Stefaans Coetzee

Wit Wolf


Скачать книгу

gewerk het. Ek was bevoorreg om by haar kunsklasse te kry. Juffrou Lida het iets reggekry wat min ander onderwysers kon regkry – ek was nooit stout in haar klas nie. Wanneer sy aan ons verduidelik het hoe om te teken, skilder of beeldhouwerk te doen, het ek altyd heel voor in die klas gesit en my volle aandag gegee.

      Eendag het ek iets geteken maar was nie tevrede nie en het dit oudergewoonte opgefrommel en in die snippermandjie gegooi. Sy het dit uitgehaal, gestryk, geraam en teen die klasmuur opgehang. Dit het geweldig baie vir my beteken. Dit het gevoel soos ’n moeder wat haar kleuter se krabbelskets teen die yskasdeur vasplak met magnete. Sy het onbewustelik aan my erkenning gegee, en dit het baie goed gevoel.

      Teen die tyd wat ek in die hoërskool was, het ek besef ek is anders as die meeste ander seuns wat net rugby droom, eet en praat. Ek het ook rugby gespeel, maar atletiek, en veral lang afstande, was my passie. Jare lank het ek in alle items koning gekraai, van die 1 500 m tot volle marathons.

      Stelselmatig het daar aggressie in my begin opbou. Die emosionele swaarkry van die tyd in Winburg se kinderhuis was steeds in my gedagtes, juis omdat ek geglo het dat ons nou by my ma gaan bly. Toe dit nie gebeur nie, was dit ’n bitter groot teleurstelling. Ons was naby haar, maar nie by haar in die huis nie. Ek het oom Pieta Hendricks hiervoor kwalik geneem en iewers moes ek van hierdie woede ontslae raak. Uiteindelik was dit onskuldige swart mense wat hiervoor geboet het.

      Hulle sê as jy nie jou vriende kies nie, kies jou vriende jou. Die vriendekring waarin ek op hoërskool beland het, het as ’n tydverdryf oor naweke saans swart mense aangerand. Dit was in 1992. Nelson Mandela is vrygelaat en die land was besig om gereed te maak vir groot veranderings, maar op Upington was rassisme nog springlewendig en gesond.

      In die begin het ons Vrydag- en Saterdagaande in die dorp na swart mense gaan soek wat ons kon aanrand. Later op Sondag- en Woensdagaande ook. Later was enige aand goed genoeg en wanneer die geleentheid hom voordoen, het ons dit aangegryp. Wanneer daar nie ’n geleentheid opgeduik het nie, het ons self een geskep.

      Ek onthou een van die voorvalle vandag nog goed. Ons het een aand ’n ou swart man by die Keidebees-kafee raakgeloop. My ma se huis was op die hoek naby die kafee. Hy het met sy fiets voor die kafee gestaan. Jy kon in sy oë sien hy het besef hier kom moeilikheid die oomblik toe die klomp jong seuns nader loop. Hy het sy fiets gegryp, opgespring en weggejaag, maar so gou sou ons hom nie laat ontsnap nie. Ons het hom op ’n ander plek gaan voorlê, maar hy het dit verwag en ons ontduik. Ons was woedend en het hom toe vorentoe ingehaal. Een het die ou man van sy fiets gepluk en die ander het nader gestorm en hom begin skop. “Ek het nie die fiets gesteel nie, ek het nie die fiets gesteel nie,” het hy die heeltyd geskreeu. Hemel, die arme man het gedink ons rand hom aan oor ’n gesteelde fiets! Hy het nie geweet ons aggressie was bloot op sy swart vel gemik nie.

      ’n Ander keer het ons weer ’n ou swart vrou, wat voor die kafee op die stoep gelê en slaap het, gegryp. Een van die seuns het haar aan die voete getrek en teen die trap afgesleep. Haar kop het geklap-klap al teen die treetjies af. Verbeel jou dit is jou ma. G’n wonder die swart mense haat ons wit mense so nie! Later in die aand is ons weer daar verby. Sy het steeds doodstil gelê waar ons haar gelos het.

      Dis onmoontlik om te sê hoeveel voorvalle daar oor etlike maande was. Die polisie het geweet wat ons doen, en sou ons beslis kon vastrek as hulle wou, maar daar is nooit strafregtelik teen ons opgetree nie.

      Al het ek in my binneste geweet wat ek doen is verkeerd, kon ek nie daaruit loskom nie. Om deel van die groep te wees was vir my ’n manier om êrens te behoort. Die geweld teen die swart mense het my totaal ingesluk en ek het keer op keer ingewillig om saam te gaan. Op die ou end was die stem van my gewete so flou dat ek dit nie meer kon hoor nie en dit het my nie meer gepla nie. Op ’n vreemde wyse het hierdie geweld my iewers laat behoort, en dit het my gepas. Onder die skoolkinders het ek nou begin naam maak as ’n rassis. Maar niemand sou ooit daardie tyd kon besef in watter opspraakwekkende mate ek later as rassis naam sou maak nie.

