“Dis waar. My engel het self gekies.”
Tillie kan nie sy pokerface lees nie en weet nie regtig wat anders om te sê as “Oukei” nie.
“Jy glo mos daaraan dat die heelal jou soms roep, nè?” vra Milanka en staar na die plafon asof sy Orion se belt soek.
Tillie knik. “Ek dink so.”
“Wel, ek het eendag tien minute oor tien by die huis gesit en net gevoel ek moet na die Suid-Afrikaanse ontwerper Anton Heunis se website gaan.”
“Anton Heunis?” Tillie het al iewers die naam gehoor.
“Ja,” roep Milanka. “Ek het jou aangesê om hom te volg op Instagram, onthou? Hy bly in Madrid en maak die mooiste juwele.”
“O ja.” Dis hoekom die naam bekend geklink het.
“Anyway,” gaan Milanka voort, “om tien oor tien het ek op sy website gegaan, want ek het gevoel my ring wag daar.”
“Hy wag vir jou?” frons Tillie.
“Hy’t vir haar gewag,” glimlag Jacques en cheers met sy martini in die lug. “Dit was bestem.”
“En raai watter liedjie begin speel net toe oor die radio?” vra Milanka.
“Beyoncé se ‘Single Ladies’?” raai Tillie en lag amper vir haar eie grappie.
“Nee, Bruno Mars se ‘I Think I Wanna Marry You’!”
Tillie wil nog vra, maar Milanka doen reeds vir haar die wiskunde: “Toe die liedjie begin speel, het hierdie ring op Anton se website gelaai.”
Tillie loer na Jacques en sien hy’s net so dik van die lag soos sy, maar nie een van hulle durf wys dat hulle Milanka se denkwyse amusant vind nie.
“Iemand in Spanje het mý ring gemaak terwyl Bruno Mars ’n liedjie vir my geskryf het,” verklaar Milanka dramaties.
“Vertel Tillie van die afslag, my engel,” por Jacques haar aan.
“O ja!” roep Milanka uit. “Daar was tien persent afslag op my ring!”
“Tien?” vra Tillie en wonder of tien present veel van ’n verskil maak aan iets met ’n woonstel se prys.
“Ja,” knik Milanka en soen haar verloofring sagkens. “Een vir elke maand wat ek en Jacques al saam is.”
“Sjô, Milanks,” is al waarmee Tillie vorendag kan kom.
“Toe gebruik ek my kredietkaart,” vertel Milanka “En toe gee Jacques my die geld terug.”
Tillie voel haar kop deurmekaar raak. “So, jy het die verloofring gekoop voordat Jacques jou gevra het om te trou?”
Milanka rol haar oë. “Vriendin, dit was voor die hand liggend dat hy my die een of ander tyd sou vra. Ons het gereeld daaroor gepraat. Ek het hom net die stres gespaar om dag na dag te moes gaan soek na die ring. My arme verloofde is besig.”
“Jy’s reg, my engel.” Jacques plak ’n soen op haar wang en knipoog vir Tillie. “Ek het beplan om jou net daarna te vra.”
“O, e … ja, e … natuurlik.” Tillie kan sien dat die arme Jacques basies gyselaar gehou is in hierdie transaksie. “So, wanneer is die groot dag?”
“Ons wil trou op Lentedag. Een September,” glimlag Milanka breed.
“Hierdie jaar?” vra Tillie vinnig.
“Doodreg!”
Tillie tel vinnig in haar kop. “Dis oor minder as drie maande!”
“Dis reg, ja,” knik Milanka en trek Jacques se hand nader.
“Gaan julle alles gereël kan kry in so ’n kort tydjie?” Sy weet as Milanka haar sin kry, sal hulle ’n troue in Monaco hê, met elke dingetjie in plek.
Milanka gee die glimlag wat Tillie nie wou sien nie. “Ons? Nee, vriendin, ons gaan niks reël nie … Jý gaan vir ons alles reël!”
Dis asof iemand ys in haar bra af gooi. “Ek?”
