cowboys en crooks het Neil die kat só verwilder dat hy ’n week later nog steeds bang was vir die tuin. Met Divan se volgende verjaardag het sy summier geweier dat hy hulle weer nooi.
’n Donkerkopmeisiekind skuif vorentoe op haar sitplek.
“Ek is Katrien, tannie. Ek was saam met Divan in die klas en ek en hy het in die orkes gespeel.” Die bruin oë vul met trane. “Ek is baie jammer oor wat gebeur het.”
Hanna byt haar onderlip vas toe sy voel hoe dit begin bewe.
“Ek is Alyssa, tannie,” sê ’n blonde meisie met rooigehuilde oë. “Ek is ook baie jammer oor Divan.”
’n Jong man met ’n reeds harde baard drapeer sy arm om die meisie se skouers. Sy armspiere bult. “Ek is mos Albert, tannie.”
Hanna knik. “Ek onthou jou.”
Hoe kon sy hom vergeet het? Hy was die maatjie wat byna elke Vrydagmiddag hier kom speel het toe Divan nog in die laerskool was. So klein soos wat Divan was, so ’n pokkel was Albert. Nou is sy babavet bultende spiere en sy piepiepot-haarstyl ’n lang kuif.
Albert kyk ongemaklik af. “Ek is genuine jammer oor Divan, tannie.”
Die onthou van die twee seuntjies wat videospeletjies in die sitkamer speel, oorrompel haar. Hoekom het Albert verdwyn? Wanneer het hy ophou kuier by Divan? Graad ses? Graad sewe?
“Dankie dat julle gekom het. Divan sou dit baie waardeer …”
Haar sin knak stomp af voor sy kamer toe vlug.
Sy maak die deur agter haar toe en bly so staan. Luister hoe die stemme by die voordeur groet en dan straataf verdwyn. Sy is bly hulle loop. Dit maak te seer om sy skoolmaats so gesond en vol lewe te sien.
Carl lyk moeg toe hy inkom. “Die seuns het groot geraak, nè?”
Sy sak op die bed neer. “Hulle lyk soos Springbok-rugbyspelers.”
“Albert en Sean speel nou vir die eerste span, ja.”
“Dink jy dis hoekom Albert nie meer kom kuier het nie? Het hy sy rugbymaats bo Divan gekies?”
“Ek weet nie. Hy was hier vandag?”
“Dis nou bietjie laat, dink jy nie?”
Carl vryf oor sy hare. “Ons moet seker vir Nadia gaan optel.”
“Seker.” Sy het nie die krag om nou ’n ma te wees nie. “Gaan jy maar.”
Sy hoor hoe hy die voordeur sluit, hoe die motor wegtrek.
Sy moet seker iets regkry vir aandete, maar dis asof haar lyf nie weet waarheen om te gaan nie. Asof haar brein vergeet het hoe om met haar ledemate te kommunikeer.
Sy gaan lê op haar sy, maak haar oë toe, luister hoe sy asemhaal. Konsentreer op die vergroting van haar buik met die intrek van suurstof, die uitblaas van die lug.
In. Uit. In. Uit.
3 Maart 2016
Fun fact #2
’n Trop leeus bestaan gewoonlik uit 2 / 3 mannetjies wat ’n koalisie genoem word. En 5 / 6 wyfies.
Manlike leeuwelpies moet hulle geboortetrop verlaat
wanneer hulle volwasse word.
LET OP: Leeus kan van lewenswyse verander – van lid van ’n trop na nomadies en andersom.
Leeumannetjies moet die nomadiese lewenswyse een of ander tyd handhaaf en party sal nie in staat wees om by ’n nuwe trop aan te sluit nie.
9
“Mamma?” Nadia loer om die deur.
Hanna maak haar oë oop. Hoe lank lê sy al hier?
Sy sit regop. “Hallo, my kind.”
“Pappa maak die kos warm wat die tannie van die kerk gebring het. Hy sê Mamma moet kom.”
“Ek kom.”
Pligsbesef alleen laat haar in die gang af stap, verby Divan se toe kamerdeur.
“Hi.” Carl skep die kos in borde uit.
Haar mond trek in ’n poging tot ’n glimlag. Dit misluk.
Sy gaan sit by die kombuis se komvenster. Nadia skuif styf langs haar in toe Carl die bord voor haar neersit. Hy val weg aan sy eie kos asof hy dae laas geëet het. Sy neem ’n hap, al is sy nie honger nie.
“Annemie-hulle het ’n perd gekoop.” Nadia sit haar vurk neer en neem ’n groot sluk van haar koeldrank.
“Werklik?” Carl reageer asof dit die nuus van die jaar is. “En waar hou tannie Sandra-hulle die perd aan?”
“Ek weet nie, maar Annemie sê hy is baie groot. Sy wil my eendag gaan wys.”
Die gesprek vervaag. Al wat in Hanna se kop vassteek, is die woord “eendag”.
Eendag sal ons dit, eendag sal ons dat.
Sy skuif die bord van haar af weg.
Carl kyk op. “Is jy nie honger nie?”
Sy selfoon lui voor sy kan antwoord. Hy luister, stem in tot iets en sit die foon langs hom neer.
“Wie was dit?” vra Nadia.
“Die polisie.” Hy kyk na Hanna. “Hulle wil weet of ons kans sien om môre ons volledige verklarings te kom aflê.”
Sy vee uitgeput oor haar gesig. “Dis seker reg. Ek gaan inkruip. Ek is moeg.”
10
Katrien roer die laaste bietjie tamatiesous by die maalvleis en draai die stoofplaat se hitte laag.
“Waar is Ma? Dis al ná agtuur.” Heleen loer oor haar skouer. “Hm, lekker.”
“Ek weet nie. Sy moes lankal hier gewees het.”
Met ’n teelepel gaps Heleen ’n bietjie maalvleis uit die pot. “Miskien is hulle gerob. Hulle het nou die dag ’n Pick n Pay in Pretoria gerob.”
Katrien druk haar hand weg toe sy nog wil skep. “Van wanneer af luister jy nuus?”
“Karradio. Luister jy dan nie?”
“Nee.” Wanneer haar ma die nuus aansit, sny sy af.
“Hulle rob supermarkte soos niks. En Ma is ’n bestuurder, sy dra die sleutels vir die groot geld. So hulle gaan vir háár gaan as hulle wil rob.”
“Wie gaan vir wie rob?” vra Driekie skielik agter haar.
Katrien draai vinnig om. “Niemand gaan vir niemand rob nie. Het julle nie huiswerk om te doen nie?”
“Dis Vrydag,” sê Heleen. “Niemand doen huiswerk op ’n Vrydag nie.”
“O ja.”
Katrien gooi water in ’n pot en laat dit kook vir die macaroni. Haar kop wil nie vanaand reguit dink nie. En sy het nodig om reguit te dink. Om haar gedagtes en emosies vas te vat. Om ’n file in haar brein oop te maak vir die doodsheid wat sy vroeër in Divan se ma se oë gesien het. Om ’n plek in haar kop te kry waar sy die algehele magteloosheid in die oom se skouers kan wegpak.
Maar wat haar veral ry, is die wete dat daardie huis nie net die plek is waar Divan gelewe het nie, dis ook die plek waar hy dood is. Waar hy die All Stars sneakers gedra het waarmee hy altyd by orkes aangekom het. ’n Koue rilling trek deur haar. Dalk is dit die einste skoene wat hy laaste aangehad het? Of die Rip Curl T-shirt wat sy oë nog blouer gemaak het?
Sy moet ’n Divan-lêer in haar