doen. Sy sóú soveel beter gedoen het as sy nie in haar eerste jaar op universiteit in Herman vasgeloop het nie.
Sy sal nie toelaat dat haar dogters dieselfde pad stap nie. Sy sal enigiets doen om hulle deur skool en universiteit te kry, en om te sorg dat hulle nie dieselfde foute as sy maak nie.
Sy tap water in en begin die skottelgoed was. Haar weerkaatsing in die kombuisvenster trek haar aandag en sy laat onmiddellik die blinding sak. Enigiemand kan haar van die straat af sien. Herman ook.
Dis al twaalf jaar.
Sy skud haar kop. Sy moet regtig minder paranoïes raak. Herman het haar tot dusver nie opgespoor nie, en geen regdenkende mens sal ná soveel jaar nog steeds soek nie.
Maar Herman is nie regdenkend nie, dit weet sy in die diepte van haar dieptes. En sy kan nie die gevoel afskud dat hy agter hulle aan is nie. Al vandat sy vanmiddag na Elroy gaan soek het om hom oor die skeermeslemmetjies uit te trap. Dit was net ’n syaansig, maar sy het haar byna flou geskrik. Soos ’n verskrikte haas het sy met die trappe op kantoor toe gevlug.
As Herman hier is …
Haar hande bewe toe sy die laaste bord op die droograk neersit. As hy hier is, sal hulle oor moet begin. Wéér.
6
Toe die laaste mense by die voordeur uit is, sak Hanna op die bank neer.
Carl staan met sy hande in sy broeksakke gedruk. “Ek moet seker vir Nadia gaan haal. Dis al laat.”
“Sandra het gesê sy sal haar bring. Ons kan net bel.”
Carl probeer nie eens stry nie, neem net die foon by haar.
Hy beëindig die oproep en kom sit langs haar. Die stilte in die huis is tasbaar.
’n Gevoel van verslaenheid lê soos lood op Hanna se tong. Wat moet sy vir Nadia sê as die kind hier aankom? Sy is net sewe.
En vir Sandra? Hulle is bloot kennisse. Buiten kinders optel en aflaai by mekaar se huise was daar nog nooit tyd om ’n vriendskap te smee nie. En nou is sy die eerste wat dié nuus moet hoor. Hoe kyk jy ander in die oë en sê … dit wat haar mond nie kan sê nie, en wat haar hart nie verstaan nie?
Toe die voordeurklokkie lui, druk Carl haar hand vlugtig voor hy opstaan. Dis hy wat sterk is, wat groet en Sandra binnenooi. Hy neem die pak Kentucky wat sy vir aandete saamgebring het by haar.
Hanna aanskou asof van ver hoe hy Nadia op sy skoot trek en vertel wat gebeur het. Sien die gruwel opspring in Sandra se oë en Nadia se onvermoë om te verstaan, tot die trane van begrip volg. Trane wat Hanna aansteek en oorloop in haar eie put van verdriet.
Toe hulle Sandra groet, staan die toegetrekte binnedeur na die motorhuis soos ’n vars geplante grafsteen in die voorportaal. Dit laat die angs in Hanna se keel klop. Sy kan nie dink hoe sy ooit weer daar moet ingaan nie.
“Waar is Boetie nou?” vra Nadia toe hulle terug is in die sitkamer.
Hanna byt histerie terug. “Hulle het hom weggeneem.”
“Waarheen?”
“Is iemand honger?” Carl hou die bruin papiersak omhoog.
Hanna is skielik intens bewus van haar ooglede wat knip.
“Waarheen het hulle vir Boetie gevat?” hou Nadia vol.
“Iewers in Tygerberg.” Carl hou ’n bord na Hanna uit.
’n Klop aan die deur laat haar omkyk. Miskien is dit die mense wat vir Divan terugbring, dalk het hulle besef hulle het ’n fout gemaak. Sy loop voorportaal toe en maak oop.
’n Glimlag rem aan die dominee se gesig. “Naand, mevrou Klopper.”
Sy groet meganies en nooi hom in. Carl bied tee aan, wat sy gaan maak. Sy stuur vir Nadia kamer toe om haar pajamas aan te trek en gaan sit langs Carl. Net betyds om die skrik in die dominee se oë te sien toe Carl vertel wat gebeur het. Sy verduur die simpatie wat volg.
