Stefaans Coetzee

Wit Wolf


Скачать книгу

gesê. ’n Pak slae sou waarskynlik ook seer gemaak het, maar ek sou gou daarvan vergeet het. Maar die les wat ek daardie dag geleer het, bly my nou nog by. Wanneer ’n mens iets het om te versorg, durf jy dit nie in die steek laat nie.

      Later het ek by Fielies bly neul vir ’n katjie en uiteindelik het hy ingewillig. Tot vandag toe is katte my gunsteling-troeteldiere. Op ’n dag het ek oor die straat gestap om by ’n maat te gaan speel. Spokie, my wit katjie, het agterna gehardloop en ’n motor het haar doodgery. Ek het vreeslik gehuil. Later het ek vir Fielies gevra of ek maar ’n ander katjie kon kry, maar hy het geweier: “Jy is nog nie volwasse genoeg om na ’n dier om te sien nie,” het hy gesê.

      ’n Ander les wat ek by Fielies geleer het, was toe ek my draadkar verkoop het. Ons tuinwerker het vir my ’n draadkar gebou en aan die begin het ek ure daarmee gespeel. Op ’n dag het ek egter besluit om dit aan een van die seuns in ons straat te verkoop. Later, toe ek vir Fielies vra om vir my ’n speelgoedkarretjie te koop, wou hy niks weet nie. “Jy sal die karretjie ook verkoop,” het hy verduidelik.

      Ons lekkerste speelplek as kinders was die asbesmyn waar Fielies gewerk het. Hy het soms toegelaat dat ek stokkiesdraai om saam met hom na die myn te gaan. Hy het ’n klein eenvertrek-sinkkantoortjie by die myn gehad met ’n reuse-mynhoop daaragter waarteen ons altyd uitgehardloop het.

      Vandag koester ek elkeen van daardie herinneringe as iets besonders, en is ek dankbaar dat ek en Fielies op ’n goeie voet uitmekaar is.

      Tog het alles nie altyd voor die wind gegaan nie: Fielies was ’n hele paar keer in-en-uit ’n rehabilitasiesentrum. Wanneer hy weg is, het Oupa Danie by ons kinders in die huis kom bly. Ek het sy name geërf, Daniël Stephanus. Oupa Danie was die posmeester op Schweizer-Reneke. Hy het seëls versamel en het altyd Brut-naskeermiddel gebruik. Tot en met my vrylating het ek net Brut gebruik. My ander oupa en ouma, dié aan moederskant, onthou ek skaars. Ek weet net hulle name is Oupa Hans en Ouma Alie.

      Ek dink Fielies het sy bes probeer om uit die kloue van die drank te ontsnap, maar ongelukkig kon hy nooit volkome daarin slaag nie. Later jare het ek hom gevra waarom hy so baie gedrink het, maar hy kon nie regtig ’n rede verskaf nie. Waarskynlik – ek weet ek probeer nou ná jare in die tronk dinge beter verstaan – het dit baie te make gehad met die tyd wat hy as ’n bewaarder in die gevangenisdiens gewerk het. Daar is nogal ’n kultuur van drankgebruik onder die bewaarders, want hulle verkeer onder geweldige hoë druk. Drank is dan ’n manier om te ontspan en van alles te vergeet. Fielies se drankmisbruik het totaal buite beheer geraak nadat my ma weg is. Hy het nooit weer na ’n ander vrou gekyk of ooit weer met ’n ander vrou uitgegaan nie. Vir hom was daar net een vrou en dit was Bets Bothma. (My ma het haar naam later na Lizbé verander.)

      Die onderwysers en bure het geweet van Fielies se drankmisbruik. Iemand het waarskynlik gedink ons kinders ly gebrek en het ’n maatskaplike werker gebel. Dit help in sekere gevalle, maar in my geval het dit ’n yslike letsel gelaat.

      Een middag toe ek by die huis kom, was daar twee vreemde vroue daar. Hulle was maatskaplike werkers en het mooi gepaai en baie heuning om ons kinders se monde gesmeer. “Julle gaan saam met ons na ’n plaas waar daar ’n klomp maatjies en baie perde is,” het hulle gesê, en bygevoeg “net totdat Pappa gesond is.” Dit het wonderlik geklink. Ons het nie nodig gehad om ons goedjies te pak nie, die een tannie het dit reeds gedoen.

      Ek het in daardie tyd ’n plakboek gehad waarin jy plakkers van die A-Team moes plak en ek wou dit baie graag saamneem. Ek het nog net een of twee van die plakkers kortgekom. Die tannie het verduidelik dat ons nie speelgoed mag saamneem nie, want daar waar ons heengaan, was daar baie speelgoed. Nie ek of een van my sussies het ’n idee gehad dat ons permanent uit Fielies se sorg verwyder word nie.

      Daardie dag toe ons uit Cobaltweg 147 weg is, het my lewe onherroeplik verander. Ons het nie besef wat op ons wag nie en was opgewonde oor die vooruitsig van ’n nuwe avontuur op ’n plaas met perde en baie maatjies en speelgoed. Ek kan steeds in my gedagtes die beeld oproep van Fielies wat verwese teen ’n boom geleun het terwyl ons saam met die tannies by die erf uitry. In sy hand was sy getroue vriend, ’n bottel brandewyn. My sussies het gehuil terwyl Fielies en die huis agter ons al hoe kleiner word. My wange was ook papnat.

