in die studeerkamer en al die kaste in die garage vir homself toegeëien het sodat hy sy kompulsie vir netheid met militêre presisie kan uitleef. Tog loop die kinders soms deur onder sy perfeksionisme, en dit irriteer haar grensloos.
Sy neem die bakkie dadelik voor Divan weg toe hy klaar geëet het, voor Carl met nog iets foutvind.
“Gaan borsel gou julle tande. Ons moet ry.”
2
Op pad voordeur toe druk Katrien ’n sny gebotterde brood in haar mond. Tyd vir ontbyt was daar nie. Haar ma is baie dinge, maar domesticated is nie een van hulle nie.
Heleen wag al in die kar. Dis hoe sy is. Sy dink as sy voortydig is, sal almal vinniger maak. Meestal backfire dit op haar, maar sy leer ook nie. Driekie is vanoggend laaste, sy maak nog haar hare vas.
Terwyl Katrien met die drie stelle brandtrappe ondertoe draf, loop haar ma vooruit kar toe. Soos gewoonlik is dit ’n gejaag om betyds te wees.
Elke oggend by Hoërskool J.C. Roux begin dieselfde. Katrien kry vir Daniëlle naby die hoofhek. Nooit bý die hek nie, want sy wil nie soos ’n idiot lyk wat vir haar maatjie wag nie. Hulle is graad elf, nie graad een nie.
Dan stap hulle badkamer toe om te kyk of hulle hare nog reg lyk. En sodat sy bietjie van Daniëlle se maskara en Peach Labello lip ice kan aansmeer. Nie dat Daniëlle enigiets nodig het vandat sy haar hare laat groei het nie. Sy het skielik in hierdie skoonheid ontpop met haar lang blonde krulle en neutbruin oë, terwyl Katrien nog dieselfde lyk met haar blas vel, reguit bruin hare en swart kraaloë.
As hulle tevrede is met hulle looks stap hulle klas toe om vir die klok te wag. Eintlik wag net die losers by die klas. Sy, Daniëlle, Divan en een of twee ander. Die populêre kinders hang by die graadelfvierkant. Dis ’n dieretuin vol alpha males en females wat vir af grappe lag en dink die son skyn uit hulle agterente uit.
Toe die klok lui, drentel hulle vierkant toe om die spul te gaan join vir die afkondigings.
“Hey, Divan!” roep Eugene met sy dik pens en deurmekaar hare toe hy hulle sien. “What’s up?”
’n Klomp ouens bars uit van die lag. Katrien sien hoe Divan se kop sak.
Malusi gaan dadelik in studenteraad-mode. “Kom, manne, julle moet in ’n ry kom.”
“Wat gaan aan?” fluister Daniëlle. “Eugene vra dit al van laas week af vir Divan. En elke keer wil hulle hulle vrek lag.”
Katrien trek haar skouers op. “Seker een of ander inside joke.”
Sy hou Divan deur die afkondigings dop. Sy oë bly op die grond. Sy wens almal wil hom net uitlos. Hy is ’n nice ou, al is hy so skaam.
Nadat Divan die eerste keer by orkes met haar begin chat het, het sy gedink hy hou van haar, wat bietjie van ’n bummer was. Want hy’s oulik en als, maar sy wil ook net een keer in haar lewe hê ’n cool ou moet van haar hou. Toe hou sy maar haar afstand vir ’n ruk en toe kry hy darem die prentjie.
Nou is hulle vriende. Divan chat lekker. Dis ’n huge plus, want hy’s omtrent die enigste ou wat ooit met haar chat. En hy is slim. Algemenekennis-slim. Hy weet van goed soos dat daar twintigduisend verskillende spesies skoenlappers is. Dat ’n Boeing 747 uit sesmiljoen verskillende parte bestaan en dat China se biermark dubbel die grootte van Amerika se biermark is.
Eers in die laaste periode sien Katrien weer vir Divan, toe hy in die bank langs haar inskuif.
“Waaroor gaan Eugene elke oggend so aan?” vra sy terwyl meneer Snyman nog skarrel om sy goed agtermekaar te kry.
“Niks.” Divan vroetel met sy pennesakkie. “Hy hou hom sommer net stupid.”