Die dominee sit sy leë koppie neer en staan op. “Bel gerus as daar enigiets is waarmee ons kan help. Die vrouediensaksie sal reël vir maaltye vir julle. Dis een ding minder om oor te bekommer.”
“Dankie, dominee. Ons waardeer dit.” Carl loop saam deur toe om hom af te sien.
Hanna stap na Nadia se kamer. “Is jy reg vir die bed?”
“Ek moet nog my tande borsel.”
“Dis niks.” Sy laat Nadia inkruip en trek die duvet tot onder haar ken. “Jy kan môre weer tande borsel. Slaap maar net.”
Sy skakel die lig af en loop terug sitkamer toe. Carl hou vir die tweede keer ’n bord na haar toe uit.
“Ek is nie nou honger nie.” Sy maak die koppies op die skinkbord bymekaar, maar het skielik nie krag om dit kombuis toe te dra nie.
Sy draai na Carl. “Het jy dit sien kom?”
“Nee.”
“Hoe kon ons dit mis? Hoe lank al wou hy nie meer lewe nie?”
Carl se kop sak waar hy by die kombuistoonbank gaan sit om te eet. “Ek weet nie, Hanna.”
“Watse ouers sien nie dat hulle kind sielsongelukkig is nie?”
“Hy was nie ongelukkig nie. Nie voor ons nie.”
“En voor sy maats? Was hy ongelukkig voor hulle?”
“Ek weet nie, my vrou.”
“As hulle dit sien kom het, hoekom het hulle nie iets gesê nie?”
“Hier was bitter lank laas maats van hom.”
Sy weet. Sy was altyd mal daaroor as Divan maats huis toe gebring het. Al het die klomp seuns die yskas geplunder en só gelawaai dat geen mens kon werk nie, het dit haar oneindige vreugde verskaf om haar seun in sy portuurgroep te sien. Maar hoe ouer hy geword het, hoe minder het die maats geword.
“Ek moes meer moeite met sy maats gedoen het.”
“Divan het ’n sterk wil van sy eie gehad. As hy iets wou doen, het hy dit gedoen.” Carl skuif sy bord weg en staan op. “Ek moet die familie en die skool laat weet.”
Met elke oproep wat hy maak, antisipeer Hanna die ander persoon se reaksie. Sy is dankbaar dat sy dit nie hoef aan te hoor of die nuus hoef oor te dra nie.
Ná wat soos ure voel, druk Carl die selfoon dood. “Dis die laaste een vir nou. Kom ons gaan maar kamer toe.”
Saam stap hulle verby Divan se kamer waarin hy nie vanaand slaap nie. Hanna se keel trek pynlik saam by die gedagte.
In die kamer trek hulle uit: skoene, broek, hemp. Verruil dit vir nagklere en borsel tande. Klim langs mekaar in. Sy draai op haar sy, Carl hou haar vas. Dieselfde rituele, maar ’n ander realiteit.
Wat het Divan besiel? maal dit deur haar in die donker stilte van die huis. Wat het deur sy kop gegaan? Wat op dees aarde kon só verskriklik gewees het dat hy nie met hulle daaroor kon praat nie? Hy moes mos geweet het hy kan met hulle oor enigiets praat.
Sy het juis twaalf jaar gelede haar werwingsagentskap by die huis ingerig sodat sy middae beskikbaar kan wees vir haar gesin. Al haar vrye tyd het sy daaraan spandeer om die kinders te gaan haal ná skool, aan te ry na hulle aktiwiteite toe, te help met huiswerk. Nie dat Divan nou meer hulp met huiswerk nodig gehad het nie, maar sy was dáár. Sy was beskikbaar.
Divan se hele lewe het voor hom uitgestrek gelê. Wat het van sy drome geword? Om ’n veldbewaarder te word, of ’n vlieënier, of ’n komediant? Hy kon altyd alle kante toe droom, dié kind van haar. Wie sou die idee van selfdood in sy kop gesit het? So iets val mos nie uit die lug uit nie?
Heelnag stoei sy haar voos teen elke vraag, tot die klokradio sesuur wys.
Sy