“Dis hoekom ons jou genooi het vanaand. Daar is niemand wat my so goed ken soos jy nie. Jy hoef nie eens te betaal vir jou martini’s nie. Ons wou jou net vertel dat jy kan groot gaan om dit die beste dag van my lewe te maak.”
Interessant hoe Milanka “my” gebruik en nie “ons” nie, dink Tillie en skud haar kop. “Vriendin, jy weet ek is lief vir jou, maar ek het ’n voltydse werk. Ek sal nooit alles in drie maande gereël kan kry nie.”
Milanka hou aan glimlag en sit haar hand sag op Tillie se arm. “Ek’s nie ’n monster nie, vriendin. Natuurlik weet ek jy is soms besig.”
“Soms?” vra Tillie asof sy verkeerd kon gehoor het.
“En dit is waarom jy mag hulp kry. Jacques sal betaal!” Milanka fladder haar wimpers. “Huur ’n troukoördineerder, maar maak seker jy’s deel van alles wat gedoen word.”
Jacques se eerste martini is al op, maar hy cheers weer in die lug. Sy blou oë vonkel ondeund.
“Ek … ek …” soek Tillie na woorde. “Ek het nie eens ’n vae benul hoe om so iemand in die hande te kry nie. Waar begin ek?”
“Jy het dit in jou. Jy’s my beste vriendin. Ek sal nie wil hê enigiemand anders as jy moet hierdie dag vir my spesiaal maak nie.”
Tillie wonder skielik waar die term “Aarde, sluk my in” vandaan kom, want as die aarde lus is, kan dit maar so maak. Sy gaan vrywillig.
Jacques gee Milanka ’n soen en vra verskoning om badkamer toe te gaan. Hy noem dat hy vir hulle nog drankies gaan bestel op pad soontoe.
Bring sommer vir my ’n bottel, dink Tillie.
“Natuurlik gaan ek help.” Milanka skuif nader. “Ek gaan nie heeltyd by jou wees nie, maar ek sal deur WhatsApp kommunikeer. Ek gaan vir jou die name en foonnommers van die bruidsmeisies stuur.”
“Hoeveel is daar?”
“Vier. Jy onthou mos my tweelingniggies, Hanke en Tanja?”
Tillie knik en gooi desperaat die laaste van die martini in haar keel af.
“Wel, net Hanke mag ’n bruidsmeisie wees. Tanja sal saam met haar ouers sit.”
“Hoekom?” vra Tillie. Dis mos soek vir moeilikheid.
“Nee, jong,” sê Milanka. “Tanja het mos verlede jaar hierdie reusagtige draadjies op haar tande laat sit en die goed moet aanbly tot die einde van tyd.”
“So sy mag nie bruidsmeisie wees nie omdat sy draadjies het?” vra Tillie grootoog.
Milanka gee haar ’n verbaasde kyk. “Weet jy hoe lelik lyk draadjies op troufoto’s, vriendin? Dis mý dag en ek kan nie toelaat dat sy my foto’s opneuk omdat sy haar tande gaan befomfaai het nie! Jy sal net die nuus op ’n mooi manier moet breek.”
“Moet ék vir Tanja sê sy mag nie bruidsmeisie wees nie?” vra Tillie geskok.
“Wel, ek wil nie haar hart breek nie. Jy’s in elk geval beter met sulke goed.”
Tillie voel oorweldig. ’n Paar uur gelede sou sy ’n dag probeer afvat vir haar vriendin se troue. Nou moet sy die hele bleddie ding reël!
“Ek sal sien wat ek kan doen,” sê sy en hoop haar mismoedigheid is nie duidelik hoorbaar nie.
“Ek stuur ook ’n dieet deur op WhatsApp,” vervolg Milanka. “Dit is goedgekeur deur ’n voorste dieetkundige in Oostenryk. Die meisies moet dit almal so gou moontlik begin volg.”
“So jy wil hê ons moet almal gewig verloor voor die troue?” vra Tillie huiwerig.
Sy kry nog ’n verbaasde kyk omdat sy die ooglopende antwoord so miskyk. “Nee, vriendin, ek wil eintlik hê almal moet effens optel!”