      Ons het natuurlik nooit by die plaas met perde uitgekom nie. Die tannies het vir ons gelieg net om seker te maak dat ons nie teenstribbel nie, dat ons gewillig in die motor sou klim. Hulle het wel die waarheid gepraat oor die baie kinders wat daar sou wees. Ons nuwe tuiste was Winburg se kinderhuis.

      HOOFSTUK 2

      Donker dae

      Reeds met die intrapslag in Winburg se kinderhuis het daar moeilikheid op my gewag. Op my eerste dag is ek ingelig dat die jonger seuns met badtyd eerste moet bad – ’n reël wat niemand durf verontagsaam nie. Ek het vir my warm water ingetap en voordat ek die kouewaterkraan kon oopdraai, het een van die groter seuns ingekom en my in die bad gestamp. Toe ek vervaard uitspring, haak die kraan my langs my boud en ruk ’n hele stuk vel oop. Die bloed het uit die wond gestroom.

      Ek het geweet as ek na die huismoeder gaan, sou sy aandring op ’n verduideliking en dit sou veroorsaak dat die skuldige seuns gestraf word. Ek kon net dink watter kettingreaksie dit sou hê en ek sou aan die verloorkant wees. Hierdie wond sou ek self moes dokter, het ek in my onkunde besluit.

      Later het ek besef die tyd in die kinderhuis was die heel donkerste in my grootwordjare, selfs erger as amper twee dekades agter tralies. Ek ril nou nog as ek dink aan die neerdrukkende greep van algehele verlorenheid wat my oorval het toe ons die dag voor die kinderhuis stilhou. Die wete dat daar niemand in die hele wye wêreld met sy miljarde mense is wat my liefhet nie, die gedagte dat ek vir niemand iets beteken nie, het diep seergemaak.

      Winburg, 120 km van Bloemfontein, is die oudste dorp in die Vrystaat en lê reg langs die N1, wat die Kaap met Pretoria verbind. Mense ry deesdae maklik verby die dorpie. Ai, kon die maatskaplike werkers nie maar daardie dag vir ’n hoender uitgeswaai en ook verby die dorpie gery het nie?

      Van die ouer seuns in die kinderhuis was boelies en my grootste uitdaging was om hulle te hanteer. Hulle wou dadelik wys wie is baas van die plaas en as nuweling was ek vanselfsprekend ’n teiken.

      Ek is terug kamer toe met die bloeiende wond. Gelukkig was daar twee seuns van my ouderdom op wie ek kon steun, Andries Verdoes en ’n seun wat ek as Oupa geken het. Hulle het my gehelp om die wond so skoon as moontlik te hou. Sonder die nodige mediese sorg het dit stadig gesond geword en was vir die volgende paar weke gevoelig.

      Terwyl die wond nog rou was, het ons ’n toets geskryf waarvoor ek nie geleer het nie. As ek druip, het ek geweet, wag daar ses van die bestes op my, soos die gebruik in daardie jare was. Maar Oupa het hom oor my ontferm. Ek het langs hom gesit en hy het aangebied om so te sit dat ek sy antwoorde kon afskryf. Ongelukkig het die onderwyser dit opgemerk en ons kantoor toe gesleep. Oupa het sy bes probeer om te verhinder dat ons slae kry en het uiteindelik met die hele sak patats na vore gekom. Die onderwyser wou hom eers nie glo nie, maar toe die skoolhoof my wond sien, was hy ons genadig. Die wond is toe mooi gedokter en het daarna vinnig genees. Ek het net ’n lelike letsel oorgehou.

      In die kinderhuis moes ek vinnig leer om my man te staan. Maar saans het ek dikwels in my bed lê en huil. Alles was vreemd: ek was weg van Fielies, my sussies en natuurlik van my ma. Die kinderhuis was nie my tuiste nie en ek wou glad nie daar wees nie. Ek het net begeer om weer in my eie bed op Virginia te slaap. In die middae wou ek sorgeloos saam met my susters om die blok hardloop terwyl Fielies ons aanmoedig. In die donker, in my kinderhuisbed, was my kussing gou papnat. Ek het besef ek mag nie toelaat dat iemand my hoor huil nie. Wanneer een van die jonger seuns te veel gehuil het, het die ouer seuns ’n laken oor sy kop gegooi en hom met hul vuiste stilgemaak: “Hou op huil, pisbalie! Of ons sal jou rede gee om te tjank!”

      Ek weet ek was nie al een wat in die donker gehuil het nie, maar die ander het geleer om dit te smoor. Saans in my bed het ek altyd net een gebed bly bid, soos ’n plaat wat vashaak: Liewe Jesus, ek wil asseblief nie doodgaan voordat ek my ma weer gesien het nie. Ek het nie gevra vir ’n nuwe rooi BMX-fiets of mooi karretjies om mee te speel nie, slegs om met my ma herenig te word. God was doof vir my gebed en iewers langs