagmerrie-ondervinding het hierdie merkwaardige vrou daarin geslaag om vanaf nêrens uit te styg tot ’n leier in haar gemeenskap. Vandag is sy iemand wat internasionaal gerespekteer word.

      Die dag toe ek Olga ontmoet het, het die spanning hoog geloop – hul ontmoeting met Stefaans in die tronk het voorgelê. Niemand het geweet wat om te verwag nie …

      Vir my is Stefaans Coetzee die verpersoonliking van versoening in ons land. Sy lewensverhaal van swaarkry, verkeerde keuses en uiteindelike bevryding moet aan die wêreld vertel word as voorbeeld vir ons almal.

      DE WET POTGIETER

      WORCESTER, 24 DESEMBER 1996

      Die Shoprite-winkelsentrum in Russelstraat op Worcester is bedrywig. Dit is die dag voor Kersfees en oral druk en beur mense om vir oulaas inkopies te doen. Harde Kersmusiek oor die luidsprekers maak die feestelike atmosfeer nog vroliker.

      By die ingang van die Shoprite-winkel staan ’n reuse-Kersboom met gekleurde liggies en behangsels. Rooi en goue balle blink oral tussen sy takke. Om die boom lê ’n stapel geskenke toegedraai in feestelike papier. Die winkende liggies en helder versiersels betower die kinders en lok hulle nader. ’n Klomp staan grootoog na die boom en kyk.

      Hulle sien nie die groot man wat sy pad tussen die mense oopdruk en na die winkel se ingang mik nie. Hy knyp ’n pakkie onder sy arm vas, mooi in Kerspapier toegedraai. Sy oë flits gespanne heen en weer, maar in die feestelike atmosfeer steur niemand hulle aan hom nie, elkeen te besig met sy eie ding. By ’n sement-vullishouer enkele meter van die Kersboom buk hy en sit die pakkie daarin. Dan stap hy haastig weg sonder om terug te kyk. Oomblikke later is daar ’n swaelreuk om die vullishouer wat stadig deur die arkade versprei. In die feestelike gedruis let enkele mense dit op; die res steur hulle nie veel daaraan nie.

      ’n Straatblok weg naby die Narotam-apteek op die hoek van Russell- en Adderleystraat steur mense hulle ook nie aan die netjiese jong man met die seunsgesig wat daar wag nie. Ook hý het ’n pakkie by hom wat in Kerspapier toegedraai is. Hy lyk heel rustig, maar hou tog onderlangs die polisiekantoor dop wat laer af in die straat is, langs die landdroshof. Op die sypaadjie voor hom is daar ’n gedruis van stemme waar ’n klomp informele smouse hul stalletjies het. Niemand let op dat hy nie een keer aan die sigaret in sy hand teug nie.

      In Shoprite wag lang toue mense by die kasregisters, elkeen met ’n mandjie of waentjie vol inkopies. Die kassiere is moeg, maar bly vriendelik, probeer hul bes om die mense so vinnig as moontlik te help. Een vryf aan haar neus, die reuk van swael skielik skerp op die lug. Naby die Kersboom het ’n man langs die vullishouer gaan staan, leun half daarteen.

      Dan doof ’n harde slag die vrolike Kersmusiek eensklaps uit. Die krag van die ontploffing slinger mense deur die lug, verbrokkel die winkelvensters in dodelike skerwe. Skrapnel en glasskerwe skiet oor ’n wye area, kerf en sny ledemate en verwoes lewens in ’n oogwink. Die man wat oomblikke tevore nog teen die vullishouer geleun het, lê ’n ent verder – albei sy bene is afgeruk.

      Buite die Narotam-apteek hoor die jong man die oorverdowende slag. Dis die teken waarvoor hy gewag het. Hy maak vir oulaas seker dat niemand hom dophou nie. Dan steek hy die pakkie se lont met die brandende sigaret in sy hand aan, sit dit vinnig in ’n blou plastiekvullishouer. Die lont gee hom drie minute om weg te kom. Hy draai rustig om en stap doodluiters oor die pad. Hy gee die sigaret vir ’n swart man wat van vooraf aangeloop kom, want self rook hy nie.

      In Shoprite val bloeiende en paniekbevange mense verward oor mekaar se voete in ’n poging om van die geweld en chaos weg te kom. Hulle gil en skreeu terwyl hulle deur die verstikkende rookwolke na die naaste uitgang hardloop. Orals sit beseerde mense verdwaas, te geskok om te besef wat gebeur het. Naby die Kersboom strompel ’n bloedbesmeerde meisietjie orent. Sy probeer huilend wegkom, haar hele maag oopgeskeur. ’n Veiligheidsbeampte raap die kind op en hardloop na buite.

      In die chaos hoor van die slagoffers nie eens die geweldige slag van die tweede bom wat enkele minute later buite die apteek ontplof nie. Orals is pandemonium, en in die verte begin die sirenes van noodvoertuie loei. Dit is Dinsdag 24 Desember 1996 en vir die mense van Worcester, die Wes-Kaapse dorp wat minute gelede nog ongestoord in die somerson lê en bak het, sal Kersfees nooit weer dieselfde wees nie.

      HOOFSTUK 1

      My ma loop weg

      My ma het op ’n dag ’n paar munte in my hand gesit. “Stefan, vat die geld, dan gaan koop jy vir jou en jou sussies lekkers,” het sy gesê. Toe het sy omgedraai en weggestap. Op daardie oomblik het ek nog nie geweet die son gaan later die dag sy glans vir my verloor nie. Ek het niksvermoedends weggedraf kafee toe. By my terugkeer was my ma weg.

      Daardie