Die volgende oomblik gryp hy sy oor vas. Toe hy sy hand weghaal, sit daar ’n krammetjie aan sy oorskulp.
Katrien kyk dadelik om. Agter hulle sit Eugene en A.J. vooroor gekrul soos hulle lag. Sy gee hulle ’n vuil kyk en draai terug in haar bank. Hoekom staan Divan nie net op vir homself nie? Gister in die biblioteek het daai twee die stoel onder hom uitgeruk. En al wat hy gedoen het, was om van die grond af op te staan, sy stoel op te tel en aan te gaan met sy werk. Verlede week het sy gesien hoe A.J. hom teen die muur vas stamp toe hulle klasse ruil.
Dit kan nie langer so aanhou nie.
Sy steek haar hand op. “Meneer?”
“Los dit,” fluister Divan. “Ek het klaar ’n plan.”
Meneer Snyman draai van die bord af om. “Ja, Katrien?”
Sy kyk na Divan. Sy oë smeek haar om stil te bly.
“Ek het maar net gewonder … Gaan ons die begripstoets vandag doen?”
Meneer Snyman knik. “Dankie, ek is bly jy herinner my.”
Divan se gesig ontspan en hy draai vorentoe. Sy oor bloei waar die krammetjie gesit het.
14 Januarie 2015
Laaste jaar van laerskool!
Eksperiment:
’n Nuwe Divan Klopper
Doel: Word cooler, snaakser, slimmer, langer, sterker
Hoe?
1.Trek beter aan. Dit sal ma ook bly maak. Sy is gaga oor klere
2.Kry ’n grappeboek. Iewers in die bib. (moenie dat iemand jou sien nie. Uncool zone!) Kry ma om dit uit te neem
3.Google: Fun Facts
4.Oefen. Draf om die blok. Sit-ups. Push-ups
5.Bid om so lank soos pa te word
3
Dorette Duvenhage het haar by die supermark opgewerk van pakker tot kassier tot bestuurder. Op daardie punt was een van die eerste dinge waarmee sy moes vrede maak dat sy haar dagbeplanning op ’n papier kan skryf en dit dan onmiddellik kan opfrommel en in die asblik gooi.
As kassier het sy by die werk opgedaag, haar geld vir die kasregister gekry en haar dan gemaklik gemaak agter die toonbank waar sy haar skofure sou deurbring. Alles het netjies en volgens plan verloop.
Nie vandat sy bestuurder is nie.
Die eerste dag het sy met haar lysie gaan sit, opgewonde oor die nuwe kantoor wat sy met Noxy deel. Haar medebestuurder het net gelag en haar kop geskud. “Don’t get too attached to that chair, hey.”
Twee ure later was Dorette oortuig sy gaan nooit by haar regte werk uitkom nie. Vir elke klein dingetjie word sy uit die kantoor geroep. As iemand ’n bottel mayonnaise breek, moet sy dit hanteer. As die kouevleis nie afgelewer is nie, is dit haar probleem en niemand anders s’n nie. As die melk suur is en die kliënt nog suurder, moet sy die vrede bewaar.
Daardie tyd was sy vas oortuig die persoon wat die liggie bo ’n kassier se kop ontwerp het, het ’n sadistiese streep. Nou is haar ingesteldheid heeltemal anders. Haar lys kom tweede; die kliënte, kassiere, pakkers en verskaffers kom almal eerste.
Dis al ná vier, sien Dorette toe sy vir die soveelste keer met daardie einste liggie na ’n kassier geroep word. Die rooikopvrou wat oorkant haar staan, is duidelik een van die my-tyd-is-belangriker-as-jou-tyd-kliënte wat so volop in die Kaap se noordelike voorstede is.
Dorette span haar professionele glimlag in. “Middag, mevrou. Waarmee help ek?”
“Die prys is foutief.” Die vrou met die sproeisel sproete oor haar neusbrug en wange hou die pakkie skeermeslemmetjies met ’n gemanikuurde hand uit.
Dorette neem die pakkie en knik vir Elaine wat sakke pak om die prys van die rak te gaan haal. “Ons kry net gou die prys, dan stel ons dit dadelik reg.”
Die