      1 Skuilnaam

      HOOFSTUK 4

      Jan Voetbol gee my ’n identiteit

      My vriendskap met Benjan het vinnig sterker geword. En op die ou einde het dit daartoe gelei dat sy pa, groot Jan “Voetbol” van der Westhuizen, ’n pa-figuur in my lewe geword het. Onder sy invloed het ek my identiteit gevind. En vorentoe sou ek enigiets doen om sy goedkeuring te kry. Ja, uiteindelik selfs mense doodmaak.

      Een van ons maats, Danie Rossouw, se pa het ’n videospeletjie-winkel gehad en eendag ná skool is ons soontoe. Toe was dit maar nog 20c per speletjie. Benjan het voorgestel ons kry by sy pa geld om te speel.

      Jan van der Westhuizen het ’n werkwinkel in die industriële gebied gehad en ons het daarheen geloop. My heel eerste indruk van hom was een van ontsag. Vir ’n vaal seuntjie wat met die Rambo- en Rocky-fliekkarakters grootgeword het, het ek Jan op dieselfde platform geplaas as Sylvester Stallone, Arnold Schwarzenegger en Jean-Claude van Damme. Hulle het die ysterman-karakters in die flieks gespeel.

      “Middag oom, ek is Stefan Coetzee,” het ek myself voorgestel.

      “Watse naam is Stefan? Jy’s Stefaans,” het hy sonder enige omhaal van woorde gesê.

      Op daardie oomblik het Jan in my lewe ingeloop. Hy was beter bekend as Jan Voetbol, ’n bynaam wat hy gekry het terwyl hy in sy jongdae vir die Noordwes-Kaap se provinsiale span rugby gespeel het en ’n rugbybal oor die lengte van Upington se rugbyveld kon skop. Hy het ook sy naam in die Guinness Book of Records ingespeel deur man-alleen 88 punte aan te teken – en dit was in die tyd toe ’n drie net drie punte getel het.

      Toe hy vir my sê “Jy’s Stefaans” het ek meteens my identiteit gevind. Manlikheid word oorgedra, skryf John Eldredge in sy topverkoper, Die ongetemde hart, en daarom het ’n seun die geselskap van ’n man nodig om te leer wie hy is en waartoe hy in staat is. Ek het daardie man in Jan gesien.

      Ek glo ’n pa speel ’n baie belangrike rol in ’n seun se identiteit. Ma’s sal na hul seuns as “bokkie” of “liefie” verwys, maar ’n pa sal sy seun prys met woorde soos “ramkat” of “jou yster”. In die Bybel is voorbeelde waar die pa sy seuns seën met ’n bepaalde naam. Die nuwe naam wat Jan my gegee het, was vir my iets wat ek met trots vorentoe sou dra. Ek sou nooit weer die naam Stefan gebruik nie.

      Een Desembervakansie is ek saam met Benjan plaas toe. Daardie Desember op die plaas het ek met die Israel Visie-geloofsgroep kennis gemaak.

      Volgens die Israel Visie se siening is God se uitverkiesing, Sy verbond en genadewerk tot Israel alleen beperk. Dit het beteken die hele mensdom word geneties in twee groepe verdeel: die kinders van God en die kinders van die duiwel. Geen “verbastering” kan plaasvind nie, want anders sal al die nasate deur Yahweh verwerp word. Ons het ook geglo dat wit mense afstammelinge is van Israel se twaalf stamme en dat swart mense die wilde diere van die veld is waarvan die Bybel praat. Die Israel Visie predik dat net wit mense deel van God se uitverkiesing is, en hulle praat van swart mense as die modderras.

      Ons het saam met ander mense van die omgewing bymekaar gekom en om ’n groot tafel in die eetkamer Bybelstudie gedoen en oor ’n klomp dinge gesels. Daar was verskillende Bybels en Bybel-woordeboeke. Ons het ons geloof baie ernstig opgeneem en van Saterdae as die sabbatdag gepraat. Dan het almal netjies aangetrek en bymekaar gekom om die “sabbat” te gedenk. Jan en Bill Hammond, wat ook met sy gesin op die plaas gebly het, het beurtelings ’n preek voorberei.

      Ds Gert Steenkamp was die geestelike leier van die Gemeente van die Geloftevolk, en dss Ben Maree en Dirk van Vuuren die geestelike leiers van die geloofsgroep Dogter van Sion. Hulle was van die geestelike skrywers wie se literatuur ons bestudeer het. Die gesprekke op die plaas het dikwels oor dinge soos die uitverkiesing gegaan. Hoe langer ek in hierdie mense se teenwoordigheid was, hoe meer het ek met die uitverkiesing-ideologie begin stoei en ná omtrent ’n jaar kon ek eerlik sê dat ek die geloof van die Israel Visie begin aanhang het. Fanaties aangehang het, sou meer korrek wees.

      Volgens die Israel Visie word die begrip Israel uitgebrei om in die huidige tyd al die wit nasies van die